Het ons nog perspektief?

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

Daar is altyd die gevaar dat ons só oorweldig word deur dinge wat eintlik vir ons onaanvaarbaar is in terme van beskaafdheid, dat dit dan uiteindelik die norm word. En dan moet ons dit eenvoudig “bestuur”.

Die ANC se onwerkbare ideologie word so deurlopend aan ons opgedwing dat die Suid-Afrikaanse samelewing al amper daarmee belyn het. Maar, wanneer die gevolg noodwendig tot mislukking lei, gee ons aandag aan die simptome van iets wat wêreldwyd áltyd misluk – sosialisme en kommunisme.

Die ANC is meesterlik om ekonomies-aktiewe landsburgers se skuldgevoelens oor die verdraaide landsgeskiedenis só te manipuleer dat hulle die agenda van transformasie – wat eintlik onder andere swart ekonomiese bemagtiging (SEB), gelyke-indiensneming en regstellende aksie is – ondersteun en tot uitvoer bring.

Hierdie party is egter nie skaam oor waarheen hulle op pad is nie. Daar is drie dokumente wat hulle rigting bepaal en in die praktyk selfs belangriker rigtinggewers as die Grondwet is.

  • Die eerste en bekendste daarvan is die Vryheidsmanifes – die Freedom Charter – wat skets hoe hulle die samelewingsorde sal wil sien funksioneer.
  • Daarmee saam moet kennis geneem word van die NDR-dokument (Nasionale Demokratiese Rewolusie). Die NDR beskryf die rewolusie waarmee die ANC steeds besig is en word in drie fases verdeel. Die eerste daarvan was om politieke mag te bekom. Daarna moet sosialisme gevestig word en uiteindelik sal die ANC dan beheer oor alle produksiefaktore in die land neem.
  • Die strategie- en taktiekdokument – “Strategy and Tactics – vervat al die ANC se besluite wat tydens hulle konferensies geneem word. Die ANC is daartoe verbind om hierdie besluite uit te voer.

Die wêreld het lank reeds van sosialisme en kommunisme afgesien, omdat dit altyd tot armoede lei en mense die reg om self keuses te maak, ontneem. Tog bly die ANC steeds daaraan vaskleef. Suid-Afrikaners word gevange gehou deur die kaders wat die stelsel tot hulle eie voordeel misbruik. Korrupsie word die norm en dié wat reg geplaas is, verryk hulleself ten koste van die land en sy mense.

Dit is natuurlik ʼn ope vraag in hoe ʼn mate die drieparty-alliansie, naamlik die ANC, SAKP en Cosatu, mekaar in hul verweefde ideologieë gevange hou en as waghond optree om seker te maak dat die gemeenskaplike doelwitte bereik word.

Ons moet oorweeg in hoe ʼn mate ons maar geskik het en nou aan die glybaan van transformasie meedoen waar ons gedwing word om die ANC se wense te vervul.

Die uitkoms van die transformasie-agenda wat die drieparty-alliansie nastreef, moet ons dalk laat herbesin. Ons moet daarteen waak dat óns die uitvoerders van die ANC-beleid word. Waar laat dit die land en sy mense wanneer hulle die doelwitte bereik het?

In hierdie stadium gryp die ANC steeds terug na die privaatsektor, wanneer dit wat hulle oor byna drie dekades vanuit ʼn puik winsgewende omgewing tot oneffektiewe stelsels verwoes het, sink.

Hulle het uiteindelik die monopolie op kragopwekking gedeeltelik laat vaar deur toe te laat dat die privaatsektor nou ook groter volumes krag mag opwek, omdat die tekort aan kraglewering hulle daartoe gedwing het.

ʼn Meerderheidsaandeel in SAL is aan ʼn privaatgroep verkoop nadat daar vir jare lank miljarde rande in dié bodemlose put gestort is. Daar het reeds heelparty vrae oor die “privaat konsortium” en die deursigtigheid van hierdie transaksie opgeduik.

Voorbeeld op voorbeeld van ʼn lang lys van mislukkings kan op vele terreine uitgelig word, hetsy as gevolg van onbevoegde aanstellings, korrupsie of besluite wat deur die ideologie gedryf is.

Tydens die eerste gedeelte van die Covid-19-inperking stel die departement van landbou met groot fanfare ʼn bedrag van R1,2 miljard aan “boere” beskikbaar om voedselvoorsiening te verseker. Die boere wat egter hierdie hulp ontvang het, dra maar ongeveer 3% tot die Suid-Afrikaanse voedselmandjie by.

Die einste departement is ook alweer met die soveelste landbou-meesterplan besig, terwyl al die vorige weergawes op die rakke lê en stof vergader nadat miljarde rande daaraan spandeer is. Hierdie keer word groot moeite gedoen om die rolspelers in die landbouwaardeketting in die plan te laat inkoop. Maar, die sosialistiese onderrok hang ongelukkig steeds ver uit en op te veel plekke word daar vir die regering ruimte gelaat om dit na hulle goeddunke te interpreteer. Ten spyte van sekere goeie insette in die dokument word dit ongelukkig steeds in die gees van die transformasie-agenda van die ANC gedoen. Daar word sterk op sogenaamde “private public partnerships” gefokus. Die regering het homself ongelukkig reeds as ʼn uiters onbetroubare vennoot bewys. Geen regdenkende persoon sal ʼn vennootskap skep waardeur die vennoot op selfverryking fokus sonder om enige opbouende bydrae te lewer nie.

TLU SA se inset van tien bladsye dui aan waarom die “meesterplan” steeds nie die regte resultaat gaan oplewer nie. Die departement wil graag hê dat TLU SA ook hierdie dokument moet afteken en oefen stewige druk daaroor uit. Dit is egter nie TLU SA of enige ander rolspeler se afteken wat die meesterplan ʼn sukses gaan maak nie, maar wel die markkragte.

Onder die ANC se beleidsomgewing het werkloosheid die afgelope aantal jare gestyg. Die ANC se oplossing is om net méér maatskaplike toelae uit te deel vanuit ʼn bron wat reeds vuisvoos aan belastings betaal is en lankal reeds ʼn versadigingspunt bereik het. Die entrepreneurs – wat bereid moes wees om onder gunstige omstandighede besigheid te doen – het na ander weivelde uitgewyk en besigheid en beleggings in ander lande gevestig.

Die ligte van bankrotskap sou al lankal begin flikker het as enige boerdery besigheid sou doen soos wat die regering dit doen. Suid-Afrika is inderdaad na rommelstatus afgegradeer, hoofsaaklik oor die regering se beleidsomgewing, onbevoegde kaderaanstellings en korrupsie.

Daar is basiese ekonomiese beginsels wat enige besigheid suksesvol moet toepas om volhoubaar besigheid te kan doen. Dit geld ook vir enige land. Wanneer daar enige bestuursbesluit geneem word, moet dit gedoen word met die wete dat die markkragte die laaste woord sal spreek. Ongelukkig is hierdie begrip nie by alle inwoners van die land deel van hulle beskouing nie.

In 1990 skryf professor Ali Mazrui, die Keniaansgebore Afrika-denker, die volgende: “Afrika het die verkeerde dinge by die Weste geleen, selfs die verkeerde komponente van die kapitalisme. Ons het die winsmotief geleen, maar nie die entrepreneursgees nie; die kapitaliste se voorsmaak vir hebsug, maar nie die aptyt om kreatief risiko’s te aanvaar nie”.

Nes die kapitaliste oral in die wêreld, wil óns kitskapitaliste ook ryk wees en besit; hoe meer en hoe gouer, hoe beter. Anders as die regte kapitaliste wil ons egter nie hard werk, risiko’s neem en vernuwing najaag nie. Ons wil liewer bestaande rykdom wat ander op die harde manier geskep het, afneem en “herverdeel”.

Dit is inderdaad ʼn negatiewe oefening om deesdae die werklikhede en wat dit in die praktyk vir ons elkeen meebring, toe te lig. Dit is wel belangrik om die werklikheid in die oë te staar en oplossings na te streef.

Dit bring ons by die vraag of ons perspektief behou het? Besef ons dat ons met die ondersteuning van sekere handelinge van die ANC inderdaad eintlik ons kinders van hul toekoms én die land ontneem?

ʼn Eerlike antwoord is dat ás ons ernstig is oor die toekoms, ons sal moet besef dat ons die beleidsomgewing van die ANC nie verder kan bekostig nie. Die afgelope tyd ervaar ons al hoe meer dat wanneer ʼn persoon ʼn redelike mate van opleiding en onderrig ondergaan en dan ʼn begrip oor produktiwiteit, winsgewendheid en ekonomiese groei ontwikkel, asook hoe noodsaaklik dit is om die ekonomie te stimuleer, hulle insig kry oor die doodloopstraat waarin Suid-Afrika nou ry.

Ons moet terugkeer na begronde waardes met etiese spelreëls wat die samelewing weer sal rig. In hoe ʼn mate dit moontlik sal wees om Suid-Afrikaners met hulle uiteenlopende lewens- en wêreldbeskouings so te verenig, is egter ʼn debat op sy eie. Dit bring ons gevolglik by die punt waar ons ernstige vrae moet vra oor die tipe bestel waarin Suid-Afrika bestaan, met uiteenlopende en selfs botsende beskouings wanneer dit oor waardes gaan. ʼn Federale bestel waar elke bevolkingsgroep volgens sy eie kultuurbeskouing oor eie sake kan handel, bied gewis meer stabiele omstandighede waarbinne daar volgens elkeen se eie oortuigings keuses gemaak kan word.

Intussen streef ons na uitnemendheid en om onsself so goed as moontlik toe te rus vir al die uitdagings. Die wyse hoe staatsinstellings in duie gestort het bring mee dat ons sterk op eie instellings moet fokus, veral ten opsigte van onderwys in alle fasette.

Ons moet oor die toekoms besin en ingevolge ons kultuuropdrag skeppend bou. Dit is egter God Drie-enig wat oor die uitkoms sal beskik. Regdeur die Woord word ervaar hoe God mense gebruik om Sy doelwitte te bereik. Is ons elkeen gereed om wel gebruik te kan word? Dit beteken dat ons heel eerste ons verhouding met ons Skepper moet regkry sodat ons die krag van gebed sal gebruik en vir wysheid bid, want dán sal ons op die regte tyd die regte antwoorde kry oor wat ons elkeen te doen staan.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Bennie Van Zyl

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie.

Deel van: Landbounuus, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Puik stuk.

JJB

Ondersteuning aan ‘n kriminele, verdelende bestel maak jou ‘n medepligtige. Ek stem saam met Bennie, die volgorde is GLO reg, DINK reg, DOEN reg.

Danie

Baie goed geskryf maar ek sit die laaste tyd en dink baie daaraan en vra myself die vraag. Hoekom is ons land so en wie het dit veroorsaak. Dan kom dit by my op politikuste en predikers. Jy sal nou vra hoekom predikers. Daar is n horde verskillende kerk groepe in ons land en wat my baie opval is hoe predikers mekaar aanval en afbreek nou gaan jy as gemeentelid na jou kerk en julle is so 1000 lede dan vertel jou leier dat hy het gebid en die Gees van God het vir hom so gese, maar net n… Lees meer »