Het die einde aangebreek vir die Sosiale Europa?

In die debatvoering rondom die uitbreiding van sosiale sekuriteit en sosiale toelaes in Suid-Afrika is dit interessant om die stand van sosiale sekuriteit in Europa te bestudeer.

Die Raad van Ministers van die Europese Ekonomiese Gemeenskap het in 1972 die beginsel aanvaar dat sosiale doelwitte net so belangrik is soos ekonomiese doelwitte. Tydens die Lissabon-beraad in 2010, word die visie deur die Europese Unie (EU) lidstate bevestig dat Europa die mees kompeterende en kennis-gebaseerde ekonomie van die wêreld moet word, maar dat dit gebalanseer moet word met die sosiale doelwitte soos solidariteit en gelykheid van werkers. Wat het egter van Jacques Delors (voorsitter van die Europese Kommissie 1985-1995) se ideaal geword van ʼn sosiale Europa waar werkers se regte deur internasionale reg gewaarborg word en sosiale toelaes ‘n standaard regdeur die EU is? Volgens die internasionale arbeidsregkenner Professor Roger Blanpair het die EU reeds tydens die Verdrag van Amsterdam in 1997 ‘n sterk ekonomiese Europa maar ‘n sagte sosiale Europa daargestel.

Europa ervaar tans die ernstigste ekonomiese krisis van die afgelope dekades, en die vraag is of die Europese sosiale model steeds volhoubaar is. ‘n Kritikus het selfs sinies opgemerk dat Europa se hantering van die Griekse skuldkrisis neerkom op ‘n “Griekse tragedie” vir die werkersklas. Die besparingsmaatreëls (‘austerity measures’) wat deur die EU-parlement ingestel is, word deur vele beskou as ‘n burokratiese beskermingsmaatreël vir die belange van internasionale kapitaal. Wat behels hierdie beskermingsmaatreël (austerity) wat die EU implementeer? Dit word beskryf as amptelike optrede deur die owerheid wat ten doel het om die hoeveelheid geld wat spandeer word in ‘n land te verminder.

Die hantering van die Europese ekonomiese krisis kan ‘n teken wees dat die Europese sosiale model ‘n mite is. Die slagspreuk van die EU is tans besparing eerste en die regte van die werkers tweede. Selfs in EU lande soos Nederland wat steeds ‘n AAA-kredietgradering het, word werkers se arbeidsregte ondergeskik gestel aan die doelwit van besparing.

Voorstanders van ‘n sosiale Europa begin al meer besef dat die EU-beleid om die finansiële krisis te hanteer neerkom daarop dat die gewone loonverdiener en die middelklas, wat in pensioenfondse belê het, die groot internasionale banke van hul probleme moet red. Die gewone man op straat moet die spit moet afbyt vir strukturele foute in die ekonomie. Duisende Europese werkers het in April 2011 in die Hongaarse hoofstad Boedapest betoog teen die EU se besparingsplanne. Regoor Europa protesteer werkers teen die besparingsplanne wat gefokus is op salaris- en pensioenverminderings. Werkers moet al meer opofferings ten opsigte van hul lewenstandaard maak om sodoende politici en bankiers uit laasgenoemde benarde posisie te red. Werknemersorganisasies is van mening dat die planne om salarisverhogings en pensioenverbeterings te vries ʼn negatiewe invloed sal hê op die onafhanklikheid van die kollektiewe bedingingsproses.

Die wyse waarop hierdie besparingsmaatreëls geïmplementeer word, is ‘n duidelike bevestiging dat die ekonomiese markbeginsels steeds meer invloed het op politieke besluitneming as wat sosiale oorwegings het. Die Spaanse Minister van Finansies omskryf die rede waarom markoorwegings die botoon voer uitstekend in die volgende opmerking: “The austerity measures are necessary because we need to grow and grow better and reduce our deficit to be able to continue paying for the state of well-being”.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae