Had ons maar iets soos Prinsjesdag

nederland-koningshuis

Koning Willem-Alexander lewer ʼn toespraak op Prinsjesdag in die Ridderzaal aan lede van die Nederlandse parlement. Foto: ANP

Die derde Dinsdag in September is die dag waarop die stad Den Haag jaarliks tot stilstand kom. Dis “Prinsjesdag”, die dag waarop die Nederlandse vors die land se parlement met veel tradisie en swier open.

Terwyl die res van die land min of meer met die gewone lewe voortgaan, is dit in Den Haag ’n vakansiedag. Die skole is gesluit en die staatsamptenare mag tuis bly. Landwyd skuif miljoene mense voor hul televisiestelle reg om die gebeurtenis met sy prag en praal regstreeks te aanskou.

Op dié dag vertrek koning Willem-Alexander, sy vrou, Maxima, en hul drie dogters in die loop van die oggend van hul paleis, Huis ten Bosch, iets meer as ’n kilometer van die parlement, en ry eers na die koning se werkpaleis in die middestad, die Paleis Noordeinde. Klokslag om eenuur die middag klim hulle in ’n koets met agt spoggerige perde en ry dan die paar honderd meter na die Ridderzaal, die Middeleeuse sentrum van die parlementskompleks.

Meestal ry hulle in die Goue Koets, maar dié word tans gerestoureer. Dus is hulle by wyse van spreke tweedeklas – in die Glaskoets – vervoer.

Dié koetse het ’n interessante geskiedenis. Die Goue Koets is in 1898 vir die eerste keer deur koningin Wilhelmina gebruik en het allerlei simboliese skilderye langs die kante.

Verlede jaar het dit tot taamlike omstredenheid gelei toe mense afkomstig uit Suriname, ’n gewese Nederlandse kolonie, geprotesteer het teen die feit dat inboorlinge uit die kolonies hulde aan die vors bring. Desondanks is dit nie verander nie.

Die Glaskoets dateer uit 1826 en word net vir spesiale geleenthede, soos koninklike huwelike, gebruik. Vanjaar vervoer hy die koninklikes van die Paleis Noordeinde na die Ridderzaal. Ses lakeie in ryk versierde livrei loop aan weerskante en maak die koets se deure oop en toe wanneer die koninklikes in of uit moet klim.

Onderweg staan die strate belyn met honderde soldate in uniform. En duisende mense drom saam in die hoop om ’n vlugtige blik op die koning (en veral die mooie koningin Máxima, afkomstig uit Argentinië) gegun te word.

Vanjaar was daar iets meer te sien. Vantevore het dit gegons van die gerugte dat die koning ’n baard gekweek het – en inderdaad, met ’n welige blonde baard was dit ’n waardige gesig.

Intussen dawer dit van die kanonskote. Vandat die koning die Paleis Noordeinde verlaat totdat hy terugkeer, vuur die artillerie elke minuut ’n skoot af as eerbetoon aan die vors.

By die Ridderzaal aangekom, speel ’n militêre orkes die volkslied, die statige Wilhelmus van Nassouwe, wat oorspronklik omstreeks 1570 as gebed gekomponeer is, maar pas in 1932 amptelik as volkslied erken is. Vanweë die religieuse inhoud word dit ook ná afloop van kerkdienste op die Sondae naaste aan die koning se verjaarsdag gesing.

By hul aankoms, laat ’n offisier die vaandel van die Marinierskorps sak, en die koninklike egpaar betuig eer daaraan deur te buig. Die vaandel bevat die gevegseerbewyse van die korps en simboliseer die trou van die weermag aan die vors en staat.

(Vroeër jare, toe hy nog kroonprins en offisier in die weermag was, het Willem-Alexander die vaandel gesalueer. Maar die grondwet bepaal dat geen soldaat in aktiewe diens die staatshoof mag wees nie, en dus verskyn hy nou slegs in ’n deftige manelpak.)

Die dames wedywer met mekaar om deftiger as die ander te wees. Veral oor die hoede word nog lank gesels, want die een se hoed is uitspattiger as die ander s’n. En elke jaar word Máxima se hoed nié oortref nie.

Vanjaar het die minister van verdediging, Ank Bijleveld, in ’n rok verskyn wat van ou weermagsuniforms gemaak is. Dit is deur ’n professionele ontwerper saamgestel, en die konsensus was dat dit goed geslaag was.

Die Ridderzaal is eeue oud. Graaf Floris V van Holland het die kasteel waarin die saal opgeneem is, in 1288 voltooi, en die saal is as sy hof gebruik. Dis ’n ryk versierde, imposante gebou in die Gotiese styl.

Voor in die saal staan die koning se troon, met ’n ondergeskikte troon vir die koningin links daarvan. Die lede van die Eerste Kamer (senaat) en Tweede Kamer (laer huis) van die State-Generaal (parlement) sit op ereplekke voor die troon, afgeskerm deur houtversperrings om te simboliseer dat dit ’n amptelike vergadering van die parlement is. Die ander eregaste sit op ondergeskikte plekke.

Vervolgens spreek die koning die troonrede uit. Nederland is ’n konstitusionele monargie, wat beteken dat die monarg as simbool van eenheid bo die politiek verhewe is. Aangesien die toespraak die regering se planne vir die komende jaar bevat, word dit deur die premier saamgestel.

As die koning klaar is, staan almal op. Die voorsitter van die Eerste Kamer, Jan Anthonie Bruijn, roep in ’n helder stem uit: “Leve de koning!” Die aanwesiges antwoord deur drie maal soos een man te roep: “Hoera! Hoera! Hoera!”

Die Glaskoets ontleen sy naam aan die glas wat die sierrand van die koets moet beskerm. Die koets is in die koninklike stal in Den Haag. Foto: Nl.wikipedia.org

Dan verlaat die koningspaar die saal, buig buite weer voor die vaandel van die Marinierskorps, en klim in die koets. Nou gaan dit met ’n uitgebreide roete deur die middestad terug na die Paleis Noordeinde, waar die paar – saam met hul dogters en ander familielede – op die balkon verskyn om die skare te groet.

Teen omstreeks 15:00 is die hele affêre verby en die tienduisende mense gaan huis toe. Die normale lewe word hervat.

In die moderne vergadersaal van die Tweede Kamer bied die minister van finansies nou die jaarlikse begroting – bekend as die Miljoenennota – aan. Die politici begin mekaar uittrap en slegsê dat die see hulle nie kan afwas nie.

Die simboliese paar uur van eenheid is verby. Dinge is weer “normaal”.

Desondanks is dit dae soos Prinsjesdag wat my as Suid-Afrikaner jaloers maak. Want bo-oor alle verskille en wedywer om die mag vorm die Nederlanders, van alle kleure en godsdienste, tog ’n eenheid wat in Suid-Afrika baie ver soek is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

charmaine ·

Dis waar sulke goed maak my as SA burger ook jaloers, Nederland is baie mooi skoonstrate, pragtige geboue en ja daar is baie sulke lande wat ons jaloers maak. Verkeer is rustig ag en dit is net mooi.

Frik ·

Nee dankie! Die eenheid daar is ook maar broos. Wag totdat oorlog uitbreek, dan moor hulle mekaar ook uit. Ten minste haat ons mekaar en weet wat om te verwag.

Stephan de S ·

Ekskuus…..dit moet lees : ons kan NIE uit herinneringe lewe nie……

Cobs ·

Shoe! Dit is Prag Mooi, en ja, ek verlang vanuit sak en as en moord. Behou dit ten alle koste want die wereld sal dit van julle wil stroop.

Stephan de S ·

Dankie vir die gevoelvolle beskrywing van ons ou voorgeslagte se tradisies. Dit vertel tog n mooi storie waarna ons almal verlang. Ons kan uit herinneringe lewe maar tog sal net n dwaas die positiewe invloed daarvan ontken.

Gideon ·

Dr. Scholtz, dankie vir ’n interessante stuk. Dit is so dat dit my ook jaloers maak en ek sal ook graag so iets in Suid-Afrika (spesifiek vir die Afrikaner) wil sien. Ons is egter m.i. té verskillend in ins kulture om so iets te laat werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.