Hertzog-onderwyswet van 1908 en vandag se taalbeleide

Argieffoto (Foto: Verskaf)

In die 1907-verkiesing in die Oranjerivier-kolonie (soos wat die Vrystaat toe genoem is) het die Orangia Unie gewen, met Abraham Fischer as eerste minister en generaal JBM Hertzog as prokureur-generaal en minister van onderwys.

Hertzog het in 1908 ʼn onderwyswet deurgevoer met belangrike klousules oor die taal van onderrig in die Vrystaatse skole. Dit is interessant om dit met vandag se beleid oor onderrigtaal in skoolonderwys te vergelyk.

Ná die verwoestende Anglo-Boereoorlog was versoening tussen Afrikaners en Engelssprekende Suid-Afrikaners hoog op die agenda van alle partye. Daarom is daar by die Nasionale Konvensie in 1908 in die Unie-grondwet in artikel 137 gelyke status aan Hollands en Engels toegeken en in 1925 word Afrikaans tot amptelike landstaal naas Nederlands en Engels verhef.

Hertzog se onderwyswet het die grondslag vir die taalbeleid van die Unie van Suid-Afrika gelê en was ʼn voorloper van Afrikaans as onderrigtaal in talle skole en universiteite.

Die onderwyswet het natuurlik veel wyer as taal van onderrig gestrek. Dit het letterlik die onderwysbedeling in die Vrystaat gevestig en geformaliseer. ʼn Mens kon dink dat die verwoesting van die oorlog (insluitende die verskroeide aarde-beleid) nog sy letsels op die landskap en sekere dorpe gelaat het. Baie kinders van skoolgaande ouderdom was wees, of het net een ouer gehad. Geld was skaars en skoolgeld ʼn luukse. Van baie kinders is waarskynlik verwag om met die heropbou van die plase te help, eerder as om skool te gaan.

Onderwys vir kinders tussen die ouderdomme van sewe en 16 word daarom verpligtend gemaak, met boetes en selfs gevangenisstraf vir oortreders. Die Kolonie word in skooldistrikte verdeel en plaaslike beheer deur ouers word vasgelê.

Artikels 15-17 bepaal die beleid oor die tale van onderrig:

  • Engels en Hollands was in alle openbare en privaatskole gelykwaardig.
  • Enkeltalige moedertaalonderwys het vir elke kind in elke vak tot aan die einde van standerd vier gegeld.
  • Vanaf standerd vyf tot matriek word na parallelmedium per hoofvak oorgeslaan, ten minste drie in Engels en ten minste drie in Hollands.
  • Onbeslegte geskille oor die medium van onderrig word na die skoolraad op distriksvlak of na die bestuursliggaam van die skool (vir skole wat nie onder ʼn skoolraad val nie) verwys.

Uit die debatte oor die voorgestelde wet in die Wetgewende Vergadering is dit duidelik dat Hertzog die gelykwaardigheid van Engels en Hollands op beide die belange van die kind en die belange van die land (versoening) geskoei het. Hy beroep hom op opvoedkundige gesag vir die noodsaak van moedertaalonderrig en beklemtoon dat dit nie net vir Hollandssprekende Afrikaners geld nie, maar vir alle taalgroepe. Daarby beroep hy hom ook op die regte wat Hollandssprekende kinders as Britse onderdane het om moedertaalonderrig te ontvang (soos hulle Engelse eweknieë).

Die 1996 Grondwet bepaal in artikel 29(2) dat elkeen, behoudens sekere voorwaardes, die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys in die amptelike taal of tale van eie keuse te ontvang.

Die Suid-Afrikaanse Skolewet bepaal dat die beheerliggaam van ʼn openbare skool moet verseker dat daar geen onbillike diskriminasie mag wees ten opsigte van enige amptelike tale nie.

Bykomend tot die Skolewet is daar ʼn 1997-dokument wat as “Taal-in-onderwysbeleid” bekendstaan. Die dokument begin met die regering se strategie “om ʼn nie-rassige nasie in Suid-Afrika te bou”. Daar word ook by internasionale veeltaligheid aangesluit, wat ʼn “tipiese kenmerk van ʼn Suid-Afrikaner” moet wees. “(D)ie onderliggende beginsel (is) dat die huistaal(e) bewaar moet word, terwyl toegang verleen word tot addisionele taal(e)”. Die standpunt is “toevoegende tweetaligheid”. Dit is die individu se reg om die onderrigtaal te kies, maar dit moet uitgeoefen word binne die oorkoepelende raamwerk van die onderwysstelsel se plig om veeltaligheid te bevorder.

Die onderrigtaal(e) in ʼn openbare skool moet (ʼn) amptelike taal(e) wees en “wanneer aansoek om toelating tot ʼn bepaalde skool gedoen word, moet die leerder die onderrigtaal kies”. Die bestuursliggaam van die skool moet die taalbeleid van die skool bepaal deur aan te stip hoe die skool veeltaligheid sal bevorder.

Artikel 29(2) van die Grondwet is ʼn wonderlike artikel, maar dit is in twee uitsprake van die Konstitusionele Hof op ʼn hoogs gekunstelde wyse effektief deur die gelykheidsbeginsel in artikel 9 getroef. Daardeur is artikel 29(2), wat betref die onderrigtaal op tersiêre vlak, ʼn leë dop gemaak. ʼn Meer onlangse uitspraak oor Unisa se taalbeleid het wel artikel 29(2) gehandhaaf, maar dan slegs in elektroniese formaat en op ʼn afstand. Alhoewel die uitspraak in die Ermelo-saak (2009) nog staan wat artikel 29(2) betref, is dit ʼn tragiese werklikheid dat as die argumente in Vrystaat en Gelyke Kanse konsekwent toegepas word, skole soos Grey Kollege en Paul Roos Gimnasium, wat parallelmediumonderrig gebruik, se beleide as rassisties en ongrondwetlik beskou sal word. Daarmee saam sal die sowat 1 200 skole wat slegs Afrikaans as onderrigtaal gebruik toenemend onder druk wees as gevolg van toegang en transformasie.

Die Skolewet sê in effek niks oor die medium van onderrig in skole nie, maar die “taal-in-onderwysbeleid” wel. Hierin word ʼn balans tussen die (grondwetlike) regte van die leerder en die plig van die staat om veeltaligheid te bevorder gesoek. In teorie is hierdie ʼn uitstekende beleid. In praktyk word dit egter – veral wat Afrikatale betref – omtrent glad nie toegepas nie – miskien omdat baie leerders (en hulle ouers) Engels sien as die taal van aspirasie en die toekoms. Dat Afrikaanssprekende leerders wel hierdie regte opeis, word tans nog (tandeknersend) toegelaat.

Die “taal-in-onderwysbeleid” gebruik glad nie die woord en begrip “moedertaalonderrig” nie. Slegs op een plek word daarvan gepraat dat die onderliggende beginsel is dat die huistaal(e) bewaar moet word. Dit fokus eerder op die taalregte van die leerder as die opvoedkundige beginsel van moedertaalonderrig.

Dit is duidelik dat die “taal-in-onderwysbeleid” uit ʼn Mandela-era kom waar Afrikaans nog as een van die aanvaarbare tale beskou is en veeltaligheid nog na ʼn realistiese droom gelyk het. Intussen het die anti-Afrikaanse sentimente in felheid toegeneem en is baie min (indien enigiets) aan die ontwikkeling van voorheen benadeelde tale as onderrigtale gedoen.

Dit is waarskynlik ʼn kwessie van tyd voordat ʼn nuwe beleid daargestel sal word wat in lyn is met die ideologie van rassetransformasie van die regerende party – en die taal-in-onderwysregte van Afrikaanssprekendes permanent sal skaad.

Die grootste verskil tussen die 1908-onderwyswet en vandag is die twee bedelings. Die onderwyswet was van toepassing op Engels en Hollands, vir die blanke bevolking van die Vrystaat. Vandag se bepalings moet ʼn raamwerk daarstel vir elf (twaalf) amptelike tale vir alle inwoners van Suid-Afrika. In 1908 het dit oor tweetaligheid gegaan en vandag gaan dit oor veeltaligheid – in elk geval in teorie.

Alhoewel Engels in 1908 die taal van die Britse Ryk was, was daar vele ander tale (soos Portugees, Spaans, Duits en Frans) wat ook wyd gepraat is. Vandag is Engels se wêreldoorheersing van veral die sakewêreld, tegnologie, die vermaaklikheidswêreld en sosiale media amper onbetwisbaar. Engels word vandag veel wyer as in die voormalige Britse Ryk gebruik. In Suid-Afrika word dit deur die meerderheid van die bevolking as dié aspirasionele taal beskou – soms tot nadeel van ons kinderbevolking.

Wat die medium van onderrig betref het die 1908-wet bepaal dat die taal wat die kind praat en verstaan tot standerd vier gebruik moet word (ʼn goeie eweknie vir vandag se moedertaalonderrig). Daarna gaan dit in effek oor tot parallelmediumonderrig, met ten minste drie vakke in Hollands en drie in Engels. In vandag se beleidstukke word in teorie meer veeltaligheid vereis, maar veel minder in die praktyk. In die meeste Suid-Afrikaanse skole word dit aanvaar en toegepas dat die onderrigtaal ná graad drie Engels sal wees. Moedertaalonderrig word dus vir ʼn korter tydperk as destyds toegepas. Die regspraak het trouens van die soort parallelmediumonderrig wat Hertzog voorgestaan het, ten minste op tersiêre vlak, ʼn rassistiese en ongrondwetlike verskynsel gemaak.

Daar is wel tekens van ʼn nuwe en welkome bewuswording onder akademici en sprekers van Afrikatale van die pedagogiese belangrikheid van moedertaalonderrig. Dit sluit aan by internasionale navorsing in hierdie verband en die werk van die Verenigde Nasies se werksgroep oor minderheidstale.

Die ooreenkomste tussen die 1908- en vandag se taalbeleide lê eerstens by taalgelykwaardigheid. In 1908 was dit tussen Engels en Hollands en vandag is daar ook ʼn teoretiese gelykwaardigheid van die aanvanklike elf en nou twaalf amptelike tale. In artikel 6 van die grondwet word selfs bepaal dat “Sonder afbreuk aan die bepalings van subartikel (2) moet alle amptelike tale gelykheid van aansien geniet en billik behandel word”. Artikel 2 plaas die verantwoordelikheid op die staat om “praktiese en daadwerklike maatreëls te tref om die status van dié (inheemse) tale te verhoog en hul gebruik te bevorder”. Dit is gevleuelde woorde, maar hiervan het dadels gekom. In die praktyk is Engels die enigste amptelike staats-, kommersiële en (in toenemende mate) onderwystaal in Suid-Afrika.

In 1908 was versoening tussen Engelssprekendes en Hollandssprekendes belangrik. Die taal-in-onderwysbeleid praat van die bou van ʼn nie-rassige nasie, wat onder andere deur middel van veeltaligheid bewerkstellig kan word. Ongelukkig is ook hierdie ooreenkoms een wat net in teorie bestaan, aangesien die bewerkstelliging van veeltaligheid en die herstel van benadeelde tale nie enigsins gevorder het nie.

Soos in Hertzog se tyd staan eerste- en soms ook tweede- en derdetaalsprekers van Engels steeds afwysend teenoor Afrikaans. ʼn Mens kan die argumente van die opposisie in 1908 vandag steeds in die afwysende debat oor Afrikaans herken. Afrikaanssprekende ouers dink misplaas dat Engels van graad een af vir hulle kinders ʼn rooskleuriger toekoms sal oopsluit.

Die krag en noodsaak van moedertaalonderrig kom wêreldwyd net so sterk, indien nie sterker nie, in empiriese navorsing (wat terloops meestal buite Suid-Afrika gedoen word) na vore.

Die Hertzog-wet het ouers in plaaslike gemeenskappe ʼn groot sê in die beheer van skole (en in die medium van onderrig) gegee. Vandag het ouerbeheerliggame (nog) ʼn sterk posisie en magte om (ekstra) onderwysers aan te stel en die medium van onderrig te bepaal. Hierdie magte is egter onder sterk druk van sommige ANC-politici, wat dit as ʼn struikelblok in die ideologie van rassetransformasie en toegang vir nie-Afrikaanssprekende leerders sien.

dr-theuns-eloff

Dr. Theuns Eloff. (Foto: Facebook)

Ten slotte kan sekere lesse uit die onderwyswet geleer word. Gelykberegtiging van alle amptelike tale in terme van die Suid-Afrikaanse Grondwet is vandag slegs teoreties waar. Die regering se dekadeslange versuim om hulle plig na te kom, mag egter nie daartoe lei dat ons as Afrikaanssprekendes en Afrikaners dieselfde fout maak nie. Een manier om te probeer bereik wat Hertzog beoog het, is om ons kinders aan te moedig om ten minste een Afrikataal as gesprekstaal aan te leer.

Moedertaalonderrig bly uiters belangrik. Volgens die jongste internasionale navorsing moet dit tot ten minste graad agt gebeur, maar in ʼn land soos Suid-Afrika met minder hulpbronne, verkieslik tot graad tien. Afrikaanssprekendes moet dit opeis, en vir ander gun. Maar daar sal verder gegaan moet word en gehelp word dat die nut en pedagogiese noodsaak van moedertaalonderrig in die ander amptelike tale as Engels bevorder word. As moedertaalonderrig in ʼn beduidende aantal (miskien landelike) “swart” skole kan posvat en vrugte afwerp, sal dit nie net die land se toekoms verbeter nie, maar ook Afrikaans se plek verseker. Vir hierdie doel bly ouerbeheer op plaaslike skoolvlak baie belangrik.

Die belangrikheid daarvan dat Afrikaanssprekendes ook ná skool goeie Engels moet kan praat, is iets wat Hertzog ook beklemtoon het. Alhoewel sy parallelmediumonderrig in vandag se situasie meer problematies is vanweë die regspraak daaroor en die politieke en demografiese druk in terme van toegang, bly die beginsel staan.

Afrikaanssprekendes kan by Hertzog leer dat ʼn “taalstryd” ʼn lang proses en ʼn spanpoging is. Hy het in 1908 daarmee begin en teen 1925 (met insette van baie) is Afrikaans as amptelike landstaal erken. Vandag se taalstryd gaan ook lank duur, nie net om Afrikaans te behou nie, maar om ook ander inheemse tale by te staan om dieselfde te bereik. Dit sal ʼn ware spanpoging van alle welmenende Suid-Afrikaners verg.

  • Theuns Eloff is voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys.

Hierdie artikel is ʼn verkorte weergawe van die 2021 JBM Hertzog-Gedenklesing wat Eloff op 20 Oktober voor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gelewer het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theuns Eloff

Theuns Eloff is ʼn onafhanklike kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Prof Eloff kan ons dalk inlig oor hoe die De Klerk-leierskap gereken het Afrikaans behoue sou bly sonder om daarvoor inspraak te lewer wat volhoubaar sou wees. Alle witmensregte word bedreig. Sou die onderhandelaars destyds nie omgegee het wat volg nie; goedertrou alles aan ‘n onbewese groep oorgegee het en maar gehoop vir die beste? Wou hulle ‘n oorlog keer deur sommer net weg te hol en die witvlag te hys? Was dit edel en heldhaftig of lafhartig (Dit is ‘n woord in die woordeboek)?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.