Die spontane en grootliks onverwagse opstande en betogings wat oor die afgelope twee weke in Iran uitgebreek het, is deur die Trump-administrasie, Israel en Soenniete-magte in die Midde-Ooste verwelkom. Donald Trump kon nie wag om op Twitter die opstande as ’n teken van die boosheid van die regering van Iran uit te beeld nie.
Nicky Haley, die Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies, het selfs ’n spesiale sitting van die VN se Veiligheidsraad oor die opstande aangevra. Sy moes daar deur China en Frankryk tereggewys word oor die feit dat opstande in Iran, wat oor binnelandse sake in dié land handel, geen veiligheidsbedreiging vir die res van die wêreld inhou nie. Die spesiale sitting van die Veiligheidsraad het heeltemal tereg in ’n soort van verleentheid vir die VSA geëindig.
Iran, soos talle ander lande in die Midde-Ooste, ervaar die uitdaging van ’n jong en onrustige bevolking wat deur tegnologie deeglik bewus word van die materiële voordele wat jongmense in demokratiese lande, veral in die Weste, geniet. In Iran het meer as 40 miljoen mense slimfone. Vyftig persent van Iran se bevolking is jonger as 31. Die helfte van hierdie jongmense is werkloos en toenemend gefrustreerd met die gevolge van ’n relatief geslote ekonomie.
Die spontane opstande die afgelope tyd het niks met die Weste te make nie. Mense het nie spontaan die strate ingevaar om teen die teokrasie in Iran te betoog omdat hulle deur Trump of enige ander Westerse leier of land daartoe geïnspireer is nie.
Om die waarheid te sê, Trump se aanmoediging van betogers kan eerder hul saak benadeel as bevoordeel. ’n Wesenlike deel van die bevolking in Iran, insluitende die gematigde meerderheid wat gedurende 2017 vir Hassan Rouhani tot ’n tweede termyn as president van Iran verkies het, het baie negatiewe persepsies oor die VSA. Amerika se direkte inmenging in die sake van Iran, insluitende die instelling van die sjah as leier van Iran in die 1950’s, Amerika se ondersteuning aan Saddam Hoessein in die Iran-Irak oorlog en die afskiet van ’n Irannese passasiersvliegtuig in 1988, is steeds deel van ’n selfs baie jonger bevolking se geheue.
Dat die huidige betogers in Iran, net soos die betogers van die Groen Beweging in 2009, ’n punt beet het oor die noodsaaklike behoefte vir hervorming in Iran, word nie betwyfel nie. Irannese is egter ook heeltemal reg om die Weste vir baie van hul sorge van die afgelope ses dekades te blameer. Trump se skoolboelie-retoriek teen Iran help glad nie die saak van pro-demokrasie en hervormingsgesinde Irannese nie. Dit speel maar net in die hand van Soenniete-magte soos Saoedi-Arabië.
Toe Hassan Rouhani net meer as vyf jaar gelede in Iran aan bewind gekom het, het hy en hervormers ’n proses begin om die land se ekonomie stelselmatig oop te stel. Die kernooreenkoms met Westerse lande is deel van hierdie hervormingsproses. Die beste antwoord vir Iran is geleidelike demokratisering en hervorming gedryf deur ’n jong, ambisieuse bevolking. Revolusie wat deur Westerse magte aangemoedig of selfs gedryf word, het die afgelope paar jaar reg oor die Midde-Ooste klaaglik misluk en sal ook in Iran rampspoedig wees.
- Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.
Dankie vir jou nugter beskouing van internasionale sake, Jaco. In die huidige hoofstroom-media van die wêreld het eerlike, deurdagte opinies skaars geword.