Haatspraak versus liefdesdaad in die gemeenskap

Deur dr. Wikus Buys

Dr. Wikus Buys.

Die nuwe voorgestelde wetsontwerp rakende die voorkoming en bestryding van haatmisdade en haatspraak gaan weer voor die Suid-Afrikaanse parlement ingedien word. Daar was geleentheid tot einde September om openbare kommentaar daaroor te lewer. Talle Christene, kerke en gemeentes, asook burgerregteorganisasies soos AfriForum, het aan hierdie fase meegedoen om hulle eie kommentaar op die voorgestelde wetgewing te noteer.

Dit is verblydend om te sien dat die Christelike stem al hoe meer in die openbare diskoers georganiseer en verreken word. Dit bly ’n marathon en Begrond het by ’n vorige geleentheid op die belangrikheid daarvan gewys dat in al die fases van die proses die openbare druk volgehou moet word. Hierdie wyse van publieke diskoers is onontbeerlik en sal hopelik nie net nóg verfyn word nie, maar ook toeneem.

Morele kompas belangrik

Dit is tog belangrik dat te midde van hierdie proses die morele kompas steeds goed onder oë gehou moet word. Wat ten diepste hier ter sprake is, is nie dat die definisie van haatspraak onaanvaarbaar vergroot word en dat daar strafregtelike vervolging kan wees nie. Enige regdenkende Christen moet uit die aard van die saak téén haatspraak oor jou naaste wees. Die Christendom berus immers op liefde – liefde van God en liefde vir die naaste.

Twee motiewe

Dit is juis op hierdie punt dat die morele koersvastheid nou van groot belang is. Dit is belangrik om die ideologieë wat agter die wetsontwerp skuil aan te toon en teen te staan. Die neo-Marxistiese en ateïstiese sosialisme is duidelik aantoonbaar. Dit kom veral uit in twee grondliggende motiewe agter hierdie wetgewing, naamlik:

  • die poging om die mensdom op een skaal te standaardiseer;
  • en tweedens die dwingende strafsug wat toegepas wil word as die standaard nie behaal word nie.

Mag ʼn mens die samelewing standaardiseer?

Dit klink aanvanklik nie so erg nie: om ’n reël te maak wat almal meet en pas. Die probleem is egter nie die poging self nie, maar die liniaal waarvolgens gemeet word. Daar is breedweg een van twee moontlikhede:

  • óf ʼn mens aanvaar dat God bestaan en is wie Hy sê Hy is, en Hom dan as Wetgewer in jou saamleef met ander mense in berekening bring,
  • óf die mens self is sy eie wetgewer wat dan ten diepste bepaal wat reg en verkeerd is, ook vir die godsdiens wat hy kies, ás hy dit verkies.

Christene, met al die breë nuanses in ag geneem, val duidelik in die eerste groep. Die neo-Marxiste, en daarmee saam ook die neo-liberaliste, gaan van die tweede siening af uit, naamlik dat die mens sy eie wetgewer is. Hierdie grondliggende onderskeid tussen die twee vertrekpunte het ’n wesenlike invloed op hoe wette en strafbare optrede gesien word.

Liefdeswet

Christene verstaan “die wet” hier op twee maniere. Aangesien aanvaar word dat God bestaan en dat Hy self bepaal wat reg en verkeerd is, is sý Woord spreekwoordelik “die wet.” Dit is uiters belangrik dat Christene hierdie Goddelike wet as die liefde self verstaan. God as liefde self werk met innerlike oortuiging. Die Woord van God en die Heilige Gees werk saam om juis hierdie liefdesdaad van God in die mensdom prakties na vore te bring.

Dwing of dring?

God dwing sy vyande, maar sy kinders dring Hy met liefde. Die mens wat innerlik deur God se liefde aangeraak is, maak dan wette en reëls om aan hierdie liefdesdaad van God uiting te gee. In die gebroke werklikheid beteken die wetgewing van die mens se kant af dat die gebrek aan liefde juis uitgewys word. Die Sinaïtiese wetgewing (die Tien Gebooie in Eksodus 20 wat elke Sondag in die erediens gelees word) doen juis dit. Soos ’n refrein lui die sinsnedes op mekaar: “Jy mag nie… Jy mag nie…”

Ons Christene leef egter nie uit wetsonderhouding wat net ons gebreke uitwys nie. Christene leef uit die geloof dat God self die liefde voorsien wat kortkom. Christene leef nie uit die Sinaïtiese wetgewing nie, maar uit die verbond met Abraham waar die geloof voorop staan. “Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken.” (Romeine 4:3)

Deur geloof kom daar ’n nuwe gemeenskap tot stand wat wíl liefhê. ’n Geregtigheid ontstaan wat nie op straf en oortreding rus nie, maar op liefde en wedersydse regverdigheid. God betaal sélf die oortredingskuld en Hy werk innerlik deur sy Gees die liefde tot gehoorsaamheid. Sy liefde veroorsaak dat sy kinders wil doen wat hulle moet doen – en dit is die liefdesbasis van ʼn regverdige samelewing. God vestig sy geregtigheid in liefde. Die Here Jesus het dit presies so gestel: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” (Johannes 14:15)

Die neo-Marxiste en neo-liberaliste werk nie met hierdie innerlike liefdesgeregtigheid nie. Hulle opereer net met ’n eksterne dwang. Duidelik wil die nuwe wetgewing van haatspraak hierdie twee dinge self doen. Wat haat en liefde is, word nou deur die mens self gereël. Daar word nie meer in ag geneem dat God liefde is en dat God innerlik oortuig nie. Die mensdom moet volgens die Marxiste gestandaardiseer word “na hulle eie beeld”. Enigiemand wat nie by die “beeld” inpas nie, word dan met straf gedreig en gedwing om dit te doen. Die liniaal is nie meer God se eie Woord nie, maar die mense se woorde oor hulleself.

Vryheid van spraak is weg

Die skerp angel van die nuwe voorgestelde wetgewing is dat die Christene hulle vryheid van spraak ontneem word om in die openbaar te sê dat God liefde is. Hoeveel keer moet die Marxiste nog die samelewing probeer standaardiseer, en wanneer gaan hulle agterkom dit werk nie? Jy kan niemand dwing om só lief te hê nie?

Grondwet en die Bybel

Dit is die groot verskil en grenslyn van wat haatspraak is en wat nie. Baie groepe en mense het tereg uitgewys dat die nuwe wetgewing selfs verder gaan as wat die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal. Die grondwet is egter nie die Bybel nie. Die Bybel wys uit dat God in liefde geregtigheid bewerk – ook vir gemeenskappe. Daarom is hierdie wetgewing so gevaarlik vir die Christelike kerke in Suid-Afrika, juis omdat die wet hulle monde snoer om te sê soos God dit sê. God praat juis in liefde, maar waar God geïgnoreer word – ook in ’n samelewing – is dit geen ware liefde nie.

Sonder God, sonder liefde

Die wetgewing wat juis haatspraak wil uitroei, oortree self sy eie bedoeling. Sonder God kan daar geen sprake wees van ’n liefdevolle en regverdige samelewing nie. Hierdie strawwe wat nou in die nuwe wet voorgeskryf word, is eintlik maar net die dun punt van die wig. Agter dit sit die hele goddeloosheid van ’n mensdom wat “liefde” wil spel en voorskryf, maar sonder God se eie Woordeboek. Dit sal op sy minste die kerk se stem en vrymoedigheid demp en op sy ergste die kerk vervolg. Dit het al in die verlede dikwels gebeur en Suid-Afrika is nie vanself teen sodanige geloofsvervolging immuun nie.

Wat maak jy met jou stem?

Wanneer die volgende fase van die voorgestelde wetgewingsproses aanbreek, moet Christene weer hulle stem laat hoor. Dit is noodsaaklik in die publieke debat. Ons moet egter ten eerste onthou dat ons bevry is sodat ons stemme God mag loof. Ons is bevry in Christus sodat ons die waarheid mag praat.

Die waarheid in hierdie saak is dat God sélf sê wat liefde is en wat haatlik in ’n gemeenskap is. ’n Samelewing wat sonder God se liefde wette maak om menslike liefde te probeer standaardiseer en wat mense wil straf as hulle tekortskiet, gaan juis die teendeel bereik. Daar is baie op die spel met

hierdie voorgestelde wetgewing. Ons word ten diepste voor die uitdaging gestel: Wat is ons vryheid regtig vir ons werd? God se liefde is reg; daarom moet óns reg sy liefde vir die hele gemeenskap ken.

  • Wikus Buys is die uitvoerende direkteur van Begrond, wat ten doel het om Christelike uitgangspunte in of vir die Afrikaanse gemeenskap te bevorder deur Bybels-begronde nadenke oor aktuele sake, veral in onderwys en opleiding.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Christus sê Hy is die waarheid en die lewe en dat niemand tot die Vader kom behalwe deur Hom, dws Christus as ons Middelaar nie. Dit is ‘n ononderhandelbare konsep. Dit is nie net ateïste wat ongelowig is nie andere soos beeldaanbidders ook. En dan glo Islamiete dat Christus nie aan die kruis gesterf het nie en saam met Mohammed eendag sal afdaal om die kruis en alle Christene en Jode te vernietig. Ons Hemelvader en hul Allah is nie dieselfde wese nie want lg het volgens Moslems nie ‘n seun wat vir ons sondes aan die kruis op Golgota gesterf het nie. Ken die feite. Dit is onversoenbare gelowe.

skurweberg ·

As God se eer aangetas word is die boodskap aan die wat verstaan baie duidelik. Gehoorsaamheid aan ons “ampsroeping” wat uit ons ampsregte voortspruit . Het ons nie hier te doen met stryd tussen “menseregte” en “ontiesereg” nie?

Fluisterwind ·

As jy gedink het die liggaam van Christus, Die Kerk deur alle eeue , is ‘n passasierskip sit jy die pot mis, die kerk van Jesus is ‘n oorlogskip. Efesiers 6:12 “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Die kerk is nog altyd ‘n strydende kerk want ons is nog op aarde, voorwaarts Christen Stryders!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.