Het Mandela die revolusie ‘verraai’?

revolusie

Foto: Pixabay.com

Vlak voor die tweede herdenking van wyle oudpres. Nelson Mandela se dood het die jonge heer Julius Malema in ’n toespraak in Londen ’n yslike klip in die hoenderhok gegooi. En sedertdien fladder die hoenders dat dit ’n narigheid is.

Luidens berigte het Malema in antwoord op ’n vraag uit die gehoor of Mandela die revolusie verraai het om die politieke mag te verkry, só gepraat: “The deviation from the Freedom Charter was the beginning of the selling out of the revolution. But why did Nelson Mandela sell out the Freedom Charter? When Mandela returned from prison he got separated with Winnie Mandela and went to stay in a house of the rich white men … he was looked after by the Oppenheimers.”

Die aanvalle vanuit die ANC, die DA, Cope en ander partye om Mandela te verdedig het onmiddellik en verwoed daarop gevolg. Wie is dié klein snotkop Malema om ʼn groot man soos Mandela so te beledig, was ongeveer die algemene strekking van die reaksies.

In beginsel sou ʼn mens die saak vanuit ʼn “wit” oogpunt ook kon omdraai. Was Mandela werklik die sondelose heilige wat dikwels aan ons voorgehou word?

Wel, ek is ʼn historikus wat my onder meer op grond van die oorspronklike bronne in Mandela se politieke loopbaan en die optrede van die ANC voor en ná sy wettiging van 1990 verdiep het. As sodanig het ek geen ander agenda as die waarheid nie – altans, dit is die ideaal waarna ek strewe. Natuurlik word ek noodwendig deur my konserwatiewe Afrikaner-agtergrond beïnvloed, en of ek voldoende in my strewe slaag, is vir ander om te bepaal.

Ek het Mandela persoonlik slegs twee keer ontmoet. Die een was toe hy die redaksie van Die Burger besoek het. Dit was bloot ʼn welwillendheidsbesoek, en niks meer as beleefdhede is uitgewissel nie.

Die tweede was toe hy ʼn ete met senior amptenare van Nasionale Pers bygewoon en ook ʼn toesprakie gehou het. Sy toespraak het my dié dag weens twee uitlatings effens bekommerd gelaat.

Die eerste was die verbitterde trek om sy mond toe hy vertel dat hy 27 jaar “in a white man’s gaol” gesit het. Nie dat hy géén rede tot verbittering gehad het nie, maar dit het my laat vermoed dat sy versoeningsgesindheid straks eerder ʼn politieke as persoonlike keuse was.

Maar dalk het hy dié oggend met die verkeerde been uit die bed opgestaan, dalk was hy moeg, miskien het hy hoofpyn gehad … wie sal weet?

Die tweede ding was erger. Hy het gepraat oor die grondwet, wat regte vir álmal, die politieke meerderheid (synde die ANC) én die minderheid (synde die wittes, die opposisie in die parlement) waarborg.

Ek kan nie meer sy presiese woorde onthou nie, maar sy boodskap het hiérop neergekom: Ons (die ANC) het goedgunstiglik toegelaat dat daar ʼn opposisie buite die ANC bestaan. Ons het nie die opposisie nodig nie; die ANC is groot genoeg dat die interne gesprek die plek van die permanente gesprek tussen meerderheid en minderhede kan inneem.

Wat my laat dink het dat Mandela duidelik beïnvloed is deur die tradisionele Afrika-kultuur en die Marxisme-Leninisme. In my navorsing oor sy politieke denke kan dit inderdaad ook bo alle twyfel bewys word.

In die tradisionele Afrika-kultuur gaan die ringkoppe in die kraal sit om ʼn probleem te bespreek, en hulle hou aan tot hulle konsensus het. Afhangende van hoe sterk die hoofman se karakter is, sal die konsensus sý wense weerspieël. En dan hou die gesprek op. Ook dié wat nie saamstem nie, verdedig die konsensus.

In die Marxisme-Leninisme bestaan iets soos “demokratiese sentralisme”. Lenin het bepaal dat kommuniste verskillende menings oor ʼn saak kan hê totdat die party standpunt ingeneem het. Dan val almal in.

In die Westerse liberale veelparty-demokrasie is die neem van die meerderheidsbesluit slegs die begin van ʼn nuwe fase, want die gesprek gaan voort en is inderwaarheid permanent. Die opposisie probeer meer stemme by die volgende verkiesing kry. Die Afrikaners (uiteraard met die uitsondering van die hanskakies) gaan voort om vir hul taal en kultuur te veg.

En hul reg om dit te doen, hang – anders as wat Mandela dié dag te kenne gegee het – nie af van die welwillendheid van die ANC nie. Die grondwet gee hulle daardie reg.

Dit beantwoord natuurlik nog nie Malema se uitlating nie: Het Mandela die revolusie verraai?

“Verraai” is natuurlik ʼn uiters emosionele begrip. My gevoel is dat dit die gesprek oor Mandela se erfenis nie verhelder nie, maar juis vertroebel.

Het Mandela ʼn kompromis gesluit? Ja, hy het. Lees jy sy geskrifte uit die jare vyftig voor sy veroordeling, asook sy geheime outobiografie wat hy op Robbeneiland geskryf het, en dit word duidelik dat hy toe ʼn dogmatiese aanhanger van die Marxisme-Leninisme was.

Plek-plek het hy die ideologie nie behoorlik verstaan nie, maar blindweg sy eie foutiewe begrip daarvan nagevolg.

Maar dis ewe duidelik dat sy 27 jaar in die tronk vir hom ʼn katarsis was. Veral in die jare tagtig het dit tot hom deurgedring dat ʼn totale oorwinning vir enigeen van die twee partye onmoontlik was, dat Suid-Afrika sonder ʼn kompromis in ʼn rokende puinhoop omgeskep sou word.

Gelukkig, al het oudpres. F.W. de Klerk duidelike foute gemaak, was dié realisties genoeg om dit ook in te sien, en het die twee ʼn kompromis aangegaan. Waarmee ʼn mens nie sê dat die kompromis ideaal was nie, maar jy moet ook weet wat die twee se beweegruimte in die lig van die destydse magsverhoudinge was, en wat die toekoms by ʼn voortsetting van die burgeroorlog sou ingehou het.

Nee, Mandela het nie die revolusie “verraai” nie. Hy het die politieke grootheid aan die dag gelê om die grense van die moontlike in te sien, saam met die prys wat betaal sou moes word as daardie grense willens en wetens oorskry word.

Maar uiteindelik was Mandela maar een mens. Soos dit met alles in die geskiedenis gaan, kon hy sy eie tyd help bepaal, maar sy opvolgers sou moes voortbou op die fondamente wat hy geskep het.

Helaas. Pres. Thabo Mbeki het al begin afwyk. En van Jacob Zuma wil ʼn mens nie eens praat nie.

Mandela was ver van heilig. Maar hy was wel die regte man op die regte plek en op die regte tyd, sy vroeëre kommunistiese oortuigings ten spyt.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Rooiman ·

Baie interessant. Ek verskil op een punt. Pienk Frikkie en sy verraaiersbende het nie die land gered van n “rokende puinhoop” nie. Hulle het dit veroorsaak en in werking gestel. Suid-Afrika is vandag n rokende, stinkende puinhoop. As die kompromie nie aangegaan is nie, sou die weermag en ander instellings, wat toe nog van die beste ter wêreld was, dalk die oorlog kon wen en die burgers kon beskerm teen die bose oormag, want vandag se staatsinstellings is lam en swak gelaat as gevolg van die verraderlike dade van die rugraatlose swakkelinge.

FW is n verraaier, hy het nie die land gered nie. Punt.
Mandela was n moordenaar en terroris. Punt.

Rooiman ·

Johan, ek het nie raad nie, behalwe om op die Here te vertrou. Hy het n doel met dit alles. Geloof in die drie-enige God is al wat ons sal deurdra. Sy redding sal kom op die tyd wat Hy bepaal. Dit is nie altyd maklik om geduldig te wees nie, maar dit is nodig.

Dit maak my net kwaad as mense die verraaiers en terroriste verdedig. Jy moet n spesiale soort dom wees om die logika te sien en glo.

Chris Lombard ·

Tot n sekere mate is elke mens maar n pragmatis. Mandela, die ANC en die SAKP het vir seker geweet dat hulle nooit n fisiese rewolusie sou kon wen terwyl die Weermag en Polisie onder Afrikaner beheer was nie.

Maar dit beteken nie hulle het die rewolusie laat vaar nie. Die belangrikste oorwinning was dat daar geen minderheidsregte in die Grondwet ingesluit was nie. Daarna kon hulle op hul tyd voortgaan met die NDR. Alles wat die ANC tans doen, moet in die lig van die NDR gesien word. Elke deel van die samelewing moes onder ANC beheer kom. Het Mandela hiervan geweet? Natuurlik. Hy het n rol gespeel. Weet Malema hiervan? Ja, natuurlik. Weet Malema dat swart mense in n fisiese rewolusie sou verloor het? Ja natuurlik. Weet jong swart mense wat Malema se teiken mark dit? Nee, min mense lees geskiedenis.

In lig hiervan was Malema se strategie slegs om sy hoof kompetisie (ANC) te diskrediteer, deur hulle hoof protagonis te diskrediteer, dit is al.

Boscia ·

Nou wat probeer die Oubaas nou sê wat ons nie weet nie. Ek kry sommer ‘n verveelde trek om my mond.

Tascha ·

Jong ek is nie so seker ek stem met die skrywer ooreen nie. Dit maak nie saak hoe mens die koppie draai nie die swartes wat so aangaan oor die struggle en hoe die wittes hulle alles ontneem het en hoe hulle keelvol is vir kolonialisme vergeet dat hulle in huise bly wat die wit man vir hulle gewys het om te bou, hulle ry luukse motors en dis ontwerp deur ‘n wit man, hulle kla oor dienslewering soos elektrisiteit ens dis alles goed wat hulle nooit sou hê sonder ‘n wit man nie. Steeds is ons in die minderheid en mag ons nie daaroor bitter word nie. Laat sy eie kaders maar van hom sê wat hulle wil ek onthou nie veel van apartheid nie maar ek kan foto’s van die 80’s sien en dit spreek boekdele van net nog ‘n terroris wat die witmense tot op hul knieë wou dwing met geweld en geen sprake van versoening of vrede of gelykheid nie.

Boscia ·

Tascha, gaan heen en lees bietjie die geskiedenis na – nie net onse Boere-geskiedenis nie, maar veel verder van die More (wat verantwoordelik was vir die alfabet en algebra) en hierdie outjies was swart en gaan kyk bietjie in Spanje na hulle latenskap daar. Miskien nog verder na die Ooste betreffende uitvindsels wat jou sal verstom. Ignorance is bliss, nê.

Trots Afrikaans ·

Ja Gerhardt, die oorlog is hier soos voorspel deur Siener. Die laaste 25 jaar het wel in die Afrikaner se guns getel deurdat die buitland se opinie en omstandighede besig is om te draai ten gunste van die Afrikaner.

Die wiel draai.

Soli Deo Gloria

Ebert Terblanche ·

Die 1994-oorgang kan slegs as kompromis beskou word indien die uiteinde daarvan tot ‘n permanente skikking sou uitloop.

Mandela het nie gekomproneer nie, hy het net sy tydsraamwerk vir die bereiking van al sy ideale op al sy voorwaardes met enkele dekades uitgeskuif.

Dit was nie die nuwe Grondwet wat in sy pad gestaan het om sy doelwitte vroeër te bereik nie, maar ‘n professionele staatsdiens (wat veral ‘n professionele polisiediens en weermag ingesluit het), wat buite sy invloedsfeer gestaan het en hom sou verhoed om buite die grondwet op te tree.

Dit was egter bloot ‘n tydelike probleem wat deur transformasie en kaderontplooiing reggestel kan word.

Met hierdie wete het hy en die ganse ANC hulleself nie te veel verknies oor die sg ‘kompromie’ nie en op die stippellyn geteken.

pieta ·

Agge nee wat.
Die sogenaamde professionele staatsdiens, weermag en polisie is uiteindelik van weinig belang.
Wat tel is eenvoudige rekenkundige werklikhede.
50 Miljoen teenoor 3 miljoen…

Frans ·

Na jare in die politiek is daar een ding duidelik en dit is , dat elke politikus op die ou einde ‘n diplomaat is wat jou hel toe stuur op so’n diplomatiese wyse dat jy eintlik uitsien na die reis.

En dit is presies wat in Suid Afrika gebeur het.As ‘n mens rofweg ‘n verdeling sou doen oor die stemme in die allerbelanrikste verkiesing sou jy die volgende verdeling kry;
+-50% van stemgeregtigde kieser stem ‘Ja’, 25 % ‘Nee’ en 25% bly buitestemming.

Die ‘Ja’ stem behaal dus ‘n oortuigende oorwinning want as jy buite stemmimng bly of jou stembrief bederf tel jou stem nie in ‘n ‘demokratiese verkiesing’ en moet jy berus by wat die meerderheid besluit het.

Met hierdie beginsel is geen fout te vinde nie.As daar gebeurtenisse was wat verhinder het
dat jy jou stem uitbring ,is dit een van die dinge wat bewys dat ons nie in ‘n perfekte wêreld lewe nie.

Wat ek nou skryf is my persoonlike opininie en het niks met enige politieke party uit te waai nie.

Omdat die ANC alle volke verskeidenheid geignoreer het en die swart stem as ‘n ‘homogene stem’ georganiseer en aan die wêreld voorgehou het, was die blanke stem
gedoem tot ‘n verpletterende nederlaag en dit is verstommend dat onderhandellaars hierdie feit geignoreer het.

Die grondwet wat uit dit voortgevloei het mag op papier die beste in die wêreld wees maar beteken niks as jy nie oor die nodige finansies beskik nie om jou regte te beskerm nie.

Daarvan getuig ander berigte elders.Omdat die Staat belastinggeld aanwend om sy doelwitte te bereik is jy altyd alleen in ‘n ongelyke stryd en bereik jy slegs iets as jy deel is van ‘n groter geheel.

Kon daar ‘n ander bedeling gewees het wat kon gewerk het- ‘Ja’ maar dit is mosterd na die maal. In die eerste plek was die NP verkeerd om ‘n Kodesa van politieke partye te belê.

Daar moes ‘n Kodesa van verteenwoordigers van die verskillende bevolkingsgroepe van die kleinste tot die grootste om die pad vorentoe te bespreek.In die grondwet wat dan daaruit gevloei het moes ‘n vetoreg ongeag aan elke bevolkingsgroep toegestaan gewees het om nadat daar onderhandel is bv. oor hoeveel Universiteite oopgestel sou word vir almal en hoeveel steeds volkseie sou gebly het ens, taalregte in die staatsdiens,onderwys ens.’n Minister kan dus nie net besluit om ‘n skool se taal en toelatingsvereistes te verander nie.

Verder moes konsesus bereik gewees het oor hoeveel verteenwoordigers elke bevolkingsgroep geregtig sou wees om deel uit te maak van die 400 verteenwoordigers.
Dit sou die kleurlinge en Blankes elk 40 verteenwoordigers gegee het wat hul dan in ‘n eie verkiesing sou gekies het.

Ja daar sou nog ‘n swart regering en President gewees het en sou konsensus altyd langsaaam en moeisaam bereik word maar ten minste sou geen regering dom besluite kon geneem het want die kleinste volkie se verteenwoordiger se stem sou getel het en omdat
getalle belangrik is sou dit ‘n belangrike faktor wees om mense te oorreed om Suid Afrika te bly.

Ongelukkig werk dit nie so nie en moet ons saamstaan in burgerlike organisasies soos buurtwagte ens om te bly oorleef.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.