Het Poetin hom miskien misreken?

Pres. Wladimir Poetin (Foto: Andrey Gorshkov /SPUTNIK/AFP)

Met die oorlog in Oekraïne nou sowat drie weke aan die gang, word dit steeds duideliker dat president Wladimir Poetin hom misreken het.

Hy – soos eintlik maar die hele wêreld – het verwag dat die magtige Russiese weermag soos ’n meedoënlose stoomroller oor die veel swakker Oekraïense verdedigers sou rol. Dit het nie gebeur nie.

Waarom nie? ’n Studie van die duisende nuusberigte bring aan die lig dat die Russe verskeie elementêre foute begaan het.

Die mees basiese fout is dalk dat hulle eenvoudig nie genoeg soldate en wapentuig ingespan het nie.

Hulle het blykbaar êrens in die omgewing van 180 000-200 000 soldate gebruik. Die probleem is dat Oekraïne ’n gróót land is – meer as 600 000 vierkante kilometer (vergeleke met die 1,2 miljoen vierkante kilometer van Suid-Afrika). Dis dalk voldoende om ’n veel swakker verdedigingsmag op die slagveld te verslaan, maar nie om die hele gebied duursaam te beset en tot bedaring te bring nie.

Daarby is die besetting van stede wat in puin gelê is buitensporig moeilik. Elke straathoek, elke gebou, elke dak, elke solder word ’n potensiële hinderlaag of lokval.

Dink maar aan hoe noustrop die Duitsers in Stalingrad in 1943 getrek het, of die Russe by die verowering van Berlyn in 1945 teen ’n Duitse weermag wat al op sy knieë was.

Reeds nou al gee ’n hooggeplaaste militêre raadgewer van Poetin, Wiktor Zolotof, hoof van die Russiese nasionale wag, toe dat “nie alles so vinnig gaan soos ons graag sou wou hê nie”.

Maar daar is meer. Luidens die Amerikaanse militêre inligtingsdiens (wie se ontledings tot dusver verstommend akkuraat was) het Poetin, met die tipiese selfoorskatting wat ’n totalitêre diktator soos hy kenmerk, bitter min mense van sy besluit om Oekraïne binne te val ingelig, en nog minder van hulle geraadpleeg.

Die gevolg was dat die Russiese weermag byna geen kans gehad het om hom op die “spesiale militêre operasie” (dis hoe die Russe dit noem, pleks van “inval”) voor te berei nie. Die logistieke apparaat was nie in staat om voldoende ammunisie, brandstof, rantsoene of mediese voorrade te vergaar nie.

En dus het die invallers reeds binne enkele dae ná die begin van die operasie met tekorte aan byna alles wat jy jou kan indink te make gekry. Voertuie – van vragmotors tot tenks en artillerietrekkers – het weens ’n tekort aan brandstof gaan staan. Hulle het nie genoeg ammunisie gehad nie.

Daarby is die operasie van stapel gestuur in een van die twee slegste denkbare jaargetye, naamlik die lente (die ander een is die herfs). In dié seisoen reën dit kwaai, en die omgewing word in ’n modderbad omskep waarin selfs tenks magteloos gaan staan het.

Hierby moet nog ’n faktor gevoeg word: Die vergaande korrupsie wat die hele Russiese samelewing – met inbegrip van die weermag – teister. Tydens die opmars moes sommige soldate ontdek dat die geldigheid van sekere van die rantsoene wat aan hulle uitgedeel is al in 2015 afgeloop het. Dus moes hulle die omgewing plunder bloot om aan die lewe te bly, en dit was beslis geen manier om die harte van die Oekraïense bevolking te wen nie.

Bowendien is ’n beduidende deel van die invallers eintlik sleggemotiveerde dienspligtiges. Hulle staan teenoor ’n groep vasberade Oekraïense verdedigers wat vir hul vaderland, hul vryheid en hul lewens veg. Dit maak dat hulle veel harder as die gemiddelde Rus, vir wie baie min op die spel is, veg.

Wat ook ’n verskil maak, is dat die Russiese invalsmagte hoofsaaklik langs die hoofpaaie opruk. Dit stel die Oekraïners in staat om die ruimtes vir ’n hoogs mobiele, guerrilla-agtige verdediging te gebruik.

Wyslik probeer hulle die Russe nie in kop-aan-kop-botsings stuit nie; hulle besef dat die Russiese vuurkrag veel groter as hul eie is. Dus konsentreer hulle op die flanke, agterhoede en logistieke linies van die Russe, waardeur hulle die opmars ernstig vertraag en soms selfs gestuit het.

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. (Foto: Reint Dykema)

Die doel is om tyd te wen sodat die internasionale druk op Moskou doeltreffend kan wees.

Intussen het die Russe Oekraïne uit drie rigtings binnegeval: Uit die noorde vanuit Belarus, uit die suide vanuit die Krim-skiereiland, en uit die ooste vanuit Rusland self. Hul hoofdoelwitte is die hoofstad Kiëf, die hawestede Marioepol en Odessa aan die Swart See, en groot stede soos Charkif en Lwif.

Maar met dié dat die Oekraïense weerstand die verwagte vinnige Russiese sukses onmoontlik maak, het die Russe nou klaarblyklik op ’n nuwe benadering besluit. In plaas daarvan om die Oekraïners op die slagveld te verslaan, laat hulle hul artillerie op die stede los.

Stelselmatig word die stede in woestenye omskep. Dis duidelik dat die Russiese kanonne nie merkbaar op militêre teikens fokus nie, maar dat huise, woonstel- en kantoorgeboue, skole en selfs herkenbare hospitale na willekeur gebombardeer word.

’n Onbekende hoeveelheid burgerlikes is al dood in waaroor die volkereg baie duidelik is: Dis oorlogsmisdade.

Altesaam 41 state het die Internasionale Strafhof in Den Haag reeds versoek om Poetin se oorlogsdade te ondersoek met die vraag of hy van misdade teen die mensdom aangekla moet word. Dis nie te sê dat dit gáán gebeur nie; tussen vae voornemens soos dié en die werklike gebeurtenis is ’n kloof so wyd soos die eindelose vlaktes van Siberië. Maar die blote feit dat daaraan gedínk word, sê al iets.

Op televisie sien ’n mens nou aand ná aand die ligflitse soos artilleriekartetse in woonstelblokke in die groot stede ontplof, en hoe ’n onophoudelike stroom vlugtelinge met byna net die klere aan hul lyf oor die grense stroom om van die geweld weg te kom.

’n Mens sou Poetin se optrede teen Oekraïne sekerlik vanuit uiteenlopende rigtings kon beoordeel. Jy kan dit as onuitgelokte aggressie sien, of as ’n geregverdigde manier om ’n bedreiging van ’n ooswaarts oprukkende Navo hok te slaan. ’n Mens kan ongetwyfeld ’n debat daaroor voer.

Maar oor die wýse waarop Poetin alle beskaafde norme oorskry, waarop daar in weerwil van oorlogsreg (wat Rusland onderskryf) jag op onskuldige burgerlikes gemaak word – dit het eenvoudig géén regverdiging hoegenaamd nie.

Dis trouens opvallend wie Poetin verdedig. Hier lê regse ekstremiste en mense soos Jacob Zuma lekker lepel in dieselfde loopgraaf.

Dit moet ’n mens laat dink.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
MT

Dit sal eenvoudig nie ‘n LS pennevrug wees sonder ‘n dwarsklap of teerkwas na Regses nie.

Ek geniet dit egter terdee, want dit wil voorkom asof selfs bejaarde historici ook maar na so ‘n bietjie aandag smag.

Doen so voort LS; ons geniet jou pogings!

Porseleintjie

Poetin het hom misreken – met God se hand oor Oekraine.

Treurwilger

Dit sal ‘n heuglike dag wees as iemand soos dr. Scholtz vir lesers kan verduidelik waarom NAVO-lande, met die VSA voor in die koor, dit goed gedink het om uitgebreide weermag-opleiding in Oekraiëne op die Poolse grens te doen? Dit, met Rusland/Poetin se jarelange vroegtydige waarskuwende aanmanings in gedagte.
As iemand nog nie die dokumentêr “Ukraine on Fire” van Oliver Stone gekyk het nie, bly eerder stil oor die tragedie wat afspeel.
Die VSA se hande is letterlik bloedrooi.

MT

Dankie annie. Ek geniet jou skrywes. 007 het definitief ‘n grootse uitdaging as dit kom by die ontluikende Zolly Stallone. Of is dit nou Zly Stallone?

MT

Fantastiese skrywe. Wonder wat is die Oekraïens vir Flat Wheel?