Herinnering aan Jan du Rand (1945-2021)

Deur prof. Hoffie Hofmeyr

Prof. Jan du Rand. (Foto: Facebook)

In herinnering aan Jan du Rand op pad na die volmaakte “gholfronde”.

Prof Jan Abraham (JA) du Rand het op 9 Maart 2021 sy finale rondte “lewensgholf” gespeel toe hy in die Kloof-hospitaal in Pretoria sy laaste lewensasem uitgeblaas het, nadat die Covid-19-werklikheid in al sy felheid ook hom beetgepak het.

Hoewel ek aanvanklik met hom kennis gemaak het gedurende ons studies in die sestigerjare van die 20ste eeu aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria (UP), was dit veral in die laaste twaalf maande wat ek vir Jan nog veel meer intiem leer ken het toe ons (behalwe vir die streng inperkingstye) feitlik op ’n weeklikse basis ’n bietjie sosiale gholf gespeel het. Sy sport was vir hom baie belangrik en boonop was hy ʼn kompeterende én aangename gholfmaat..

Dit was tydens ons gereelde saamryery uit oostelike Pretoria na die Irene-gholfbaan in Centurion, maar ook op die gholfbaan self, wat ’n klompie indrukke oor Jan se menswees en veral sy teologiese en sosiale denke my diep getref het.

Jan het op die afslaanbof van sy lewe reeds baie sterk onder die indruk van sy Koninkryksverbondenheid gekom. As jong kind in ’n pastorie in die middel van die 20ste eeu, was hy vroeg reeds bewus tot waar die skoonveld van die lewe strek en waar die rof begin het. Met ’n paar stewige houe van ouerlike drywers en ook nog ’n paar ysters verteenwoordigend van onderwysers by die Laerskool Generaal Jacques Pienaar (nie ver van sy pa se predikantsposisie by die Bosmanstraat Moedergemeente in Pretoria nie), en daarna by die Hoërskool Wonderboom in Pretoria, het hy redelik maklik die eerste paar putjies van die lewe met goeie leermeesters bemeester. Maar soos geen mens se lewe net sonder stamp of stoot verloop nie, het hy met die betreding van die volwasse lewe ook die uitdagings van verskillende water- en sandkuile by die daaropvolgende lewensputjies trotseer en hanteer. Deur verdere studies binnelands en ook vir ’n kort tyd in die buiteland, en langs die weg van predikantwees, is hy verder voorberei vir die spel van die lewe. Hy dien daarna vir meer as 45 jaar as dosent by UP, by die Universiteit van die Vrystaat (UV), by RAU (die latere Universiteit van Johannesburg) en uiteindelik as buitengewone professor by die Noordwes-Universiteit. Laasgenoemde ervaring het hom besonder na aan die hart gelê, naas verskeie lesingreise as besoekende professor in Amerika en Korea.

Vir Jan du Rand was teologie-beoefening sy groot liefde. Jan het dit enersyds as wetenskaplike en as kundige beoefen, maar andersyds vanuit ’n diepe geloof in die Pauliniese woorde van 1 Korintiërs 3:18-19: “As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld ’n wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik ’n wyse mens kan word… want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God”.

Ook hy het gedink dat die teoloog wat by veral die kerklike opleiding van woordbedienaars betrokke is, nie anders kan as om ook, met sy oog op die bal van geloof, jong studente vir die lewensgholfspel van woordbediening moet voorberei nie. Geloof en wetenskap het vir hom nie teenoor mekaar gestaan nie, maar was ’n noodsaaklike basis waarop ’n Bybels-verantwoorde teologie gebou moes word. Want vir hom was teologie in die klassieke sin van die woord fides quaerens intellectum, dit wil sê geloof wat verstaan soek.

Oor Skrifinterpretasie, wat een van die grootste uitdagings van en vir die NG Kerk in ons tyd geword het, het Jan sy stem by herhaling laat hoor. Soos met die reëlboek vir gholf is daar ook spelreëls vir die verantwoorde verstaan en interpretasie van die Bybel. Jan het oor die totale hermeneutiese proses sterk gevoel dat dit ten dienste van die uitbou van kerk en Koninkryk moet wees en staan (sonder om alles in detail uit te spel). ‘n Mens dink veral aan twee voorbeelde, wat reeds vir 20 jaar uitsonderlike uitdagings vir die NG Kerk inhou.

Eerstens was Jan deel van ’n groep prominente NG-teoloë wat alreeds in 2001 ernstige kommer uitgespreek het oor die wyse waarop die bekende Ben du Toit die teologiese rigting vir die NG Kerk probeer aandui het met sy veel besproke boek: God? Geloof in ’n postmoderne tyd (2000). Jan (en andere) het aangetoon hoe Ben eintlik maar net die (post)modernisme afkomstig vanuit Europa probeer populariseer het in Suid-Afrika deur byvoorbeeld Christus se maagdelike verwekking, goddelike wonders en die opstanding radikaal te herinterpreteer. Vanuit die NG Sinode van die Suid- en Wes-Kaap, was Ben feitlik met die hand uitgesoek vir senior sinodale posisies. Vir byna twee dekades was hy in posisies waar oor Skrifgesag en Skrifinterpretasie strategies belangrike besluite in die NG Kerk geneem is. As ons na Du Toit se onlangse vaarwel toeroep van die Christelike geloof in sy boek God: is daar ‘n ander antwoord (2020) luister, is dit veelseggend dat Jan du Rand en andere redelik profeties reeds in 2001 verklaar het sy teologisering “hou uiteindelik min van die evangelie oor, te min om dit nog die moeite werd te maak” (Kerkbode, 17 Augustus 2001).

Tweedens het Jan oor die huidige bespreking oor selfdegeslagverhoudings as deeglike bybelwetenskaplike sy huiswerk met deeglikheid gedoen en terselfdertyd met sensitiwiteit vir mense wat hiermee worstel. Nadat ’n koerantjoernalis hom oor sy standpunt daaroor gevra het, het hy gesê hy het nie self juis ’n standpunt daaroor nie, want veral die Romeine-boek verwoord sy beskouinge daaroor. In ’n openbare lesing in 2005 by die NG Kerk Moreletapark verduidelik hy dat daar baie heteroseksuele Christene is wat besluit om selibaat te lewe, en dat volgens hom dieselfde gevra moet word van homoseksuele mense. Jan se standpunte, soos dit ook in 2016 neerslag gekry het in ’n publikasie saam met Marius Nel, is in 2015 en 2019 uitgestem by die Algemene Sinode. Tans is die moontlikheid vir kerkskeuring veral rondom die kwessie van Skrifinterpretasie groter as ooit in die NG Kerk se onlangse geskiedenis.

In van my gesprekke met Jan was daar soms ’n hartseer toon in sy stem oor veral die magspel van bepaalde kerkfigure, die gebrek aan fokus op sake van die eerste orde teenoor middelmatige sake, asook die afronding van jong teologiese studente met die oog op die kerklike bediening. Oor die kwaliteit van Woordverkondiging het Jan ook baie vrae gehad. Die Koninkryksteorie van Johan Heyns, aangevul deur die deernisvolle gereformeerde invloede (hoewel miskien indirek) van teoloë soos Willie Jonker en andere, het op hom as student afgeëts gestaan, net soos op baie van ons as sy medestudente.

Ook oor die vlak van teologisering in die Afrikaanse kerke het hy soms gewonder. Volgens sy oordeel was daar nie altyd genoeg teologiese diepte by sommige bybelwetenskaplikes en sistematiese teoloë nie en hy het gemeen, weliswaar in respek, dat dit ʼn ernstige refleksie na die kant van teoloë is as joernaliste eintlik die teologiese diskoers begin bepaal.

Jan het ook as Afrikaanssprekende baie geworstel met die politieke aksente en veelvuldige implikasies van die ou Suid-Afrika se beleidsrigtings. Hy het hom by geleentheid sterk daaroor uitgespreek en ook kant gekies, onder andere oor regstellende aksie. Die vraag het baie by hom gespook oor hoe die onmenswaardige onregte van die verlede behoorlik aangespreek kan word.

Daar was egter nie net vrae en worsteling by Jan du Rand nie. Hy het ook baie waardering vir baie mense en baie dinge in kerk, teologie en samelewing gehad. In wese kan hy oor kerk, teologie en samelewing as ’n Suid-Afrikaanse teoloog beskryf word wat ook die weg van lojale kritiek of kritiese-solidariteit bewandel het.

Van Jan se eerste liefdes (naas dié vir sy vrou, sy drie dogters wat in drie wêreldkontinente saam met hul gesinne woon, en vir die kerk van Christus,) was om praktiese neerslag van sy teologiese beskouinge in publikasies te boekstaaf. Nie net het baie en hoë kwaliteit publikasies uit sy pen verskyn nie, maar hy wou nog, as hy eers uit die hospitaal ontslaan is, twee publikasies finaal proeflees. (Terloops, dis moontlik ’n interessante uitdaging vir een van sy studente in die Bybelwetenskappe om hierdie taak in oorleg met Jan se vrou, Anneli, af te handel). Hy het verder ook genoem dat hy in ’n strewe na groter balans meer tyd met sy vrou wil spandeer en minder tyd in die studeerkamer, maar nou is dit ongelukkig nie meer moontlik nie.

Jan het uiteindelik met ’n besondere goeie baansyfer die agtiende putjie voltooi en nou is hy by die negentiende putjie van volkome rus, vrede en vreugde. Hoewel hy soos alle mense sy kwota erkenning van die toeskouers langs die lewensgholfbaan baie geniet het, het dit vir hom in lewe en sterwe oor veel meer as dit gegaan: Die hemelse setperke gaan vir hom baie vreugde gee, want “ek het die wenstreep bereik, ek het gelowig enduit volgehou” (2 Tim 4:7). En soos sy geliefde (Johannese) Openbaring-boek uiteindelik ook uitbasuin, sal al die trane van ons oë afgedroog word, want” die dood sal daar nie meer wees nie… (want) Kyk, Ek maak alles nuut” (Op 21: 4, 5).

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Mense

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Androclus

Amen

Filistyn

Groot boom wat geval het. Ek was een van die bevooregtes wat deur hom voorgestel en aangeneem is in die NG Kerk Krokodilrivier Brits Toe hy nog ds. was. Groot indruk op my gemaak.