Helpmekaarbewegings onder die Voortrekkers van die Groot Trek

Deur Jackie Grobler

Een van slegs ‘n paar oorspronklike ossewaens wat die Groot Trek meegemaak het. (Foto: Verskaf)

Talle Voortrekkers van die Groot Trek is tydens daardie migrasiebeweging in armoede gedompel. Dit was hoofsaaklik as gevolg van een of meer van die volgende rampspoedige verwikkelinge: botsings met en oorloë teen plaaslike gemeenskappe, ontwrigting, rampe, veesiektes en ʼn gebrek aan doeltreffende mediese versorging.

In minstens vier gevalle het ander Voortrekkers ingegryp om die ontbering van hulle trekgenote te verlig. Dit was na die Slag van Vegkop in Oktober 1836, na die uitdelging van Piet Retief en sy makkers asook die Bloukrans-menseslagting van Februarie 1838, die Natalse Voortrekkers se bewuswording van die rampspoed van die Tregardt-trek in 1839, en die brand in die Potgieter-laer in Junie 1839. Hierdie ingrypings kan as die vroegste spontane helpmekaarbewegings in die geskiedenis van die Afrikaners in Suid-Afrika geag word.

Agtergrond

Alhoewel daar geen statistiese gegewens bekend is op grond waarvan empiriese afleidings gemaak kan word nie, is dit duidelik dat ʼn groot aantal van die Afrikanergesinne wat hulle op die vooraand van die Groot Trek in die Suid-Afrikaanse binneland bevind het, se lewenswyse vry armoedig en bloot daarop gerig was om in hulle allernoodsaaklikste lewensbehoeftes te voorsien. Die oorgrote meerderheid van hulle was veeboere, wat op afgeleë plase in eenvoudige huisies sonder veel meublement ʼn bestaan gevoer het. Die trekboere onder hulle het soms nie eens oor huise beskik nie, maar was op hulle wa-tente of veldtente vir skuiling teen die elemente aangewese.

Talle Afrikanergesinne het oor feitlik geen geld beskik nie, maar moes nogtans uit hulle karige inkomste ammunisie en ander noodsaaklike lewensmiddele aankoop. Hulle vernaamste bron van voedsel was vleis, en water was die daaglikse en algemene drank. Ten einde hulle eie vee te spaar, het die mans gejag om hulle vleisvoorrade aan te vul, asook om produkte soos huide en ivoor te probeer bekom waaruit hulle ʼn inkomstetjie kon verkry. Van plaaslike markte was daar vir diegene wat ver van die kus af gewoon het feitlik geen sprake nie. Hulle was vir die verkoop van hulle produkte in Kaapstad en tot ʼn veel kleiner mate in Port Elizabeth aangewese. Die ander opsie was om hulle oorskotvee aan slagtersknegte te verkoop.

Vir die groot meerderheid van die grensboere was dit nie lonend om landbouprodukte na die afgeleë markte te vervoer nie. Waar die grond geskik en waterbronne beskikbaar was, het die veeboere wel tuine, landerye en boorde aangelê. Die surplusse wat hulle uit hierdie akkerbou-aktiwiteite verkry het, is gewoonlik aan smouse of by plaaslike markte, byvoorbeeld tydens nagmaalnaweke, verkoop. Hierdie handel was van ondergeskikte belang, want die meeste boere het bloot vir eie gebruik gekweek. Inderdaad was hulle arbeidsaamheid grotendeels op die voorsiening van hulle eie behoeftes gemik en het talle gesinne as selfversorgende ekonomiese eenhede gefunksioneer. Die mans het self huisraad gemaak en hulle waens onderhou, terwyl elke vrou nie net die kleremaker van haar gesin was nie, maar self gebak, geslag, seep gekook en kerse gemaak het. Wanneer ʼn gesin weens siekte of dood gesukkel het om die pot aan die kook te hou, het hulle bure bystand verleen. Van uitgebreide welsynsdienste was daar geen sprake nie. Die owerhede in die grensdistrikte het geen aandag aan die versorging van armes gegee nie.

Die toestand was egter geensins so totaal somber as wat dit moontlik uit bogenoemde uiteensetting blyk nie. Feitlik geen grensboere het vir lang tydperke gebrek gely nie. Geen reisigers het met afgryse vertel van streke waar grensboeregesinne deur armoede honger gely en tot die bedelstaf verneder is nie. Inderdaad dui die destydse opgaafrolle in die grensdistrikte daarop dat die meeste volwasse mans ʼn wa, trekosse, minstens een perd en ʼn geweer besit het. Die meeste van hulle het ook ander vee besit. Daarbenewens was daar ʼn beduidende aantal van die grensboere wat Voortrekkers geword het wat, gemeet aan destydse standaarde, as welvarend bestempel kan word. Hermanus Potgieter, die oudste seun van die trekleier Hendrik Potgieter, het nie in sy herinneringe aangedui oor hoeveel vee hulle met die aanvang van die trek beskik het nie, maar het breedweg van die Trekkers se veelheid van vee melding gemaak.

Voorts het hy ʼn veelseggende opmerking bygevoeg: “Veralgemenend kan ʼn mens verklaar dat daar welvaart onder die Trekkers geheers het. Talle onder hulle was inderdaad ryk, maar ander het minder besit. Daar was ook armes onder hulle, maar aangesien die meerderheid vir ʼn lang tyd in die Kaapkolonie geboer het, kan ʼn mens sê dat die trek meestal uit welvarende mense bestaan het.”

Paneel 3 stel Louis Tregardt by die Soutpansberg voor. Die beeldhouer was Hennie Potgieter. (Foto: Verskaf.)

Hierdie veralgemening van Potgieter kan nie goedsmoeds aanvaar word nie. Daar is verskeie vermeldings in die bronne oor Voortrekkers wat bra arm was. Alhoewel Louis Tregardt met die aanvang van sy trek uit die Kaapkolonie ʼn welgestelde man was met ʼn veebesit van sowat ʼn duisend beeste en etlike duisende skape, was sommige van sy trekgenote armlastig en hulpbehoewend en moes hy telkens ʼn helpende hand na hulle uitstrek. ʼn Voorbeeld daarvan was terwyl Tregardt-hulle in April 1837 aan die Soutpansberge gekamp het. Een van sy trekgenote, Hans Strijdom, wat ʼn brandarm man was, se vrou Alida het destyds gesterf. Sy het uit haar eerste huwelik een kind met die naam Jan gehad. Tregardt het hierdie Jan nou by wyse van spreke aangeneem, want die wewenaar Strijdom het nog vier ander kinders gehad maar, soos Tregardt in sy dagboek aangeteken het, geen “voedsel of deksel” om hulle te versorg nie.

Die trekleier se oudste seun, Carel Tregardt, het jare later in verband met die trekgeselskap van Lang Hans van Rensburg vertel: “Hulle was ʼn boel arm mense uit die Ghoup [omgewing van die dorp Beaufort-Wes] … Hulle het ook byna geen vee gehad nie.”

Waaroor daar wel geen twyfel kan bestaan nie, is dat ʼn beduidende aantal van die Voortrekkers hulle tydens die Trek as gevolg van die talle gevegte en ontwrigting, veesiektes, rampe asook die afwesigheid van doeltreffende mediese versorging, by verskeie geleenthede in ʼn staat van sorgbehoewendes, weduwees of weeskinders bevind het. Die ander Voortrekkers moes dan noodgedwonge ingryp om te help.

Na die eerste Matebele-aanvalle

Die gedenksteen wat opgerig is en waaronder die tydkapsule by Vegkop op 16 Oktober 2021 begrawe is. (Foto: Verskaf)

In Oktober 1836 het ʼn krygsmag van die Matebele-heerser Mzilikazi ʼn groep Voortrekkers onder leiding van Hendrik Potgieter wat hulle destyds in die noorde van die huidige Vrystaat bevind het, aangeval. Die geveg wat gevolg het staan as die Slag van Vegkop bekend. Die Voortrekkers het deur gebruikmaking van die verskansing wat hulle walaer gebied het hulleself ter nouernood van uitwissing gered.

Die laer was egter nie groot genoeg om beskerming aan die groot kuddes vee te verleen waaroor die Voortrekkers beskik het nie. Hulle het gevolglik in die nasleep van die geveg groot materiële verliese gely. Hendrik Potgieter het byvoorbeeld meer as net die dood van sy broer en sy skoonseun tydens die geveg te betreur gehad: sy totale rykdom van 400 beeste en 5 000 skape is saam met al die vee van sy trekgenote deur die Matebele-krygers weggevoer toe hulle teen die einde van die geveg teruggeval het. Dit is onmoontlik om presiese syfers van die totale verlies van al die Trekkers saam te verskaf, maar dit word op sowat 6 000 beeste en 40 000 skape en bokke geskat. ʼn Aantal Voortrekkermans het te perd agter die krygers aangejaag om die vee weer by hulle te probeer afneem, maar hulle kon nie daarin slaag om vee terug te wen of skynbaar selfs om die terugvallendes voor donker in te haal nie.

Ook Sarel Cilliers het al sy vee by Vegkop verloor. Hy het hom op sy sterfbed as volg oor die Trekkers se destydse situasie herinner: “Ek het ʼn vrou en sewe kinders gehad, maar was nou sonder koring of mielies, en was nie in staat om te gaan jag nie. Dit was ʼn bitter beproewing wat ek gesmaak het. My kinders het van honger gehuil en ek self ook, maar ek het niks gehad om aan hulle te gee nie. Ons moes vir vyftien dae so in die laer bly.”

Dat die Voortrekkers ʼn voedseltekort in die gesig gestaar het, is seker. Al hul slagvee was weggevoer en so ook hulle melkkoeie. Daarbenewens het die Matebele-krygers die trekosse weggevoer, wat beteken het dat die Voortrekkers by Vegkop immobiel gelaat is. Potgieter se reaksie was om een of meer van die mans uit die laer om hulp suidwaarts te stuur. Moroka, die Rolong-hoofman van Thaba Nchu, James Archbell, die Wesleyaanse sendeling by hom, en die Voortrekkers wat hulle destyds by die Blesberg, vlak suid van Thaba Nchu bevind het, het onmiddellik trekosse en melkkoeie gestuur. Dit het die Vegkop-Trekkers in staat gestel om hulle waens na die Blesberg te trek.

Met hulle aankoms uit die Kaapkolonie by die Blesberg enkele weke later het Gert Maritz en sy trekgenote die Potgieter-mense oor die algemeen in ʼn taamlik jammerlike toestand aangetref. Benewens die feit dat ʼn hele aantal van hulle in die botsings met die Matebeles by Vegkop asook langs die Vaalrivier enkele weke vroeër geliefdes aan die dood afgestaan het, was ʼn groot aantal van hulle as gevolg van die wegvoering van hul vee deur die Matebeles totaal verarm. Talle van hulle moes met noodsaaklike lewensmiddele gehelp word. Die aangetekende herinneringe van ʼn aantal Voortrekkers dui daarop dat hulle tot op daardie stadium van die hulp van die Rolong vir oorlewing afhanklik was.

Cilliers het hom spesifiek herinner dat Archbell en sy vrou hul voedselnood met graansorghum en mielies verlig het. Ferdinand van Gass het hom in dieselfde trant herinner dat hoofman Moroka sommige van die Trekkers vir ʼn geruime tyd van voedsel voorsien het. Dit verklaar waarom Hendrik Potgieter se seun Hermanus vir Moroka as ʼn vriend van die Boere beskryf het. Maritz en sy trekgenote het nie op hulle laat wag nie. Twee dae nadat hy by die Blesberg uitgespan het, het Maritz ʼn verkoping van die negosieware wat hy saamgebring het, gehou. Dit is deur mense uit sy eie trekgeselskap asook mense van die Potgietertrek ondersteun. Die meeste Voortrekkers het geld by hulle gehad, wat hulle uit die Kaapkolonie saamgebring het, en was op daardie stadium van die trek nog in staat om hulle behoeftes deur aankope te bevredig. Daarbenewens is daar in die vernaamste behoeftes van die noodlydendes wat waarlik niks oorgehad het nie voorsien.

Alhoewel daar in die loop van die volgende jaar geen rampe of groot terugslae die Voortrekkers getref het terwyl hulle stelselmatig in die rigting van Natal beweeg het nie, dui ʼn enkele destydse aantekening daarop dat daar steeds armoediges onder hulle was, asook maatreëls om die hulpbehoewendes by te staan. Eerwaarde Erasmus Smit het naamlik op 26 November 1837 die volgende inskrywing in sy dagboek gemaak: “ʼn Vreemdeling, wat ook ʼn reisiger blyk te wees, by name Bart Pretorius, het oor die armbeurs navraag gedoen en ʼn halfkroon daartoe bygedra. Dit is die tweede openbare skenking aan die beurs en daarom hierdie aantekening waardig.”

Na die Retief-moord en die Bloukrans-slagtings

Februarie 1838 was ʼn rampspoedige maand in die Voortrekkergeskiedenis. In die eerste plek is die bekende leier Piet Retief en sy totale gevolg van sowat 70 mans, benewens die werknemers wat hulle vergesel het, op 6 Februarie by Mgungundhlovu in opdrag van die Zoeloekoning Dingane afgemaai. ʼn Beduidende aantal van daardie mans was getroud, wat beteken dat hulle eggenote as weduwees agtergelaat en van die spreekwoordelike broodwinner in hul huis ontneem is. Nog was dit het einde niet.

Elf dae later, op 17 Februarie, het die Zoeloe-aanvalle op die Voortrekkerlaers aan die bolope van die Tugelarivier, by Bloukrans en omstreke, gevolg. Ongeveer 300 Voortrekkermans, -vroue en -kinders, asook 250 bruin en swart werkers wat hulle vergesel het, is daardie nag deur die Zoeloe-krygers gedood. Benewens die lewensverlies onder die Voortrekkers en hul arbeiders was die aanvalle op hulle ook in ʼn ander opsig vir die slagoffers ʼn ramp.

Die Zoeloe-krygers het eerstens, toe hulle teruggeval het, na raming tussen 20 000 en 35 000 beeste en ʼn aantal skape en perde saam met hulle weggevoer. Daarbenewens het die krygers tydens hulle aanval op 17 Februarie skynbaar doelbewus soveel skade as moontlik aangerig deur waens te verbrand of te beskadig, tente en seile te vernietig of te verflenter, katels, meubels en wa-kiste stukkend te slaan en die inhoud daarvan asook matrasse, klerasie en gebruiksartikels te breek of te verstrooi. Boonop het hulle die pluimvee, honde en katte waarop hulle afgekom het, met hulle assegaaie doodgesteek.

Talle van die Voortrekkers wat hulle destyds in daardie laers bevind het, was in ʼn hulpelose toestand. Dit geld veral die meer as 100 weduwees en die onbepaalbare groot aantal weeskinders, asook die ander Voortrekkers wat as gevolg van die Bloukransgebeure en ander terugslae alles wat hulle besit het verloor het en vir wie dit ʼn daaglikse stryd was om bloot net te oorleef. Talle Voortrekkers se voorraad van medisyne, meel, kruideniersware en selfs van klere en van materiaal om klere van te maak het vinnig opgeraak. Gevolglik was hulle en hulle gesinne erg armoedig geklee en het enkele Voortrekkerkinders volgens een besoeker soms totaal nakend geloop.

Die behoeftiges het van die hulp afhanklik geraak wat deur hulle mede-Voortrekkers, wat ná die aanvalle iets oorgehou het of gelukkig genoeg was om die aanvalle vry te spring, verleen is. Daarbenewens is daar op die inisiatief van onder meer besoekers soos die latere Voortrekker JN Boshof in die Kaapkolonie subskripsielyste geopen om hulle nood te verlig. ʼn Voorbeeld hiervan was die Kaapstadse ondersteuningskomitee vir die Voortrekkers in Natal, waarvan die bekende Alexander Biggar saam met JP Muller as agent opgetree het.

In Mei 1838 was daar vir die gebreklydende Voortrekkers in Natal tydelike uitkoms as gevolg van woelinge by Port Natal (wat later die hawestad Durban geword het). Die Britse gemeenskappie daar het naamlik ʼn paar weke tevore in ʼn militêre konfrontasie met die magte van koning Dingane die onderspit gedelf. Zoeloe-krygers het hierna Port Natal self aangeval. Die magtelose Britte, insluitende die bekende sendeling Francis Owen en drie Voortrekkermans wat destyds daar besoek afgelê het, moes noodgedwonge vir nege dae op ʼn boot in die baai skuil terwyl die krygers die nedersetting geplunder het. Drie ander Voortrekkermans het betyds weggekom en by die laers aan die bolope van die Tugelarivier gaan vertel wat gebeur het.

Vroeg in Mei het ʼn groot groep Voortrekkers – sowat 150 mans met 16 waens – na Port Natal vertrek om hulle makkers asook die Britte by Port Natal te gaan bystaan. Met hulle aankoms daar het hulle bevind dat feitlik al die inwoners van Port Natal, op vier of vyf Britte na, met skepe of oorland te perd na die Kaapkolonie gevlug het. Hulle het gevolglik op groot voorrade meel, wyn, rys, sout en ander lewensmiddele wat deur die vlugtendes agtergelaat is, beslag gelê, dit op die 16 waens gelaai en na die laers aangery. Daar is dit sonder betaling aan die noodlydendes in die laers uitgedeel.

Hierdie meevaller het net tydelik uitkoms gebied. Die beperkte leefareas wat ʼn noodwendige gevolg van oorlewing in ʼn laer was, het op die duur meegebring dat dit nie vir die Voortrekkers moontlik was om tuin te maak of te saai nie. Daar was talle onder hulle wat vir lang periodes letterlik niks benewens wildsvleis en graansorghum gehad het om hulle honger te stil nie. Die vooruitsigte op jag was boonop beperk, want dit was te gevaarlik om lang afstande van die laer af weg te beweeg. Met talle van hulle het dit gegaan soos met die wewenaar Daniel Bezuidenhout. Hy het op sy oudag vertel dat hy en sy pa saam sowat 7 000 skape en oorgenoeg geld gehad het, maar dat hy alles by Bloukrans verloor het. Sy enigste besittings wat hy oorgehad het, was ʼn broek en ʼn hemp.

Bowendien moes hy vir die gewonde Johanna van der Merwe, die jeugdige Adriaan Rossouw, wat eweneens aan sy wonde gely het en wie se gesin by Bloukrans uitgewis is en twee ander wesies sorg. Teen Oktober 1838 het die Voortrekkers by Saailaer in Natal ʼn ernstige gebrek aan lewensmiddele begin ervaar. Vleis was skaars, en toe jagters by een geleentheid met ʼn voorraad daarvan na die laers teruggekeer het, was feitlik als as gevolg van die hitte bedorwe. Daar was so ʼn groot tekort aan kerse dat hulle nie meer aandgodsdiens kon hou nie. Tog het hulle hierdie ontberings oorleef, want dié wat dit kon doen was steeds bereid om ʼn helpende hand na die noodlydendes uit te reik.

Alhoewel Andries Pretorius homself direk voor en weer direk na afloop van die Wenkommando se veldtog net vir kort rukkies tussen die Natalse Voortrekkers bevind het, was dit voldoende om hom op hoogte te bring van die behoefte aan lewensmiddele wat daar onder hulle geheers het.

Die Bloedrivier-gelofte staan links van die monument gegraveer. Foto: Petronel Fourie.

Gevolglik het hy direk na sy aankoms by die Modderrivier na die Slag van Bloedrivier ʼn omsendbrief opgestel waarin hy die volgende beroep op die binnelandse Voortrekkers gedoen het: “Waarde broeders en landgenote, hierdie dien om julle in te lig dat julle vriende aan die onderkant van die Drakensberg ʼn groot tekort aan lewensmiddele ondervind. Julle het nou die geleentheid om ʼn mededoënde en belangstellende hand vir daardie mense te open terwyl ons almal weet dat hulle ook in ons belang die verliese gely het. Skenk asseblief slagskape, osse en beeste en ook geld. Veldkornet David Fourie sal dit in ontvangs neem.”

Daar het altesaam 85 mense in reaksie op hierdie oproep skenkings gemaak. Die bydraes was maar skraps as dit met die opbrengs van die insameling vir die slagoffers van die brand in die Potgieter-laer dieselfde jaar in Natal vergelyk, maar Pretorius kon darem 185 skape, 10 bokke, een bees, ses stene seep en Rds (riksdaalders) 124 vir die behoeftiges na Natal saamneem. ʼn Ontleding van die lys van weldoeners dui daarop dat die meeste van die bydraers “nuwe” Voortrekkers was wat kort tevore eers in die Transgariep ingetrek het. Hulle was nie in die geledere van Voortrekkers wat in 1836 onder die aanvalle van die Matebeles of in 1838 onder die Zoeloes gely het nie.

Na die Voortrekkers se oorwinning oor die Zoeloe-krygers by Bloedrivier kon hulle uiteindelik tot permanente vestiging oorgaan. Dit het egter nie onmiddellik gebeur nie, want die moontlikheid om deur Zoeloe-krygers geteiken te word, was steeds daar. Gevolglik het die Voortrekkers ter wille van veiligheid steeds in groepe in versterkte laers gestaan, met hulle waens los van mekaar, maar gereed om vinnig in soliede kringe getrek te kan word. Hulle het selfs binne-in hierdie kampe tydelike hutte opgerig.

Majoor Charters, die bevelvoerder van die Britse garnisoen wat Port Natal tydelik aan die einde van 1838 beset het, het later met deernis oor die Voortrekkers se karige lewenswyse op daardie stadium berig: “Die Boere in hierdie kampe het vir hulleself hutte gebou. Enkele daarvan was taamlik gemaklik, maar oor die algemeen was al die tekens van liederlike armoede en behoeftigheid sigbaar; en dit was jammerlik om te aanskou hoe talle gesinne wat ʼn kort wyle gelede nog in gemak en oorvloed in die Kolonie geleef het, nou tot armoede en ellende verlaag is. Hulle weerstaan egter hierdie aanslae met ʼn wonderlike vasberadenheid, en toon op enkele uitsonderings na geen neiging om terug te draai nie.”

Dit was nie net in die walaers waar dit broekskeur gegaan het nie, maar ook in die eerste Voortrekkerdorp in Natal, naamlik Pietermaritzburg. Verskeie inwoners het van die troostelose bestaan getuig wat hulle veral in die aanvangsjare daar gevoer het. Stephanus Maritz het in ʼn brief melding van “hierdie armoedige tyd” gemaak en Kootjie Burger het berig dat produkte soos sout, meel, koffie, tee, suiker en drank skaars was. Later jare het “ʼn emigrant van 1839” teruggedink aan die tydperk “toe ons nog onder die donker wolke van rampe beneweld was en ons in 1840 deur die Zoeloe-oorloë en ander teëspoed in ʼn bitter staat van armoede gelewe het”.

Na die brand in die Potgieter-laer

Die oorspronklike makette van die Groot Trek (Foto: Verskaf)

Die eerste Voortrekkers wat hulle by Pietermaritzburg gevestig het, het steeds ter wille van veiligheid in hulle waens in laers gewoon terwyl die nuwe dorp uitgelê is. Die gevare verbonde aan daardie saambondeling in beperkte ruimtes het reeds in daardie eerste jaar tot ʼn ongekende ramp aanleiding gegee.

Op die aand van 3 Junie 1839 het ʼn katastrofe die inwoners van die laer van Koos Potgieter getref.

Anna Steenkamp het in haar gedenkskrif die volgende daaroor geskryf (vry vertaal): “Daardie aand om negeuur het ons laer aan die brand geraak toe ʼn swart dogtertjie ʼn kers aangesteek het. Sommige mense was al in die bed toe die vuur begin versprei het, maar ons was nog besig om ons kinders te onderrig. Eensklaps was daar ʼn nooduitroep. Ons eerste gedagte was dat ons vyande die laer aan die brand gesteek het. Toe die eerste huisie in vlamme opgaan, het al die ander huise ook aan die brand geraak. Die laer was ruim van kruit en lood voorsien. My eggenoot Jacobus Steenkamp het alleen ʼn vat kruit van 600 pond [sowat 280 kilogram] gehad, en enkele van die ander huise was ook vol kruit.

“Daarom was dit baie gevaarlik om in die laer te bly. Ek het met my twaalf kinders by die poort uitgehardloop en omdat ek vreesbevange vir die vuur en vir die gewaande vyand was, tot in die eerste laagte gevlug. Verder kon ek nie gaan. Daarna het die ander vroue my gevolg. Ons het daar gebly totdat die laer uitgebrand was. Toe het ek gehoor wie die persone was wat in die vuur omgekom het. Die mense het vertel dat my man onder daardie getal was, maar ek het my nie veel oor daardie boodskap bekommer nie, want ek het buitendien gedink dat dit onmoontlik was dat enigiemand die brand sou oorleef het.

“Die aakligste van als om in die donker nag te aanskou, was toe die kruit aan die brand slaan [ontplof] en die stukke van die waens van alle kante af rondom ons verby vlieg. Toe die gevaar verby was, het ons ons weer na die laer begewe om die beseerdes te gaan help en die dooies te begrawe. Toe die eerste huis aan die brand geraak het, het tien mans die vuur probeer blus, maar toe die kruit ontplof het, is drie van hulle gedood en die ander ernstig beseer. Een negosie-wa wat heelwat kruit op gehad het, het ook aan die brand geraak. Twee mans het dit probeer red, maar die een is ernstig beseer en die ander een het ook net ʼn rukkie bly leef. Die kruitwa was in die middel van die laer. Twee wit en twee swart kindertjies is in die huis verbrand. Die volgende dag het ons nege dooies en twaalf beseerdes in die as gevind.

“Die hitte was só erg dat ons nie daardie aand die dooies kon uithaal nie. Dit was ʼn gekook en ʼn gebraai. Van ons is vier waens, nege gesoute, vet beeste, asook seep, vet, sout, suiker en dies meer verbrand, want ons was ryk en van alles voorsien. Dertien huise het verbrand. Ons moes die hele nag sonder boklere en beddens by ʼn vuur sit. Sommige vroue en moeders het gehuil, want hulle het hulle mans en seuns in die vuur sien verbrand. Ons arme vrouens en die klein kindertjies het met talle droewige teenspoed te kampe gehad, meegebring deur die koue en deur die vyand, maar om langs so ʼn groot vuur te oornag, waar soveel mense in verbrand het, was nog harder, en die nag was bitter koud. Die volgende oggend het ons die beendere in ʼn deken toegebind en in ʼn gat begrawe.”

Onder die oorledenes as gevolg van die brand was vier volwasse mans – een Potgieter, twee Steenkamps en een Van Deventer, twee kinders van Christoffel Jordaan en drie swart kinders. Anna Steenkamp se man was ernstig beseer maar het weer herstel.

Die Voortrekkers in die naburige laers het die ontploffing van die buskruitvaatjies gehoor. Aangesien hulle gedink het dat dit ʼn skietery op Zoeloe-krygers is, het hulle inderhaas vir ʼn geveg gereed gemaak.

Nadat hulle die dag na die ramp ondersoek na die gebeure ingestel het, het Kootjie Burger, Francois Retief, Stephanus Maritz en tien ander Trekkers ʼn dringende brief aan die handelaar Stephanus de Kok, wat kort tevore ʼn pakhuis in Port Natal opgerig het, gerig waarin hulle hom op hoogte gebring en vervolgens om hulp gesmeek het. Volgens hierdie brief was daar 29 gesinne, wat 99 kinders ingesluit het, in die laer toe die brand uitgebreek het en het die laerbewoners, benewens ongevalle, al hulle besittings behalwe die klere aan hulle liggame verloor. In die lig van die hopelose toestand waarin die slagoffers verkeer het, het Burger-hulle De Kok versoek om so spoedig moontlik klere en beddegoed, kruideniersware soos rys, koffie, tee, suiker en sout en skottelgoed, insluitende messe, vurke en lepels ter waarde van Rds 2 000 na hulle toe te stuur. Hulle sou intussen lyste rondstuur om geldelike bydraes te vra en het belowe om die geld binne ses maande aan De Kok te betaal.

Andries Pretorius was by Doornkop aan die bo-Tugela met ʼn kommando aan’t wag op die Zoeloes om vee wat hulle beloof het uit te lewer, toe hy drie dae na die brand daarvan gehoor het. Sy reaksie was om ʼn skrywe onder die lede van sy kommando te laat versprei waarin hy kortliks vertel het wat gebeur het. Hy het sy “Vriende en Landgenote” in hierdie skrywe daarop gewys dat die slagoffers hulle goed en bloed ter wille van “ons almal” opgeoffer het. Daarom moes hulle nou almal tesame “die hande saamslaan en met die seën van die Allerhoogste hulle uit hulle droewige toestand red”.

Pretorius se pleidooi was: “Elkeen gee na sy vermoë en dra daartoe by nadat hy vanuit die hemel geseën is.” Hy self het Rds 26 belowe en daarbenewens het die ander kommandolede geld of goedere soos linne, skaaphamels, bokke, voedsel, meubelstukke en klere belowe. Presies hoeveel daarvan inderdaad uiteindelik bygedra is, is onmoontlik om te bepaal, maar destydse aantekeninge dui daarop dat dit by Doornkop alleen minstens Rds 1 196 was.

Tydens en direk na afloop van die Tregardt-trek

Louis Tregardt (Foto: Wikimedia Commons)

Die Voortrekkerleier Louis Tregardt en sy geselskap het die suidelike hang van die Soutpansberg in Julie 1836 bereik. Dit was kort nadat Lang Hans van Rensburg en sy geselskap van daar af ooswaarts getrek het met die doel om by Inhambane in Mosambiek te gaan handeldryf. Vier gesinne wat hulle in daardie stadium by Tregardt bevind het, het sy geselskap sowat ʼn maand verlaat en Van Rensburg se waspore ooswaarts gevolg. Tregardt het vir maande geen kontak met hulle gehad nie, maar teen die einde van die jaar via ʼn swart boodskapper verneem dat hulle as gevolg van nagana en malaria bitter swaargekry het. In Januarie het Tregardt inderdaad ʼn smeekbrief van een van hulle, naamlik Jan Pretorius, ontvang dat hy dringend hulp moes stuur want Gert Scheepers, wat boonop deur koors platgetrek was, se trekosse het feitlik almal gevrek. Tregardt het hierop sy seun Pieta met nie net een span osse gestuur nie, maar met al die osse waaroor hy beskik het sodat hulle die waens na sy staanplek toe kon terugsleep, wat toe ook gebeur het. Dit was die eerste van vele kere in die veelbewoë geskiedenis van daardie groepie Voortrekkers dat die Tregardt-gesin hulle met osse en ander lewensmiddele te hulp gesnel het.

Die Tregardt-trekgeselskap het na hulle aankoms in Delagoabaai [die huidige Maputo in Mosambiek] in April 1838 bittere ontbering verduur voordat daar vir hulle uitkoms gekom het. Bykans die helfte van die geselskap, waaronder Tregardt self en sy vrou Martha, is binne ses maande oorlede. Die Portugese goewerneur en sy amptenare het volgens alle aanduidings hulle bes gedoen om die oorlewendes by te staan, maar dit kon nie verhoed dat hulle in haglike omstandighede verval het nie. Nagana en ander veesiektes het genadeloos op die Tregardt-trekgeselskap se beeste, skape en perde toegeslaan. Kort voor die laaste Voortrekkers Delagoabaai verlaat het, het wyle Louis Tregardt se seun Pieta net 12 beeste, 200 skape en bokke en een ryperd oorgehad.

Op 3 Julie 1839 het ʼn boot, die Mazeppa, onder aanvoering van kaptein John Tate in Delagoabaai ingevaar om die 28 oorlewendes van die trek, insluitende drie bediendes, op te laai en na Port Natal te neem. Hierdie boot is deur die Natalse Voortrekkers gestuur, wat op kollektelyste Rds 179 vir hierdie doel ingesamel het. Tate het eers die Portugese goewerneur besoek om te verduidelik wat die rede vir sy besoek was, waarna hy en een van sy metgeselle die wonings van die Voortrekkers, waarvan daar net enkele weduwees en ʼn klompie weeskinders oor was, gaan besoek het.

Hy het agterna met aandoening oor die ellendige groepie mense geskryf wat hy daar aangetref het: “[ʼn] toneel wat te hartverskeurend is vir ʼn pen om dit te beskryf het ons ingewag. Ons het hierdie stomme wesens, met die uitsondering van Tregardt se gesin, totaal verarmd aangetref, party selfs sonder ʼn bed om op te slaap of ʼn kombers om hulle te bedek … besig om ʼn miserabele bestaan te voer, uitgeteer deur siekte en behoefte en moedeloosheid.”

Tate het sy bes vir hierdie groepie Voortrekkers gedoen. Hy het onmiddellik maatreëls getref om hulle omstandighede te verbeter en hulle besittings in te skeep. Daarmee het dit wat die meeste van die Trekkers betref maklik gegaan, want hulle het feitlik niks oorgehad nie. Die Tregardt-kinders het die meeste van hulle besittings aan die Portugese in Delagoabaai verkoop. Die res van die goedere is opgelaai. Die oorlewendes van die Tregardt-trek het hierna op die laaste skof van hulle epiese reis vertrek: ʼn vaart van enkele dae na Port Natal aan boord van kaptein Tate se skip. Dit blyk dat hy sy beteuterde passasiers steeds met deernis behandel het.

Ter afsluiting

Anton van Wouw se standbeeld van ’n Voortrekkervrou wat haar twee kinders beskerm. (Foto: Verskaf)

Dat ʼn sameloop van rampe tydens die Groot Trek die meeste van die deelnemers daaraan in armoede gedompel het, kan nie betwyfel word nie. Anna Steenkamp het in haar gedenkskrif aangeteken dat daar ná al die rampe wat die Voortrekkers in Natal in 1838 asook in die eerste helfte van 1839 getref het, ʼn groot aantal sorgafhanklike weduwees en weeskinders in die Voortrekkerlaers aanwesig was. Sy skryf dat sy en haar man 43 kinders en kleinkinders gehad het wat hulle moes versorg. Sommige was bedlêend en moes deurentyd bygestaan word. Dit het gebeur terwyl hulleself in waens gebly en nóg oor ʼn huis, nóg oor ʼn veldtent beskik het. Boonop het die instroming van swart gemeenskappe en hulle vestiging in Natal na die Britse oorname in 1843 volgens Voortrekkergetuies tot die verarming bygedra.

Anna Steenkamp het hieroor verklaar: “Erwe en plase word deur die heidene verwoes en ons word weer van baie vee ontneem deur die swartes, sodat ons andermaal deur die onophoudelike gesteel van die swartes in armoede verval … [O]ns is nou geheel en al verarmd en wil nou weer in die binneland intrek, indien God aan ons gesondheid en Sy seën skenk.”

Die meeste Natalse Voortrekkers het voor 1850 reeds weer uit Natal weggetrek, maar nie almal het of kon Natal verlaat nie. Noemenswaardiges onder diegene wat agtergebly het, sluit Erasmus Smit en sy vrou Susanna in. Hulle kon dit nie bekostig nie, want hulle het in die ergste armoede verkeer. Inderdaad het hulle in gebrek in Pietermaritzburg agtergebly.

Die meeste van die Voortrekkers wat hulle van 1839 af wes van die Drakensberg in Transvaal gevestig het, was insgelyks mettertyd totaal verarm. Dit geld selfs diegene wat nie onder Mzilikazi en Dingane deurgeloop het nie. Op 31 Oktober 1851 het die Volksraad van Lydenburg ʼn brief aan vriende in Nederland gerig waaruit ʼn mens kan aflei hoe dwingend die armoede van daardie gemeenskap op daardie stadium was. Die Lydenburgers het in die brief verklaar dat “die meeste van ons swerwe van die jaar 1835 tot 1837 af in Afrika rond; al ons besittings is deur die moorde en plundering van swart stamme byna heeltemal of gedeeltelik verlore, en ons is deur die godlose handelswyse van die Engelse regering gedurig verjaag; en terwyl ons in die bitterste onsekerheid gehou is, het ons alles verteer, die geldmiddele is uitgeput, en al waarvan ons lewe is ons horingvee, en bietjie landbou om in die lewensbehoeftes van ons huisgesinne te voorsien.” Voorts het hulle geskryf: “Die handel word feitlik uitsluitlik met die kolonie Kaap de Goede Hoop gevoer. Die gewone betaling geskied met slagvee, wat die plek van geld ingeneem het, ook wel met ivoor, maar as gevolg van die bittere armoede onder ons, is dit selfs vir die mees welgesteldes onder ons onmoontlik om geld op te gaar en so te bewaar.”

Die negatiewe impak van die Groot Trek het egter nie meegebring dat die Voortrekkers hulle morele kompas verloor het deur byvoorbeeld te degenereer in ʼn gemeenskap wat uit plundery en rowery ʼn bestaan probeer voer het nie. Ware hongersnood het nooit onder hulle geheers nie. Een van die belangrike redes waarom dit nie gebeur het nie was omdat die Voortrekkers, ten spyte van hulle onderlinge getwis oor kwessies soos hul verhouding met Brittanje en Engelstaliges oor die algemeen, altyd bereid was om die hulpbehoewendes onder hulle te hulp te snel. Daar was geen neiging by enige vooraanstaandes onder hulle te bespeur om soos ʼn bendeleier bloot die belange van sy eie volgelinge in ag te neem en die res uit te buit en aan hulle eie lot oor te laat nie. Die besef van verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap as geheel was deurgaans vooropgestel en die uitvloeisel daarvan was die onderlinge helpmekaarbewegings wat telkemale na vore gekom het.

Hoe suksesvol die Voortrekker-helpmekaar-reddingspoging was, kon nie uit die beskikbare bronne vasgestel word nie. Aangesien die doel daarvan sekerlik nie was om meer te bereik as om die ergste onmiddellike nood op die kort termyn te verlig nie, en aangesien die armoede waarmee die Voortrekkers te kampe gehad het met verloop van tyd eerder toe- as afgeneem het, kan die afleiding gemaak word dat net oppervlakkige uitkoms daardeur teweeggebring is.

Die belang van die Groot Trek-helpmekaarbeweging vir doeleindes van hierdie artikel is tweeledig, naamlik eerstens dat die beginsel om mekaar by te staan destyds vir die Afrikaners vanselfsprekend was, en tweedens dat dit die eerste duidelike helpmekaarinisiatiewe in die geskiedenis van die Afrikanergemeenskap was. As sodanig het dit as rigtingwyser vir die toekomstige uitgebreide, landwye Helpmekaarbeweging van die eerste helfte van die 20ste eeu gedien, en die vestiging van die Solidariteit Beweging, wat in wese ʼn wydreikende helpmekaarorganisasie is, in die eerste twee dekades van die 21ste eeu.

  • Jackie Grobler is ’n historikus wat vir bykans 40 jaar aan die Departement Historiese en Erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria verbonde was. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anniekiewiet ·

Baie dankie vir ‘n puik skrywe/vertelling, duidelik uiteengesit. Hartseer laat my keel toetrek en ek wonder hoeveel van onse mense van vandag ‘n week met so ‘n trek sou kon saamgaan.

annie ·

En hier is ons vandag ná hul wel en weë. Beslis dapperder as ons. Maar is ons vryer en sonder bedreigings? Baie wil weer die pad Kaap toe aandurf. Daai trekpad is nou vol duwweltjies en Stellenbosch much more English than then. Hoeveel ossewaens is nog oor. Oorslaap op die trekpad gaan eens so gevaarlik wees. Hoe kon ons Afrikaners tog so verkeerd geloop het dat ons weer in die Kaap wil oorbegin?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.