Helmut Kohl, ‘kanselier van die eenheid’

helmut-kohl-02

Helmut Kohl se begrafnis is hierdie naweek gehou. Wat kan Suid-Afrikaners van hierdie staatsman leer, vra Leopold Scholtz. Foto: Commons.wikimedia.org

Die afgelope naweek is ’n man met ’n komplekse persoonlikheid in die Duitse stad Speyer begrawe. Dit was Helmut Kohl, in lewe Duitse bondskanselier (1982-1998), wat die geskiedenis sal ingaan as die Kanzler der Einheit (“kanselier van die eenheid”).

Kohl was ’n teenstrydige mens. Inderwaarheid was hy twéé mense.

Aan die een kant was daar die wyse staatsman wat die einde van die Koue Oorlog briljant bestuur en die gaping gevat het om die twee Duitse state te laat herenig. Hy was die bouer van brûe, wat mense wou verbind en mure wou afbreek, nie oprig nie.

’n Mens kan Kohl se loopbaan as staatsman in twee fases verdeel: As bondskanselier van Wes-Duitsland (1982-1990), en as eerste regeringshoof van die herenigde Duitsland (1990-1998).

As ’n mens Kohl se toesprake, sy memoires en onafhanklike biografieë oor hom bekyk, val dit op dat hy ’n diepe begrip van die Duitse en Europese geskiedenis gehad het. Hy was nie verniet ’n doktor in die geskiedenis nie.

Bowendien het hy as kind deur die verskrikkings van die Tweede Wêreldoorlog geleef, iets waarvan ons Suid-Afrikaners slegs ’n flou idee het. Sy ouer broer het as soldaat sinloos in diens van ’n misdadige regime gesneuwel.

Kohl, soos sy politieke mentor (en eerste Wes-Duitse bondskanselier), dr. Konrad Adenauer, het besef dat Duitsland se rol as moondheid wat sy gewig rondgooi en Europa intimideer verby was. Die land kon alleen verder kom deur homself in ’n stabiele liberale demokrasie om te skep en onlosmaaklik deel van die breë Westerse bondgenootskap – Navo en die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG), voorloper van die Europese Unie (EU) – te wees.

As sodanig het hy baie belê in die smee van persoonlike politieke vriendskappe. Allereers met pres. François Mitterrand van Frankryk, Duitsland se tradisionele aartsvyand. Maar ook met onderskeidelik pres. Ronald Reagan en George Bush senior van Amerika en Michail Gorbatsjof van die Sowjetunie.

Slegs met die kwasterige Britse premier, Margaret Thatcher, het dinge nie lekker gevlot nie. Thatcher het die Duitsers en Kohl nooit vertrou nie en het haar teen die hereniging verset.

Dit was dié persoonlike vriendskappe wat in die lewensbelangrike tyd net ná 9 November 1989, toe die Berlynse Muur val, die smeerolie in die ratte van die Duitse internasionale betrekkinge was. Dit was dít wat Kohl in staat gestel het om nie alleen ’n sentrale rol in die beëindiging van die Koue Oorlog en die verkrummeling van die kommunisme te speel nie, maar om die gaping briljant te vat deur Wes- en Oos-Duitsland op sy eie voorwaardes te herenig.

Dit was nie al nie. Nie slegs Thatcher was bekommerd oor die moontlike gevaar van die nuwe Duitse kolos in die sentrum van Europa nie; ook Mitterrand en ander Europese leiers was ongemaklik. Op Mitterrand se aandrang is dus besluit om ’n proses op gang te bring om Duitsland as ’t ware in Europa onder te dompel sodat sy gevaar geneutraliseer kon word.

Die prys wat Duitsland moes betaal, was die opgee van sy geliefde D-mark. Die munteenhede van die meeste Europese lande is vervang met die gesamentlike euro. Kohl het nie teengeskop nie.

Suiwer ekonomies gesien, was dit waarskynlik voorbarig. Maar politieke oorwegings was destyds belangriker.

Kohl het die res van sy bewindstyd tot 1998 onvermoeibaar gewerk om die nuwe EU, wat die ou EEG vervang het, op ’n stewige fondament te plaas. Deel daarvan was die vrye verkeer van mense en goedere, die praktiese afskaffing van die EU se binnegrense, waardeur mense nou sonder paspoort binne die grootste deel van die EU kan reis.

Dit het niks met ’n “liberalistiese” ideologie te make nie. Dit was ’n instrument om die verskrikkinge van twee wêreldoorloë te keer. Die bedoeling was om brûe te bou sodat die Europese vrede permanent veranker word.

Dit het, soos alles in die lewe, ook onbedoelde gevolge gehad.

Destyds het niemand gedroom van die stroom vlugtelinge of die verspreiding van Islamitiese terreur nie. Slegs ’n enkeling het aan iets soos die ekonomiese krisis van 2008 gedink.

Dit het toe wys gelyk. En selfs met die wysheid van terugblik is dit duidelik dat die onbetwisbare nadele nie naastenby deur die voordele – vrede en vryheid – opgehef word nie.

Maar Kohl was nie nét ’n versiende staatsman nie. Net soos die ander groot Pruisies-Duitse kanselier van die eenheid, Otto von Bismarck (die man wat die Duitse staatjies in 1871 tot één keiserryk verenig het), was hy óók ’n kleinlike, verdelende mens.

Reguit gestel: Kohl was buitengewoon arrogant. Hy kon dit absoluut nie veel dat mense hom teenstaan nie, hetsy in sy familie of in die politiek.

As leier van die Christen-Demokratiese Unie het hy ure per dag op die telefoon deurgebring deur druk op partygenote oor die hele land uit te oefen of hulle selfs te intimideer om te doen wat hý wil hê. Omdat hy so ’n oorheersende persoonlikheid (en omvangryke figuur!) gehad het, het hy meestal gekry wat hy wou.

Selfs in sy eie gesin het hy sy seuns geboelie. Sy verhouding met hulle was sleg.

Hy was ’n polariserende mens. As jy nie vír hom was nie, was jy téén hom (ofskoon, dit moet bygesê word, hy het hom nooit in die openbaar platvloers gedra nie).

Met die verkiesing van 1998 het die kiesers gewys hulle is moeg vir hom en hom verwerp. Dit was ’n belediging wat Kohl nooit kon verwerk nie, en sy laaste jare is in ’n toenemende wrok, verbittering en eensaamheid deurgebring. Sy laaste vuishou na sy vermeende en egte opponente was ’n verbod oor die graf heen op die optrede van verskeie politici by sy begrafnis.

Die huidige bondskanselier, Angela Merkel, mog ’n paar woorde sê, maar vir die res was dit nie eens ’n amptelike Duitse staatsbegrafnis nie. Dit was ’n pan-Europese seremonie.

Wat kan ons hieruit leer?

In die bou van sy brûe het Kohl nooit afstand van sy beginsels gedoen nie. Hy het wel besef dat sy eie mense nie alleen op die planeet leef nie, en dat hul belange alleen gedien word as dié van die ander ook gedien word.

Hy het sy eie afkoms nooit verloën nie. Maar hy het wel inklusief gedink.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Nico K ·

Meeste oorloë word geveg omdat die leier van die land wil veg. Veral in outokrasië. Het Hitler ooit sy mense gevra of hulle Pole wil binneval?

John ·

Nee. Magaret het die nieu-Nazi reg opgesom en ou eers volg Brexit. Merkel wil ook so oor die wereld heers… slinks. Die vorming van die EU was bloot ‘n bloedlose herowering van Europa… gedaan na WOII. Die Duitsers gebruik Merkel nou as ‘n soort antitese-Hitler… ‘n sagte kussing… om sy sluwe wil steeds uit te voer. Vergeet daarvan dat Duitsland ooit verander het. Almal het geweet wat in die land onder Hitler plaasgevind het en die nasate soek wraak; Rusland is nooit vergewe vir sy oorwinning nie. Trump moet Putin haat. Putin het die Nederlandse vlug afgeskiet, al weet ons dit was baby-tjoklits. Rusland moet nie in Sirie help nie… Wha, wha, wha. Maar die klein foutjie om die kamma-vlugteling-Moslems aan die bors te koester, gaan die groot val van die sluwe regime bewerk… Duitsland het dit te laat besef… Oppas Europa!

JC ·

Dankie John, soos altyd raakvat kommentaar, met ‘n knippie donker en satiriese humor daarin vervat.
Hitler (tese) + Merkel (antitese) = ? (sintese)

Merkur ·

John. Wraak is nie deel van die Duitse psige nie. Defnitief nie vandag nie, en nie by die mense wat ek in aanraking kom nie. As dit by sommiges miskien deel van hulle psige was in die verlede, het hulle dit defnitief afgeskud en agter hulle gelaat.

Eish ·

Al wat ek uit die politiekery leer kan as volg saamgevat word:
” So sê die Here: Vervloek is die man wat op n mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die Here afwyk. En hy sal wees soos n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, n brakkerige en onbewoonde land.
Geseënd is die man wat op die Here vertrou, en wie se vertroue die Here is.
Want hy sal wees soos n boom wat by water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in n jaar van droogte is Hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.”
Jeremiah 17:5-8

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.