Herbou die staatsmasjien

Argieffoto

Deur Jeannette Gnade

Die ondersoeke na korrupsie en staatskaping het nog weinig resultate opgelewer. Wetstoepassingsagentskappe wag op mekaar om die leiding te neem en die regering self is nog besig om raamwerke op te stel. Berigte van staatskaping en korrupsie in die regering het nog nooit tevore so duidelik openbaar dat die staat se masjinerie eenvoudig net te lomp is om te hanteer.

Daar is ook ’n gebrek aan bekwame toesighouers en kundiges in die onderskeie departemente en die semi-staatsinstellings soos Eskom, Transnet en die SAL. Die staatsmaatskappye word beheer deur die departement van openbare ondernemings wat in 1994 as die kantoor van openbare ondernemings tot stand gekom het. Sy opdrag was om die herstrukturering van die staatsmaatskappye te lei sodat dié entiteite hul volle ekonomiese en ontwikkelingspotensiaal sou bereik. Vyf jaar later het minister Jeff Radebe voorgestel dat dié kantoor in ʼn volwaardige staatsdepartement omskep word wat ’n sleutelrol in ekonomiese vooruitgang sou speel.

Een van die vorige ministers, Barbara Hogan, wou in een stadium onderpresterende staatsmaatskappye verkoop, maar het erg deurgeloop onder die ANC en die SAKP. Dit was egter nie teen ANC-beleid nie en daar is gewonder of dit deel was van die voortgesette stryd om die beheer op die gebied van ekonomiese beleid en bestuur te behou. Die ANC was nog altyd ten gunste van die verkoop van staatsbates en deelname deur die privaatsektor en selfs ’n gemengde ekonomie wat albei sektore bevoordeel.

Algaande het minister Hogan se kritici besef dat staatsentiteite nie voldoen aan die doelwitte van werkskepping en die instandhouding daarvan nie. Eskom het in 1985 byna 70 000 werknemers gehad. Vandag is daar skaars 30 000. Armoede is toe nie verlig nie, maar vererger. Die kragvoorsiener se elektrisiteitsaanlegprogram het fluks begin, maar toe afgeneem en talle landsburgers het steeds nie toegang tot elektrisiteit nie. Telkom het ook nie die landelike en armer gemeenskappe bereik nie ondanks sy toegewysde algemene diensfonds. Privaat selfoonmaatskappye het ook die mark oorgeneem.

So het elke staatsmaatskappy sy eie treurmare. Infrastruktuurontwikkeling wat beskou is as die beste manier om werk te skep, het agterweë gebly en het volgens ʼn oorsese hersieningspaneel ook nie die topstandaard bereik nie. Telkom vergelyk nie goed met die telekommunikasie van ontwikkelde lande nie en Eskom se beurtkrag is nog vars in die geheue. Staatsmaatskappye se monopolistiese aard is ook nie bevorderlik vir ekonomiese opbloei nie. Hulle verkoop of verhuur ten duurste ’n deeltjie van hul monopolie aan privaat instansies en dit is uiteindelik die publiek wat moet opdok. ’n Ander staatsmasjien word dringend benodig.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

‘Die ANC was nog altyd ten gunste van die verkoop van staatsbates en deelname deur die privaatsektor en selfs ’n gemengde ekonomie wat albei sektore bevoordeel.”
Die stelling is nie waar nie want dit drus lynreg in teen die beginsels vervat in die ANC se vryheidsmanifes,wat vandag nog deur baie ANC ondersteuners as vertrekpunte beskou word.

The People Shall Share in the Country`s Wealth!

The national wealth of our country, the heritage of South Africans, shall be restored to the people;

The mineral wealth beneath the soil, the Banks and monopoly industry shall be transferred to the ownership of the people as a whole;

All other industry and trade shall be controlled to assist the wellbeing of the people;

All people shall have equal rights to trade where they choose, to manufacture and to enter all trades, crafts and professions.

The Land Shall be Shared Among Those Who Work It!

Restrictions of land ownership on a racial basis shall be ended, and all the land re-divided amongst those who work it to banish famine and land hunger;

The state shall help the peasants with implements, seed, tractors and dams to save the soil and assist the tillers;

Freedom of movement shall be guaranteed to all who work on the land;

All shall have the right to occupy land wherever they choose;

People shall not be robbed of their cattle, and forced labour and farm prisons shall be abolished.

John ·

Indien die gekonkel tussen sekere groepe nie geopenbaar is nie, kon van die entiteite dalk reeds in die hande van diesulkes gewees het. Was die leegloop van die geldstore nie juis georganiseer met die oog op ‘n vinnige winskopie nie, soos oa die SAL? Daar is groot ooreenkomste met die bankkrot Indiese lugdiens wat onlangs geprivatiseer is. Woede heers heel moontlik oor kanse wat op verskeie terreine gefnuik is. Het die skielike waarskuwing oor ‘n moontlike ‘atoombom’-ontploffing, indien daar teen Zuma gestem word, iets hiermee te doen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.