‘Het Zuma darem iéts goeds gedoen?’

jacob-zuma

Pres. Jacob Zuma. Foto: Governmentza/Flickr

Iets meer as ’n week gelede moes ek in Amsterdam gesels met ’n groep jong mense wat Suid-Afrika binnekort gaan besoek. Ek moes hulle iets oor die politieke situasie in ons land vertel.

Ek het my bes gedoen om objektief te bly en die goeie én slegte kante te belig. In die proses kon ek dit egter nie vermy om my behoorlik krities oor die ANC-regering uit te laat nie.

In vraetyd kry ek toe die volgende vraag: “Maar het pres. Jacob Zuma darem iéts goeds gedoen?”

Ek moes vinnig dink. En ja, daar uit die agterkant van my geheue onthou ek hoe Zuma in die aanloop tot die 1994-skikking goeie werk gedoen het om die konflik tussen die ANC en Mangosuthu Buthelezi se IVP te ontlont.

Dit noem ek toe, met die gevolgtrekking dat hy gehelp het om ’n eskalerende burgeroorlog in Kwazulu-Natal te beëindig.

Nee, was die opvolgvraag: “Ek bedoel sedert hy president geword het.”

En daar stáán ek. Ek dink en dink. Ek probeer regtig dink aan iets, enigiets, wat Zuma sedert sy bewindsoorname in 2009 gedoen het wat ’n mens positief kan beoordeel.

Vir ’n breukdeel van ’n oomblik het ek dit oorweeg om te sê die president kan so mooi dans. Maar dié poging tot humor sou heeltemal platgeval het

En daar stáán ek. Ek kan aan níks dink wat pres. Jacob Zuma sedert 2009 gedoen het wat goed vir die land was nie.

Dis wat ek toe moes sê. Met die een uitsondering wat ek hierbo genoem het (en dalk het ek iets vergeet), was Zuma nie slegs sedert 2009 nie, maar regdeur sy politieke loopbaan ’n ramp.

In die struggletyd was Zuma ’n prominente lid van Mbokodo (die uitgeholde rots waarop vroue tradisioneel mieliepitte fyn stamp om meel te maak), oftewel die ANC se geheime polisie. Mbokodo het ’n onheilspellende klank gekry as die rots waarop andersdenkendes en diegene wat na die oordeel van die leiers ’n politieke bedreiging vir hulle vorm, fyn gestamp word.

Talle ANC-lede wat groter verantwoordbaarheid van hul leiers geëis het, is deur Mbokodo aangehou en gruwelik in tronkkampe mishandel, gemartel en selfs vermoor. Van dié beweging, wat selfs Oliver Tambo nie behoorlik in toom kon hou nie, was ene Jacob Gedleyihlekisa Zuma ’n prominente rolspeler.

Dít was waar hy sy politieke verstand gekry het. Dít was waar hy geleer het hoe om politiek te bedryf.

Dit kan jy soos ’n goue draad regdeur sy politieke loopbaan sedert 1994 sien. Eers was hy leier van die ANC in Kwazulu-Natal, waar hy politieke mededingers binne én buite die ANC meedoënloos uitgeskakel het; toe word hy visepresident, word afgedank, veg terug – en seëvier uiteindelik.

Daardie oorwinning van hom einde 2007 by die ANC-kongres in Polokwane was die gevolg van noukeurige voorbereiding. Hy het hom voorgehou as die gemoedelike, menslike alternatief vir die afsydige, houterige Thabo Mbeki. Hy het gesorg dat hy al die vernaamste magsentrums in die ANC – die Nasionale Uitvoerende Komitee, die Vroueliga, die Jeugliga (onder Julius Malema), die SAKP, die takke – aan sy kant kry om Mbeki ’n bloedneus toe te dien.

Toe word hy president. As staatshoof is hy deur drie oorkoepelende beginsels gelei: Jacob Zuma, Jacob Zuma en Jacob Zuma.

Omdat hy gunste en gawes kan uitdeel, het ’n groot deel van die ANC gaan lê. Die ANC-koukus in die parlement en ander partystrukture steun Zuma deur dik en dun, maak nie saak wat hy doen nie.

Stelselmatig het hy aan die pote van die demokratiese tafel begin saag deurdat die pote se onafhanklikheid steeds meer aan bande gelê is:

  • Die nasionale vervolgingsgesag is bevolk met sy ondersteuners.
  • Hy het die Regsdienskommissie deels met sy eie kornuite gelaai, ’n proses wat voortduur.
  • Hy het sommige van sy volgelinge – ’n mens dink aan die omstrede regter John Hlope – op die regbank gekry om hofbevindings in sy guns te swaai. Hlope het immers na bewering druk op kollega-regters uitgeoefen om Zuma in hul beslissings ter wille te wees.
  • Hy het gunste en gawes aan die familie Gupta en die sakeman Iqbal Survé, besitters van koerante en televisiestasies, uitgedeel om goeie publisiteit te “koop”. Ook die SAUK is onder ’n bewese leuenaar, Hlaudi Motsoeneng, ’n verlengstuk van die ANC en Zuma.

Wat nog sterk staan, is die res van die media, die openbare beskermer (adv. Thuli Madonsela), die grootste deel van die regbank, en ’n minderheid in die ANC. Maar ’n mens hoor kort-kort van planne om die media aan bande te lê. En wanneer Madonsela in Oktober vervang moet word, verwag maar dat ’n Zuma-sikofant die pos gaan kry.

Die Zuma-weergawe van transformasie is nog nie verby nie. Daar word baie gepraat oor “staatskaping” deur die Guptas. Zuma verleen sy aktiewe medewerking daaraan.

Daar is ewenwel een struikelblok wat hy moeilik uit die pad kan kry – die Grondwet. Ek weet allerlei kritici gaan nou weer potte vol op my kop omkeer, maar die Grondwet is ’n wapen wat reeds herhaaldelik deur die burgerlike samelewing (dink maar aan Afriforum en Solidariteit en die vrye pers) gebruik is om die ANC se planne te fnuik.

Dis geen perfekte dokument nie, maar in bepaalde omstandighede baie bruikbaar.

Maar ’n Grondwet kan net werk as die burgerlike samelewing hom láát werk. En dit is die belangrikste instrument om Zuma se voornemens te blokkeer.

Dieselfde Grondwet bepaal ook dat ’n president slegs twee termyne mag dien. Dit beteken dat hy teen 2019 die pos móét ontruim.

Maar Mbeki het reeds die pad aangedui waarlangs dié bepaling omseil kan word. Mbeki het ’n mislukte poging aangewend om ANC-leier te bly en die toutjies vanuit Luthuli-Huis in Johannesburg te bly trek. Hy het hom met Zuma se sluheid misreken.

Iets dergeliks kan ’n mens weer verwag. Zuma is nie die soort mens wat hom laat blokkeer deur wat hy as ’n stuk papier beskou nie.

Die munisipale verkiesings van 3 Augustus kan egter ’n rol speel. As die ANC sleg vaar, kan dit Zuma se opponente in die ANC ammunisie verskaf om hom hok te slaan.

Die begeerte is daar. Daar is genoeg ANC-mense wat besef hy is ’n ramp, maar hulle moet, gegewe die ongunstige magsverhoudinge, baie versigtig optree.

Hoe ook al, die komende maande en jare gaan ’n klipharde magstryd in die ANC oplewer. Dit gaan gruwelik interessant wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Sandra ·

Ja ek sou ook met my mond vol tande moes staan as ek op so ‘n vraag moes reageer. Ek kan REGTIG nie aan iets goed dink nie. Hopelik bring die mense hul griewe uit op 3 Aug per stembrief.

Francie ·

A nee a! Ons oordeel gans te vining. Die man kan onthou word vir die talle voorbeelde wat hy gestel het tydens sy ampstermyn.
Hy is by uitstek ‘n eggenoot en vader – watter voorbeeld van nasiebou is hy nie?
Hy het ons geleer om met net die beste tevrede te wees – sy huis, vliegtuig, en klerestyl is hiervan maar ‘n paar voordele. Die waarde van ‘n gereelde stortbad was vir hom baie belangrik – deur voorbeeld is hy is self ‘n getroue ondersteuner daarvan. Verder het hy ons ook geleer om gereeld oorsee te reis, en veral om die waarde van vriendskappe met die Midde-Ooste en China te ontgin. Dan het hy sy parlement ook geleer om selfstandig te funksioneer deur hulle so min as moontlik met sy teenwoordigheid te ontsenu. Hy het ook op taalkundige gebied sy deel gedoen en ons geleer om Nkaaandla reg uit te spreek. En laastens, maar nie die minste nie, hy het ons leer lag en self ‘n goeie voorbeeld daarvan in die parlement gegee, Ghe, ghe ghe .

Kosie. ·

Sjoe Maria van Dieweek, dis verskriklik, maar ja ons kan nie daarteen stry nie. Hoekom hang sy volksgenote hom so aan? Ek verstaan nie.

Theuns ·

Dankie Leopold. Al is jy ver in Nederland kon jy maar netsowel hier gewees het so akkuraat is jou kommentaar. Groete

John ·

Francie, jy het net vergeet om te se hy het Zapiro skatryk gemaak, Malema mooi grootgemaak, o ja, en onthul dat Jan van Riebeeck die eerste Afrika-skelm was.

Rupert Ashford ·

Ja Leopold, groot stryd kom in die ANC met die hele Suid Afrika die verloorders. Hy het alles opgevoeter en verswak en vir ons iets soos die EFF gegee. Hoewel mens hom dalk nie te veel krediet moet gee nie. Oets soos die EFF sou seker in elk geval sonder sy hulp ontstaan het in die tye waarin ons leef.

Johan ·

‘n Bietjie humor.
Lankal, op die dorpie waar ek gewoon het was daar ‘n tante wat altyd iets goed in almal gesien het. Op ‘n dag was sy gevra wat kan sy dan goed van die duiwel se. Na ‘n lang ruk se dink het sy geantwoord ” Julle moet erken, hy is darem ‘n baie hardwerkende ou”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.