Het die IRV sy beginsels verander?

Ernst Roets, die adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Twitter.com

Hierdie meningstuk is Roets se reaksie op Gareth van Onselen, ʼn ontleder van die Instituut van Rasseverhoudinge, se rubriek in Business Day waarin Van Onselen AfriForum se dokumentêr Disrupted Land skerp kritisieer. Lees die berig hieroor op Maroela Media.

Vir ’n organisasie wat daarop roem dat dit liberale waardes soos die vrye uitruil van teenstrydige idees koester en wat homself vir feitelike akkuraatheid beywer, het die IRV verseker ’n vreemde houding jeens AfriForum se nuutste dokumentêre rolprent, Disrupted Land, ingeneem. In sy onlangse opiniestuk het Gareth van Onselen van die IRV op ’n indrukwekkende verbeeldingsvlug oor AfriForum se standpunte gegaan. Hy val die organisasie aggressief aan omdat dit skynbaar glo wat Van Onselen in sy eie kop en sonder enige bewyse opgetower het.

AfriForum het in die verlede menige verklarings gemaak wat as kontroversieel beskou kan word. Ons het ook nog nooit daarvan weggeskram om ons standpunte te verdedig nie, en sal ook daarmee aanhou. Wat AfriForum egter nie kan doen nie, is om ’n standpunt te verdedig wat valslik aan die organisasie toegedig word. Mens sou dink dat ’n senior navorser soos Van Onselen sou besef dat mens jouself en jou organisasie skade berokken as jy iemand met verdigsels aanval.

Dit blyk dat Van Onselen die kluts kwytgeraak het in twee kort minute van Disrupted Land, terwyl hy elke feit ignoreer wat nie sy denkbeeldige prentjie ondersteun van waarvoor hy dink AfriForum staan nie.

Hoewel AfriForum nog nooit van die standpunt weggeskram het dat onteiening ’n euwel is en dat die ongeregtighede wat onder apartheid gepleeg is, reggestel moet word nie (’n punt wat ook in Disrupted Land gemaak word), beweer Van Onselen valslik dat AfriForum apartheid as “a totally benign and benevolent affair” afmaak. As dit wel AfriForum se standpunt was, sou ons dit verdedig het. Die probleem is: Dis juis nie ons standpunt nie, en die IRV se bewering daarvan kan dus niks meer as kwade oneerlikheid of growwe nalatigheid wees nie.

Van Onselen voer ’n briljante punt aan dat mens baie van ’n persoon of organisasie kan agterkom deur op te let wat hulle kwaad maak. Gemeet aan die artikel blyk dit dat Van Onselen en die IRV geweldig vertoorn word deur narratiewe wat nie met hul eie belyn is nie – só woedend dat hulle bereid is om daarop aan te dring dat sulke standpunte uitgewis moet word (met verwysing na die IRV se eis dat die dokumentêr onvoorwaardelik en in geheel onttrek moet word).

Benewens die duidelike standpunte van Van Onselen en die IRV maak die verdraaiing van feite AfriForum woedend. Van Onselen beskou die kommentaar op apartheid as “tegniese waarhede” (d.w.s. hy ontken nie die akkuraatheid daarvan nie), maar dan beskuldig hy die organisasie daarvan dat dit die geskiedenis herskryf. As hy te kenne gee dat AfriForum die geskiedenis met waarhede herskryf, dan dink ek ons moet dit as ’n kompliment beskou. Die feit van die saak is dat AfriForum – in teenstelling met wat Van Onselen graag wil hê sy lesers moet glo – vele ongeregtighede van die apartheidstelsel uitwys en gedwonge onteiening as ongeregtigheid beskryf wat reggestel moet word. Wat Van Onselen woedend blyk te maak, is dat AfriForum nie genoeg minute bestee het om die algemene mantra te herhaal dat apartheid ’n bose stelsel was nie, en te veel minute (wel, twee minute, om presies te wees) om “tegniese waarhede” tafel toe te bring wat nie deel van die hoofstroomnarratief is nie.

Wat ek veral interessant vind aan Van Onselen se aanval op die veronderstelde bose standpunte wat hy opdis en aan AfriForum toedig, is dat die IRV se aanval in dié opsig aan die twintig-tot-twee-reël onderwerp is. Die beduidendheid van dié konsep en die belangrikheid daarvan om nie daaronder te swig nie, word lank reeds deur die IRV uitgelig. Die konsep is tydens die stryd teen apartheid geformuleer as kritiek op die politieke narratief. Dit kom op die volgende neer: As jy twee sinne wil sê oor die gruweldade wat deur die ANC gepleeg is, moet jy eerstens twintig sinne oor die gruweldade van die apartheidstelsel sê. As jy die ANC gekritiseer het sonder om ook die apartheidstelsel voldoende te kritiseer, moet jou kritiek as problematies beskou word.

Die IRV waarsku al lank reeds dat ons die gruweldade van die ANC en die gruweldade van die apartheidstelsel onafhanklik moet uitwys sonder om onder die druk te swig dat mens die een slegs kan kritiseer as jy die ander óók voldoende kritiseer.

Ek kan slegs tot die gevolgtrekking kom dat die IRV intussen sy standpunt verander het. Selfs ongewoner is die feit dat die IRV nou beginselstandpunt ingeneem het dat die haatlike standpunte van Andile Mngxitama aangehoor moet word, maar dat kommentaar deur ’n historikus oor ’n belangrike deel van ons geskiedenis wat nie deel van die hoofstroomnarratief uitmaak nie en op “tegniese waarhede” neerkom, onvoorwaardelik teruggetrek moet word.

Die IRV was reeds voor die bekendstelling van die rolprent daarvan bewus dat AfriForum ’n opvolg op Disrupted Land beoog, wat juis sal fokus op dít wat die IRV nou beweer deur AfriForum afgeskeep word. Die plan is met die IRV bespreek en die IRV het selfs tot die opvolginhoud bygedra. Ten spyte daarvan het die IRV besluit om AfriForum in die openbaar met selektiewe inligting aan te val.

Die IRV se aanval op AfriForum is waarlik betreurenswaardig. Hoewel die IRV vanuit ’n ander perspektief as AfriForum praat, is die IRV veronderstel om ’n belangrike bondgenoot te wees in die geveg vir die vrye uitruil van idees – veral kontroversiële idees. AfriForum glo dat verskille tussen gerespekteerde bondgenote met wie daar ooreenstemming oor belangrike onderwerpe is, privaat besleg moet word – die organisasie het dit nog altyd gedoen, ook met die IRV. Die IRV het ’n ander strategie gevolg deur AfriForum sonder waarskuwing in die openbaar aan te val, en AfriForum dus gedwing om ook in die openbaar te antwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

DIYs ·

My grootste oorhoofse probleem, die verandering van standpunt op so n kort tyd, veranderinge is besig om toe te neem, en die globale prent wys nie n voordelige uitkoms nie.

Gert ·

Dit kan nooit aanvaar word dat die waarheid verswyg moet word omdat dit vir die meerderheid offensief is nie, veral as die meerderheid hulle hele beleid bou rondom die teendeel van die waarheid. So seer soos dit is, die waarheid moet uit.

Arak ·

En hier sien mens toe nou wie nie eintlik jou bondgenoot was nie. Die IRV is omtrent so ‘n bondgenoot soos die DA…
Ek het gedink dit is ‘n baie goeie dokumentêr en is bitter dankbaar dat dit “feitlik korrek” was in teenstelling met al die “polities korrekte” twak wat die afgelope 25 jaar in ons kele af geforseer is.

Gwen ·

As ek nie verkeerd is nie, was Van Onselen op ’n stadium nou betrokke by die DA. Dit help dalk om sy reaksie te verklaar. Ek het die dokumentêre prent gekyk en is van mening dat dit ’n goeie balans handhaaf. Maar dan is my politieke sentiment ook effens na regs.

Therese van Schalkwyk ·

Hoewel teleurstellend, is ek geensins verbaas oor die IRV, en veral Van Onselen, se verraderlike optrede nie. Die ware kleure het al te dikwels in die verlede deurgeskemer.
Die toenemende ongemak om met ‘n sogenaamde regse organisasie vereenselwig te word, het te groot geraak.

Interessant om van die twintig-tot-twee reël te lees. Het altyd vermoed soiets bestaan. Dié reël is natuurlik tot op die letter deur Afrikaanse meningsvormers gehoorsaam sedert 1994. Erg irriterend.

Gaan voort met jul puik werk, AfriForum. Groot respek vir mense wat nie stuit voor die waarheid en die vólle waarheid nie, en slegs minagting vir die res.

Annie Webb ·

Ek stem 100% saam, Therese van Schalkwyk. Die IVR probeer hard om elke afsonderlike saak “op meriete” te beoordeel en dit werk nie. Sake van ras in SA is selde objektief, dus moet ‘n mens maar jou kant kies en daaraan lojaal bly. Anders klink jy juis soos Van Onselen in sy artikel; g’n objektiewe argumente nie, net ‘n uiters subjektiewe, polities-korrekte tirade wat geen kompliment vir sy vermoëns is nie.

Hennie ·

Die dokumentêr is in baie goeie smaak, van hoogste gehalte en uiters informatief. Dis ‘n versamelstuk!

C.T.Botha ·

Ag tog en die hele Europa smag daarna om apart te wees en om net hulleself te regeer en nie deur volksvreemdes verswelg te word nie.

willem Botha ·

Ek het die volledige video gekyk en nou verstaan ek baie beter,die leuens wat die lings politieke partye,DA ingesluit verkondig is wat dit is leuens vir n politieke agenda.Die oningeligtes haat mekaar onnodig en ek hoop almal word geleer en verstaan die waarheid ,dan kan ons almal aanbeweeg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.