Het SA ‘n stemdemokrasie geword?

Die stof wil maar net nie in die Midde-Ooste gaan lê nie. In Sirië baklei groot dele van die bevolking teen nóg ʼn Arabiese diktator om vryheid te verwerf, bepaalde demokratiese regte te verkry en die reg om hul leiers deur middel van die stembus te kies. Die Arabiese Bond het sanksies teen pres. Basjir al-Assad ingestel, en die Siriese regime is bloot woedend en uitdagend daaroor. Oudpres. Hosni Moebarak se onttroning is nog vars en Egipte brand klaar weer oor die tussentydse regering nie gou genoeg demokratiese hervormings instel nie. In Afrika wys die voorverkiesingsgeweld en amptelike intimidasie in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) dit is ver van ʼn demokratiese republiek af. Dit laat mens wonder: Kan die demokrasie buite die Weste oorleef? Nog meer tersaaklik: Kan dit in SA oorleef? Onlangse gebeure skets ʼn droewige antwoord.

Toe oudpres. FW de Klerk die ANC en die SAKP ontban en diskriminerende regulasies begin afskaf het in die vroeë 90’s, het dit in ʼn atmosfeer van vernuwing plaasgevind. Die Berlynse Muur het immers geval en kommunisme was ontdaan van alle geloofwaardigheid en het ook de facto begin verbrokkel. Hierin het De Klerk ʼn gaping gesien en naïef geglo dat met die Sowjet-unie as die ANC se internasionale bondgenoot teen die planke, ontsluit dit ongekende geleenthede om ʼn nuwe soort demokrasie in Suid-Afrika te skep. Internasionaal het minderheidsregte, universele stemreg en die demokrasie groot gewildheid verwerf, het hy geglo. Met hierdie waardes in plek sou die politieke mag van die Afrikaner – in die vorm van magsdeling met die ANC – die grondslag van ʼn nuwe bedeling in die land vorm.

Dit was immers so dat die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) ʼn mate van kosmetiese politieke mag vir die Afrikaner verseker het, maar die feit het bly staan dat die ANC ʼn oorweldigende oorwinning in 1994 en daaropvolgende verkiesings behaal het en dat die Nasionale Party net as ʼn junior vennoot aangehou is. De Klerk het in 1996 uit die RNE bedank en daardie jaar is die permanente Grondwet aanvaar. De Klerk en Roelf Meyer het dus vir twee jaar uit ʼn posisie van politieke onmag vir die hoogste wet van die land onderhandel en in die proses is sekere belangrike aspekte agterweë gelaat. Die Grondwet, met al sy deugde, het toe nie heeltemal vir die dag-tot-dag sake van demokrasie en minderheidsregte voorsiening gemaak nie. Outonomie vir minderhede is in vae bepalings soos artikel 185 vervat terwyl kultuurregte dubbelsinnig in ander bepalings neerslag vind. Terwyl minderhede en volkere in die res van die wêreld en veral in die voormalige Sowjet-blok en ook die Weste (bv. Skotland en Katalonië) outonomie en volwaardige onafhanklikheid bekom het, het minderheidsregte in ʼn sentralistiese unitêre staat en Grondwet verdwyn.

Dus is verkiesings gehou soos vereis word, maar die fynere nuanses van die demokrasie – soos die regte van minderhede, die oppergesag van die Grondwet en die skeiding van magte – is mettertyd deur die ANC se politieke mag weggekalwe.

Die ANC was bepaald bewus van die feit dat die politieke mag vir baie lank syne sou wees. Die res van Afrika se eenparty-state en bevrydingspolitiek het hierdie tendens immers bewys. Die ANC het oorweldigend in verkiesings geseëvier. Die demokrasie behels baie meer as net verkiesings, soos wat in Irak en Afganistan bewys is. Die regerende party se Nasionaal Demokratiese Rewolusie (NDR) het die goeie bedoelinge van die Grondwet begin vervang.

Minderhede moet opsy staan vir transformasie, kader-ontplooiiing en rassekwotas word slaafs nagejaag ten koste van meriete en die skade aan dienslewering en die uitvoerende gesag dreig en ondersoek die howe, vernaam die Grondwetlike Hof, asook die media. Die skeiding van magte tussen die uitvoerende, regsprekende en wetmakende owerhede vervaag derhalwe, die kritiese stemme word stilgemaak, die oppergesag van die reg word geminag deurdat die president op baie twyfelagtige wyse op ernstige aanklagte voor sy bewindsopname vrygespreek word en minderhede se reg op outonomie, wat die Weste en selfs China met sy provinsies aan uitvoering gee, het almal tot wisselende mates in Suid-Afrika aangetas.

Die bekroonde politieke wetenskaplike Arend Lijphart het aangevoer meerderheidsbewinde werk slegs goed as daar voldoende beskerming vir minderhede bestaan en as hulle politieke inspraak gegun word. Helaas het die donker “ander kant” van die munt in Suid-Afrika wel gebeur en die land het bloot toe ʼn stemdemokrasie met residuele demokratiese regte geword. Hiermee word die meerderheid se mag verseker en ware demokrasie is ʼn hersenskim in Suid-Afrika. Terwyl verkiesings belangrik is, is verkiesings in ʼn eenparty-staat – waar sekere areas verbode is vir die opposisie om stemme te werf, kiesers geïntimideer word, minderhede geen kans het om hul stem te laat hoor nie en daar nie ʼn redelike kans van magswisseling is nie – niks meer as ʼn rubberstempel op ʼn uitgemaakte saak nie. So waar die NP vir demokrasie in ʼn omvattende vorm wou onderhandel met die internasionale omgewing van die tyd as bloudruk, het die ANC ander idees gehad . . . en toe grootliks hul sin gekry.

Waar mag gereeld in die Weste en Australasië in verkiesings van een party na ʼn ander verskuif, is die teenoorgestelde toenemend waar in die res van die wêreld. Suid-Afrika het hom by talle ander “demokratiese” eenparty-Afrikastate aangesluit waar die staat en regering ononderskeibaar geword het en die staatsapparaat bloot gebruik word om die regering van die dag se ideologie tot uitvoer te bring. Die lang lys sluit in Angola onder die Marxistiese MPLA, Kameroen onder die RPDC, Ethiopië onder die EPDRF, Mosambiek onder FRELIMO, Zimbabwe onder SANU-PF en selfs Botswana onder die BDP. Dit lyk nie veel beter in ander wêrelddele nie, met pres. Hugo Chavez se PSUV wat sedert 1999 die land regeer, pres. Wladimir Poetin wat vir ʼn lewenslange bewind in Rusland mik en Midde-Oosterse diktators wat slegs deur staatsgrepe, opstande en die Arabiese Lente onsetel kan word.

Die demokrasie, soos dit in die Weste verstaan word met afwenteling van mag, selfregering, minderheidsbeskerming, wigte en teenwigte op die regering se mag, ʼn vrye en kritiese media, die skeiding van magte en vrye en mededingende verkiesings, is nou in meer gevaar as ooit in die res van die wêreld. Demokrasie in Grieks beteken “regering deur die mense”, maar in Suid-Afrika het die regering die demokratiese instellings vir homself toege-eien en die mense sodoende ontmagtig. Die grootste rede hoekom De Klerk en Kie uitoorlê is in die onderhandelingsproses is omdat die Afrikaners ná 1948 gaandeweg minder in die politiek begin belangstel en ander beroepe buite die politiek in die sakesektor en mynwese begin najaag het – die politieke oorwinning was mos verseker en nou was dit tyd om geld te maak en middelklas te word. Die teenoorgestelde was waar van die ANC, wat toe ʼn uiters polities bedrewe was. In die 90’s was ons politieke menskapitaal dus so dun gesaai dat ons demokratiese regte déúr Dawid en téén Goliat (Cyril Ramaphosa) onderhandel is.

Dit is tyd dat ons hierdie kapasiteit hervestig deur burgerlike instellings en politieke strategieë want anders as in 1948 is die situasie in 2011 van oorlewingsbelang.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.