Help Afrikaanse jongmense om hul volle vermoë te verwesenlik

0G0A0421

Flip Buys. Foto: Reint Dykema

Die omvangryke krisis in die land se swart onderwys is welbekend. Daarteenoor bedek die uitnemende prestasie van Afrikaanse skole soms die verskuilde onderrigprobleme in die Afrikaanse gemeenskap. Statistieke van die Solidariteit Navorsingsinstituut wys dat hier egter ook groot probleme skuil.

ʼn Belangrike aanwyser van die onderwysuitdagings onder bruin jongmense is dat ʼn skrale 2,5% bruin mense aan universiteite studeer. Hoewel daar jaarliks talle toppresteerders onder Afrikanerjongmense is, verskuil dit soms die onderliggende probleme. Min mense weet byvoorbeeld dat byna 20% van Afrikanerkinders die skool sonder matriek verlaat.

Nóg ʼn rooi lig is dat net 27% van jong Afrikaners universiteit toe gaan. Dit beteken dat bykans 75% van Afrikanerjongmense nie universiteitskwalifikasies verwerf nie. Wanneer dit gemeet word aan die 40% jongmense onder wit Engelssprekendes wat universiteit toe gaan, wys dit dat alles nie pluis is wat die opleiding van jong Afrikaners betref nie. Hoewel die oorwegend Afrikanerskoolonderwys nog uitnemend is, laat Afrikanerdeelname aan naskoolse opleiding veel te wense oor.

Die gaping tussen die goeie Afrikaanse onderwys en die ondergemiddelde deelname aan naskoolse opleiding kan aan die hand van drie faktore verklaar word: Engelssprekendes woon meer gekonsentreerd in metropole met goeie universiteite; die Engelse gemeenskap het ʼn langer tradisie van universiteitsopleiding; en hierdie twee faktore lei tot groter welvaart wat die derde rede vir hul hoër vlakke van opleiding is.

Daarteenoor veroorsaak Afrikaners se yl, landswye verspreiding dat baie jongmense ver van universiteite af bly wat meebring dat hulle nie maklike toegang tot naskoolse opleiding het nie. Die feit dat daar minder welvaart in talle plattelandse gebiede is, is egter die belangrikste rede dat hierdie groep so ʼn lae deelname aan universiteitsopleiding het. Dit is dubbel so duur vir plattelanders om kinders universiteit toe te stuur omdat verblyf, kos en vervoer die koste van die reeds duur universiteitsopleiding verder opjaag.

Die transformasie van baie universiteite beperk die toegang van hierdie jongmense verder. Daarmee gepaardgaande ontmoedig die ingrypende rassewetgewing talle Afrikaanse jongmense om verder te studeer. Die gesamentlike uitwerking van al hierdie faktore is die kommerwekkende verskynsel dat baie Afrikaanse jongmense swakker as hul ouers opgelei is. Navorsing toon dat dit een van die belangrikste vroeë waarskuwingstekens vir komende armoede van die nuwe geslag is.

Daar is egter hoop. Die vader van die moderne Singapoer, Lee Kuan Yew, het met dieselfde probleem gesit ná hierdie stadstaat se onafhanklikwording in 1960. Sy oplossing was ʼn eenvoudige resep wat Singapoer binne een geslag vanaf ʼn derderangse landjie na die top van die Eerste Wêreld laat uitstyg het. Hierdie suksesresep was dat elke lid van hierdie klein stadstaat gehelp moes word om sy of haar volle vermoë te verwesenlik. In die praktyk het dit beteken dat elke jongmens, sover hulle kon, verder opgelei moes word. Grootskaalse befondsing is daarvoor beskikbaar gestel.

Die oplossing vir ons probleem is dat grootskaalse studiefondse bymekaargemaak sal moet word om Afrikaanse jongmense te help om hulself deur verdere studies te help. Goeie opleiding bly die beste belegging wat in die nuwe geslag se toekoms gemaak kan word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

29 Kommentare

JC ·

Hoe doen ons dit Flip, met respek, maar jy verskaf dan geen antwoorde nie?
HOE DOEN ONS DIT, EK HELP GRAAG!

Minx ·

Dit gaan oor geld !!!!!!!!!!!!!!!!En die huidige regering wil almal dom hou!!!!!!!!!!!

Christien ·

JC ….hy sê gee geld. Ek persoonlik dink blankes weet 18 jaar hul kind moet gaan leer maar wag tot laaste minuut en skarrel dan rond vir fondse. Ons het verskeie familielede al moes help. Ons vra jare lank……” Die kind is slim, maak jul voorsiening vir universiteit/ of vakleerlingskap? ” Dan is daar niks !

JC ·

Ons sal maar net ‘n paradigma skuif moet maak Christien, sodat ons werklikwaar deurdring to die mense. Enigiets is moontlik waar daar ‘n wil is! Vlyt en moue oprol is die antwoord!

Eish ·

Christien,
As gewone mens wat n gewone salaris ontvang het en beskikbare polisse uitgeneem het vir my kroos se studie, het elke polis klaaglik misluk in die droom om vir my kinders se studies voorsiening te maak. Elkeen van die drie polisse was slegs voldoende om net die eerste jaar se kursusfooi by te bring. Geen losies, boeke ens nie. Geen beurse nie, want dit was na 94. Dit, ten spyte van deeglik berekening deur finansiële beplanner. Née, ek moes n paar riskante finansiële maneuvers uitvoer ten einde 3 kinders 13 jaar op varsity te hou. Moenie die have’s met die have not’s vergelyk nie.

humor ·

Hoe doen ons dit? Dit sal al baie help as Die ATKV hul nuwe voornemens verander. Akademia sal landswyd en selfs wereldwyd, want baaaaie van ons jongmense is landuit, op skoolvlak propageer moet word. Dit le ook in die opvoedingsproses van die kind. Ouers moet n kundige bron van motivering wees en kinders van kleinsaf beroeps- en roepingsbewus maak. Ek dink nou aan n voorval in my vroee laerskooldae toe ons boereouers ons by die koshuishekkie afgelaai het en een van die mannetjies sy hart stukkend gehuil het. Sy ma het motiveer dat hy moet leer sodat hy ook tog eendag n geleerde mens kan wees. Hy het vasgetrap en duidelik laat hoor:” Ek wil nie n geleerde mens wees nie.”Een ding is maar seker ons tradisionele universiteite gaan uitfaseer en dan hoef ons nie meer hartverskeurend voor koshuishekke te huil nie.

JC ·

Dankie humor, ek het reeds die Alternatiewe Kultuur Vereniging vaarwel geroep, en sien ek hul probeer nou TEVERGEEFS EN DESPERAAT hul storie verander, en stuur e-poss uit AAN VOORMALIGE LEDE om die skade te beperk dat die biesies bewe!
En ek stem saam met jou, Akademia en die breer Solidariteit beweging is ons heil en toekoms, ook wat betref die kwessie van tersiere onderrig vir Afrikaner jongmense-sien ook Soltech wat uitstekende resultate oplewer:)

Flip Buys ·

Hierdie skokkende statistieke is die rede hoekom ons die Solidariteit Helpende Hand se Studiefonds, Sol-Tech én Akademia begin het, wat jaarliks al gesamentlik sowat 3 000 jongmense bystaan. Die fondswerwing strategie is baie eenvoudig: maak grootgeld met kleingeld. Duisende mense se klein maandelikse bydraes maak bv 80% van die R40 miljoen se rentevrye lenings uit wat hierdie jaar aan byna 1500 studente toegeken is.

JC ·

Geagte Flip, hou asseblief aan om die goeie geveg te veg, ons is met julle 110%!
Ek het voormalige R Johann v/d Westhuizen se artikel in die Volksblad raakgeloop en interessantheidshalwe daaraan begin lees, maar kon myself nie kry om verder as die helfte daarvaan te lees nie, as gevolg van die duidelike gebrek aan deduktiewe logika, politiese korrektheid en vooroordeel daarvan. Miskien raak dit nou duidelik, en stel ek voor, dat die liberale skrum , oikofobete, en self-ontkenners, en vernietigers v/d Afrikaner kultuur, welke kultuur homself moet beskerm te midde van oorweldigende meerderheidsdruk en getalle, besef het dat hulle ‘n hengse fout gemaak het, en nou probeer om die skade te beperk en skerm vir ‘n vale. Dit is egter nou te laat. Partymaal wonder ek watter geeste sit agter hierdie hele spulletjie, en sal ek so ver gaan as om nie die betrokkenheid van mense soos selfs George Soros en sy verfoeilike bewegings uit te sluit nie !

Carel Scheepers ·

My opregte dank aan Mnr Buys & sy span. Julle visie & toewyding het dit moontlik gemaak vir my seun om deur middel van ‘n Helpende Hand Studielening, sy studies by Sol-tech te kon voltooi. Die vlak van Sol-Tech se gehalte onderrig is só hoog, dat hy sonder moeite ‘n pos by ‘n gesogte werkgewer los geslaan het. Daarvoor sal ek julle altyd dankbaar wees

MCH ·

Wat n sombere werklikheid wat ek oortuig is, min van ons so krities in besonderhede bewus van was! Befondsing is n wesenlike kwessie vir die normale Afrikaanse huis gesin in die post 94 tydperk.( Eie ondervinding uit die era) Voeg die laaste paar jaar se aanslag op Afrikaans asook die BEE aksie n die heksepot en die artikel se navoringsresultate is vanselfsprekend. Van die 27% wat wel bevoorreg is op op Universiteit uit te kom, moet dan in die arbeidsmark meeding om slegs 6% van die poste. n Student se intellektuele vermoë behoort die enigste beperkende faktor te wees in soverre dit opleiding betref. Die wat nie oor die vermoë beskik om opleiding aan n universiteit te voltooi nie, behoort steeds soos die artikel aandui, tot sy volle potensiaal ontwikkel te word. Hordes alternatiewe is beskikbaar, soos tegniese rigtings ens. Buiten opleiding dus, is die plasing van afgestudeerdes en opgeleides in die arbeidsmark krities. Dit behoort dan ook saam met die opleidingsbeplanning aangespreek te word. Miskien moet ons almal nuut dink oor blankes in die arbeidsveld, veral waar BEE nie kan knyp nie soos byvoorbeeld boerdery, klein besighede ens. Die groot honger lê voor indien ons op ons louere rus soos die artikel tereg uitwys. Baie dankie vir die insiggewende en inspirerende artikel en profetiese woorde.

JC ·

Ek hou van hoe jy dink MCH, veral die deel oor die boerderye en klein besighede :)

jaco ·

boerdery gaan oor so min as 3 jaar nie meer n opsie vir wit mense wees nie. ALLE wit plase gaan onteien word. Klein besighede sal ook klein moet bly of die inkomste sal gedokter moet word, want as die personeel te groot word, MOET regstellende aksie toegepas word en as die inkomste bo n sekere bedrag is, selfs met n klein personeel, moet regstellende aksie ook toegepas word.

Leonard van der Dussen ·

Die ver-politisering van onderwys tot op praktiese skoolvlak, oftewel die uitlewing van Afrikanerstryd tot binne die bedryf van skole eis energie en tyd wat Engelstalige skole nie belemmer nie. Verder is die Afrikaner dekades agter die Engelse met privaatskoolwese en wil steeds nie eintlik die vleispotte van Egipte in die vorm van staatskole agterlaat en werklik onafhanklike onderwys wat nie deur staatsvoorskrifte afgetrek word nie, opbou nie. Die Afrikaner vertoon in sy benadering tot skoolwees ‘n hartseer swakte vir sosialistiese staatsafhanklikheid. Die Afrikaanse kind word in skole gehou waar die onderliggende opvoeding een is van staatsafhanklik te wees, en dus maar deel van die massa te wees.

Marius ·

Lees gerus Amanda Ripley se boek “The smartest kids in the world and how they got that way” Dit delf in die redes in waarom Finland en Suid-Korea se kinders huidiglik die toppresteerders in die wêreld is met veral Wiskunde en Tale. Dit kom eintlik maar neer daarop dat skool en onderwys se rol in die kinders se lewens so diep ingeweef is dat hulle nie anders kan as om te presteer nie. Finland het bv. glad nie die skoolreëls waaraan ons gewoond is nie. Mense sal op hulle rug val as hulle sien hoe ontspanne die skole is oor reëls, maar wanneer dit by onderwys kom is die kinders ernstig oor hulle opvoeding. Skoolsport bestaan ook nie juis daar nie. Die uitgangspunt is dat onderwys is waaroor skole gaan. Daar word ongelukkig in Suid Afrika ure en ure aan skoolsport bestee en dis amper asof akademie tweede viool speel by meeste Afrikaanse skole. Daar moet dus myns insiens baie verander voordat Afrikaanse skole die robuuste benadering het tot onderwys wat hierdie voorste onderwyslande het. Ons kinders is gewoond daaraan dat daar oral vergunnings gemaak word vir sport en ander aktiwiteite gedurende skooltyd en dis dus ‘n kultuurverandering wat nodig is. Hulle doen ook maar na tov dit wat hulle sien. Onderwysers word oor die algemeen aan gestel op grond van hulle sportafrigtingsvermoë. In Finland moet onderwysers ‘n meestersgraad hê vir selfs grondslagfase onderrig en keuring is net so streng soos mediese keuring.

Eish ·

Baie insiggewende mededeling dankie Marius. Dit wat jy insit is wat jy uitkry nè.

Spioen ·

Finland se skole gee glad nie huiswerk vir hulle leerders nie.

Marius ·

Ek verskil van jou Leonard. Engelse skole het oor die algemeen ‘n baie sterker akademiese ingesteldheid as Afrikaanse skole en dis nog altyd so. Politiek kan nie daarvoor blameer word nie. Skole het begrotings van miljoene rande wat vir sportafrigting en sportfasiliteite en beurse vir sportpresteerders gaan. Dit terwyl net sowat 20% van kinders aan sport deelneem.

Leonard van der Dussen ·

Ons dink in die selfde rigting, Marius, naamlik dat die fokus op die hoofdoel van die skool, naamlik akademiese opleiding, gerig moet wees. Stem saam oor die oordrewe spandering en aandag aan sport, hoewel dit dalk nie so groot verskil tussen Afrikaanse en Engelse skole is nie.

Met “politiek” tot in die skool, word hier dinge soos die taalstryd en die stryd vir christelikheid in skole bedoel word. Ongelukkig is daar ‘n tendens bv dat as die skool Afrikaans is, dit gehalte is, en dan word daar vergeet om die onderwysstandaard behoorlik te meet en beoordeel – weer eens, die fokus is verkeerd. Ook op naskoolse opleiding: Hoe weet ons werklik wat Akademia se gehalte en relevansie van opleiding is, maar dit word deur Afrikaners besing en geprys omdat dit Afrikaans is. Ons hoop natuurlik dat Akademia se “produkte” gou bekendheid as goed-opleide mense in die mark sal kry, maar die bewyse is nog skraps, maar die politieke tevredenheid laat mense sommer besluit dit is goed, sonder om hard genoeg na gehalte te soek en daarop aan te dring. Die Engelse is ons voor in ‘n meer kliniese doelgerigtheid waar goeie en swak onderrig deur die mark uitgesorteer word.

MCH ·

Die hele ATKV debakel het dalk een goeie uitkoms.
Dit is duidelik dat van die sogenaamde pro Afrikaanse organisasies ook geswig het voor die aantrekkingskrag van die heuningpot en volksvreemde bokspringe maak na integrasie wat wêreldwyd bewys is as n onhaalbare mistasting. Daarteenoor het Solidariteit en Afriforum male sonder tal bewys waar hul lojaliteit lê. Verder met slegs 1% van die potensiële mark as betalende lede, verskuif hul berge. Waarom enigsins rondploeter met n horde Afrikaanse organisasies? Bring die skapies almal in een kraal saam. Een organisasie, een doel, vele projekte.

Prof Flip Buys ·

Afstands onderrig deur gebruik te maak van internet gedrewe studieprogramme, gekoppel aan in-diens-opleiding waar studente woon is ‘n baie belangrike antwoord wat veel meer ontgin moet word. Dit word reeds met goort sukses in baie ander lande gebruik. Die afskaling van voltydse residensiele onderrig word al meer ‘n wereldverskynsel.

Eish ·

Baie, baie waar. Kostes word afbestuur sonder dat kwaliteit ingeboet word.

Miquette ·

Ek stem, maar wat van die van ons wat ouer is en nogsteeds graag verder wil gaan studeer, vir wie dit net nie geldelik moontlik was toe ons 18 was nie? Ek het al aan baie deure geklop, maar lyk my SA het genoeg Wiskunde mense … o wag …

koos ·

waar kry mens noodwendig altyd dadelik ordenlike werk na suksesvolle universiteitstudie? Grade lyk en klink miskien wonderlik, maar goed soos regstellende aksie en transformasie is HARDE WERKLIKHEDE waarmee veral wit gegradueerdes gekonfronteer word wanneer hulle begin werk soek. En ook nie net dié wat pas afgestudeer het nie. Ek weet van talle wit gegradueerdes wat op ‘n latere ouderdom werkloos geraak het en eenvoudig nie werk kry nie oor nonsens ras-vereistes. Ek self is deur hierdie dinge gekonfronteer, en toe was ek al amper 45 jaar oud. Ek het besef dat ek nie my velkleur kan verander nie, so ek het begin verander aan wat wel verander kon word. Ek het my 2 uniiversiteitsgrade AFGEHAAL van my cv af en my werksondervinding ook lekker “dokter” sodat ek weer ordentlike werk kon kry.

Edx ·

Kyk ook gerus na edx.org en Coursera.org, daar kan Afrikaanse jongmense verniet studeer aan van die beste universiteite in die wereld.

Disselboom ·

Die opmerkings oor skoolonderwys wat te veel aandag aan sport gee, lyk geldig. Dalk ‘n goeie ding as die privaatskoolwese uit finansiële noodsaak dalk die akademie as kernbesigheid begin bedryf en sport aan klubs en entoesiaste oorlaat. Groepe soos CVO en ICO gaan dalk daarmee sukkel, omdat hulle na binne en ideologies gerig is, en dus sport binnetoe fokus en self as skole moet bedryf om kultuurdoelwitte met sport te handhaaf.

Net ‘n erkenning aan Flip Buys – dalk nie die beste forum hier om oor skoolonderwys te praat nie, waar Solidariteit en vertakkinge net op naskoolse onderwys fokus sover dit privaatinstellings aangaan.

Peet ·

Daar is nie veel van ń toekoms vir slim wit kinders in SA nie . Wanneer hulle later wil emigreer beteken hul grade niks, veral ook omdat die onderrig taal nie Engels was nie… Die oplossing is om oorsee te studeer in Engels. Ongelukkig is dit baie duur agv die rand se swak wisselkoers .

johnny_walker ·

die fout wat flip buis en solidariteit maak is om te dink dat net mense met universiteits opleiding ooit suksesvol kan wees , realiteit bewys hom verkeerd, die meeste super suksevolle mense het universiteit of nooit klaargemaak nie of nooit in die eerste plek nooit gegaan nie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.