Harde lesse uit herdenking van einde van Eerste Wêreldoorlog

Mense geklee as Eerste Wêreldoorlog-soldate woon ʼn plegtigheid by in die Thiepval-gedenkbegraafplaas in Noord-Frankryk tydens die 100ste herdenking van die Slag van die Somme, die dodelikste slag van dié oorlog. Meer as een miljoen mense is dood, beseer of vermis in dié slag op 1 Julie 1916. Foto: Stephane de Sakutin, Pool via AP/ANA.

Dit is vanjaar een honderd jaar sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog. Die Eerste Wêreldoorlog was veronderstel om die oorlog te wees wat ’n einde aan alle oorloë sou bring. Dit was ook ’n oorlog wat veronderstel was om vinnig oor en verby te wees. Uiteindelik was die Eerste Wêreldoorlog een van die grootste tragedies wat die wêreld en in besonder Europa gedurende die twintigste eeu getref het. Ná vier jaar van oorlog en die dood van 16 miljoen mense het Europa op geen beter plek as voor die aanvang van die oorlog in 1914 gestaan nie. Talle historici is dit eens dat die uitkoms van die Eerste Wêreldoorlog juis aanleiding gegee het tot die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog slegs ’n paar jaar later.

Terwyl die einde van die Eerste Wêreldoorlog vanjaar herdenk word, moet ons probeer verstaan wat die gevolge van die einde van hierdie bloedige stryd was en steeds vandag is. Die einde van eens magtige ryke soos die Oostenryk-Hongaarse Ryk en die Ottomaanse Ryk was een gevolg van die oorlog wat vir dekades ná die oorlog steeds grootskaalse gevolge vir Oos-Europa en die Midde-Ooste ingehou het. Soos in talle ander oorloë in die wêreld se geskiedenis is die gevolg van die einde van een oorlog maar net die katalisator vir toekomstige konflik.

Die vraagstuk oor grense in streke soos die Midde-Ooste en Oos-Europa wat deur die einde van die Eerste Wêreldoorlog geskep is, is vandag steeds nie opgelos nie. Die Ottomaanse Ryk het grootliks daarin geslaag om voor die oorlog vrede in die Midde-Ooste te handhaaf. Sedert die einde van die oorlog, die totstandkoming van Israel, maar ook territoriale state soos Sirië en Irak waar mense van verskillende strominge in die Moslemgemeenskap in nuwe state saamgevoeg is, woed daar voortdurend ʼn stryd in die Midde-Ooste.

Ook die opbreek van die Oostenryk-Hongaarse Ryk en die totstandkoming van Hongarye, Joego-Slawië, Oostenryk en Tsjeggo-Slowakye (voor dit in 1993 Tsjeggië en Slowakye geword het) het vir dekades ná die oorlog steeds konflik en negatiewe gevolge vir miljoene mense gehad. Hongarye het groot dele van sy grondgebied verloor en honderde duisende Hongare het skielik as minderhede in ander lande gewoon. Die insluiting van Transsilvanië by Roemenië het die probleem vererger. Tussen 1920 en 1924 moes meer as 350 000 Hongare uit Roemenië, Tsjeggo-Slowakye en Joego-Slawië vlug. Die uiteindelike verval van Joego-Slawië en die gevolge van konflik wat dit gedurende die 1990’s ingehou het, is nog ’n nadraai van die Eerste Wêreldoorlog.

Daar bestaan vandag min twyfel daaroor dat die wyse waarop Duitsers deur die vredesooreenkoms van Versailles polities verneder en ekonomies onder enorme druk geplaas is, uiteindelik aanleiding gegee het tot die opkoms van Nazisme.

Oorlog het nog baie min in die wêreld se geskiedenis tot ’n beter bedeling aanleiding gegee. Dit is dalk die belangrikste les van die einde van die Eerste Wêreldoorlog. Min Amerikaners, veral senior politici in die Bush-administrasie het sekerlik gedink dat hul beplande vinnige oorloë in Irak en Afganistan tot uitgerekte chaos aanleiding sou gee. Dit terwyl hulle moes onthou wat in Korea en Vietnam gebeur het.

Laat die herdenking van die einde van die Eerste Wêreldoorlog ons vanjaar daaraan herinner dat oorlog altyd die laaste opsie moet wees.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Voorwaar die laaste opsie want die wenner bepaal die nuwe huisreëls. Diè onderwerping daaraan kan vegelyk word aan die teësinnige gewilligheid waarmee jy jou swaarverdiende loon oorhandig aan n vreemdeling met n pistool teen jou kop.

John ·

Dan het Duitsland mos tog WO2 gewen want sy bestuur tans die hele Europa en laat Brittanje sweet in haar poging uit die slinkse EU-greep te ontsnap.

Eish ·

Ek stem, die keer net nie met wapentuig van vernietiging nie, maar deur harde werk, dissipline, standaarde en al die ou Westerse kenmerke en waardes wat dit aanvanklik op die kaart geplaas het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.