Herroep die Wet op Gelyke Indiensneming

Thulas Nxesi, minister van werkverskaffing en arbeid, asook die nasionale ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Deur dr. Anthea Jeffery

Die Wet op Gelyke Indiensneming (GI) is nie slegs onkonstitusioneel nie, maar ook nadelig vir die meeste Suid-Afrikaners, en behoort herroep te word.

Thulas Nxesi, minister van werkverskaffing en arbeid, asook die nasionale ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), sê daar is tot dusver min transformasie in die werkplek sedert die Wet op Gelyke Indiensneming meer as 20 jaar gelede van krag geword het.

Nxesi baseer sy stelling op die 19de jaarverslag van die Kommissie vir Gelyke Indiensneming (KGI/CEE) wat vroeër die week uitgereik is. Volgens hierdie verslag is swart verteenwoordiging in topbestuursposte 76% in die openbare sektor, en 12% in die private sektor, terwyl wit mense 70% van hierdie senior poste beklee.

“Ons gaan van nou af baie streng optree,” sê die minister. Sy doel is ʼn wysigingswet wat deur die parlement bespoedig moet word sodat die staat gelyke indiensnemingsdoelwitte in elke sektor kan instel. Ondernemings wat sonder ʼn grondige rede nie aan hierdie doelwitte voldoen nie, sal die risiko loop om vervolg te word.

Instellings wat nie hieraan voldoen nie, sal ook deur ʼn huidige onaktiewe voorwaarde van die Gelyke Indiensnemingswet wat binnekort ingestel gaan word, belet word om besigheid met die staat te doen. Volgens Nxesi, sal hierdie wet die staat die mag bied wat dit nodig het.

Dog, die GI-wet, wat die minister van voorneme is om strenger toe te pas, is vol gebreke. Dit is ook teenstrydig met verskeie bepalings van die Grondwet, onder meer sy kernbeginsel van nierassisme.

Deel 1 van die Grondwet identifiseer nierassisme uitdruklik as ʼn kernbeginsel van postapartheid-Suid-Afrika. Dit waarborg ook die oppergesag van die Grondwet en bepaal enige wetgewing wat strydig met sy bepalings is, is ongeldig.

Wat ook hier van toepassing is, is die gelykheidsklousule (Deel 9) wat onbillike diskriminasie op grond van ras (en ander redes wat gelys is) verbied en bepaal dat enige diskriminasie weens gelyste redes onbillik is, tensy die teendeel bewys kan word. As uitsondering op hierdie algemene bepalings, laat die klousule toe om regstappe te doen om diegene wat weens onbillike diskriminasie benadeel is, te bevoordeel en so die uitvoering van gelykheid te bevorder.

ʼn Derde klousule (Deel 195) vra vir ʼn openbare administrasie wat wyd verteenwoordigend is van alle Suid-Afrikaners. Dog, die klousule stel dit ook duidelik dat hierdie doel nie ander behoeftes mag troef nie.

Indiensnemingspraktyke in staatsbeheerde instellings moet dus gebaseer word op vermoë, objektiwiteit en billikheid. Dit moet ook die doeltreffende en ekonomiese gebruik van bronne verseker.

Die wet maak geen melding van rassedoelwitte, of die rasseklassifikasie wat hierdie noodgedwonge sal vereis nie. Dit onderskryf ook nie die GI-wet se doel ten opsigte van demografiese verteenwoordiging nie – die idee dat elke rassegroep in die arbeidsveld streng volgens sy kwota in die ekonomies aktiewe bevolking (EAB) moet weerspieël word.

Hierdie bepaling is uiters onprakties – veral in Suid-Afrika se huidige situasie.

Die EAB verwys na mense tussen die ouderdom van 15 en 64 jaar wat óf in diens is óf werkloos is en na werk soek. Dit sluit dus ongeveer 10 miljoen mense wat werkloos is, in. Hierbenewens is ongeveer die helfte van alle Afrikane jonger as 25 jaar en beskik nie oor die nodige ondervinding vir bestuursposte nie. Verder het slegs 5% van Afrikane wat 20 jaar of ouer is, universiteitsgrade, al is sodanige kwalifikasies dikwels nodig of aanbevelenswaardig vir senior poste.

Die demografiese verteenwoordiging wat deur die GI-wet vereis word, is verreweg strenger as die breë verteenwoordiging wat deur die Grondwet omskryf is. Hierbenewens is die wet se oproep tot breë verteenwoordiging beperk tot die openbare administrasie en kan nie die afdwinging van rasgebaseerde kwotas op private ondernemings regverdig nie.

Die konstitusionele geldigheid van die GI-wet is nog nooit direk in die Konstitusionele Hof getoets nie. Hoe dit ook al sy, Nxesi se vasberadenheid om streng rasgedrewe doelwitte op ondernemings af te dwing, is ʼn teken dat dit tyd geword het vir so ʼn uitdaging.

Van toepassing hierop is ʼn 2004-uitspraak van die Konstitusionele Hof in die Van Heerden-saak. Met hierdie uitspraak (of daar verskillende pensioenregulasies vir voor-1994- en post-1994-parlementslede geld wat teenstrydig is met die gelykheidsklousule) het die hof die eenvoudige bewoording van Deel 9(5) verwerp. Dit dui daarop dat diskriminasie wat op ras en ander gelyste redes gebaseer is, “onbillik is, totdat die diskriminasie as billik bewys is”.

In plaas daarvan dat die hof op hierdie bepaling ag slaan, is daar beslis dat regstellendeaksiemaatreëls nie as onbillik beskou kan word nie omdat dit “gemagtigde remediërende maatreëls” is. Gevolglik is daar slegs drie “toetse” waaraan die geldigheid van bogenoemde gemeet kan word, naamlik 1) of benadeeldes geteiken word; 2) of dit ontwerp is om hulle te bevoordeel; en 3) of dit die doelwit van gelykheid bevorder.

Die hof het tot dusver nog nooit gepoog om hierdie “toetse” op die praktiese uitkomste van rasgebaseerde maatreëls toe te pas nie. Sou dit gebeur, sal die GI-wet op al drie terreine faal.

Eerstens is dit so dat die meeste GI-begunstigdes uit die mees bevoordeelde groep binne die swart bevolking kom – met ander woorde die sowat 15% met die beste vaardighede en (dikwels) beste politieke bande. Soos ander regstellendeaksie-ingrypings oor die wêreld heen, help die GI-wet slegs ʼn relatief klein elite binne die voorheenbenadeelde groep (wat Indië die “romerige bolaag” noem).

Tweedens het die GI-wet beduidend gefaal om die benadeelde swart meerderheid te bevorder. In plaas daarvan het die streng aandrang op gelyke indiensneming in die openbare sektor – byvoorbeeld, in die 76% Afrikaan-verteenwoordiging op topbestuurvlak, ten spyte van die beperkte bron van persone met die nodige vaardighede en ondervinding – doeltreffendheid in byna elke sfeer ondermyn.

Voorbeelde is legio: 80% van staatskole is disfunksioneel; 85% van alle staatsklinieke en -hospitale kan nie aan die basiese norme en standaarde voldoen nie; 87% van Hop-huise (Heropbou-en Ontwikkelingsprogram) is swak geboude hoërisiko-strukture; miljarde liter onbehandelde rioolwater word daagliks in riviere gestort weens wanfunksionerende munisipale rioolaanlegte; noodsaaklike infrastruktuur kan nie uitgebrei of verbeter word nie omdat die staat (in die woorde van die voormalige minister van finansies, Trevor Manuel) “nie die kapasiteit het om projekte van die grond af op die been te bring nie”; en omdat noodsaaklike finansiële kontrole aanhoudend verontagsaam word, aangesien ongeskoolde persone reeds in kernposte aangestel is.

Ondoeltreffende openbare dienste het ook ʼn groot kopseer vir beleggers geword. Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) is hierdie ondoeltreffendheid lank reeds as een van die grootste hindernisse om sake in Suid-Afrika te doen, geïdentifiseer. Verminderde beleggings het, soos voorspel, groei vertraag en werkloosheid en armoede vererger.

Derdens het die GI-wet op die koop toe maar min gedoen om die bereiking van gelykheid aan te moedig. Inteendeel, inkomste-ongelykheid (soos aan die Gini-kwosiënt gemeet) het sedert 1994 toegeneem – hoofsaaklik omdat die GI-wet (asook die SEB) die ongelykheid binne die swart meerderheid vergroot het deur ʼn klein groepie te help om vooruit te beweeg, terwyl 10 miljoen werklose mense steeds hulpbehoewend is.

Die GI-wet is nie slegs onkonstitusioneel nie, maar benadeel die meeste Suid-Afrikaners. In plaas daarvan om die wet strenger toe te pas, behoort Nxesi ernstig te wees oor die herroeping daarvan. Vaardighede, groei en werkgeleenthede is die sleutel tot vooruitgang en moet eerder aangemoedig en nie verder ondermyn word nie.

Bykomende nierassige en doeltreffende maniere om armes te help, kan maklik beraam word, soos die IRV se voorgestelde strategie vir ekonomiese bemagtiging van benadeeldes reeds getoon het. Maar die eerste en noodsaaklikste ding om te doen, is om die ongeldige en ondoeltreffende GI-wet oorboord te gooi en dit nie nog strenger toe te pas soos wat die minister voorstel nie.

  • Dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing by die IRV, is die skrywer van People’s War: New Light on the Struggle for South Africa. Die boek is in alle toonaangewende boekwinkels beskikbaar en ook as e-boek in verkorte en bygewerkte formaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

marius ·

Is daar ‘n korrelasie tussen die prestasie van privaat- en staatsondernemings en die geforseerde indiensneming van sekerre groepe in die ondernemings? Vra maar net….

John ·

Ons verwoede buite-beheer-bevolkingsgroei wat die ANC doelbewus skep, selfs in nooi (grensbeheer zero) en ‘n onvermoè om werk te genereer ooreenkomstig verwagtinge en beloftes, plus skugter buitelandse beleggings, sal vergrype eerder aanmoedig. Die minister dui die pad aan wat eerder volgehoue woede by miljoene voorspel, wat nie in wit poste aangestel kan word nie, omdat daar eenvoudig nie genoeg oor is nie. Chaos, misdaad, moorde… Verkeerd bly verkeerd.

Jerry ·

Opposisiepartye het toegelaat dat die staat en SOE’s sonder stamp of stoot deur die ANC getransformeer, geplunder en genasionaliseer word wat die ANC verryk het, belastingbetalers verarm het en die ekonomie verlangsaam het. Opposisiepartye sal nou ook toelaat dat privaatmaatskappye getransformeer, geplunder en genasionaliseer word en die ANC verryk word, belastingbetalers verder verarm en die ekonomie verder verlangsaam. Die skaal van die demokrasie en grondwet swaai alles wat die ANC as n meerderheid teiken, in die ANC se guns. Solidariteit se private selfbeskikking is uiteraard nou ook in gedrang en heel moontlik die teiken vir verskeie redes, onder andere ook omrede Afriforum/Solidariteit/VF nie wou luister om met die hoed in die hand versoenend op te tree nie! Dit raak nou laat in die dag vir Afriforum/Solidariteit/VF met die howe wat reeds in verskeie sake die ANC gelyk gegee het wanneer die ANC kon bewys dat agv die onregte van die verlede, diskriminasie tov ras billik is. Nodeloos om te se sal emigrasie van witmense drasties versnel!

John ·

Die jerrymiades wat Afrikaners darem in hul moedertaal moet aanhoor… of eerder die moerdertaal. Toe Jerry so alleen hoed-in-die-hand so voor die ANC gaan kniel het is hy reeds voorgespring deur DeKM & Kie. Jammer vir die skok. Maximale moeite sal nou nodig wees en ‘n rooipet want die Nuwe Orde is oppad vanaf Kuba. Begin gou daar dan is jy dalk net eerste in die ry.

Dr Phil ·

“All animals are equal, but some are more equal than others…” George Orwell.
Die agbare mini-ster moet weer ‘n slag “Animal Farm” gaan lees, dan sal hy sien waarop hy en sy mede-kommies die land afstuur! (Maar julle sal die boodskap van die verhaal waarskynlik nie snap nie…)

barend v d westhuizen ·

ja die staat diens het dalk al meer swart hoofte aan gestel maar hoeveel is bevoeg om die werk te doen daar om is alles in so n gemors laat mense net poste kry wat die werk kan doen

Swannie ·

Voor 1994 moes enige persoon wat aangestel of bevorder was `n proef tydperk van 3 maande ondergaan. As jy nie die mas kon opkom nie, was die bevordering teruggetrek en so ook met aanstellings.

NA 1994 is dit verander en moes enige persoon “slegs die vermoë” hê om die werk te kan doen – geen tydperk vasgestel nie.

Dit was als gedoen om die swart werksmag in poste te kon kry waarvoor die meeste nie geskik, opleibaar ens was nie.

Sedertdien is die tragedie, dat as so `n persoon eers aangestel is, is hy/sy permanent in die pos. Daarom is dit deels hoekom Suid Afrika in so `n gemors is.

Lana ·

Feit bly staan – daar was, is en sal vir ewig net 3 woorde wees om ‘n ekonomie te laat groei en ‘n land te regeer:
Vermoë
Kwalifikaie
Kundigheid
Ongelukkig ontbreek dit 95% t.o.v. SA se ekonomie
EN ontbreek dit 100% t.o.v. SA se regering.
Resultaat = die gemors waarin die land is.

Hendrik ·

Lyk my die agbare minister wil die privaatsektor net so in sy peetjie in transformeer soos SAA, Escom, Denel, Transnet, Postnet, Staatshospitale ens …

Koos ·

Hou in gedagte dat die privaat sektor besigheid-sukses, -oorlewing, -selfonderhoudend, -innoverend en -wins georiënteerd is en móét wees om te kan voort bestaan en groei in ons land.

Dít verg dus spesiale vermoëns, kwalifikasies en kundigheid soos Lana uitwys.
Boonop is hierdie innoverende denke, toegewydheid aan ‘n saak en doelbewuste neem van verantwoordelikheid vir die sukses van so ‘n saak, ‘n ingebore karakter eienskap van 70% van diésulkes wat in die privaat sektor hierdie senior bestuursposte beklee.

Om dít nou met strenger en verdere wetgewing te wil beperk of verbied, is om die spreekwoordelike gans wat die goue eiers lê, summier nek om te draai!

Dink weer hieroor voordat nog ‘n ramp die Suid Afrikaanse ekonomie met wetgewingsgeweld tref!!!

GL ·

Ek raak keelvol vir die narre wat hierdie sirkus nou bestuur. jy kan nie mense aanstel op n rasse basis. Begin IK toetse doen en soortgelyke metodes, kyk die toestande in die land op die oomblik teenoor die ou Suid Africa. Dit is alles bewyse dat die “previously satisfied” nie regkom nie.

Johanna Botha ·

Trek julle vingers uit en doen tog iets vir julle self …hoekom moet daar altyd ingewurm word orals ….skep jou eie werk man ! SO SO MOEG vir die stories ….die huidige vlag is eintlik n simbool van verdrukking as mens goed daaroor nadink !

Swartwolf ·

Rade en uitvoerende beamptes se tyd word meestal spandeer aan die snert. Om met wet op wet 50 m teen 5 m te beskerm en ‘n total onregverdige voordeel te gee. So sal dit aanhou tot die ekonomie lamgele is deur “executives” wat miljoene verdien maar useless is om enige welvaart te skep. Dis reeds so.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.