Het die ANC sy siel verloor?

anc mpumalanga

Ondersteuners vir premier David Mabuza. Foto: Thembilihle Mkhonza/ANA.

Die ANC het sy siel verloor met sy oorweldigende korrupsie, magsmisbruik, ensovoorts. Altans, dít is die argument van sekere kommentators wanneer hulle skryf oor die leiersverkiesing in die party wat oor ’n paar dae moet plaasvind.

Niemand wat objektief na sake probeer kyk, sal kan ontken dat die ANC tans ’n dieptepunt beleef as aspekte soos moraliteit en eerlikheid die uitgangspunt is nie. Maar as jy sê die ANC het sy siel verloor, beteken dit dat hy in ’n stadium ’n siel gehad het – met die aanname dat hy vroeër eerlik en van ’n hoë moraal deurdronge was.

Maar wás dit ooit werklik so? As jy ’n oortuigde anti-apartheidsaktivis was, sal jou instinktiewe antwoord “ja, natuurlik” wees. Talle lesers van dié rubriek se antwoord sal waarskynlik presies die teenoorgestelde wees.

Kom ons los dié soort emosionele antwoorde. Ons kyk na die koue feite en maak dán ’n gevolgtrekking.

Toe die ANC in 1912 gestig is, is hy gelei deur swart intellektuele – onderwysers, predikante – wat diep deur die Engelse liberalisme beïnvloed was. Hulle het hulle beywer vir gelyke individuele regte en vryhede, die liberale veelparty-demokrasie en maatskaplike en kulturele vooruitgang (soos gedefinieer volgens die Engelse liberalisme, met ander woorde, die uitgangspunt dat die Engelse taal en kultuur die toppunt van beskawing is).

Allengs, so wys historici soos Irina Filatowa en Stephen Ellis (en dit word deur my eie navorsing bevestig) het die ortodokse Marxisme-Leninisme die Brits-liberale invloed verdring. Soos die kommunisme voorgeskryf het, is individuele regte gesien as ’n rookskerm vir die beskerming van die heersersklas en die verdrukking van die werkers.

In die ANC het dit neerslag gevind in die oortuiging dat die wit mense nie net ’n ras vorm nie, maar ’n klas. Só is die stryd teen die wit mense versoen met die kommunistiese klassestryd.

In terme van praktiese interne politiek het dit beteken dat lede van die SA Kommunistiese Party (ooreenkomstig ’n bevel van die Kremlin in 1928) sonder medewete van die gewone ANC-ondersteuners alle sleutelposisies in die ANC verower het. Dis nie dat die ANC as geheel ’n kommunistiese organisasie geword het nie; agter die skerms het leiers van die SAKP wel toenemend die ideologie en rigting van die ANC bepaal.

Mense soos Oliver Tambo, geen ingeskrewe lid van die SAKP nie, was die uitsondering. En as jy sy toesprake en geskrifte in die struggle-tyd ontleed, sien jy eintlik bitter min verskil tussen hom en die SAKP.

Vir die voer van die struggle het dit veral twee implikasies gehad. Die eerste was dat die ANC, reg of verkeerd, sy toevlug tot geweld geneem het.

Dit het op lae vlak begin, met ’n uitgesproke benadering dat geen bloed mag vloei nie. Maar geweld het nou eenmaal die nare gewoonte om te eskaleer, en mettertyd het die geweldpleging gedegenereer tot die soort ordinêre terrorisme wat die mensdom die laaste jare van Moslem-fanatici ervaar.

Bomme is by talle openbare geleenthede waar die publiek vrye toegang had, laat ontplof. Op ’n besoek aan Viëtnam in Oktober 1978 het Tambo en ’n ANC-afvaardiging die raad gekry om swart “kollaborateurs” met die apartheidsregering deur ’n moordveldtog te neutraliseer, iets waarin goed geslaag is.

Uit die geskrifte van die ANC en veral van die SAKP kom ’n patroon na vore: Aanvanklik sou daar (soos in die geval van die Sentraal-Europese state ná 1945) ’n regering van nasionale eenheid wees waarin die “vyand” ’n teenwoordigheid had; dan sou die lewe vir laasgenoemdes stelselmatig moeiliker gemaak word totdat dié binne ’n paar jaar heeltemal uitgedruk word.

Dít was die tweefase-benadering: Éérs gebruik jy ’n bourgeois-groep (in Suid-Afrika se geval die ANC) om die bestaande stelsel omver te werp; dán maak jy van jou magsposisie gebruik om by die alleenmag te eindig.

In Suid-Afrika se geval het dit weens die verkrummeling van die Sowjetunie en die kommunisme as globale politieke magsfaktor nie heeltemal so gewerk nie. Maar los daarvan, is die vraag watter soort toekoms die ANC/SAKP voor 1990, toe hulle gewettig is, in die oog gehad het.

Gegrond op openlike en vertroulike geskrifte van die ANC/SAKP is dit duidelik dat hulle – kort en ongenuanseerd gestel – beslis geen liberale veelpartydemokrasie nagestreef het nie. Hulle wou ’n Leninistiese eenparty-diktatuur hê waar daar geen plek vir enige opposisie sou wees nie.

Goed, kan ’n mens nou verder sê, dit beteken nog nie dat hulle die huidige korrupsie sou goedgekeur het nie. Daarop kan ’n mens twee antwoorde gee.

In die eerste plek wys die geskiedenis dat korrupsie die beste gedy in ’n stelsel waar owerheidsmagsmisbruik suksesvol toegesmeer kan word – met ander woorde, in ’n totalitêre diktatuur. Natuurlik kan korrupsie ook in ’n demokrasie voorkom, maar die oop aard daarvan (wigte en teenwigte in die staatsmasjinerie, die vrye nuusmedia) beteken dat dit veel moeiliker is.

Ten tweede het korrupsie en magsmisbruik al tydens die ballingskaptyd kop in die ANC uitgesteek. Dink maar aan die wyse waarop gewone lede se eise dat die ANC-leiding verantwoording aan hulle moet doen met brute geweld onderdruk is, waarop mense vermoor, opgesluit en gruwelik gemartel is, waarop manlike leiers vroulike kaders skaamteloos seksueel uitgebuit het.

Toe die ANC in 1990 gewettig word, het hy luidens peilings die steun van ’n beduidende minderheid van die swartes (sowat 45%) gehad. In die vier jaar wat gevolg het, het die party ’n brute golf van terreur en intimidasie op Suid-Afrika losgelaat, soortgelyk aan wat Robert Mugabe in Zimbabwe aan die bewind gehou het, sodat hy in 1994 met ’n gerieflike meerderheid kon wen.

Onder die invloed van Nelson Mandela het die ANC in die vyf jaar tot 1999 bo homself uitgestyg. Maar nadat Thabo Mbeki oorgeneem het, en veral sedert Zuma president geword het, het dinge drasties begin uitrafel.

Wat sê dit alles vir ons?

Die gevolgtrekking is dat die ANC vroeër minder korrup as tans was. Let wel, minder korrup, wat nie dieselfde as eerlik is nie.

Ook het die party nie werklike vryheid nagestreef nie. Al wat ’n mens kan sê, is dat die ANC hoogstens teen rassediskriminasie geveg het, nie vir vryheid en demokrasie nie.

Dit alles beteken natuurlik nie dat die ANC géén eerlike leiers en lede gehad het nie.

Nogtans, het die ANC sy siel verloor? Nee. Jy kan nie iets verloor wat jy skaars gehad het nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

CG ·

Leopold. Jou skrywe is lynreg teen die ANC weergawe van die “geskiedenis”. Dankie dat jy dapper en objektief genoeg is om dit te skryf. Skryf asseblief nog baie meer artikels met baie meer detail. Ek self sal baie graag meer detal wil sien en lees oor die tydperk 1990 tot 1994 ter aanvulling van jou paragraaf daaroor. Jy maak my dag!

Eish ·

Groot waardering vir elke artikel uit u pen hierdie jaar. Ek het geweldig baat daarby gevind.
Weereens gee hierdie artikel perspektief wanneer mens jou doodstaar teen die oënskynlike klakkelose negatiewe, daaglikse gebeure in die helhool.

Rupert Ashford ·

Dankie Leopold. Maak jou klaar vir mishandeling, jy verwys na “wigte en teenwigte”!!!?

Ek dink die ANC is in die Mandela tyd subtielweg “onderdruk” deur die heersende tydsgees van die Westerse liberalisme wat op die kruin van golf van die oorwinning oor kommunisme gery en die wereld oorheers het. Hulle moes teen wil en dank daarby inval. Vandag is dinge egter anders en begin ons al meer hulle ander kant sien.

Ella ·

Hoe kan Suid-Afrika die komende verkiesing van die ANC president vertrou met al die voorafgaande gekonkel, magsmisbruik, omkopery en verdagmaking? Suid-Afrikaners kry swaar weens die ANC leiers se gierigheid en mag- en.geldhonger.

Marthinus Willemse ·

As ek reg onthou, het Nelson Mandela met elke verkiesing op TV verskyn en die bevolking gevra om vir die ANC te stem, spesifiek om `n ondemokratiese twee-derde meerderheid te kry. Klaus Schwab, stigter van die World Economic Forum (WEF), vertel dat Mandela eers in 1992, tydens sy eerste besoek aan Davos, begin besef het hoe `n wêreld onder kapitalisme werk, en dat hy moes aanpas. [The World Economic Forum: A Partner in Shaping History – The First 40 Years, 1971 – 2010. (2009)]
(My pa was `n spoorwegpolisieman, en het net eenkeer skrams na Albert Luthuli se treindood verwys – as iets wat hom gepla het. Ek het destyds nie sover gedink om hom daaroor uit te vra nie. Heelwaarskynlik was dit niks; net `n ongeluk.)

rassie ·

Leopold,
Jy is heeltemaal reg wanneer jy opmerk dat ons emosie moet los en na die koue feit moet kyk.

Moontlik moes jou artikel dus begin het met die koue feite waarom die ANC hoegenaamd gestig is.

En dan sou dit ook insiggewend wees indien jy kon aandui presies hoekom die oorspronklike Britse liberale strewe na gelykheid binne die SA konteks toe later in ‘n meer kommunistiese strewe verander het.

Wat het daartoe gelei dat die Britse demokratiese siel aan die kommuniste verlore geraak het ? Of het die oorspronklike Britse demokratiese gedagte ook geen siel gehad nie?

Moontlik moet jy bietjie dieper in die SA geskiedenis delf voordat jy emosionele uitsprake daar uit ander land maak.

Leopold Scholtz ·

Beste Rassie, ekskuus? Watse “emosionele uitsprake” het ek dan gemaak? En ja, ek kan gerus jou wenke opvolg in ‘n volgende artikel, maar onthou – ek kan nie veel langer as 1 000 woorde skryf nie, en dan moet jy harde keuses maak. Met respek, vriend, dis maklik om langs die kantlyn te sit en te kritiseer. Ken jy die gesegde van die beste stuurlui?

André Badenhorst ·

Iets oor Luthuli bly suspisieus. Was dit ‘n politieke moord deur die jong Turke o.l.v. Nelson Mandela? Luthuli het geweld teengestaan terwyl Mandela en kie besig was om die ANC se gewapende vleuel te vestig.

Boshond ·

Baie dankie vir ‘n insiggewende artikel, Leopold. Ons waardeer dit. Net my opinie;
die ANC het Mandela net tydelik “verdra” uit eerbied vir sy opoffering in die stryd. Maar heimlik het die ANC leierskap gehunker om weerwraak op blankes d.i. die onderdrukkers te neem. Met Mbeki se oorname, en omdat hy ‘n baie swak leier was, het die roofdier in die ANC ontwaak en onder Zuma gebotvier. So het die ANC in geheel uitgerafel totdat hy vandag net ‘n beginsellose rowerbende is wat sy eie”freedom charter” minag en versaak het.!

rassie ·

Beste Leopold,

Ek aanvaar dat dit moeilik is om binne 1000 woorde ‘n grondige feite redenasie te gee vir so ‘n uiteindelike ingrypende gevolgtrekking. Dit is na my mening dus ‘n emosionele uitspraak gebasseer op persoonlike oordeel en nie op feite nie.

Ja ek ken die beste stuurlui storie. Met respek, vriend, soms is dit egter vir die stuurman aan boord goed as iemand op die wal vir hom verborge rotse uitwys. Die stuurman moet egter finaal self besluit oor die meriete al dan nie van die “kritiek” vanaf die kantlyn.

Ek sien uit na die volgende artikel waarna jy in jou antwoord verwys.

Ou Krimpvarkietjie ·

Eerstens: Beste Rassie, ons, die aanlynlesers, sal ook graag , afgesien van al jou kommentare op artikels en menings, JOU EIE volwaardige menings en artikels wou lees wat nie 1000 woorde oorskry nie.
Ten tweede aan mnr Scholtz, baie dankie vir al jou insiggewende holistiese artikels wat groter perspektief gee. Uitstekende materiaal vir my genealogiese studies.
Derdens, kom ons almal gun mekaar ‘n plekkie onder die son met ons menings. Só verryk ons mekaar en bly nie net dom skape van die South African Animal Farm nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.