Herverdelende populisme óf versterking van eiendomsregte? Lesse uit die Suide

Deur Ernst van Zyl

Ernst van Zyl.

Die beleid van onteiening sonder vergoeding, wat in 2018 aan die Suid-Afrikaanse parlement voorgelê is, het ’n vurige nasionale beleidsdebat ontketen wat in 2021 steeds in die middel van die nasie se politieke diskoers staan.

In Suid-Afrika, en die Westerse wêreld in die algemeen, word die liberale demokratiese paradigma toenemend bevraagteken. Baie van hierdie uitdagings spruit uit ’n nuwe golf populisme, van sowel links as regs, wat momentum kry in die Weste en die globale Suide. Dit is hoekom ek my meestersgraad-verhandeling oor die kwessie van herverdelende populisme, ’n vorm van linkse populisme, asook privaat eiendomsreg geskryf het. In hierdie stuk bied ek ’n bondige oorsig van my bevindings.

Herverdelende populisme

Onteiening sonder vergoeding is ’n beleid wat in herverdelende populisme gewortel is, wat “die mense” deur die sentrale mikpunt van hulpbronherverdeling verenig. Hierdie benadering tot populisme, wat oor ortodokse verdelers en verenigers heen strek, bou kiesersteun op grond van kwessies soos hulpbronherverdeling, armoede en ongelykheid. Die EFF in Suid-Afrika is ’n voorbeeld van só ’n herverdelende populistiese party.

’n Studie van die implementering van herverdelende populistiese beleide en die uitkomste daarvan gee vir ons ’n beter begrip van wat politici motiveer om herhaaldelik hierdie beleide aan te neem en watter uitkomste dit gewoonlik oplewer. Die kernvraag is: Wie gaan op die ou einde die meeste by hierdie beleide baat: die mense of die politici?

Herverdelende populisme teenoor beskerming van eiendomsregte

My verhandeling gaan oor die volgende vraag: Is herverdelende populisme ’n volhoubare langtermynroete na ekonomiese groei, die vermindering van armoede en ongelykheid en demokratiese konsolidasie, of bied die beskerming en toepassing van eiendomsregte ’n beter alternatief om hierdie doelwitte te bereik?

Om ’n antwoord te kry, het ek vier gevallestudies vergelyk: Venezuela en Zimbabwe – as voorbeelde van herverdelende populistiese regimes waar eiendomsregte wesenlik verminder is – en Uruguay en Botswana – as voorbeelde waar eiendomsregte beskerm en toegepas is.

Catherine Boone se werk oor hierdie onderwerp beskryf die verskynsel van populistiese politici in sub-Sahara Afrika, wat grond dikwels as ’n kragtige verkiesingsinstrument gebruik, as “grondgesentreerde verkiesingspopulisme”. Sterk staatsbeheer oor grondregte en grondtoekenning word deur regerings gebruik om hul gesag te projekteer en plaaslike owerhede aan die sentrale staat te onderwerp. Hierdie verskynsel het in die 1990’s in Kenia en die Ivoorkus na vore gekom, en sedert 2000 in Zimbabwe.

Hoe herverdelende populisme Zimbabwe en Venezuela vernietig het

In Venezuela en Zimbabwe was ’n afname in steun vir die regerende party die katalisator vir toenemend radikale herverdelende populistiese platforms. Dit is opvallend dat dieselfde patroon by die ANC in Suid-Afrika waargeneem kan word.

Die herverdelende populistiese regimes van Venezuela en Zimbabwe het aanvanklik, nadat hul aan bewind gekom het, verbeterings in armoedevermindering behaal, spesifiek deur beter toegang tot gesondheidsorg en onderwys, maar hierdie verbeterings was van korte duur aangesien die tendense gou gestagneer en later omgekeer het as gevolg van die fundamenteel populistiese prioriteit om op kitsoplossings vir dringende probleme te fokus, wat korttermynimpak prioritiseer.

Hierdie radikale herverdelende populistiese beleidsroetes het ’n beduidende erosie van eiendomsregte, groter staatsnasionalisering, onteiening, oorregulering van die ekonomie, wanbestuur en korrupsie behels. Dit het hoërisiko-omgewings vir plaaslike en buitelandse beleggers geskep en tot lang tye van wesenlike ekonomiese inkrimping, kapitaalvlug, ernstige tekorte aan voedsel en buitelandse valuta en astronomiese hiperinflasie gelei.

In Zimbabwe het herverdelende populistiese beleide tot die totale ineenstorting van wat eens ’n sterk landbousektor was gelei, wat die ekonomie van sy primêre bron van buitelandse valuta ontneem het. ’n Sterk stygende werkloosheidskoers was aan die orde van die dag wat skokgolwe deur talle sektore van die ekonomie gestuur het.

Toe die regimes van Chávez en Maduro in Venezuela en die Mugabe-regime in Zimbabwe nie hulle populistiese beloftes kon nakom nie en hulle ekonomieë gestruikel het, het hulle steun verder getaan, wat weer tot ’n bose kringloop van toenemende radikalisering van herverdelende beleide en onderdrukking van die opposisie gelei het ten einde die mag te behou. Die kumulatiewe gevolg was dekonsolidering van demokrasie in albei lande in die vorm van ’n beduidende afname in steun vir demokrasie onder die bevolking en die erosie of uitskakeling van liberale demokratiese instellings.

Beskerming van eiendomsregte werp vrug af in Botswana en Uruguay

In skrille teenstelling daarmee het Uruguay en Botswana, waar eiendomsregte beskerm en toegepas is, indrukwekkende dalings in armoedevlakke behaal met betreklik hoë vlakke van volgehoue ekonomiese groei. Uruguay het die laagste armoedevlakke in Latyns-Amerika en ’n feitlik totale afwesigheid van uiterste armoede op ’n vasteland wat deur albei geteister word.

Botswana was een van die armste lande ter wêreld toe hy in 1966 onafhanklik geword het; sy kanse om sukses te behaal was baie skraal. Botswana het destyds net 12 kilometer teerpad gehad, geen elektrisiteitstelsel nie, geen universiteit nie, twee sekondêre skole wat vyfjaarkursusse aangebied het, 100 mense met sekondêre onderwysopleiding en net 22 Tswana-sprekende gegradueerdes van Suid-Afrikaanse universiteite. Desondanks het Botswana een van Afrika en die moderne wêreld se grootste suksesverhale van ekonomiese groei en ontwikkeling geword, met een van die hoogste volgehoue ekonomiese groeikoerse van alle Afrikalande sedert onafhanklikwording. Vir konteks: van 1965 tot 2003 was die gemiddelde groeikoers van sub-Sahara Afrika negatief.

Die beskerming van eiendomsregte in Botswana en Uruguay het beduidend tot beleggersvriendelike ekonomieë bygedra, waardeur groot hoeveelhede direkte buitelandse beleggings gelok is. Venezuela en Botswana was albei ryk aan ’n belangrike kommoditeit, maar in teenstelling met Venezuela, waar die regime die oliebedryf genasionaliseer het, het Botswana ’n wedersyds voordelige ooreenkoms met die diamantbedryf aangegaan op die grondslag van respektering van eiendomsregte. Die diamantbedryf het sodoende die enjinkamer van die ekonomie geword, en die regering het die gedeelde inkomste tot voordeel van die land herbelê. Uruguay en Botswana het ’n inkomstestroom uit volhoubare ekonomiese groei geskep wat hulle regerings aan die verbetering van infrastruktuur, onderwys en gesondheidsorg bestee, wat tot ’n bestendige afname in armoede bydra.

Uruguay en Botswana word internasionaal vir hulle sterk liberale demokratiese instellings en stabiele demokratiese rekords erken, en in albei lande is daar beduidende steun vir demokrasie aangesien hulle die vlak van demokratiese konsolidasie handhaaf en selfs verhoog. Albei lande toon ook hoe die ekonomiese groei en gevolglike armoedevermindering wat met die beskerming van eiendomsregte gepaardgaan, met die belangrike beperking van staatsmag wat dit bied, ’n sleutelrol speel om die versoeking van herverdelende populisme te weerstaan.

Gevolgtrekking

Die gevalle van Venezuela en Zimbabwe toon hoe populistiese beleide tot korttermynvoordele maar langtermynafname in ekonomiese groei, armoedevermindering en demokratiese konsolidasie kan lei.

Zimbabwe se ekonomie, demokratiese konsolidasie, armoede en gesondheidsorg is tans swakker as met onafhanklikwording in 1980, terwyl die aangrensende Botswana teenoorgestelde resultate behaal. Zimbabwe is voorheen as die broodmandjie van Afrika beskou, maar het tot ’n disfunksionele land verval deur sy ekonomie en demokrasie deur herverdelende populistiese beleide en magspolitiek te vernietig.

Uruguay en Botswana toon hoe die beskerming en toepassing van eiendomsregte tot volhoubare, langtermyn- ekonomiese groei, armoedevermindering en demokratiese stabiliteit lei.

Hierdie insigte kan hopelik van waarde wees in die praktiese politiek, wanneer daar tussen hierdie beleide gekies moet word om sekere doelwitte te bereik. In Suid-Afrika, waar die regerende party dalende steun ondervind en na herverdelende populistiese beleide oor eiendomsregte neig, kan die bevindings van hierdie verhandeling baie waardevol wees om teen die betreding van so ’n vernietigende pad te maan.

My volledige verhandeling, Redistributive Populism Versus Strengthening Property Rights: A Comparative Study Of Venezuela And Zimbabwe, and Uruguay and Botswana, is hier beskikbaar.

  • Ernst van Zyl is ’n veldtogbeampte by AfriForum vir strategie en inhoud. Hy is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending “In alle Ernst” aan en het ’n kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst plaas gewoonlik bydraes op Twitter en YouTube onder sy skuilnaam, Conscious Caracal (volg hom by @ConCaracal).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Ernst se verhandeling moet vir alle Suid-Afrikaners ‘n rigtingwyser wees by die vurk in die toekomspad van ons land. Ons moet nie eendag sê haai niemand het ons gewaarsku teen die gevare van onteiening sonder vergoeding en nasionale gesondheidsplan en basiese inkomstetoelae nie. As ons op daardie pad gaan is die woestynland van Zimbabwe en Venezuela ons voorland. Ons beter ag slaan op hierdie vermaning van Ernst deur nie die ANC/SAKP koers van sosialistiese selfvernietiging in te slaan nie.