Hector Pieterson en Nasie van Eck – ’n “twee-tot-twintig” verhaal

Dirk van Eck by die foto's van sy gesin. Foto verskaf deur AfriForum Jeug

’n Kransleggingseremonie waar die nagedagtenis van die slagoffers van die ANC se terreurdade herdenk was, het onlangs vurige kritiek uit sekere oorde ontlok. Die kranslegging is op dieselfde dag as die ANC se eeufeesvieringe deur AfriForum Jeug aangebied. Die doel was gedeeltelik om te verhoed dat die slagoffers van ANC-terreurdade vergete raak in die propagandistiese wyse waarop die ANC die donker kant van sy verlede tydens die feesvieringe verbloem.

“Ons moenie uitgelewer word aan die eensydige, geromantiseerde weergawe van die ANC se geskiedenis nie,” het AfriForum Jeug se nasionale voorsitter, Charl Oberholzer gesê. “Dit is ’n mite dat almal wat aan die struggle deelgeneem het, onbevlekte helde was.”

Dirk van Eck, ’n langslewende slagoffer wat die kranslegging bygewoon het, se vrou Kobie (34), sy dogtertjie Nelmari (9) en sy baba-seuntjie Nasie (2) is op 15 Desember 1985 deur ’n ANC-landmynaanval naby Messina vermoor.

“Vryheidsvegters vermoor nie vroue en kinders nie,” het Oberholzer gesê.

Hierdie pil was onder sommiges net te bitter om te sluk. Die kranslegging is deur sommige woedendes as ’n “daad van segregrasie” beskryf en die kransleggers as “rassistiese apartheidsaktiviste”. AfriForum se jeugleiers is selfs met massamoordenaars vergelyk!

Meer as een mond het gevra waarom die kranslegging nie vir Hector Pieterson gehou was nie en op grond hiervan tot die gevolgtrekking gekom dat AfriForum die moord op Pieterson ondersteun of dat die kranslegging gehou is met die doel om rassisme aan te moedig.

“Hoekom Nasie en nie Hector nie?” is die vraag.

’n Vraag soos hierdie verdien om met die nodige erns opgeneem en beantwoord te word. Hector Pieterson is op 16 Junie 1976 tydens die bekende Soweto-opstande doodgeskiet. Hy was twaalf. Nasie van Eck is op 15 Desember 1985 tydens ’n ANC-landmynaanval vermoor. Hy was twee. Twee tragiese verhale wat na my mening ewe hard betreur moet word.

Baie wat ooreenstem. Wat is dan die verskil tussen Nasie en Hector? Hier is ’n paar verskille:

’n Verskil is dat die hele Suid-Afrika en groot dele van die wêreld weet wie Hector Pieterson is, terwyl die meeste van die lesers van hierdie artikel nog nooit van Nasie van Eck gehoor het nie. ’n Verskil is dat kransleggings jaarliks vir Hector Pieterson gehou word, terwyl die organiseerders van ’n kranslegging vir Nasie van Eck van rassisme beskuldig word. ’n Verskil is dat kransleggings ter nagedagtenis aan Hector Pieterson byna sonder uitsondering deur die nasionale uitsaaier uitgesaai word, terwyl Nasie van Eck se kranslegging van die uitsaaier se dagboek verwyder is. Nog verskille is dat monumente vir Hector Pieterson opgerig word, dat sy naam in die president se staatsrede genoem word, dat die dag van sy afsterwe tot ’n nasionale vakansiedag verklaar is en dat kinders en studente op skole en universiteite van Hector Pieterson leer, terwyl Nasie van Eck se monument ’n geraamde A4-foto teen sy pa se muur is, dat die staatspresident nie in hom belangstel nie, dat die herdenkers van sy afsterwe beledig word en dat 15 Desember elke jaar ongesiens verbygaan. ’n Verskil is dat ’n “Hector Pieterson” Google-soektog ongeveer 144 000 resultate oplewer – insluitend inskrywings op Wikipedia en ander bekende bladsye, om nie te praat van al die boeke waarin sy naam verskyn nie, terwyl ’n “Nasie van Eck”-soektog net mooi agt resultate oplewer. ’n Verskil is dat Hector in die ANC-kamp was, terwyl Nasie in geen kamp was nie.

Het enige van hierdie inligting enigiets te doen met die relevansie of regverdiging van hulle moorde? Sekerlik nie. Sou diegene – wat die kranslegging ter herinnering aan mense soos Nasie van Eck met aggressie begroet – argumenteer dat Nasie sy dood ’n klein bietjie meer verdien het as Hector? Hulle waag dit nie!

Waarom word die Nasie van Eck-kransleggers dan uitgejou? Ek dink dit het te doen met vrees. Vrees uit die wete dat die ANC regoor die wêreld as helde getipeer word en daarmee saam die persepsie dat dié wat dit waag om kritiek op die ANC te lewer sekerlik Nazi’s of iets dergeliks moet wees (ironies dat die organiseerders van die kranslegging juis ’n persoon wat met ’n swastika daar opgedaag het, gevra het om die pad te vat). Vrees dat jou kans op bevordering by ’n openbare instelling soos ’n universiteit of hoofstroomkoerant gekortwiek kan word as jy nie ’n lojaliteit teenoor die ANC se geskiedenis bewys nie.

Jill Wentzel noem hierdie verskynsel die “twee-tot-twintig”-reël. Wentzel, ’n anti-apartheidsaktivis en stigterslid van die Black Sash se oortuigings kan kwalik bevraagteken word. In haar boek The Liberal Slideway verduidelik sy die morele dilemma van die destydse “liberales” wat deur die ANC se halssnoermoorde en ander gruweldade gegrief was. Hulle was bewus daarvan dat dit onregverdigbaar is, maar het gevrees dat hulle kritiek teenoor die ANC die indruk kon skep dat hulle sogenaamde “anti-apartheid credentials” bevraagteken sou word. Daarom moes kritiek op die ANC voorafgegaan word deur lang uitbreidings oor die boosheid van apartheid. Vir elke twee negatiewe opmerkings oor die ANC moes jy eers twintig positiewes maak. In haar boek People’s War, verduidelik Anthea Jeffery van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings dat hierdie beginsel ook vir uitgebreide tydperke deur verskeie media-instellings in hul verslaggewing oor die ANC afgedwing was.

Die gevolg is ’n byna-bonatuurlike heldeverering van diegene wat teen apartheid baklei het. ’n Heldeverering wat so diep gewortel is dat enige kritiek op die ANC (en in besonder die ANC se verlede) met aggressiewe teenkanting begroet word.

Die uitvoerende direkteur van die Centre for Politics and Research, Prince Mashele, skryf in The Death of Society oor die gevaar van heldeverering in Afrika-state. Hy beskryf dit as ’n benadering waar voormalige leiers se status só opgehef word dat hulle byna bonatuurlike wesens word en dat die res van ons ’n morele verpligting ontwikkel om die grond waarop hulle geloop het figuurlik (of soms letterlik) te aanbid. Hy verduidelik dat ’n politiek wat op hierdie bonatuurlike heldeverering gebaseer word uiteindelik totaal daarvan afhanklik raak. Afhanklik tot op die punt dat die totale bestel inmekaar kan stort as hierdie mensegemaakte persepsie – die onaantasbare – gekrenk word.

Ek het Nasie se foto’s gesien en ek het Hector se foto’s gesien. Albei het my gegrief. Die ineenstorting van staatsbestelle en krenking van heldevereraars se politieke aspirasies is egter nie vir ’n oomblik tydens die beplanning van die kranslegging oorweeg nie. Die doel was bloot om balans te bring. As die toepassers van die “twee-tot-twintig”-reël kwaad is omdat die Nasie van Eck-kranslegging nie deur ’n reeks Hector Pieterson-kransleggings voorafgegaan is nie, en die aanbieders van die aksie van bose sameswerings wil beskuldig, is hul welkom. Ons het nog 143 992 Google-inskrywings om vol te maak…

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Paul ·

Dis ietwat van die punt af, maar dis vir my altyd met die Hector Pieterson-geval baie interessant dat dit Pieterson is wat as ‘n held vereer word, maar as mens die naam “Mbuyisa Makhubo” noem, sal min mense weet wie dit is. Dit is die ou wat vir Hector na die verslaggewer se kar gedra het – tog sekerlik eintlik die held van die verhaal, dan nie?

So ook die feit dat ‘n kind met die naam Hastings Ndlovu op daardie dag doodgeskiet is voordat Pieterson geskiet is. Hy is egter nie dramaties gefotografeer nie, en daarom weet meeste mense ook nie van hom nie. Darem interessant watter verskil ‘n goeie foto aan die geskiedenis kan maak.
Nog so ‘n geval is die foto van Che Guevara wat deur Alberto Korda geneem is, waarsonder Che seer-sekerlik nie so groot ikoon sou geword het nie.

Wat die AfriForum-kranslegging betref, is die beswaar dat dit rassisties is om slegs ‘n krans te lê vir Nasie van Eck eintlik lagwekkend weens die totale gebrek aan logika wat daarmee gepaard gaan.

Louis du Plessis ·

HOE DIEP KYK ONS?

1 Ernst Roets beskryf op 12 Januarie 2012 hierbo die belangwekkende historiese aard van die moord op Nasie van Eck, wat by baie waarnemers bykans ongesiens verbygegaan het. Hierdie siening sluit aan by die nuuskommentaar van 13 Januarie 2012 oor die soort “nuus wat die volk aangryp”. In laasgenoemde bydrae voer die skrywer tereg aan: “Sielkundiges en sosioloë bestudeer al lank die verskynsel dat die een insident die verbeelding so kan aangryp, en ‘n ander skaars bemerk word…”

2 Albei dié waardevolle bydraes bevat ‘n implisiete waarskuwing: Dat ons sal katvoet loop vir talle gebeure wat die media as wêreldhistoriese wendings inklee terwyl dit dikwels nie veel meer is nie as insidente wat in sensasionele, dikwels propagandistiese, frases aangebied word.

3 Albei dié besonder sinvolle bydraes bevat ook ‘n implisiete aanbeveling: Dat ons meer noukeurig moet leer onderskei tussen nuuswaardige uitsonderings en dikwels onnuuswaardige, maar dieper liggende en meer betekenisvolle, historiese tendense.

Herman Toerien ·

Dankie Louis. Ek glo regtig dat die land nou meer as ooit nodig het dat die politieke sosioloë weer pertinent tot die openbare debatte begin toetree. Ek dink die fase waar alles tot oplossings in die grondwet gerelativeer word begin nou erg in dryfsand vasval (en ek is self Staatsreg-gekwalifiseerd). Niemand verklaar die dinamiek so goed soos die politieke sosioloë nie, maar dit voel vir my hulle is te stil – en dikwels kom dit baie onregstreeks wanneer politieke wetenskaplikes en soortgelyk “gou” in die politieke sosiologie gaan oplees om te probeer verstaan hoe die dinamiek werk van die modelle wat hulle beskryf. Ek is self een van die mense wat agter die deur staan wat ‘n politieke sosiologieboek wat ek present gekry het al voos gelees het.

Theresa Papenfus ·

Ek het die vertaling van jou stuk op Politicsweb gelees, Ernst, dit het my diep beïndruk. Helder, kalm, waardig en sterk.Baie geluk, en baie dankie.
Theresa Papenfus

Carel van der Merwe ·

Na aanleiding van die kransleggings waarvan in u artikel melding gemaak word, die volgende: Die dood van Hector Pieterson is in ’n kragtige stuk propaganda omskep, maar wat was die ware feite?

Daar word voorgehou dat die “verpligte onderrig in Afrikaans” die “vuurhoutjie in die kruitvat” was en by die lees van al die propaganda artikels op internet kom ’n mens onder die indruk dat die opstand en daaropvolgende opmars “spontaan” was en dat die wit polisiemanne onsensitiewe moordenaars was.
As oud-onderwyser weet ek dat kinders nie so iets spontaan doen nie. Daar was gewis opruiers agter die organisasie en die kinders is net as kanonvoer gebruik. Wat was die rol van polities-geïnspireerde onderwysers? Was die destydse regering werklik so dom om die onderrig deur medium van Afrikaans in swart skole verpligtend te maak?

Wat was die werklike feite? Voordat ons weer ’n emosionele Hector Pieterson-dag beleef, sal dit goed wees as ’n ondernemende en betroubare joernalis die nodige navorsing doen en die werklike feite publiseer. Of bestaan sodanige navorsing reeds?

Propaganda kan net deur die onophoudelike herhaling en publikasie van die bewysbare, objektiewe waarheid gestuit word.

Paul ·

Ek het al gehoor dat ‘n bietjie van ‘n vertaalflater ook minstens deels verantwoordelik was vir die opstande. Blykbaar is ‘n Afrikaanse omsendbrief uitgestuur waarin gesê is dat onderrig “moet oorskakel na Afrikaans, waar moontlik”.
In die vertaalde, Engelse weergawe, het die “waar moontlik” gedeelte klaarblyklik weggeval en het daar slegs gestaan dat onderrig moet oorskakel na Afrikaans, punt.

Moontlik kan iemand anders meer lig hierop werp.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.