Heilige ANC-beleidskoeie word geslag

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Shayne Robinson/SAPA

Die ANC se langverwagte amptelike terugvoering oor hul rigtingbepalende nasionale uitvoerende komitee (NUK)-vergadering die afgelope naweek het ‘n paar belangrike stappe weg van sosialisme na ‘n meer markgerigte benadering gegee, maar kennelik gaan niks vinnig of dinamies gebeur nie.

Die naweek se vergadering was van groot belang vir Suid-Afrika se moontlike ekonomiese herstel en broodnodige vinniger ekonomiese groei. Tito Mboweni, minister van finansies, het verlede week die omstrede stap gedoen om die grootste koersverandering in die ANC-beleid oor enige beleidsaspek die afgelope vyf en twintig jaar openlik te propageer.

Hy het in sy persoonlike hoedanigheid ‘n streep deur die fondament van die ANC se ekonomiese evangelie sedert 1994 getrek met dieplopende voorgestelde veranderinge wat wegbeweeg van die sosialistiese konsep van die ontwikkelingstaat en die staatsdiens as hoofaandrywer van die politiek en ekonomie. Daar is ook op dramatiese wyse nogal ver oorbeweeg na die kapitalistiese markgedrewe liberale ekonomiese kernoortuigings van die DA, wat die ANC verlede maand nog basies as die duiwel se eie gif verwerp het.

Wat Mboweni voorstel, is die afslag van verskeie heilige ANC-koeie, wat beslis in die toekoms ‘n ernstige verdelende invloed binne die ANC en ‘n politieke burgeroorlog tussen die ANC en sy hegste koalisievennoot, Cosatu, gaan ontketen. Mboweni het dit gedoen sonder om die ANC te raadpleeg, wat willens en wetens ‘n uiters ernstige oortreding van ANC-regulasies is, asof hy sy party uitdaag: “Probeer nou my ekonomiese reddingsplan van burokratiese rompslomp-reëls doodswyg nadat ek dit openlik aan die media gelek het, en dank my af as julle die durf het, gegewe hoe dit die ekonomie sal skaad.”

Van die voorstelle wat ‘n lyn trek deur die ANC-beleid sedert 1994 is die gedeeltelike of totale verkoop van verliesmakende staatsbestuurde ondernemings soos Eskom, die SAL, Denel en ander – as dit presies soos privatisering lyk ruik en voel, is dit dalk presies wat dit is.

Nog ‘n ANC-koei wat al bulkend voor ons oë geslag word, is dat die ANC dit oorweeg om – kan mens dit glo – die arbeidstelsel minder rigied te maak en nuwe of kleinsakeondernemings van die arbeidstelsel kwyt te skeld. Die ANC het eindelik erken dat dit indiensneming bemoeilik en dus aanleidend bydra (Mboweni gee dit reeds toe, die ANC erken dit nog nie reguit nie) tot die land se werkloosheidsramp met die afgryslike feit dat ons land nou die hoogste wetenskaplik bepaalde jeugwerkloosheidsyfer in die hele wêreld het.

Waarna die ANC hier verwys, is die manier waarop rasgebaseerde regstellende aksie tans toegepas word, die verklaar van betrekkings tot permanente aanstellings met byvoordele (en ‘n afsonderlike stelsel van aanstelling en afdanking sodat die werkgewer meer mense kan aanstel teen ‘n laer risiko terwyl die onderneming nog strewe na stabiele lewensvatbaarheid).

Dit is presies wat die DA en die DP al sedert 1993 voor smeek – dit is presies waarvoor oproerige stakers die destydse DP-leier Tony Leon in die openbaar bloeddorstig en fisiek ernstig aangerand het, want dit was so in stryd met die beleid van dieselfde regerende alliansievennote wat die land steeds regeer. Maar nou word dit ernstig voorgestel as ANC-beleidsvoorkeur om die ekonomie te help red.

Daar is ‘n Engelse spreekwoord wat lui dat dit geen doel het om die vermoë tot denke te hê as dit nie gepaard gaan met die oopkopvermoë om van besluit te verander nie, maar as die ANC se NUK-besluit om hierdie en die ander voorstelle uiteindelik as beleid prakties te implementeer, sal dit die duiselingwekkendste politieke koersverandering in Suid-Afrika wees sedert die NP in 1990 ingestem het om die ANC te ontban en ‘n nierassige demokrasie in te lui – ʼn presiese liberale PFP/DP-beleid maar toe word die NP skielik oortuig dat die presiese teendeel van sy beleidsrigting nou die regte pad is.

En dit is waar Mboweni se uitdaging lê. Hierdie verandering is ewe fundamenteel as die NP se 1990-skuif en waar baie mense wat altyd gemeen het die ANC is ekonomies heeltemal die spoor byster, nou sal meen hierdie kan dalk die begin wees van ‘n beter Suid-Afrika.

Dit gaan ‘n skok wees vir ‘n groot deel van die ANC se tradisionele steunbasis (soos wat dit in 1990 vir baie NP-ondersteuners was) en kan lei tot sterk groeigeleenthede en populistiese drome van politieke triomf vir die meer fundamentalistiese groepering wat die potensieel afgesweerde beleid met die opgeklitsheid van suiwere en onveranderde beleid bly aanhang. In hierdie geval kan dit pap reën en groei beteken vir die EFF soos dit tussen Februarie 1990 en Maart 1992 vir die KP gelyk het. In die 1990’s het dit grootliks op ‘n oorwinning vir die liberale ideaal uitgeloop. Mens sal moet sien of die parallelle tussen die 1990’s en die huidige gebeure (ook wat die afloop betref) steek gaan hou.

Want dit is nou die volgende aflewering van Mboweni en sy ondersteuners se politieke stryd. Daar gaan teruggeveg word teen hierdie wegbeweeg van die linkse ideaal. Die Ramaphosa-groepering sal grootliks by Mboweni staan en hul NUK-oorwinning was ‘n noodsaaklike eerste stap, maar die Zuma-ondersteuner en sekretaris-generaal van die party, Ace Magashule, het sy ampsplig om die besluit af te lees by die mediakonferensie gedoen met die ywer, ingesteldheid en gesigsuitdrukking van die gemiddelde kleuter as hy of sy spinasie moet eet.

Hoewel dr. Nkosazana Dlamini-Zuma uit haar pad gegaan het om Mboweni te steun by die mediakonferensie, sal Ramaphosa se teenstanders in die ANC beslis probeer munt slaan uit enige ANC-verdeeldheid oor die koersverandering.

Wat Cosatu betref sal die aard en omvang van die voorgestelde skuif waarskynlik sy brein laat ontplof. Die moontlikheid is groot vir ontwrigtende massa-aksie van links, met Cosatu voor in die koor en die grootste toets vir ANC-Cosatu-verhoudinge sedert die stigting van Cosatu in 1985.

Gister was dus moontlik ‘n waterskeidingdag, hoewel die proses wat gister begin het, lank kan vat om af te loop. Dat die volvoering van Mboweni se waagstuk so rigtingbepalend – negatief of positief, afhangend van elkeen se voorkeur – vir Suid-Afrika se toekomstige politieke DNS kan wees soos die De Klerk-waterskeiding van 1990, is ‘n feit soos ‘n koei is, net soos daardie heilige ANC-beleidsbeeste wat Mboweni en die ANC hierdie naweek geslag het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Judge Dredd ·

Meer waarskynlik nogsteeds net praat , met geen rigting verandering.

Gert ·

EK kan nie verstaan hoe die DA nou voorgehou word as kapitaliste nie. Ek het self SMS’e van die DA ontvang dat hulle die welsynstoelae sal verhoog en uitbrei as hulle die verkiesing wen, dus meer sosialisties as die ANC. Ook ondersteun hulle BEE, dis absoluut teen die vrye mark.

Wilhelm ·

Dis waar vir vandag se DA, dat hulle meer sosialisties is, maar onthou hulle het baie verander met ou Moesie aan die stuur van sake oor die laaste paar jaar. Soos ek dit lees verwys die artikel na die ‘ou’ DP/DA toe hulle nog op die regte pad was met goeie leiers.

Dolf ·

Hopelik sal die ANC weldra skeur. Een groep wat steeds sosialisme aanhang, en ‘n ander groep wat ‘n liberale ekonomiese rigting inslaan. Bestaande partye soos die EFF en DA kan met hierdie groepe saamsmelt om twee nuwe hoofstroom politieke partye te vestig. Of dit die land sal red is steeds debateerbaar, maar die skeidingslyne is ten minste getrek.

Afrika Handelsmerke ·

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Stihl en Tehl is byvoorbeeld twee van Afrika se grootste “handelsmerke” wat konsekwent alle kompetisie in die mark ondermyn en vernietig, en daarom is dit wys om eerder Afrika te verlaat en te emigreer.

Ian ·

Hierdie is maar net slimpraatjies om die afgradering in November te probeer uitstel.

ChrisE ·

Die klok het vir die bevrydingsbende gelui. Die harde raliteite het iewers vasgeslaan. Die dae van selfhelp verryking het aangebreek. Die besef het nou deurgedring daar is net een manier van bevryding en dit is ekonomiese vryheid. Jy kan nie vryheid, stemreg of menseregte vreet nie. Harde werk en sweet op die aangesig is die enigste oplossing vir die probleem. Los retoriek en uitgediende slagspreuke van gelykheid vir almal. Dit werk nie so nie.

Leon ·

Hulle sê nognie in die openbaar dat SEB geskraap sal word, dat minimum loon afgeskaf sal word en dat swak instansies soos die SAUK en ESKOM en SAL verkoop gaan word nie.
So, dit is maar net nog ‘n klomp warm lug wat aarverwarming aanhelp.

Jerry ·

Dit is so duidelik soos daglig dat die ANC se Mboweni n plan het om die skrywer, beleggers en goedgelowige belastingbetalers te paai en te mislei sodat hulle toelaat dat die ANC die belastingbetalers se spaarfondse uitput vir kamtige herstel van die ekonomie. Die ekonomie sal nooit herstel word deur mooi woorde oor beleidsverandering nie, slegs deur die implementering en toepassing van streng voorwaardes soos byvoorbeeld die IMF se voorwaardes. Sonder streng voorwaardes en die nakom van sulke voorwaardes sal die ANC die belastingbetalers se spaarfondse heeltemal leeg melk, wat van staatskaping af reeds blyk, dat dit die ANC se CR/Mboweni plan is!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.