Harde werk gee geloofwaardigheid, nie of jy ʼn mev. Van der Merwe is nie

Dudu Myeni het die week met ‘n videoskakel voor die Zondo-kommissie getuig. Foto: Itumeleng English/African News Agency (ANA)

Die voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), Dudu Myeni, het die week “getuienis” gelewer voor die Zondo-kommissie na staatskaping, maar merendeels haar swygreg gebruik om haarself nie te inkrimineer nie. Sy het wel op Donderdag 5 November die geleentheid misbruik om ʼn paar desperate politieke houe in te kry en haarself te regverdig.

Sy het onder meer gesê sy word gekriminaliseer omdat sy ‘n sterk swart vrou is wat toevallig met oudpresident Jacob Zuma verbind word. En dan maak sy die verbluffende stelling: “As ek die keuse gehad het, sou ek die volgende dag graag wou wakker word as mev. Wit (White) of mev. Smith, of mev. Van der Merwe, omdat dié name vir my geloofwaardigheid in my eie land sou gee.”

Hierdie stellings wat sy maak, is die mees tasbare bewyse van die politieke arrogansie en toeëiening wat in die huidige politieke heersersklas teenwoordig is.

Die 56-jarige Myeni het ʼn laerskoolonderwyssertifikaat van Madadeni College en ‘n sekondêre onderwysersdiploma van Umlazi College in KwaZulu-Natal. Sy het omstredenheid veroorsaak toe sy aandui dat sy ʼn BA-graad in administrasie aan die Universiteit van Zoeloeland verwerf het. Dit is later reggestel en daar is verduidelik dat sy wel ingeskryf is vir die graad. Dit is egter nie bekend of sy toe wel later die graad verwerf het nie.

Met haar onderwyskwalifikasies het sy egter besonder goed gevorder om dan later voorsitter van die SAL, verskeie direksies en ook die voorsitter van die Jacob Zuma-stigting te word. Dit moet egter gesien word in alles wat in haar guns getel het sedert 1994.

Mev. Myeni, as ʼn swart vrou, kon alles en meer ontvang as ʼn begunstigde of nuut bevoorregte van swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie en alles wat ʼn mev. van der Merwe of Smith nie kon kry nie omdat hul name en velkleur teen hulle sou tel. As dit ʼn middeljarige mnr. van der Merwe of Smith was, sou dit nog meer teen haar gehou word, want omgekeerde diskriminasie op grond van geslag en ras maak hulle nog meer onwenslik in enige werkplek. Ons moet ook aanvaar dat ʼn mev. van der Merwe Afrikaans is, en dit maak dan van haar ʼn teiken vir rassisme en taalbenadeling, beslis nie geloofwaardigheid nie.

Mev. Myeni, moet ons ook aanvaar, is ʼn lojale ANC-kader. Haar kaartdraende lidmaatskap van die ANC sou deure geopen het en haar loopbaan is vanuit die Luthuli-huis beplan. As ANC-kader kan sy droogmaak op een plek, maar weet dat sy herontplooi sou word na ʼn ander staatsdepartement of instelling, of dalk selfs as ambassadeur in die buiteland aangestel kon word waar enige prestasie, kundigheid en vermoë ondergeskik gestel word aan haar partylidmaatskap. Ons moet dus aanvaar dat mev. Dudu Myeni en duisende ander se ANC-lidmaatskap hulle wel bevoordeel het, want op Woensdag 17 Julie 2019 erken mnr. Jacob Zuma voor die Zondo-kommissie na staatskaping dat “lojaliteit aan die ANC een van die faktore is wat oorweeg word wanneer individue vir die regering en ondernemings in staatsbesit aangestel word.”

Daar is ʼn ander faktor wat in spel is en wat mev. Myeni waarskynlik ook begunstig. Omdat sy besonder naby aan die persoon van Jacob Zuma is en deurentyd in die Jacob Zuma-dampkring is, is sy vermoedelik ook ʼn ernstige begunstigde van die Zuma-patronaatskappe wat poste, gunste, kontrakte en tenders kon insluit. Dit alles het die grondslag gelê vir staatskaping. Dit is dus nie net assosiasie nie, maar direkte voordeel uit patronaatskappe, iets wat ʼn mev. Van der Merwe beslis nie sou kon regkry nie.

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-raad. (Foto: ANA)

Die nuwe demokrasie het besondere bevoorregting gebring vir iemand soos Myeni. Sy was op die regte tyd op die regte plek as ʼn swart vrou, wat polities verbind is tot die regte party en tot die voormalige president. Regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, kaderontplooiing en patronaatskappe het almal ʼn besondere klas van bevoorregtes geskep. Mev. Myeni kan ʼn regmerkie maak langs elkeen, iets wat ’n mev. Smith of Van der Merwe nie kan doen nie. Die wilde stelling dat die name geloofwaardigheid kon gee, is van alle waarheid ontbloot en sou die naam Van der Merwe in 1994 teen haar getel het net soos wat dit in 2020 teen haar sou tel.

Deur die ANC se toepassing van kaderontplooiing het die ANC die staatsdiens en ander semi-staatsinstellings absoluut verpolitiseer met rampspoedige gevolge vir die mislukte staat deur staatskaping, korrupsie en wanbestuur. ’n Eens suksesvolle staatsinfrastruktuur is deur wanbestuur, gebrekkige bestuur of doodeenvoudige onbekwaamheid laat verval omdat lojale partykaders in posisies van verantwoordelik geplaas is waarvoor hulle nie opgelei is, nie ervaring voor het nie, maar wel lojaal aan die ANC is.  Dit is wat met die eens trotse Suid-Afrikaanse Lugdiens gebeur het waarvan mev. Myeni voorsitter was.

Sy kon geloofwaardigheid vir haarself verseker het deur net soos enige ander persoon, ongeag ras of geslag, hard te werk en deur uitnemendheid te presteer. Maar hiervan sal mev. Myeni nie baie weet nie en sou die van Wit (White), Smith of Van der Merwe ook in haar besondere posisie nie veel gehelp het nie. Sy het al die brûe reeds agter haar verbrand en speel nou, soos elke politikus wat in die knyp is, die desperate rassekaart.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Helmien

Briljant geskryf, wel gedaan Jan!

Janine

Die ‘persoon’ is so dig soos kan kom. Ek skaam my dood dat diesulkes in parlement is! En dan natuurlik; die blanke Afrikaner word vir als blameer. Wat ‘n skande!!!!!!!!

Dapper Patriot

Baie goed geskryf!!

As Dudu maar net kon besef dat as sy “mev. White” of “mev. van der Merwe” was sou sy nooit
haar huidige pos of enige een van haar vorige poste ontvang het nie want sy het alles gekry danksy rassistiese wette soos SEB (Swart Ekonomiese Bemagtiging) of beter bekend as BEE/BBBEE (Broad Based Black Economic Empowerment) .
Miskien as sy begin verantwoordelikheid vat vir haar aksies sal jy iewers kom in die lewe, want om blankes al die skuld te gee, gaan haar nêrens kry nie.

Ek dink dis tyd vir Dudu om te gaan dudu.

Snowball

Puik saamgevat mnr Bosman. Hierdie is die siekte in die ANC – geen verantwoordbaarheid of skulderkenning nie. In kort: gebrek aan karakter.

Boerkind

Jy kan ‘n by nie afleer om heuning te maak nie… so ook kan jy ‘n skerpioen nie afleer om sy angel te gebruik nie… Sê maar net!