Het hulle al die yster in vergiete bloed geruik?

ian-cameron-2018-03-19

Ian Cameron. Foto: Verskaf.

Deur Ian Cameron

Dit is eenvoudig, ignoreer die kantlynkommentators, ons het werk om te doen.

My mense word letterlik afgeslag. Ek skryf hierdie stuk vandag ná die terugkeer van nóg ’n bebloede plaasaanvaltoneel. Dit voel soos gister wat ek vir die Australiese media kommentaar moes opstel waar ek dieselfde sin gebruik het as inleiding. My kommer is egter dat dit nie net generies van aard is nie, maar dat dit die abnormale norm vir baie weerloses geword het.

Ons moet versigtig wees om nie so vasgevang te raak in klein argumente wat spreekwoordelik Nehemia van die muur af laat klim nie. Ons moet op die muur bly om ons mense veilig te maak en te hou.

Hoe erg is dit nie dat ons begin praat het van goeie en slegte moorde in Suid-Afrika – nie omdat een lewe meer werd is as ’n ander nie, maar omdat een se marteling langer, wreder en pynliker as die volgende mag wees.

Ashwin se uitstorm, Max se kantlyngefluister en Cyril se teepartytjies oor grond beteken niks vir die mense wat werklik ly nie, mense wat daagliks en veral saans in vrees wonder of hulle nie die volgende Treurgrond-plaasmoordstorie gaan word nie. Feit is, dinge kan rof raak in die volgende paar maande, veral met die aanloop tot die verkiesing. Uitdagings is nie ’n goeie beskrywing van die berge wat ons moet versit nie.

Die saak wat herhaaldelik in my gedagtes opkom, is die een van Hannatjie (56) en Callie Ludik van Muldersdrift. Hulle vertel my hoe hulle partykeer wonder of die dood nie dalk ’n beter opsie sou wees nie. Hannatjie is herhaaldelik deur haar aanvallers verkrag terwyl Callie moes sit en luister.

Die vraag is, was die kommando van sleutelbordkrygers daar? Moes hulle al help troos? Het hulle al die yster in vergiete bloed geruik? Dus is dit eenvoudig, as jy nie daar was nie kan jy nie praat nie. Soos gewoonlik skuil hulle agter reputasies en titels en mislei hulle die oningeligtes met kwinkslae en opportunistiese taalgebruik wat die malende en niksvermoedende massas plaas in die weg waar daar net plek is vir retoriek en waar die waarheid seermaak.

Die boodskap is ongekompliseerd, ons moet aanhou en aanhou. Meedoënloos. Ons moet eenvoudig, ondanks randfiguursamesweringsteorieë, op die muur bly. Ons mag nie afklim totdat ons nie wen nie – ons mense en ons kinders se toekoms hang daarvan af. Ons moet bly hoop skep.

Daar is ’n handjie vol strategiese beginsels wat ek glo die verskil tussen lig en duisternis is, veral wanneer dit by ons volhoubare veiligheidstrukture kom. Met die daarstelling van organisatoriese strukture en vermoëns kan ons lig skep, dus hoop skep. Ons bou tans aan selfbehoud, selfbestuur en daadwerklike optrede (Net vier dae gelede word nóg twee plaasmoordenaars deur AfriForum, saam met die polisie, in hegtenis geneem). Ons vestig strategiese groeipunte, veiligheidsteunkringe, en bou hiermee groeikerngebiede wat dien as nasionale fondasie. Só is ons in staat om die gemeenskap te bemagtig en te organiseer met wettige en professionele optredes.

Daar is vier aanwendingbeginsels binne ons vermoë op plaaslike vlak wat beteken dat ons nie net oorgelaat word aan die staat se genade as dit by beveiliging kom nie. Hierdie aanwendingbeginsels sluit in: inisiatief, inligting, mobiliteit en verrassing waar grond vermoëns geskep kan word om werklik die onstabiele te stabiliseer. Hierdie aksies impliseer dat ons hoop kan skep, hoop moet skep en hoop gaan skep.

Die voorste linie van elke gemeenskap moet in multifunksionele veiligheidsentiteite invloed uitoefen om werklik ’n gesamentlike gemeenskapsveiligheidsinisiatief volhoubaar te bedryf.

Ons moet aanhou en aanhou. Ons het geen ander alternatief nie, maar om te bou, te beplan, te organiseer en te oorleef (terloops, dit is juis wat ons nog altyd so goed regkry).

Ons moet aanhou en aanhou, ons het geen ander alternatief nie. Ons het werk om te doen.

  • Ian Cameron is hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Thinus Erasmus ·

Ian, beur voort om mense op plase en in stede en dorpe te probeer beveilig. Dit is geensins rassisties of diskriminerend soos rusbank kommentators aanvoer nie.

My probleem is egter met die regering wat weier om die probleem te erken en daadwerklike aksies te neem nie. Bv. die kommandostelsel is afgestel terwyl dit baie effektief en nou baie nodig is.
Tweedens dat dit blyk of die regering eintlik die betrokke geweld steun deur hul stilswye en ontkenning. Bv. In meer as 100 dae het onse President nog geen woord oor plaasmoorde gerep nie maar al op vele ander misdaad gevalle gereageer.

Derdens kortwiek die huidige regering pogings om landelike en stedelike gebiede deur privaat inisiatief beskerm word soos deur inperkende wette en regulasies. Ons kwalifiseer vir noodtoestand maatreels maar regering dink dis normaal.

Vierdens laat die vermoee van die SAPD en die geregtelike stelsel ons totaal in die steek, met ‘n skuldigbevindings koers van 6%!!!!!!! Na hoeveel jaar van hofsaak en met soveel borg en parool misdadigers wat net aangaan met misdaad.

Ek dink dit is tyd om die streep te trek met ‘n goed beplande en opgestelde dokument, soos die “freedom charter” of die “stellings van Wittenberg” en die regering te dwing om op te tree, indien nie dit as vyandige gebaar teenoor die die land se wetsgehoorsame burgers en belastingbetalers te beskou!

Aan Thinus ·

Ai, Thinus … verstaan jy nou nóg nie?

Die staat wat ons plase wil wegvat, die moordslag sonder kommentaar dophou … is daar steeds van ons mense wat dink húlle gaan óns uithelp? Dan is dit tyd om wakker te word, want dis alles deel van hul plan om elke blanke te verjaag of te vermoor.

Bekommerd ·

Uitstekend geskryf. Daar is voorwaar werk om te doen, want mens moet eenvoudig altyd een stappie voor bly. Wees ingelig, wees voorbereid, maak intelligente besluite en moenie bang wees om op te tree nie. Ons moet saamstaan en ‘n trotse nasie bly.

Lynette Schultz ·

Al waarmee party mense hul besig hou is syfers en grafieke en metodiek, maar het een van hulle al die moed gehad om ‘n slagoffer van ‘n plaasaanval in die oë te kyk en met hom/haar te gesels oor die trauma wat hulle beleef het en nog beleef?

Of sal hulle eerder belangstel of die slagoffer die minute reg getel het en seker is oor hoeveel messteke daar was? Die vrou sal seker gevra word of sy dink sy moet ook deel wees van die statistiek en nie sommer net as een getel word saam met haar man nie. (Dit was mos Elmien du Plessis wat vir Afriforum gevra het of hulle ook die boer se vrou tel wanneer hulle getalle praat)…..

Wanneer hulle praat oor plaasmoorde sien hulle net getalle. Hulle sien nie MENSE nie. Ek glo nie hulle hoor waardeur mense gaan nie, want GEEN MENS kan dit hoor of lees en behep wees met HOEVEEL nie. Asof daar ‘n magiese getal moet wees voor jy begin saamhuil, ‘n hand vashou en die belangrikste nog – die slagoffers se afgryslike lot uitbasuin TOTDAT daar ‘n einde aan gemaak word!

As jy daar in hulle bloed en harsings wil grou en soek vir iets wat hulle gedoen het om dit te verdien is jy en jou soort op julle eie.

Julle sif die muggie uit, maar sluk die kameel in.

Ploeter voort op jou dwaalweg, maar weet dit – ek sal NIE swyg nie!

Richard ·

Wag ‘n bietjie, Lynette… AfriForum is gewoonlik die een wat statistiek aanbied sonder bronne of metode. Dit verloop dan gewoonlik so:

1. AfriForum maak ‘n statistiese stelling, soos dat boere statisties die gevaarlikste werk het, of X-aantal kere meer kans het om vermoor te word as polisie of ‘n ander groep.
2. Iemand vra vir AfriForum: “Hoe het julle daardie statistiek bereken? Want as ek dit op hierdie manier (met bronne en metode openlik aangedui) bereken, dan verskil dit van julle data. Laat weet asseblief.”
3. AfriForum (en AfriForum ondersteuners) kap emosioneel terug en verskree en vervloek die persoon wat durf waag om vir bronne en metode te vra en sê iets soos: “Hoe wil jy nou met statistiek en koue syfers in hierdie debat oor wrede moorde inkom, jou gevoelose liberale intellektueel!!!”

Maar onthou, dit was AfriForum wat in die eerste plek met statistiek en koue syfers na vore gekom het… Hoe is dit dan regverdig om mense aan te val as hulle vir bronne en metode daarvan vra?

Verder, die rede hoekom iemand sal vra of die boer se vrou ingesluit is in die getalle, is omdat as mens ‘n moordkoers wil uitwerk, moet jy die groep mense in die teller en die noemer van die som dieselfde maak. Jy kan nie in die teller boere en hul vroue insluit, maar in die noemer slegs boere insluit nie, dan is jou som verkeerd. AfriForum wil tog sekerlik korrekte somme maak?

Richard ·

Hoe so, Willem?

En daarby – jou reaksie is net nog ‘n voorbeeld van ‘n emosionele, eerder as logiese reaksie.

Ek herhaal: Dis AfriForum wat met statistiek vorendag kom, maar dan is dit ook AfriForum of AfriForum-ondersteuners wat mense wat meer oor die statistiek wil weet, uitmaak as gevoelloos. Dis nie ‘n logiese of regverdige optrede deur AfriForum nie.

Herman G ·

Richard
Daar is n uitdrukking “Lies, damn lies & statistics”. Ek kan dink dat Afriforum se statistieke foute kan he. Sit die statistieke opsy en kyk hoeveel mense is al vermoor op plase – gaan tel die wit kruise buite Pietersburg. Verder gaan kyk na die wreedheid wat daarmee saam gaan. Ons kan praat van teller en noemers tot ons blou in die gesig is, maar dit is ‘n feit dat daar ‘n groot problem is.

Se maar Afriforum se statistieke het ‘n fout, en om ‘n boer te wees in SA is die tweede, derde of dertigste gevaarlike beroep in die wereld, maak dit regtig ‘n verskil? Verander dit die vrees op die platteland? Maak dit die misdaade “beter” of minder wreed?

Staistieke is ‘n “means to an end” en nie die “end” opsigself nie.

Dankie Afriforum ·

Ek gee nie om wat enigeen van Ian Cameron of Afriforum se nie .. HULLE DOEN IETS . maak hulle foute, ja natuurlik, maar wie van hulle was al voorheen in hierdie ‘sagte oorlogsituasie’?. Dit is jong manne wat nog moet leer en hulle beroepe bou, nou word hulle in die diepkant gegooi, waar hulle vermoordes se families moet troos en keer dat daar nog families trane stort, hulle moet strukture en buurtwagte opsit (LET WEL BINNE WETGEWING) sonder dat dit lyk asof hulle hulle eie weermag opbou .. om boere en onskuldige mense te probeer beskerm .. JY wat vir AFRIFORUM beledig en kritiseer WAT DOEN JY om jou buurman te beskerm? Het jy selfs net sy telefoonnommer? Afriforum se manne is jong manne wat moet uitgaan en ‘jol en party hou’ soos ons as jongmense gedoen het, maar agv die situasie in die land moet hulle spreekwoordelik bloed afwas van die mure en probeer verhoed dat nog ‘n baba of vrou verkrag en ‘n ou oom vermoor word .. AS jy kan KRITISEER , vra jouself eerder af WAT DOEN JY?? Moet nooit ophou praat nie, moet nooit ophou om die buiteland EN die mense om jou bewus te maak van hierdie afskuwelike gruwelike aanvalle en moorde op ONSKULDIGE mense nie !! Dankie vir julle toewyding.

Richard ·

Nee, jong… Watter tipe argument is: “As jy nie daar was nie, kan jy nie praat nie.” ???

Dan moet jy maar gou vir Ernst Roets gaan sê om op te hou praat oor apartheid. Hy was nie daar nie, of hy was ‘n klein kleuter toe Apartheid afgeskaf is.
Dan moet basies alle geskiedenisskrywers maar ophou – hulle was nie daar nie, so hoe kan hulle oor die geskiedenis skryf?

Dis ‘n lui argument vir iemand wat nie logies wil argumenteer nie en eerder net ‘n emosionele “argument” wil maak.

Vonkie ·

Richard, Nehemia praat ook van jou – Sanballat

Ons klim nie van die muur af nie.

Richard ·

Dankie dat jy my korrek bewys.

Let wel – ek sê nie mens moenie of mag nie omgee of emosioneel wees oor plaasmoorde nie. Maar dis juis omdat ek baie omgee daaroor, dat ek nie daarvan hou as AfriForum of ondersteuners onredelik, boelie-agtig of onregverdig optree wanneer hulle reageer op mense wat nie PRESIES in alle opsigte met hulle saamstem nie.
Wie het al ooit iemand anders oortuig deur net op hulle te skree en te kere te gaan?

Fanie ·

Richard, jy’s reg- as AfriForum beweer, moet hul bewys. Maar die indruk wat ek herhaaldelik gekry het, is dat hul dit wel doen. Ernst doen self baie moeite daarmee.

Etienne Prinsloo ·

Richard is een van die boankes wat plaasmoorde goedkeur en ondersteun. Virtue signalling liberal.

Richard ·

En daar bewys Mnr Prinsloo my ook korrek. Geen poging om te argumenteer nie – eenvoudig ‘n boelie-houding waar daar net skeldname geslinger word en modder gegooi word. Sies man.

Tersia ·

Dit is belangrik dat ons probeer om ons in die slagoffers se skoene te sit. Empatie. Dit is waar dat klein argumente ons nie veel nader aan empatie en oplossings bring nie. En so ook gee Ian metodes om hoop te herstel. Maar dan kom Richard op sy perd aan gegallop en val links en regs aan en beskuldig dan vir Etienne as hy dieselfde ding met hom doen. Ai tog. Kom ek verduidelik Richard: Ian het nie bedoel dat jy iewers moet wees om te kan rapporteer nie, maar voor jy nie die intensiteit van die aanval beleef deur daar rond te beweeg nie kan jy nie kommentaar lewer oor hoe erg dit nou eintlik is nie. Dit is die hele idee met die artikel. Die absolute (onnodige) wreedheid. Lynette het ingeval daarby deur te noem dat so ‘n eerstehandse ervaring harder praat as statistiek en toe antwoord jy haar oor statistiek oor die algemeen. Nog ‘n ai tog. En watter effek het ‘n sg. Afriforum ondersteuner wat moontlik verskil van iemand se reaksie op die wreedheid. Dit het niks daarmee te doen nie. Maar hulle reageer eintlik omdat jy die onderwerp verander, dit is teen die 1ste reël van goeie argumentvoering.
En, as jy ‘n probleem het met die artikel of ‘n kommentaar daarop wat ondersteunend is, dan lyk dit of jy nie dink die aanvalle is naastenby so erg nie. As dit waar is hoop ek jy val van jou perd af.

Richard ·

Tersia, ek dink Ian kan vir homself praat.
Waar het ek enige beskuldiging gemaak? Ek het wel die ware stellings gemaak dat dit AfriForum is wat eerste met statistiek vorendag kom, maar dat enigiemand anders wat oor AfriForum se statistiek wil praat of meer daaroor wil weet, summier as koud en gevoelloos afgemaak word. Dis soos as ‘n beskuldigde in ‘n hof se regspan met ‘n bewysstuk vorendag kom, maar dan as die aanklaer oor die bewysstuk wil praat, word hy daarvan beskuldig dat hy die een is wat net behep is met daardie bewysstuk. Dit maak nie sin nie.

Talle kommentators hier maak die fout om te sê:
1. Probleem A is belangriker as Probleem B
2. Dus mag niemand oor B praat voordat Probleem A opgelos is nie
Stelling 2 volg nie logies uit stelling 1 nie. In der waarheid kan ‘n mens oor twee dinge gelyktydig besorg wees, selfs al is die een belangriker as die ander.

Ek verander nie die onderwerp nie. My reaksie op Lynette kom vanuit haar stellings “grafika en metodiek” en oor Elmien du Plessis se vraag oor vroue van boere.

Ek stem saam dat eerstehandse ervaring (in hierdie geval) harder praat as statistiek. Ek het self ongelukkig sulke eerstehandse ervaring. Die moeilikheid is dat dit AfriForum is wat telkens statistiek voorhou eerder as om op eerstehandse ervaring te steun. Dit maak AfriForum oop vir kritiek deur ideologiese opponente wat andersins moeiliker sou wees om te lewer en doen AfriForum se saak skade.

Jerry ·

Beveiliging kan net effektief wees wanneer die veiligheid wat geimplementeer word voorkomend is deurdat dit alle moontlikhede dek en nie bloot reaksioner is nie. Julle beveiligingsplan en stelsels skiet duidellik tekort om plaasmoorde te verhoed, daarvan getuig hierdie sinnelose moord en die reuk van yster van vergietende bloed wat jy aanhaal in jou skrywe. Jy is reg as jy se, die harde werk le nog voor. Die hoop beskaam ook nie dat julle sal leer uit julle tekortkominge en weldra die lesse geleer sal kan omskep in iets werkbaar wat plaasmoorde daadwerklik kan verhoed.

Paul ·

Dit is kommentaar soos hierdie wat die mense net nog meer gedetermineerd maak. Do so voort Afriforum!

@paul ·

Dan ken jy nie vir Jerry nie! Hy haat Afriforum! Hy insinueer ons moet lesse keer uit hoekom die mense vermoor word – apartheid! Jy moet meer hier kom kees. Jerry drup van sarkasme!

Nehemia ·

Was dit nou ‘n tegniese kommentaar as hulp en aanmoediging of ‘n hoogmoedige oorveeg? Klim van die draad af sodat ons kan sien waar staan jy. Ek weet waar Ian Cameron staan. Hy het baie meer punte reg as verkeerd sou ek sê.

Veritas ·

Wat hierdie kommentare duidelik maak, is dat die Afrikaner sy eie, grootste vyand is. Gun ander ook ‘n opinie al verskil dit van joune.

Willem ·

Ons mag net een maal in 5 jaar stem en ook nie ‘n opinie, al verskil dit van ander, onder kommentare uitspeek nie. Terloops, ek stem met Jerry en Richard saam, dat hulle fout vind met Afriforum en Afriforum uit trap. Dis hul reg. Ander het nie regte nie, dit is ons eens.

Willem ·

Ek dag ek gaan met jou debat voer, toe spring die snoeiskêr in. Hierdie is duidelik nie die platvorm vir debat nie, net enkele opinies wat nie te diep sny nie, ook nie te lank kuier nie, net so liggies oor die wond streel.

Foto van kind ·

WYS DIE FOTOS aan die wereld. Kyk watse reaksie die foto van die siriese kind op die strand gedoen het.

Lynette Schultz ·

Richard, Jy het nie mooi gelees nie. Ek gee nie ‘n FLENTER om oor statistieke nie. Ek het lankal al telling verloor. Ek gee NET om vir mense wat WREEDAARDIG/BARBAARS/ONGENAAKBAAR AFGEMAAI word. Ek is dankbaar dat Afriforum die ENIGSTE mense is wat iets probeer doen om hierdie gruwels hok te slaan.

Terwyl julle wil hare kloof word nog boere vermoor. As die wyse waarop hierdie mense vermoor word jou nie kan beweeg om jou mond oop te maak nie, sal jou statistieke (al is dit by die dood van die laaste boer in hierdie land) jou nie beweeg nie.

Oom Kalahari ·

Ian Cameron, jul almal by Afriforum doen uitstekende en harde werk. Jul uitleg op gebeure is gebasseer op werklike opsommings van gebeure. Die huidige misdaad en moorde is ‘n goed beplande aksie en gaan niemand ontsien nie soos dit uit beheer gaan en nader kom huistoe. Daar is die wat anders dink en optree oor die huidige situasies en probeer geblinddoekte bly, maar soos dit hul reg is so is dit ook vele van ons ander se reg wat uitsien na selfbeskikking. So laat ons dan maar op elke wyse ons toekoms uitleef soos wat ons graag wil, die onder die huidige regime en die ander deyr hul eie Volk’s leiers en hul eie gebied.

Therese van Schalkwyk ·

Soos Ian Cameron in hierdie aangrypende stuk sê: “my mense word letterlik afgeslag” …
Hoe gepas sy woorde: “ignoreer die kantlynkommentators, ons het werk om te doen” …

Ernst Roets en kie. het al male sonder tal verduidelik hoe moeilik dit is om absoluut onweerlegbaar korrekte syfers vir hierdie terreuraanvalle te hou, en dat die mees konserwatiewe een dus gebruik word, maar die Richards en Jerrys van die ou lewe wíl bloot nie verstaan nie. (Ouma sou gesê het hulle is ‘balhorig’.)

Die belangrike feit dat plaasterroriste sonder uitsondering uit een spesifieke groep kom, word op verbluffende wyse totaal ignoreer deur AfriForum kritici.
Slegs in Suid-Afrika kan so suutjies en versigtig om ‘n onomstootlike feit gedans word!

Sukses word Ian Cameron toegewens met hierdie moeilike taak en meer artikels met hierdie strekking is noodsaaklik. Wie weet, dalk gaan meer oë mettertyd oop.

Christiaan Jooste ·

Die interessante van die vurige debatte die afgelope tyd oor Afriforum se inisiatiewe is die verskuiwing van doelpale. Die sleutelbordridders en kantlynkommentators, wil graag aan Afriforum voorskryf wat hulle moet doen sodat hulle meer inklusief kan wees. Dit is tog onlogies en aanmatigend dat Max, Pieter, Christie en wie ook al kan dink dat hulle opmerkings Afriforum se agenda of mandaat kan bepaal. Dus Afriforum, gaan voort om die mandaat van jou lede uit te voer, die res is net geraas

Pieter ·

Jammer maar die stelling as jy nie daar was mag jy nie praat nie, is nie ‘n geldige argument nie. Inteendeel, dit is ‘n vorm van sensuur van ander. Kom ons vermy om onsself op die tipe kunshoëgrond te plaas.

Casper Labuschagne ·

DIe reuk van die yster is nie die enigste reuk wat nooit vergeet kan word nie. Dit is al die reuke van die dood, van liggame wat oopgeruk is en die muskusreuk van vrees waar lewens in brutale geweld kortgeknip is, van poele gestolde bloed wat oorbly nadat die liggame weggeneem is. Mens pak dit diep, diep weg, maar dit kom binne oomblike met ‘n skok terug. Dit verskil hemelsbreed van die slim mense se statistieke waar alles verander word na bloot net gewone misdaad.

Henry ·

Die huidige regime en hul ondersteuners het hierdie droewe land binne ‘n ommesientjie na die nuutste gefaalde Afrikastaat ‘bestuur’. Die korrupte patronaatstelsel wat deur die regime ingestel is en mislukking verseker het, bied ook geen hoop op ‘n beter toekoms vir hul stemvee en vir die res van ons nie. Minderhede soos ons Afrikaners moet soos bg skryfsel uitwys, paraat wees om al die daaglikse bestaansbedreigings die hoof te bied.

Daarom is siele soos Richard, Jerry en hul maatjies se menings van geen belang nie. “Let them be”, soos my Soutie pel sê, want om jouself aan hulle te steur, is tyd en ruimte vermorsing en is van geen nut vir mens of dier nie.

aquila non capit muscas

Theresa ·

DANKIE Ian en almal wat iets doen omtrent hierdie vreesaanjaende saak.

Dit verg meer as moed. Dit verg intelligensie en deursettingsvermoë wat duisende nie het nie. Dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.