Helen Zille oor Singapoer en die twiet

helen-zille-da-op-flickr

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap en voormalige leier van die DA. Foto: DA/Flickr.com

Deur Helen Zille

Ek was oorbluf deur die ongelooflike durf van Singapoer se visie. Om te dink dat ʼn klein landjie met geen natuurlike hulpbronne in ʼn enkele generasie beweeg het van uiterste armoede tot die spits van moderne ontwikkeling.

 Terwyl ek vir ʼn onlangse werkbesoek aan Singapoer voorberei het, het ek met groot dankbaarheid ʼn geskenk van dié land se hoë kommissaris in Suid-Afrika ontvang. Dit was ʼn eksemplaar van Lee Kuan Yew se internasionale top-verkoper, From Third World to First – The Singapore Story, waarin die besonderhede van Singapoer se vooruitgang in die bestek van 35 jaar (1965 tot 2000) weergegee word.

Ek het vantevore dele daarvan gelees, in die vroeë 2000’s, net ná my verkiesing tot die provinsiale regering. In daardie stadium het ek nie genoeg ondervinding gehad om die implikasies daarvan te kan begryp nie. Nietemin, ek het ewe hooghartig gedink: “Wat kan ons nou leer van Singapoer? Dis ʼn outoritêre land. Ons is die Suid-Afrikaanse Wonderwerk, die reënboognasie, wat gevorder het van muishond van die wêreld tot demokrasie se pronkskepping in minder as ʼn dekade. Ons oorgang was selfs blitsiger as Singapoer s’n! Hulle kan iets van demokrasie by óns leer.” Ek het die Kool-Aid van Suid-Afrikaanse uitsonderlikheid gedrink.

Vandag, waar ek langer as 13 jaar in die regering dien, is ek op pad na Singapoer vir die eerste keer. Ek het besluit om Lee se boek opnuut te verken. Dit was ʼn openbaring. Ek is nie naïef genoeg om ewe gedienstig al die argumente te sluk van die man wat Singapoer in 1965 uit Britse kolonialisme na onafhanklikheid gelei en daarna drie dekades lank as eerste minister gedien het nie. Die gewese vakbondverteenwoordiger, regsgeleerde en antikoloniale aktivis – liefdevol bekend onder sy voorletters LKY in sy vaderland – sou heeltemal te verstane sy boek eerder op die meer positiewe aspekte van Singapoer se ontwikkeling fokus. Ek het dus ander inligtingsbronne ook gelees, waaronder Freedom House se ontleding van vergelykende state van vryheid in lande wêreldwyd. Die slotsom hiervan is dat Suid-Afrika vry is; Singapoer is net deels vry.

Met die aankoms op Singapoer se Changi-lughawe, ná drie vlugte van altesaam 13 uur (plus ʼn ses-uur-tydsoneverskil), het ons reisplan ʼn kort opfrissingsbreuk toegelaat alvorens ons die volgepropte program sou aanpak. Die oomblik wat dit begin het, het dit gevoel soos om volstroomwater uit ʼn brandkraan te drink.

Die hoogtepunt was ongetwyfeld die aanbieding van Singapoer se jongste vyfjaarplan vir ekonomiese ontwikkeling en wel deur sekere lede van die span wat dit saamgestel het.

Dit was as’t ware vuurwarm uit die drukkersoond.

Die doel daarvan is om te verseker dat Singapoer sy baanbrekersrol aan die voorpunt van ontwikkeling in die nabye toekoms behou, wat ek aanneem die “vierde industriële rewolusie” is. Ek het sommer gou agtergekom dat Singapoer al daar verby beweeg het. Die fokus is nou op “Society 5.0”, die “superslim” ekonomie. Singapoer beplan om een van die pioniers hiervan te wees.

Ek was oorbluf deur die ongelooflike durf van Singapoer se visie. Om te dink dat ʼn klein landjie met geen natuurlike hulpbronne in ʼn enkele generasie beweeg het van uiterste armoede tot die spits van moderne ontwikkeling, en boonop vasbeslote is om daar te bly, terwyl hulle hulself voortdurend in ʼn veranderende wêreldekonomie herontwerp.

Toe die jong aanbieder (op die oog af in haar 30’s) wou weet of ons enige vrae het, het ek huiwerig gevra: “Sal hierdie plan werklik in werking gestel word?” Agter haar onberispelike selfbeheersing kon ek sien sy dink dis die domste vraag wat iemand haar al ooit gestel het.

“Natuurlik”, het sy geantwoord en toe verduidelik hoe die land ʼn nuwe plan elke vyf jaar instel. Dit is hoe Singapoer een van die wêreld se toonaangewende hawens kon word, ʼn kragtige fabriek- of vervaardigingsektor ontwikkel het, ʼn magneet vir beleggings oor die wêreld heen en die afspringplek vir uitvoer dwarsoor Asië kon word. Goeie beplanning en inwerkingstelling is hoe Singapoer van massawerkloosheid na ʼn arbeidsintensiewe vervaardiging-en-uitvoer-ekonomie kon groei, daarna na ʼn top-vaardighede-, kapitaalintensiewe ekonomie, en daarna weer na ʼn digitale ekonomie. En nou vestig en balanseer hulle hulself netjies op die snykant van die toekomstige superslim ekonomie.

Verleë oor hoe dom my vraag moes geklink het, het ek verduidelik in Suid-Afrika ontwikkel ons heel goeie planne en beleidstellings, maar pas dit dikwels nie toe nie. Sy het simpatiek gelyk en verduidelik dat “transformasiekaarte” ontwikkel is as gids vir alle belanghebbers en aandeelhouers in Singapoer om van die punt waar hulle is tot waar hulle graag wil wees te vorder, oor ʼn hele reeks van sektore heen.

Ek het gevra of ek ʼn transformasieplan kon sien. Dit is binne 24 uur by my hotel afgelewer.

Daardie nag, nog erg vlugvoos en van slaap ontneem, sit ek toe op my bed in die Carlton Hotel en werk deur Singapoer se “Plan vir ʼn toekomsekonomie: Baanbrekers van die volgende generasie” (hul titel: “Plan for a Future Economy: Pioneers of the next generation”).

Regeringsplanne is gewoonlik ʼn kitskuur vir slaaploosheid. Hierdie een het my nuwe stoom gegee. Dit fokus op hoe die land sy internasionale netwerke sal verdiep en diversifiseer, hoe landsburgers en ondernemings die sfeer van “dieper vaardighede” wat die nuwe ekonomie vereis, sal betree; hoe die staat en ander rolspelers die vernuwing van ondernemings sal steun en die volgende vlak van digitale vermoëns sal verfyn en opskerp, en verseker dat Singapoer se nywerhede aan die voorpunt bly in ʼn era van intense wêreldwye mededinging. Dit sal “transformasieverandering” verg in “ʼn omvattende spektrum van nywerheidsoplossings soos vervaardiging, logistiek, verkope, vervoer, mediese sorg, die finansiële sektor en openbare diens”.

Die woord transformasie (oorgang) het ryklik voorgekom, maar dit beteken iets heel anders as sy Suid-Afrikaanse eweknie. In Singapoer se veelrassige en multikulturele meritokrasie is Suid-Afrika se weergawe van “transformasie” – omkopery-gebaseerde verryking van die swart elite, onder die dekmantel van swart ekonomiese bemagtiging – ʼn onverstaanbare amalgaam van rassisme en korrupsie wat ontwerp en bestem is om ekonomiese mislukking te waarborg.

Ek was in ekstase vir Singapoer, maar terneergedruk vir Suid-Afrika. Om my gedagtes op ander dinge te probeer fokus, het ek e-posse van my tuisland wat oor die afgelope 48 uur opgehoop het, begin lees.

Die eerste een lig my toe in oor die onttrekking, nogmaals, van die spanne wat veseloptiese kabels en internetaansluiting na ons armste skole moet aanlê en installeer. Die rede? Hulle is vir die soveelste keer deur booswigte in die gebied gedreig.

Daarna lees ek toe in die jongste misdaadstatistieke dat ons moordsyfer weer eens hemelhoog is – terwyl dit my te binne skiet dat Singapoer se vooruitgang daarop berus dat dit een van die laagste misdaad-en-korrupsiesyfers ter wêreld het.

En tog, herinner ek myself toe daaraan (desperaat op soek na ʼn strooihalm), Singapoer is net gedeeltelik vry. Ons is vry. Singapoer lê mense die doodstraf op vir dwelmsmokkelary. Ons konstitusionele hof het hierdie barbaarse straf verbied. Ek het die gedagte onderdruk dat ons regering, in ons vrye land, in sy eerste plig faal, naamlik om die veiligheid en sekuriteit van sy landsburgers te verseker.

Ek het my kop in skaamte laat sak omdat Suid-Afrika se hoë kommissaris in Singapoer, Hazel Ngubeni, kort voor ons besoek afgedank is omdat sy versuim het om ʼn vorige strafregtelike oortreding (en twee jaar gevangenisstraf) vir kokaïensmokkelary na New York te verklaar. In Suid-Afrika, waar sy in die gesig gestaar word deur ʼn ander aanklag van heroïensmokkelary vanaf Thailand, het die saak ineengetuimel omdat ʼn sleutelgetuie geweier het om te getuig.

Hoeveel beteken ons vryheidsgradering nou eintlik as ons nie eens die mees basiese strafregkanale kan laat werk nie, het ek myself afgevra. En wanneer aanklagte roetinematig teenoor ANC-grootkoppe in die hoogste gestoeltes teruggetrek word? In elk geval, wat beteken vryheid sonder regsreëls en die oppergesag van die wet?

Nie by magte om te slaap nie flits die gedeelte in Lee Kwan Yew se boek, waarin hy beskryf hoe hy snags wakker lê en dink aan die uitdagings van die brandarm land wat hy moet lei, deur my gedagtes: die massawerkloosheid, gebrek aan onderwys, feitlik afwesige sanitasie, ʼn klaaglike tekort aan natuurlike hulpbronne (nie eens voldoende water nie), morsige plakkerskampe met groot gepaardgaande brandgevaar, opiumverslawing, die afwesigheid van ʼn volksgevoel en nasietrots onder mense behorende tot ʼn swetterjoel tale, “rasse”, kulture en godsdienste.

Hierdie uitdagings het tot soveel stres gelei dat sy vrou, Choo, dokters gevra het om vir hom kalmeermiddels voor te skryf, waarop hy teengekap het: “Ek vind bier of wyn saam met aandete werk beter as pille.”

Ek het na my man se diep, rustige asemhaling langs my geluister. In die loop van 34 jaar (afgesien van ʼn glas wyn) het hierdie geluid my gunsteling-kalmeermiddel geword.

Ek het my gedagtes van probleme na moontlike oplossings verskuif. LKY se sukses was gegrond op die enigste hulpbron waaroor sy land beskik het: “Mense wat hardwerkend, gretig om te leer en spaarsamig was.”

Hy het dit gekombineer met ʼn gedrewe toekomsfokus, ononderhandelbare meritokrasie, nulpunt-verdraagsaamheid vir korrupsie en ʼn vasbeslotenheid om voort te bou op die institusionele fondamente wat die koloniste nagelaat het, veral die Engelse taal, die seehawe, en die ontluikende, kontantbasis-handelstelsel.

In daardie stadium was sy benadering heeltemal teenintuïtief. Dit het teen die grein ingedruis. Die konvensionele wysheid – nee, onweerlegbare waarheid destyds – was dat multinasionale korporasies die bose gesig van kolonialisme verteenwoordig, “uitbuiters van goedkoop grond, arbeid en ru-materiale”. (Die Suid-Afrikaanse ekwivalent vandag is Wit Monopolie-kapitaal.) Terwyl LKY hierdie diskoers verstaan het, het hy geen tyd of ooghare vir ideologie gehad nie. So het hy dit gestel: “We had a real life problem to solve, and we could not be conscribed by any theory or dogma.”

Die grootste “werklike-lewe-probleem” in Singapoer destyds (soos in Suid-Afrika vandag) was massawerkloosheid en armoede. Elke keer wat hy en kollegas by ʼn skool verbygery en honderde kinders sien uitstroom het, het hy gewonder hoe op aarde daardie kinders eendag werk sou kry en hul lewe kon verbeter.

LKY het die wêreld deurkruis terwyl hy die eertydse koloniale magshebbers en buitelandse regerings verseker het dat Singapoer ʼn veilige en winsgewende beleggingsbestemming sou wees, asook ʼn ideale vervaardiging-en-uitvoerbasis, dat die korrupsievrye regering die belyning van plaaslike vaardighede met sakebehoeftes sal aanspoor, ʼn sterk werksetiek en uitwaartse gerigtheid sou aanmoedig en kompetisie deur produktiwiteit sou hokslaan en klop.

Kort voor lank het Singapoer en sy hawe gedy.

Binne 15 jaar ná onafhanklikheid kon Lee skryf: “We had left our old problems of unemployment and lack of investments behind us.”

Die kleine grammadoela-landjie, eens in die wurggreep van armoede, het ʼn magneet vir entrepreneurs wêreldwyd geword.

Terwyl hy in die algemeen die nalatenskap van kolonialisme tot sy voordeel ingespan het, moes hy een struikelblok op sy pad takel. Sy klaaglied klink so: “Singapore’s British-style trade union practices had been the bane of our labour movement.”

Lee was self ʼn vakbondleier, maar het hom toe juis tot vakbonde gewend om te betoog dat onrealistiese, buitensporige eise die belange van die werkers en die bloedjong onafhanklike land sou knou.

Só stel hy dit: “I told the unions they must not kill the goose whose golden eggs we needed.” Arbeidsonrus sou meganisering aanmoedig en werkloosheid vermeerder. Verhoogde produktiwiteit sou meer beleggings trek, asook meer vernuwing, ʼn groter vraag na vaardighede en hoër lone.

Die gevolg was ʼn groeikoers wat werkloosheid in 1997 tot 1,8% afgeskaal het. Vir 25 jaar, vanaf 1973, kon LKY hierop roem: “Average real wages increased annually by almost 5%.”

Die storie van hoe hy die land se behuisingskrisis opgelos het, is selfs nog meer indrukwekkend. Dis egter te lank om hier te vertel. In ʼn neutedop: Ondanks regeringsubsidies het niemand ʼn gratis woning gekry nie. Elkeen moes betaal vir sy of haar woonplek.

Vandag is die begrip van selfsteun, om jou eie weg selfstandig en selfvoorsienend te baan, so onlosmaaklik verweef in die Singapoer-psige dat mense dink dis normaal.

Dit begin by die speletjies wat kinders speel. Ek was beïndruk daardeur by die Singapore Discovery Centre wat die jeug oriënteer om die uitdagings van die toekoms onder die oë te sien.

Daar was ʼn rekenaarspeletjie vir kinders, getitel “We must uphold Meritocracy and Incorruptibility”. Spelers bevind hulle in die fiktiewe Metrox-kolonie, waar hulle allerlei uitdagings moet aanpak en agterkom dis net moontlik deur eerlik te bly en hul spelprestasie te verbeter.

Dan is daar die speletjie “No one Owes us a Living” wat afspeel in die denkbeeldige kolonie Lax, waar kos opraak en die spelers alternatiewe bronne moet vind. Die wenner is dié een wat daarin slaag om genoeg kos in te voer, waarvoor betaal word met die geld wat verdien word deur “vuriglik te wedywer om beleggings te lok en werk te skep”.

Daar is ook ʼn speletjie wat fokus op taal in die fiktiewe kolonie Lingua. Hier moet die verdeelde groepe mense ʼn gemeenskaplike taal vind sodat die “verskillende spesies inwoners” maniere kan kry om saam te werk. Dis ʼn manier om kinders aan die belangrikheid van Engels bloot te stel.

Ek het heelwat stof tot nadenke gehad. Hoe kan ons Singapoer se prestasies in ons demokrasie naboots? Is dit enigsins moontlik?

Op ons terugtog huis toe is ons weer deur die Changi-lughawe. Die vorige dag is dit deur Skytrax, ʼn lugdiens-graderingsagentskap, vir die vyfde agtereenvolgende jaar as die wêreld se beste lughawe bekroon.

Twaalf uur later het ʼn reuse-kennisgewingbord die prestasie verkondig. Elkeen, van die toiletskoonmakers tot die kroegmanne, het gestraal van selfvertroue en trots oor hul gesamentlike spanpoging. Deur die nag het hulle gewerk, kosvoorraad aangevul, die jongste uitgawes van wêreldbekende koerante uitgestal, badkamers skoongemaak en na die behoeftes van ʼn krioelende laatnagskare reisigers omgesien. Hulle was, ooglopend en heeltemal te verstane, die wêreld se nommer een.

Soos altyd was dit wonderlik om die volgende oggend terug te keer na die Internasionale Lughawe OR Tambo by Johannesburg. Teen hierdie tyd het ek die personeel in die protokolsitkamer al goed geken. Hulle het beduie ons kan na die pragtig versierde vertrek met ʼn montage van Afrika-beeste teen die muur gaan.

Ek moes die plaaslike nuus inhaal, en het (vergeefs) na die televisie se afstandbeheerder gesoek. Dit was steeds weg, soos die geval was in Desember verlede jaar (die vorige keer toe ek deur die sitkamer gestap het). Ons het ʼn flitslig gebruik om die aan/af-knoppie aan die kant van die TV-platskerm op te spoor. Dit het ook nie gewerk nie (nes in Desember).

Ek het die probleme weer aangemeld.

“Ja, ons weet,” het die sjarmante protokolbeampte geantwoord. “Maar dit is nie ons verantwoordelikheid om dit reg te maak nie. Ons het dit aangemeld by ACSA (Airports Company South Africa).”

Daarna het ek gevra of ek ʼn koerant te siene kon kry. Jammer, geen koerante nie. Teen 07:15 was dit te vroeg.

Hulle het vir ons iets te drinke aangebied. Ons het tee bestel. Dit is verskaf, maar “jammer, daar is geen melk nie” maak die glimlaggende werknemer toe verskoning. Dis presies wat ons in Desember 2016 ook moes hoor, maar ek onthou dat hulle toe wel melk in die personeel se yskas opgespoor het. Ek het destyds gevra waarom daar geen melk in die passasiers se yskas is nie, en die antwoord was dat melk wat oornag in die yskas gelaat word klokslag gesteel word.

Hierdie keer het ek wéér ʼn melkspeurtog versoek, en sowaar, ʼn kykie in die personeelyskas lewer toe dieselfde positiewe resultate op. Melk vir die personeel, maar nie vir die passasiers nie – dis skynbaar die norm by OR Tambo.

Johann is na die badkamer. Met die uitkomslag hoor ek hom verslag lewer, op sy saggeaarde manier, dat die meganisme van die wasbakkraan nie afsluit nie. Die water hou aan loop. Toe ons verlede Desember hier was, verduidelik hy, het die kraan reeds gedrup, maar nou is dit deurentyd ʼn straaltjie. Weer eens is sjarme die vrou se tweede naam. “Dit is ACSA se verantwoordelikheid,” is haar verweer.

Vars van die Changi-lughawe en Singapoer vra ek myself weer af of ons die vaagste benul het in watter soort wêreld ons moet kan meeding.

Ek slaan my skootrekenaar oop, gaan deur die e-pos en my Twitter-tydlyn en plaas ʼn 12-twiet-reeks oor lesse uit Singapoer (wat ek nie hier kan bespreek nie, aangesien dissiplinêre stappe in DA-geledere, met betrekking tot hulle, my in die gesig kan staar. Maar as enigiemand daarin belangstel, hier is die hiperskakel na die Politicsweb-verslag daaroor).

Daarna het ek my gedagtes gewy aan die begrotingskomitee wat ek in die oë sou moes kyk sodra ek later daardie dag in Kaapstad aanland. Nadat ek gewoond geraak het aan stiptelike aankoms- en vertrektye op al vyf Singapore Air-vlugte wat ek daardie afgelope week onderneem het, was die SAL-vlug na Kaapstad met byna ʼn uur vertraag.

Teen hierdie tyd het die wêreld rondom my ontplof. Die “tweeple” het tot die slotsom gekom dat ek kolonialisme verdedig het. Nee, allermins, sê ek toe, ek het bloot gesê hoewel dit ʼn onderdrukkende en bose stelsel was, was nie alle gevolge daarvan negatief nie.

Daar was talle wat met my saamgestem het, maar my voor stok gekry het omdat ek dit in die 140 karakters wat Twitter toelaat, probeer oordra het.

Ek is herinner aan pres. Nelson Mandela se woorde oor die sendingskole, waar soveel Afrika-leiers van sy generasie onderwys ontvang het: “These schools have often been criticised for being colonialist in their attitudes and practices. Yet, even with such attitudes, I believe their benefits outweighed their disadvantages.

Hy sou dit nie kon twiet nie, want Twitter het toe nog nie bestaan nie, en dis buitendien meer as 140 karakters lank. Maar met ʼn bietjie redigering (om dit minder kontroversieel te maak) sou hy 15 karakters gehad het om te spaar: “These schools have often been criticised for being colonialist. Yet, I believe their benefits outweighed their disadvantages.

Ek het ook gedink aan die beroemde vers van die legendariese Xhosa-prysdigter, Mbongi Yali-Manisi:

Siyabulela thina basemxhoseni

ngokufika kweento nooRose nezooBheni

Ukuz’ amaXhos’ avulek’ ingqondo

Kulo mhla yaqal’ ukubalwa le ntetho

Intethw’ engqongqotho yasemaXhoseni

Dit is ook ʼn bietjie te lank vir Twitter. Maar dit kan geskaaf en verkort word om dit meer verstaanbaar in die eietydse idioom te maak sonder om enigsins aan die betekenis te verander – boonop met 14 spaarkarakters:

Siyabulela maXhosa

ngokufika ko Rose noBheni

Ukuz’ amaXhos’ avulek’ ingqondo

Kulo mhla yaqal’ ukubalwa le ntetho

yasemaXhoseni

Albei dra presies dieselfde betekenis oor, naamlik om die sendelinge te bedank dat hulle Xhosa in ʼn geskrewe taal omgesit het.

Ek het geleer, in gedeeltelik vrye Singapoer kan ʼn mens ʼn mening oor hierdie dinge lug, maar nie in vrye Suid-Afrika nie.

Terwyl reis jou perspektief verruim, is ek geneig om met die terugkeerslag na Suid-Afrika te vergeet: Die beste uitweg is om jou denke en perspektief weer te laat krimp om die kontoere van politieke korrektheid te pas. Veral as jy wit is. Soos die Engelse uitdrukking lui: “We pay lip service to equal citizenship.” In werklikheid word elke mening beoordeel op grond van die kleur van die persoon wat dit uiter. Ek stel dit so: “‘Speaking while white’ is considered the ultimate sin, in terms of the increasingly popular ideology called ‘critical race theory’.” Miskien kan Freedom House ʼn manier verken om hierdie gesindhede in sy vryheidsindeks te faktoriseer en in te werk.

Ek het altyd geweet Afrikaan-rassenasionalisme is die kernbeginsel van die ANC. Maar word dit nou ook die filosofie van die DA?

Ek is diep dankbaar vir die DA se nalatenskap (durf ek dit koloniaal noem?) van vasgestelde regsvoorskrifte, insluitend audi alterem partem (luister na die ander kant). As ek aangekla word, sal ek ʼn regverdige verhoor kry en die paneel sal tot ʼn gevolgtrekking kom wat in ooreenstemming is met die DA en Suid-Afrika se Grondwet.

Maar my persoonlike lot is irrelevant.

Die werklike gevaar is dat die DA, in sy soektog na stemme, elke beginsel, mite en sjibbolet van Afrikaan-rassenasionalistiese propaganda, waaronder die sondebokmaking van minderheidsgroepe, populistiese mobilisering en politieke patronaatskap, kan begin sluk. En dan sal die institusionalisering van korrupsie slegs ʼn kwessie van tyd wees.

Indien dit gebeur, sal dit irrelevant wees of ons verkiesings wen of verloor, want ons sal glad nie meer ʼn alternatief bied nie.

Dit is waarom hierdie debatte geen afleiding of systroom is nie, maar so uiters noodsaaklik.

  • Hierdie artikel is oorspronklik op die Daily Maverick gepubliseer en met die toestemming van die skrywer vertaal en op Maroela Media gebruik.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elizabeth

Ek het finaal tot die slotsom gekom dat emigrasie die enigste oplossing is, en wel voordat Helen Zille se toekomsvisie waar word. Dit het my 20 jaar geneem, ek het altyd gedink ek sal bly, want ek is bejaard, maar hoe gouer ons wegkom uit hierdie land wat ons van hom afskud, hoe beter.

SkarrelKind

Ek wil nie negatief wees nie, maar Afrika (wat Suid Afrika insluit) sal dit nie eers in die volgende 1000 jaar verstaan of implimenteer nie. Afrika se leiers het een doel voor oë – om hulleself te verryk – teen enige koste. Ek is uiters trots op Singapoer en haar mense. Baie geluk!

Elisabeth

As mens ‘n slegter bakker is is dit gewoonlik die versiersuiker versiering wat die koek verkoop. Links. Daar is net een manier om die lewe te leef.

Hendrik

Ja nee die liberaliste se ogies gaan oop.. Waartoe nou? Plan B want dit lyk nie of die dinge gaan verbeter nie. Partykeer gebeur die onverwagte. Ek dink nie eers ons weermag kan ‘n staatsgreep uitvoer nie. Niks gaan gebeur nie aan die linkerkant of regterkant nie. Die meeste mense reken om net te aanhou stem en hoop alles gaan regkom. Selfbeskikking is die antwoord.. Enige ander voorstelle?

katryn

wat van my kinders! Ek het nie genoeg geld om hier uit te kom nie. Asb help.