Hane lank nie kopaf, Griekwas dalk Bulle se laksman

Die Franse Hane maak toe skandes en die kleine Tonga sit hulle lelik ore aan. Die gejuig in die eilande sal nog lank duur en die Hane sal verseker laer trek en sorg vir die volgende groot verrassing.

Persoonlik dink ek dat die Franse genoeg skietgoed het om die Rose te oorrompel. Die Franse het reeds bewys dat hulle enige span op enige tydstip kan klop. Ek sê nog steeds dat dit nie ‘n onmoontlikheid is dat die Hane en die All Blacks mekaar in die eindstryd gaan ontmoet nie.

Beserings eis sy tol en die reserwes sal nou hulle staal moet wys. Die Bokke sal sekerlik vir Butch James op binnesenter moet speel. In elk van die Wêreldbekers wat ons gewen het, het ‘n losskakel op binnesenter gespeel. Juan de Villiers kan as impakspeler op binnesenter ook baie beteken. Bryan Habana bly vir my ‘n kopseer. Ek is seker dat hy beseer is en dat hy weer net vir 20 minute sal speel.

Die Bokke sal hulle spelpeil met nog so ‘n 20% moet lig teen die Wallabies, anders is dit dalk hulle beurt om huistoe te kom.

Die interessantse wedstryd sal sekerlik die een tussen Wallis en Ierland wees. Wallis is sekerlik die mees afgeronde van die Noordelike Halfrond  se spanne en hulle afrigter, Warren Gatland, word hoog aangeslaan.

As die wedstryde op die vertonings van die uitspeelfases beoordeel word lyk dit of nét die All Blacks verseker van ‘n oorwinning is. Die ander sal maar op die dag se spel beoordeel moet word.

Pasop vir die Hane – as hulle die dag kliek, spel dit gevaar vir hulle teenstanders.

Die Bulle sal moet seker maak dat hy sy volgende twee wedstryde met bonuspunte wen as hy wil kwalifiseer vir die uitspeelrondes.

Dit is nie ‘n onmoontlike taak nie, maar die Griekwas op Kimberley is nie aldag ‘n maklike neut om te kraak nie. Die Luiperde op Loftus is ‘n baie meer haalbare 5 punte as die Griekwas op Kimberley.

Die Leeus kan hulle self gelukkig ag om gelykop teen die Cheetahs te speel. As dit nie vir die geelkaart was nie sou hulle nie so maklik die twee drieë teen die einde gedruk het nie. Dit sou niks op die Leeu-log verander het nie, maar dit sou die kanse van die Cheetahs op ‘n moontlike tuis-halfeindstryd kon verbeter.

Noudat beide die Wêreldbeker en die Curriebeker einde se kant toe staan, raak die spanning al hoe groter en die opwinding en spanning voelbaar.

Tot volgende keer,

Bloubul

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Derek ·

Goeie dag oom,
 
Die AB’s sal die naweek wen, maar gaan sukkel om die titel te verower sonder Daniel Carter.  Die AB’s het al bewys dat sonder Carter is hulle kwesbaar.  As die bokke die naweek wil wen moet ons 10 man rugby speel; seker maak ons skop die bal uit; moet nie die AUS agterlyn spasie gee nie en in jou gesig rugby speel.   Hoe meer ons manne soos Ginea, Beal en Q Cooper tackle hoe minder goeie besluite sal hulle neem.

Roux Polla ·

Dit is waar dat ons 10 man rugby moet speel want met die 88%”strikerate “van Morne Steyn kan hy die telbord aan die rol hou.
Ek is maar bekommerd oor die beserings in die Bokspan en die invloed daarvan op die res van die groep.
Geniet die uitspeelwedstryde.

Anoniem ·

Ja-nee, lyk my die strategie om op die skeidsregter staat te maak om jou te help om die wedstryd te wen, ‘n strategie met voete van klei was.

Ek is hartseer vir die Springbokke.  Die beste spelers in die wêreld met die swakste afrigters in die wêreld.

Hoe ver bring 10-man rugby jou in die wêreldbeker? 

Tot by die eerste uitklopwedstryd.

Anoniem ·

Ek hou nie baie van die gedagte van “10 man rugby” nie, veeleerder die ou “maak sag voor en slaan agter.”  Hierin speel 10 man rugby ‘n belangrike rol, maar dit is beslis nie waar dit eindig nie.

Hierdie “maak sag voor en slaan agter” -mantra wat Springbokrugby die reus van die amateur-era gemaak het (ons het voor 1994 heelwat meer wedstryde teen die All Blacks gewen as verloor), is al te geredelik opsy geskuif vir Kitch Christie se stampkarrugby.

Ons het so ‘n ietwat van ‘n glinster van daardie strategie uit die vergeteldheid ontruk met die wedstryd teen Fidji, veral danksy Frans Steyn se verspreiding vanuit binnesenter, eerder as om altyd voorspelbaar na binne te breek of ‘n simpel skoppie te gee.

Sonder Frans kan ons seker maar verwag dat ons weer gaan terugkeer na stampkarrugby en daarmee is die dood waarskynlik in die pot in die uitkloprondtes.

Dit laat my wonder waarom Frans Steyn se verspreiding so ‘n besonder vars bries was?  Is dit dalk omdat hy in Frankryk behoorlike agterlynafrigting ontvang?

In Suid-Afrika is dit mos sedert 1994 van kleins af die gebruik om die “kwotaspelers” op vleuel te “parkeer” en dan bloot nooit die bal na hulle toe uit te gee nie.

Die dat ons spelers so vasgehaak het by “10 man rugby” sedert 1994 en die eertydse Springbokglorie verdof het tot ‘n dowwe skynsel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.