Het Mandela die revolusie ‘verraai’?

revolusie

Foto: Pixabay.com

Vlak voor die tweede herdenking van wyle oudpres. Nelson Mandela se dood het die jonge heer Julius Malema in ’n toespraak in Londen ’n yslike klip in die hoenderhok gegooi. En sedertdien fladder die hoenders dat dit ’n narigheid is.

Luidens berigte het Malema in antwoord op ’n vraag uit die gehoor of Mandela die revolusie verraai het om die politieke mag te verkry, só gepraat: “The deviation from the Freedom Charter was the beginning of the selling out of the revolution. But why did Nelson Mandela sell out the Freedom Charter? When Mandela returned from prison he got separated with Winnie Mandela and went to stay in a house of the rich white men … he was looked after by the Oppenheimers.”

Die aanvalle vanuit die ANC, die DA, Cope en ander partye om Mandela te verdedig het onmiddellik en verwoed daarop gevolg. Wie is dié klein snotkop Malema om ʼn groot man soos Mandela so te beledig, was ongeveer die algemene strekking van die reaksies.

In beginsel sou ʼn mens die saak vanuit ʼn “wit” oogpunt ook kon omdraai. Was Mandela werklik die sondelose heilige wat dikwels aan ons voorgehou word?

Wel, ek is ʼn historikus wat my onder meer op grond van die oorspronklike bronne in Mandela se politieke loopbaan en die optrede van die ANC voor en ná sy wettiging van 1990 verdiep het. As sodanig het ek geen ander agenda as die waarheid nie – altans, dit is die ideaal waarna ek strewe. Natuurlik word ek noodwendig deur my konserwatiewe Afrikaner-agtergrond beïnvloed, en of ek voldoende in my strewe slaag, is vir ander om te bepaal.

Ek het Mandela persoonlik slegs twee keer ontmoet. Die een was toe hy die redaksie van Die Burger besoek het. Dit was bloot ʼn welwillendheidsbesoek, en niks meer as beleefdhede is uitgewissel nie.

Die tweede was toe hy ʼn ete met senior amptenare van Nasionale Pers bygewoon en ook ʼn toesprakie gehou het. Sy toespraak het my dié dag weens twee uitlatings effens bekommerd gelaat.

Die eerste was die verbitterde trek om sy mond toe hy vertel dat hy 27 jaar “in a white man’s gaol” gesit het. Nie dat hy géén rede tot verbittering gehad het nie, maar dit het my laat vermoed dat sy versoeningsgesindheid straks eerder ʼn politieke as persoonlike keuse was.

Maar dalk het hy dié oggend met die verkeerde been uit die bed opgestaan, dalk was hy moeg, miskien het hy hoofpyn gehad … wie sal weet?

Die tweede ding was erger. Hy het gepraat oor die grondwet, wat regte vir álmal, die politieke meerderheid (synde die ANC) én die minderheid (synde die wittes, die opposisie in die parlement) waarborg.

Ek kan nie meer sy presiese woorde onthou nie, maar sy boodskap het hiérop neergekom: Ons (die ANC) het goedgunstiglik toegelaat dat daar ʼn opposisie buite die ANC bestaan. Ons het nie die opposisie nodig nie; die ANC is groot genoeg dat die interne gesprek die plek van die permanente gesprek tussen meerderheid en minderhede kan inneem.

Wat my laat dink het dat Mandela duidelik beïnvloed is deur die tradisionele Afrika-kultuur en die Marxisme-Leninisme. In my navorsing oor sy politieke denke kan dit inderdaad ook bo alle twyfel bewys word.

In die tradisionele Afrika-kultuur gaan die ringkoppe in die kraal sit om ʼn probleem te bespreek, en hulle hou aan tot hulle konsensus het. Afhangende van hoe sterk die hoofman se karakter is, sal die konsensus sý wense weerspieël. En dan hou die gesprek op. Ook dié wat nie saamstem nie, verdedig die konsensus.

In die Marxisme-Leninisme bestaan iets soos “demokratiese sentralisme”. Lenin het bepaal dat kommuniste verskillende menings oor ʼn saak kan hê totdat die party standpunt ingeneem het. Dan val almal in.

In die Westerse liberale veelparty-demokrasie is die neem van die meerderheidsbesluit slegs die begin van ʼn nuwe fase, want die gesprek gaan voort en is inderwaarheid permanent. Die opposisie probeer meer stemme by die volgende verkiesing kry. Die Afrikaners (uiteraard met die uitsondering van die hanskakies) gaan voort om vir hul taal en kultuur te veg.

En hul reg om dit te doen, hang – anders as wat Mandela dié dag te kenne gegee het – nie af van die welwillendheid van die ANC nie. Die grondwet gee hulle daardie reg.

Dit beantwoord natuurlik nog nie Malema se uitlating nie: Het Mandela die revolusie verraai?

“Verraai” is natuurlik ʼn uiters emosionele begrip. My gevoel is dat dit die gesprek oor Mandela se erfenis nie verhelder nie, maar juis vertroebel.

Het Mandela ʼn kompromis gesluit? Ja, hy het. Lees jy sy geskrifte uit die jare vyftig voor sy veroordeling, asook sy geheime outobiografie wat hy op Robbeneiland geskryf het, en dit word duidelik dat hy toe ʼn dogmatiese aanhanger van die Marxisme-Leninisme was.

Plek-plek het hy die ideologie nie behoorlik verstaan nie, maar blindweg sy eie foutiewe begrip daarvan nagevolg.

Maar dis ewe duidelik dat sy 27 jaar in die tronk vir hom ʼn katarsis was. Veral in die jare tagtig het dit tot hom deurgedring dat ʼn totale oorwinning vir enigeen van die twee partye onmoontlik was, dat Suid-Afrika sonder ʼn kompromis in ʼn rokende puinhoop omgeskep sou word.

Gelukkig, al het oudpres. F.W. de Klerk duidelike foute gemaak, was dié realisties genoeg om dit ook in te sien, en het die twee ʼn kompromis aangegaan. Waarmee ʼn mens nie sê dat die kompromis ideaal was nie, maar jy moet ook weet wat die twee se beweegruimte in die lig van die destydse magsverhoudinge was, en wat die toekoms by ʼn voortsetting van die burgeroorlog sou ingehou het.

Nee, Mandela het nie die revolusie “verraai” nie. Hy het die politieke grootheid aan die dag gelê om die grense van die moontlike in te sien, saam met die prys wat betaal sou moes word as daardie grense willens en wetens oorskry word.

Maar uiteindelik was Mandela maar een mens. Soos dit met alles in die geskiedenis gaan, kon hy sy eie tyd help bepaal, maar sy opvolgers sou moes voortbou op die fondamente wat hy geskep het.

Helaas. Pres. Thabo Mbeki het al begin afwyk. En van Jacob Zuma wil ʼn mens nie eens praat nie.

Mandela was ver van heilig. Maar hy was wel die regte man op die regte plek en op die regte tyd, sy vroeëre kommunistiese oortuigings ten spyt.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rooiman

Baie interessant. Ek verskil op een punt. Pienk Frikkie en sy verraaiersbende het nie die land gered van n “rokende puinhoop” nie. Hulle het dit veroorsaak en in werking gestel. Suid-Afrika is vandag n rokende, stinkende puinhoop. As die kompromie nie aangegaan is nie, sou die weermag en ander instellings, wat toe nog van die beste ter wêreld was, dalk die oorlog kon wen en die burgers kon beskerm teen die bose oormag, want vandag se staatsinstellings is lam en swak gelaat as gevolg van die verraderlike dade van die rugraatlose swakkelinge. FW is n verraaier, hy het nie die… Lees meer »

Chris Lombard

Tot n sekere mate is elke mens maar n pragmatis. Mandela, die ANC en die SAKP het vir seker geweet dat hulle nooit n fisiese rewolusie sou kon wen terwyl die Weermag en Polisie onder Afrikaner beheer was nie. Maar dit beteken nie hulle het die rewolusie laat vaar nie. Die belangrikste oorwinning was dat daar geen minderheidsregte in die Grondwet ingesluit was nie. Daarna kon hulle op hul tyd voortgaan met die NDR. Alles wat die ANC tans doen, moet in die lig van die NDR gesien word. Elke deel van die samelewing moes onder ANC beheer kom. Het… Lees meer »

Gerhardt

Ons het toe die burgeroorlog in elk egval gekry.

Boscia

Nou wat probeer die Oubaas nou sê wat ons nie weet nie. Ek kry sommer ‘n verveelde trek om my mond.

Tascha

Jong ek is nie so seker ek stem met die skrywer ooreen nie. Dit maak nie saak hoe mens die koppie draai nie die swartes wat so aangaan oor die struggle en hoe die wittes hulle alles ontneem het en hoe hulle keelvol is vir kolonialisme vergeet dat hulle in huise bly wat die wit man vir hulle gewys het om te bou, hulle ry luukse motors en dis ontwerp deur ‘n wit man, hulle kla oor dienslewering soos elektrisiteit ens dis alles goed wat hulle nooit sou hê sonder ‘n wit man nie. Steeds is ons in die minderheid… Lees meer »