Hamerslag vir Zuma en ANC

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter

Vir die tweede keer in ’n kort tyd het pres. Jacob Zuma en die regerende ANC ’n hamerslag van ’n Suid-Afrikaanse regbank ontvang.

Eers was dit die konstitusionele hof wat bevind het die president het die Grondwet oortree deur belastingbetalers se geld vir die verfraaiing van sy persoonlike paleiskompleks te Nkandla aan te wend. Toe het die Pretoriase hooggeregshof beslis die terugtrek van 783 klagte van bedrog, korrupsie en rampokkery teen Zuma in 2009 was onregmatig.

Hierdie twee beslissings kan nie sommer as “besonderhede” afgemaak word nie. Uit ’n regsoogpunt gaan dit oor wesenlike sake; uit ’n politieke oogpunt raak dit die kern van ons demokrasie.

Kom ons begin by die begin.

Albei politieke partye wat die huidige Grondwet tot stand gebring het, die ANC en die ou Nasionale Party, het ironies genoeg voortgekom uit ondemokratiese agtergronde. Die ANC-leiding se denke is bepaal deur die USSR se weergawe van die Marxisme-Leninisme; die NP s’n was apartheid en die begeerte om swart verset – desnoods met geweld – te onderdruk.

Die stelsel waarvoor die ANC-leiers (van wie 95% ook lede van die SA Kommunistiese Party was) geveg het, was nie die liberale veelparty-demokrasie wat algemeen in die Weste voorkom nie, maar ’n Leninistiese eenparty-diktatuur. Die NP het moreel aanvaarbare idees van ’n groep Afrikaner-intellektuele uit die jare dertig en veertig (geografiese partisie) gekaap en in die praktyk tot voortgesette wit baasskap omgeskep.

Die NP het intussen eerloos selfmoord gepleeg, maar die ANC bepaal Suid-Afrikaners se lewens nog elke dag.

Dis waar dat die ANC die Grondwet – geensins perfek nie, maar ’n nuttige wapen vir dié wat dit teen magsmisbruik wil aanwend – aanvaar het. In pres. Nelson Mandela se bewindstyd het die party bo homself uitgestyg. Die toekoms het belofte ingehou.

Maar die momentum van die ANC se ondemokratiese verlede was eenvoudig te groot. Reeds pres. Thabo Mbeki het die skroewe ooreenkomstig sy Afrikanistiese ideologie begin aandraai, maar dit was pas Zuma wat daadwerklik pogings aangewend het om die staat volledig te kaap.

Anders as met Mbeki, doen hy dit nie soseer met ideologiese motiewe nie. By hom, so lyk dit, gaan dit om sy eie ego, sy mag en sy beursie.

Die uitwerking is egter dieselfde. Reeds in die jare negentig het die ANC in sy amptelike dokumente gekla hy is “in office”, maar nie “in power” nie. Dit was ’n woordgebruik wat reeds in die voorafgaande dekade gebruik is as waarskuwing teen ’n situasie waarin die “geldmag” die party verhinder om sy sosialistiese agenda deur te voer.

Sedertdien het die ANC sy sosialistiese ideologie tot groot mate prysgegee. Die indruk wat die party wek, is dat dit deesdae toenemend gaan om toegang tot staatsbronne om te melk.

Teen dié agtergrond het die ANC deur die jare sy beheer oor die staat stelselmatig vergroot. Die weermag en die polisie word deur ANC-kaders beheer wat getrou is aan Zuma. Dit geld vir verreweg die meeste belangrike staatsposte.

Selfs die openbare vervolger lewer in die praktyk eerder aan Zuma verslag as dat hy, soos dit hoort, ’n onafhanklike persoon is. Die terugtrekking van die 783 klagte teen die president, asook die kwaai kattegevegte die laaste jare in dié kantoor is ’n aanduiding daarvan.

Uit die oogpunt van Zuma en ’n groot deel van die ANC is dit egter ’n probleem dat die Grondwet en dele van die staatsmasjinerie steeds nie onder sy beheer is nie.

Die openbare beskermer is ’n voorbeeld. Ondanks onmenslike druk vanuit die ANC – soos aanklagte dat sy eintlik ’n “CIA-agent” is – het adv. Thuli Madonsela insake Nkandla bewonderenswaardige integriteit aan die dag gelê.

Wat dit des te merkwaardiger maak, was dat haar voorganger, adv. Lawrence Mushwana, ’n haas willose en gehoorsame werktuig van die ANC was.

Nou blyk dit dat ook belangrike dele van die regbank hul grondwetlike onafhanklikheid ernstig opneem. Die twee onlangse beslissings het die ANC tot in sy fondament geruk.

Dis geen wonder nie dat Zuma in die naweek in Mamelodi buite Pretoria gesê het dis nodig dat die ANC ’n tweederde-meerderheid moet kry, want dis die enigste manier waarop die land verander kan word. Wat hy eintlik bedoel het, is deur dié woorde verklap: “Deur vir die ANC te stem om meer mag te hê om te verander wat ons as ’n hindernis beskou, is absoluut belangrik.”

Dis duidelik dat hy na die Grondwet self verwys het. Die Grondwet is vir die president ’n “hindernis”.

Dié diagnose is, ironies genoeg, 100% in die kol. Die Grondwet maak dit vir Zuma en die ANC besonder moeilik om die ongebreidelde mag uit te oefen wat hy graag wil hê – nie meer ter inwerkingstelling van wat nog van sy sosialistiese ideologie oorgebly het nie, maar eenvoudig vir selfverryking.

Dít, terloops, is ’n goeie antwoord vir diegene wat meen ons Grondwet is niks werd nie. Natuurlik is die Grondwet ver van volmaak, maar dis nou eenmaal die een waarmee ons moet werk, en dit vorm dikwels ’n heel nuttige wapen vir die burgerlike samelewing teen die staat se almag.

Dit beteken nie dat alles nou uitstekend is en dat ons gerus kan gaan slaap nie. Inteendeel, as daar één ding is wat my bekommerd maak, is dit dat Zuma en sy kornuite ongetwyfeld woes aan die planne beraam is om die Grondwet te omseil.

Sy plan A is om ’n tweederde-meerderheid te kry sodat die Grondwet gewysig kan word. Elkeen wat iets van die Suid-Afrikaanse politiek weet, sal begryp dat die kans daarop minimaal is.

Met die gevolg dat ’n mens verkiesings vorentoe met arendsoë sal moet monitor. Verwag maar pogings om te kierang en te intimideer dat die biesies bewe.

Nog iets wat sonder twyfel gaan gebeur, is dat Zuma een van sy ondersteuners as Madonsela se opvolger gaan aanstel wanneer haar termyn later vanjaar ten einde loop. En kyk maar mooi, die regering gaan ook die regbank subtiel – en dalk minder subtiel – op allerlei maniere probeer manipuleer om verleenthede soos die laaste twee uitsprake vorentoe te vermy.

Dit laat die laaste skans: die burgerlike samelewing.

Laat dit nou net die week wees waartydens Internasionale Persvryheidsdag gevier word! Sonder om die prominente rol van aktivistiese organisasies soos AfriForum vir ’n enkele oomblik te ontken, speel die media – ja, ook die Afrikaanse koerante waarteen regses soms so vloek en skel – ’n onvervangbare rol. Dink bietjie verder, aan die stand van jou en my vryheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Vaalseun ·

In die kol, Leopold. Stalin het gesê, “The people who cast the votes, decide nothing. The people who count the votes, decide everything.” Ons het in 1994 stembokse uit Soweto gekry om te tel waarin die stembriewe netjies ingepak was – almal vir die ANC.

Bernard ·

En nog steeds vee zuma sy agterent aan almal en alles af. Hy glo hy is onaantasbaar.

Rina Kotze ·

Ek stem Bernard, maak nie saak wat nie, hy is nou soos Nero.
Spieel rustig viool terwyl Rome brand!
Wat gaan dit kos om van die man ontslae te raak???
Wat moet daar nog gedoen word????

Penellope Jones ·

Daar sal dalk niks van kom nie. Sal heelmoontlik die pad loop van die Konstitutionele Hof se uitspraak rakende Nkandla – ‘n verskoning van een of ander aard en “apologie” net om dan saggies so tussen neus en mond te verdwyn.

Hendrik ·

Die meerderheid gaan nog steeds vir hom stem en die ander klomp gaan vir die EFF stem. Die ouens wat dink hulle gaan die bogenoemde meerderheid uitstem gaan vir die DA stem.

John ·

Die een tekortkoming in die grondwet, nl. dat die president nie in die pad gesteek kan word nie, is die crux in die hele sage rondom die president se skotteljons in die land se goudpot. Dis moeilik om uit die pot te klim en moeiliker om ‘n glibberige kalant daarin vas te vat. Stemdag in Augustus, gaan ‘n verreikende uitwerking op die land he. Die bakleiery tussen die unies en die nuwe bravado van die EFF gee verdere momentum aan die spulletjie. Die probleme rondom adresse vir kiesers, gaan erge misverstande meebring. As die VSA se inwonders nie eers hul eie sisteem vertrou nie, hoe kan ons pleps hier naby die suidpool seker wees ons rekenaars word nie skielik plagetrek deur ‘n vreeslike virus so in die nadraai van die winter nie?

Lance ·

Goeie jimmel kan die man nie net om vadersnaam gaan nie ….shu shu ….wys julle doen die regte ding met iemand wat slim is en die regte goed se …ons kry beleggings ….die Rand versterk …mense kry werk ….mense bele meer …almal wen ….

TTh ·

Die Republiek van Suid-Afrika gaan val en in duie stort, dit sal burgeroorlog tot gevolg he terwyl die volgende plunder-strategie vanuit die ‘Buiteland’ geimplimenteer word. Die algemene publiek gaan baie swaar kry en die land gaan baie skade opdoen. Niks is meer reg in die RSA nie en dit ten spyte van die Grondwet. Misdaad seevier. Regspleging in die algemeen het lankal groot skade gely. Die RSA het al vir die afgelope +- 70 jaar nie ‘n intelligente leierskorps gehad met sterk karakter en sterk beginsels nie. Ook van die Christelike karakter van die RSA het nie veel oorgebly nie, Daar is uiteindelik net een Hoop en een Geloof wat staande sal bly. Terwyl dit alles om ons woel moet ons doen wat ons kan wat ‘reg en eerbaar’ is, of Zuma nou bedank, afgedank word of dalk in ‘n sluipmoord sterf, wie kan vandag se hoe dit more gaan wees – ons sien nie altyd die einde van elke begin nie.

Jcwf ·

Stem heeltemal saam, maar die uitwerking op die ANC se stemmers is nie duidelik nie. Die Sowetan het nou ‘n poll daaroor en ek het met skrik gesien dat daar net 10% ANC, 30%DA en 60%EFF aangegee word. Dit is natuurlik net ‘n speeltuig, maar tog dink ek dat die elektorale gevolge ernstig gaan wees in Augustus.

Hendrik ·

Ja nee die swart meerderheid is gatvol. Die EFF gaan volgens my baie baie veld wen hierdie munisipale vierkiesing. Die ANC sal dan in die toekoms dieselde strategie volg as in die Kaap waar nie-ANC munisipaliteite distabiliseer sal word met betogings. Volgens my is dit net ‘n kwessie van tyd dat die DA die Kaap sal moet afstaan omdat daar so massiewe invloei is van swartmense van die Oos-Kaap. Kwessie van tyd.

Rina Pretorius ·

Ek hoop net nie die EFF wen die verkiesing nie want dan is al ons blankes sonder werk, huise en alles wat ons besit.

Blinde Sjambok ·

Rina …dit is nie in my kultuur om my ‘goed’ prys te gee nie … tensy ek dit vrywillig doen! Jy moet solank besluit of jy bereid is om te baklei vir jou ‘goed’ en of jy dit sommer so sal weggee aan enige he-boon wat jou dreig. Wat ek wel weet is dat hierdie land nie Zimbabwe is nie en dat die Afrikaner nie op hom laat trap nie…

Henry ·

In teenstelling met die skrywer is UP se Prof Koos Malan oortuig dat die konstitusionele hof se Nkandla uitspraak aan die dominante elite binne die ANC se invloed, te wyte is. Laasgenoemde is volgens Malan oortuig daarvan dat Zuma uit geskakel moet word, teneinde die ANC se beste belange te beskerm. Zuma het ‘n las geword wat hulle nie meer kan bekostig nie.

Prof Malan noem ook ‘n paar interessante voorbeelde hoe regspleging in hierdie droewe land alles behalwe ‘n selfstandige en neutrale onderdeel van die landsregering verteenwoordig:
Beslissings teen Solidariteit en Renate Barnard.
AgriSA se onsuksesvolle betoog teen die ontneming van mineraalregte. ‘n Beslissing wat wesenlike gevare vir eiendomsreg verteenwoordig.
Skoolbeheerliggame was eweneens onsuksesvol om hul onafhanklikheid teen die sentralistiese mag van ‘n tipiese marxistiese owerheidstelsel te beskerm.

Die konstitusionele hof het in bogenoemde gevalle ten gunste van die ANC beslis. In die proses het beginsels wat in die Grondwet vervat is en waarop soveel (valse?) hoop geplaas word gesneuwel.

By die aanstelling van regters nie slegs deur meriete bepaal kan word nie. Volgens sy verklaring van die Grondwet is transformasie ewe belangrik!!!

Prof Malan bevestig mynsinsiens die feit dat mens nie so vreeeeeslik opgewonde moet raak wanneer ons howe in enkele geïsoleerde gevalle teen korrupte regeringslede beslis.

Een armasalige en wind verwaaide swaeltjie maak vir seker nie ‘n somer nie…

Henry ·

Jammer maar die 3de laaste paragraaf moet lees:

By die aanstelling van regters het hoofregter Mogoeng Mogoeng gesê dat meriete nie die enigste bepalende faktor kan wees nie. Volgens sy verklaring van die Grondwet is transformasie ewe belangrik!!!

Henry ·

Leopold Scholtz probeer kliphard in laasweek se Rapport, om Prof Malan se geldige argumente te weerspreek.
Onnodig om Scholtz se lang relaas te herhaal. Vir die wat belangstel, dit kan in die bylae – Weekliks – gevind word.
Prof Malan is ‘n regsgeleerde en lid van ‘n baie bekende en gerespekteerde Regsfakulteit, waarvan talle lede reeds groot bydraes in Suid Afrikaanse regspleging gelewer het.
Anders as wat Scholtz te kenne wil gee, is ek daarvan oortuig dat Prof Malan se meerdere en gespesialiseerde regskennis van groter nut en veel meer geloofwaardig is, as die van ‘n politieke kommentator/analis wat allerlei insigte oor regsaangeleenthede kwytraak.

Knikkebollen ·

Ek was nooit ‘n NP ondersteuner nie, maar in alle regverdigheid moet dit duidelik gemaak word dat die NP leierskap nooit swart verset WOU teenstaan nie: die dinamiek van oorgang terwyl chaos en die verlies van stemme verhoed word, het hulle in ‘n bykans onmoontlike posisie geplaas. (Amper net soos die ANC nou..) Ons moet nie dink dat die NP ooit enigsens ‘n ander agenda kon he, as om op die die druk van nie-blanke politieke aspirasies te reageer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.