Herontdek Van Riebeeck se skatkis

Jan van Riebeeck

Argieffoto.

Dit is 6 April 1652. Die 33-jarige Jan van Riebeeck staan op die strand en kyk hoe die matrose die paar stukkies gereedskap, landboubenodigdhede en die karige persoonlike besittings van die 90 aankomelinge aflaai. Hy sug hardop. Hoe verwag die VOC hy moet met net 82 mans en 8 vroue ʼn verversingspos oprig om die grootste handelsvloot ter wêreld van voorrade te voorsien? Hierdie paar hopies goed op die strand lyk nie eens genoeg vir die groepie pioniers nie.

Maar net toe hy dink dat hulle byna met leë hande hier aangeland het, sien hy die skatkis raak wat die VOC se direksie met groot sorg aan hom oorhandig het. Die opdrag was dat hy persoonlik daarna moes omsien, en dit eers by hulle aankoms mag oopmaak. Die voorsitter het vertroulik aan hom gefluister dat die skatkis die geheime bestanddele bevat wat nodig is om ʼn moderne ontwikkeling in donker Afrika te begin.

Hy weet dat almal tydens die maande lange seereis nuuskierig gewonder het wat in daardie skatkis is. Hy moes op ʼn keer selfs vir Maria aanspreek om nie heeltyd onder die bed in te loer waar hy dit weggesteek het nie. Boonop het hy seker gemaak dat ʼn betroubare soldaat voor sy kajuit waghou wanneer hy met ander take op die skippie besig was. Selfs die kapteins van die drie skepies kon nie hulle nuuskierigheid bedwing wanneer hulle gesamentlik kajuitraad gehou het nie. Hy kon sien hulle het hom nie geglo toe hy sê dat hy nie weet of dit goud, silwer of ander skatte bevat nie. Die VOC was in 1652 immers die grootste en rykste maatskappy ter wêreld.

Maar nou besef Van Riebeeck dat hy nie die geheim langer kan hou nie. In doodse stilte buk hy af en sluit die kissie versigtig oop. Hy sukkel effens met die slotte wat al begin roes het. Die deksel is ook maar stram, en Jan moet al sy krag gebruik om dit stadig oop te beur. Die groepie omstanders se oë is op die kassie vasgenael, en Maria en een van die skeepskapteins is skoon in die pad van nuuskierige hulpvaardigheid.

Skatkis

Skielik is die deksel oop. Van Riebeeck staar verstom na die inhoud. Hy kan sy oë nie glo nie, en knik woordeloos toestemming na die offisiere om te kom kyk. Hy sien die verbasing en teleurstelling in hulle oë, en voel hoe hulle vraend na hom kyk. In plaas van die goue skatte wat hulle verwag het, lê daar net twee hande vol sakkies saad in die kissie, met ʼn byna vergeelde brief langsaan. Hy maak die brief versigtig oop, maar toe hy begin lees, sien hy nie eens die verstomde gesigte of hoor die verbaasde vrae van die seemanne nie.

Stadig verdwyn Van Riebeeck se frons en verander in ʼn stralende uitdrukking op sy gesig. Dan begin die jong kommandeur praat, en hy verduidelik aan die klein skaretjie die inhoud van die skatkis. En stadigaan besef almal dat wat Van Riebeeck daar in sy hande hou, oneindig meer werd is as ʼn skeepsvrag vol goud. Want die saadjies wat hy daar vashou, is simbolies van die Westerse kultuurskatte wat hy saamgebring het.

Die omstanders luister aandagtig na sy woorde, en begryp stadigaan dat hierdie skatte hulle 90 mense in staat gaan stel om baie meer as ʼn verversingspos op te bou. Die inhoud van daardie skatkis het die Weste teen 1652 reeds in staat gestel om die gevorderdste beskawing in die geskiedenis te ontwikkel. Maar die Westerse sukses was nie as gevolg van Westerlinge se innerlike meerderwaardigheid soos gereeld in Van Riebeeck se tyd aanvaar is nie.

Westerse suksesresep

Jare later sou die beroemde ekonomiese historikus van die universiteite van Oxford en Standford, Niall Ferguson, die Westerse voorsprong beskryf as die gevolg van beter instellings as dié van ander beskawings. Die Weste se opkoms het gespruit uit beter politieke, ekonomiese, wetenskaplike, militêre, tegnologiese en burgerlike instellings. Die oorsprong hiervan lê in die Westerse kultuur, en nie in die Westerlinge se ras nie. Die opkoms van beskawings soos Japan, China en Indië nadat hulle van die Westerse stelsels oorgeneem het, wys dit duidelik. In vandag se taal, sukses spruit uit menslike sagteware, eerder as menslike hardeware.

Dit beteken hoegenaamd nie dat die Westerse kultuur en instellings foutloos was nie. Inteendeel, die Weste het soos ander beskawings gruwels soos slawerny, gewelddadige onderwerping, oorheersing en uitbuiting toegepas en deur kolonialisme uitgevoer. Maar dieselfde kultuur het oor die eeue die Weste in staat gestel om homself te hervorm en aan te pas. Met hierdie deurlopende vernuwing gegrond op beproefde waardes, kon die Weste die vrotste dele mettertyd uitsny en daardeur steeds aan die voorpunt in die wêreld bly.

Kultuur is die moeder, en die instellings die kinders, het Daniel Patrick Moynihan gesê. Maar die probleem is dat kultuur so vanselfsprekend vir mense is dat hulle dit self nie kan beskryf nie. Almal aanvaar hulle eie kultuur as “logies”, as die standaard waaraan ander moet voldoen, sonder om eens te dink aan die onderliggende verwaandheid daarvan en die vernedering wat dit vir ander kulture meebring. Westerse instellings soos demokrasie, die markekonomie, liberale sosiale waardes en die oppergesag van die reg moet op die Moslems, Chinese, Russe en Afrika afgewing word, al is hierdie beskawings se kulture nie altyd vatbaar vir die oorplanting van alle Westerse instellings nie.

Maar wat presies behels hierdie Westerse kultuur, wat 356 jare gelede eers met Van Riebeeck se kulturele skatkis hier aangeland het, en daarna met die Groot Trek in elke wakis verder die binneland ingedra is? Hierdie vraag is belangrik omdat dit die Westerlinge in staat gestel het om die voorste land in Afrika op te bou. Die foute wat in die proses gemaak is, doen nie afbreuk daaraan dat dit ʼn buitengewone prestasie was nie.

Protestantse waardestelsel

Die Protestantse Hervorming van vyf eeue gelede het tot ʼn algehele ommekeer in die destydse wêreld gelei. Die opkoms van die (Protestantse) Weste as oorheersende wêreldmoondhede, was die belangrikste gevolg van die Hervorming. Holland se “Goue Eeu” in die 1600’s is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Belangrik vir ons geskiedenis was dat Calvyn en ander Hervormers die Katolieke oorheersing van die samelewing verbreek het. So is die Katolieke verbod of stremming op kapitaalvorming, winsgerigtheid, en wetenskap en tegnologiese vooruitgang beëindig. Dit het gelei  tot die ontstaan van die wêreld se eerste multinasionale aandelemaatskappy, die VOC. Dit was die grootste en rykste maatskappy ooit in die geskiedenis, met bates van $7,4 triljoen in vandag se dollarwaarde!

Harvard-professore soos David Landes het aangetoon dat die Westerse kultuur met Calvinistiese waardes soos roeping, ondernemingsgees, werksetiek, tydsbewustheid, spaarsamigheid, verantwoordelikheid, gelykheid vir vroue en die bemeestering van kennis, gelei het tot die opkoms van die Weste. Kultuur was die suksesresep. So het die Protestantse Weste ʼn voorsprong gekry bo ander beskawings en -kulture, wat ander of net sekere van hierdie waardes gedeel het. Hy skryf ook dat die huidige Westerse insinking te doen het met hulle afwatering van hierdie waardes wat hulle histories suksesvol gemaak het. Daarby spruit die opkoms van lande soos Japan, China en andere tot belangrike mate uit die oorneem van sekere Westerse waardes en stelsels soos die vryemarkstelsel. Groot dele van die Afrikanerkultuur kan duidelik herken word uit die sukseswaardes wat hierdie kundiges genoem het. Daarom is dit vandag steeds hoogs toepaslik en noodsaaklik. Natuurlik het al Van Riebeeck se saadjies nie dadelik, volmaak en eweredig ontkiem en tot mooi en groot bome gegroei nie, en was daar ook knoetse en dorings in die pakkie. Maar die saad van toekomstige sukses was terugskouend al daar op die strand teenwoordig in 1652.

Maar daar is nog ander dele van die Afrikanerkultuur wat uit Van Riebeeck se skatkis gegroei en verder ontwikkel het:

Republikeinse strewe

Ons voorouers se vryheidsin het geblyk uit hulle historiese stryd teen Britse Imperialisme, en hulle strewe na onafhanklikheid en selfstandigheid teenoor onderdanigheid en afhanklikheid. Dit blyk ook duidelik uit die Afrikaner se “stigtingsdokumente” soos Retief se manifes en die grondwet van die Zuid-Afrikaanse Republiek. Soos die Romeinse denker Sallust tereg gesê het, wou Afrikaners ook nie net regverdige heersers hê nie, maar vry wees. Dit sluit aan by die wêreldwye neiging dat die volwasse mens vir hom- of haarself wil besluit, en die beheer oor hulle lewe nie aan sentralistiese burokrate wil oorlaat nie.

Vryemarkstelsel

Afrikaners het taamlik stadig die Westerse markekonomie aanvaar omdat dit so verweef met Britse imperiale kapitalisme was. Maar terselfdertyd was ons voorouers nooit sosialiste wat verwag het dat ander vir hulle moes sorg nie. Met rolmodelle soos dr. Anton Rupert wat op 25-jarige ouderdom sy voorbrand-takbakmaatskappy gestig het as voorloper van ʼn wêreldwye sakeryk, het Afrikaners ʼn ondernemingskultuur ontwikkel. Die ekonomiese groei en goeie moedertaalonderrig wat daaruit voortgepruit het, het Afrikaners uit armoede gelig, veel meer as net die latere politieke mag.

Oppergesag van die reg

Die Boererepublieke se grondwette en regstelsels was van die eerste moderne regsordes in Afrika.

Verteenwoordigende regering

Die Boererepublieke was deel van die vyfde geslag republieke in die wêreld, naas die antieke Griekse stadstate, die eertydse Romeinse republiek, die Franse republiek en die Amerikaanse republiek. Dit was merkwaardig in ʼn tyd toe ons stamlande nog deur koningshuise regeer is. Die eerste demokratiese verkiesing in Afrika was sover vasgestel kon word die Voortrekkers se verkiesing van leiers in Winburg tydens die Groot Trek.

Taal, kultuur en geskiedenis

Anders as die meeste Europees gekoloniseerde groepe het die Afrikaners nie ons stamlande se tale goedsmoeds oorgeneem nie. Afrikaans se modernisering het die Afrikaner se modernisering moontlik gemaak. So het Afrikaans deel van Afrikaners se identiteit geword, en nie net ʼn kommunikasiemiddel gebly nie.

Gesonde gesinne

Die opkoms van die gesin ná die Protestantse hervorming het in die Weste die besef laat posvat dat gesonde gesinne die grondslag van ʼn gesonde land is.

Wetenskap en tegnologie

Die Westerse wetenskap en tegnologie het veral ná die Hervorming ontwikkel en ook die topkennis van ander beskawings oorgeneem en verder uitgebou.

Gemeenskapsingesteldheid

Afrikaners se sterk gemeenskapsingesteldheid was skerp in teenstelling met die Britse individualisme, en het meer gemeen met Afrika se gemeenskapsbeskouing gehad. Daaruit is instellings soos die Helpmekaarbeweging gebou, en is besef dat politieke magloosheid nie noodwendig magteloosheid is nie. Afrikaners het geleer dat gemeenskapskrag meer kan bereik as staatsmag.

Sosiale waardes

Suid-Afrika het die sestigers se sosiale rewolusie in die Weste vrygespring, en deel meer tradisionele waardes met die ander bevolkingsgroepe in die land.

Westerse uitdagings

Die Weste is op die kruin van sy mag meer kwesbaar vanweë diepgaande kulturele veranderings wat ingetree het. Kulturele verskuiwings soos ontkerstening, sosialisme, materialisme, gemeenskapsverbrokkeling, sosiale waardes wat die gesin ondermyn en kinders benadeel, verlies aan kulturele selfvertroue, lae geboortekoerse, ʼn verswakte werksetiek en verruiling van verantwoordelikheid vir regte is soms ook onder Afrikaners sigbaar.

Prof. Niall Ferguson van Oxford eindig sy onlangse boek, Civilization – the West and the Rest, deur te sê dat die Westerse beskawing steeds die beste pakket aan die mensdom bied, ongeag die foute wat gemaak is. Die vraag is egter – volgens hom – of die Weste self die blywende waarde van sy eie kultuurskatte besef. Dieselfde geld vir Afrikaners in Suid-Afrika – ons historiese kultuurskatte en -waardes is nog steeds deel van die jongste suksesresepte in die wêreld. Natuurlik leef ons nie meer in Van Riebeeck se tyd nie en het van die toepassing van daardie waardes verander.

Maar dis tyd dat ons die kultuurskat wat Jan van Riebeeck 365 jaar gelede hier aangebring en verder ontwikkel het, weer moet herontdek en bewaar; dis steeds meer werd as skeepsvragte vol goud. Deur skeppende vernuwing gegrond op hierdie beproefde kultuurwaardes kan ons blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika voortbestaan.

Daarom sê ek ten spyte van al die omwentelings in die land steeds saam met Hendrik Biebouw: Ik ben een Afrikaander!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kassie

Die westerse waardes wat ons onderbring is ons skies dat ek lewe houding en terugstaan en toekyk as mense wat ons waardes teenstaan ons wil oorneem. Nog n swakheid is dat ons nie sterk saamstaan nie.

Sterkman

Uitstekende artikel, dankie.

JC

Baie dankie Flip. ‘n Groot fout wat ingeglip het in Westerse kultuur was die geleidelike vervanging van die gesag (en as’t ware liefde vir) van die boodskap wat in die Bybel aan ons voorouers gegee is, en die vervanging daarvan deur die sogenaamde 4de Stand, d.i. die verfoeilike, manipulerende en onbetroubare Hoofstroom media. Erken ons weer in verootmoedigheid die Grote van God en dat ons SLEGS bestaan en voorsprong kan maak deur Sy WIL en genade; sal die Weste herstel. In my opinie is dit AL wat ons nodig het om ons weer op die regte spoor te neem, d.i.… Lees meer »

PvZ

Ek lees vanoggend al die Afrikaner “leiers” se artikels oor Riebeeck dag. Daar is regtig manne met insig en verstand wat in leiersposisies is. ‘n Mens kan amper nie eers probeer ‘n vergelyking tref tussen Zuma en iemand soos Flip Buys nie. Tog sukkel ek om die verskil te sien tussen FW de Klerk se beloftes vir ons, en dit wat oranisasies soos Solidariteit en Afriforum vir ons bied. As hulle vir my gesê het dat die planne tydelik is, maar Selfbeskikking die einddoel, dan het ek beter verstaan. Ek lees die artikels van ons “leiers” en ek hoor hoe… Lees meer »

John

Filosowe praat van die post-heroiese tydvak, waarin mense wegskram van alles wat hom kompromitteer tov verantwoordelikheid en ondernemingsgees in teenstelling met die verlede waar die geweer, die graaf en waagmoed gevra is. Die uitdra van die Woord het baie grootse aksies aangevuur. Handearbeid is nou byna ‘n vloekwoord. Kultuur word as ‘n gelykmakende faktor aangedui en oor ras mag niks gese word nie. Hoekom? Wat seker is, is dat kultuur, ideologie en godsdiens verwant is. Sonder godsdiens is etiek afwesig. Die VOC het onder Joodse bestuur gestaan en die godsdienstige riglyne wat die Israeliete te duurste geleer is, was die… Lees meer »