Dit is waarom beslaglegging op grond (vir eers) van die baan is

transformasie-grondwethof-prof-koos-malan-02

Prof. Koos Malan van die departement publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Foto: Reint Dykema.

Die ANC is ʼn linkse, fundamenteel sosialistiese organisasie. Hy glo aan ʼn gesentraliseerde staat onder streng partybeheer, met maksimale materiële middele om ʼn afhanklike bevolking van staatsweë te versorg. Alle instellings wat onafhanklik mag optree, is vir hom ʼn gevaarlike bedreiging omdat dit sentrale partybeheer kortwiek. Hulle moet gevolglik uit die pad gekry of onder die beheer van die party gebring en onder die staat departementaliseer word. Dienooreenkomsrig het die ANC reeds male sonder tal verklaar dat alle sektore en hefbome van mag onder partybeheer gebring moet word.

Oor die afgelope meer as twee dekades sedert die ANC aan bewind gekom het, doen hy alles in sy vermoë om hierdie voorneme deur te voer.

Die ANC hou ook nie van private eiendom nie. Dit is vir hom ʼn steen des aanstoots omdat dit private en korporatiewe eienaars se vryheid waarborg en hulle in staat stel om vry standpunte te stel en die ANC teen te staan. Daarom is die ANC nog altyd vyandig teenoor private eiendomsreg. Die ANC hou per slot van rekening sy bondgenootskap met die Kommunistiese Party nougeset in stand. Die ervaring leer dat privaat eiendom vir die ANC eintlik slegs in een geval goed is, naamlik wanneer hyself, sy leiers en sy meelkopers voordeel daaruit kan trek. In beginsel is hy egter daarteen.

Sedert die ANC in 1994 regeringsmag bekom het, het hy reeds grootskaals op bestaande private eiendomsreg inbreuk gemaak. Alle BEE-projekte volgens die ANC-resep kom ten slotte daarop neer. Mineraalregte is in beginsel sonder vergoeding en met die seën van die konstitusionele hof genasionaliseer en die beoogde staatsgesondheidsplan kom in beduidende mate ook neer op staatsoorname van die private gesondheidsbedryf.

Toe die ANC dus in Februarie vanjaar op aanstigting van die EFF besluit het om stappe te begin doen om op die grond beslag te lê (onteiening sonder vergoeding), het hy nie skielik van aard en karakter verander nie. Inteendeel, hy het juis getrou volgens sy eie aard opgetree.

Nogtans het die ANC vir lank daarvan blyke gegee dat hy privaat eiendomsreg en ʼn vryemarkekonomie betreklik goedgesind is. Dit was die geval tydens die Mandela- en die Mbeki-bewind, veral in navolging van die Gear-beleid (ekonomiese groei, gelyke indiensneming en herverdeling), oftewel die Growth, Employment and Redistribution (Gear)-beleid wat onder Mbeki gevolg is.

Hoe moet hierdie oënskynlike wisselvalligheid – die swaaie vanaf pro- tot anti-eiendomsreg en tussen die vrye mark en sosialisme – verklaar word?

land-grond-landbou-deur-edouard-tamba-unsplash

Foto: Edouard Tamba/Unsplash.com

Die ANC doen wat hy kan; nie wat hy wil nie

Die antwoord is dat die ANC nie doen wat hy wil nie; hy doen wat hy kan, oftewel wat hy toegelaat word om te doen. Hy vertroetel sosialistiese idees en is inherent afkeurend teenoor die vrye mark en eiendomsreg, maar die feite van ʼn besondere situasie kan hom vir die oomblik verhoed om sy sosialistiese begeertes openlik en daadwerklik in werking te stel. Dan moet hy vir eers, dit wil sê, tydelik, terugval tot tyd en wyl die situasie weer gunstig is om ooreenkomstig sy sosialisties-gesentraliseerde DNS op te tree.

Aan die een kant het die ANC dus ʼn langtermyn-sosialistiese visie en strategie, maar aan die ander kant moet hy vanweë omstandighede wat vir hom ongunstig is, tydelike toegewings maak. Soos die ANC dit self in sy eie tipies opgesmukte (oënskynlike) geleerde taal stel, moet die balance of forces in ag geneem word. Die kragte (forces) teen die sosialistiese ideaal mag so sterk wees dat hy tydelik eers met die vrye mark moet vrede maak en eers private eiendom moet verdra, nie omdat hy wil nie, maar omdat hy vanweë die kragte wat teen hom werk, nie anders kan nie.

Dis presies waar die ANC en nou staan. En dis presies waarom die beslaglegging op grond myns insiens vir eers van die baan is. Dit is die geval in weerwil van die feit dat die proses om die Grondwet te wysig (om meer uitdruklik vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak) onder die aanvoering van die ANC in volle swang is. En dit is die geval nieteenstaande die feit dat AfriForum nie op 30 November ʼn gunstige uitspraak in die Wes-Kaapse hooggeregshof Kaapstad gekry het nie.

Die rede vir my oënskynlike optimisme met betrekking tot die beslaglegging op grond, is dat die kragte wat tans teen die inwerkingstelling van so ʼn maatreël is, net eenvoudig so sterk is dat die ANC nie kan waag om dit in te stel nie.

Foto: Twitter

Die kragte is teen die ANC

Verreweg die belangrikste krag is die treurige stand van die ekonomie gepaardgaande met die volle geweld van die gevolge van twee dekades van staatsverval deur transformasie waarvan die ineenstorting van Eskom die beste voorbeeld is. Die agteruitgang van die ekonomie dreineer die staatskas dermate dat geld vir toelaes en dienste wat die armes se stemme vir die ANC moet koop, vinnig besig is om op te raak. Groeiende begrotingstekorte wys dit duidelik.

Presies om daardie rede moet Ramaphosa en sy kamerade, met inbegrip van mense soos Pravin Gordhan (wie se ou kommunistiese verbintenisse bo verdenking staan) nou naarstigtelik poog om die ekonomie en sodoende die ANC te red. Hulle moet dringend buitelandse beleggings werf. En dis duidelik dat hulle dit ook in die VSA en Wes-Europa moet vind, want die helpende hand uit China is te suinig en vir sover die Chinese wel hand bysit, kom dit teen ʼn hoë prys.

Die beleggings moet werk skep. Nog belangriker: dit moet die stroom na die staatskas aanvul sodat die armes onderhou en hul steun gekoop kan word soos dit in die verlede gekoop is.

Dog, beleggers belê net as daar infrastruktuur is: verbindingsweë, water, sanitasie en natuurlik energie – elektrisiteit. Moderne ekonomieë is almal elektrisiteitsekonomieë.

In die ou dae was elektrisiteit in Suid-Afrika (danksy die versiende beplanning van gehate minderheidsregering) ʼn bykans vanselfsprekende gegewe, selfs toe die ekonomie in die sestigerjare teen ses persent gegroei het. Nou is dit elektrisiteitsvoorsiening met ʼn ekonomiese groeikoers van nul persent vanweë Eskom se verval ʼn vanselfsprekende probleem.

Die gevolg hiervan is rampspoedig vir Ramaphosa en sy kamerade. Hulle moet nie net beleggings probeer werf nie. Hulle moet die onmoontlike probeer regkry deur Eskom te red. Die rampspoed van infrastrukturele verval en ʼn bouvallige staatsdiens kring natuurlik veel verder uit as dit. Eskom is bloot die mees skouspelagtige voorbeeld van die algemene regeringsmislukking.

Die tweede krag wat teen beslaglegging tel, is die verwarring en waarskynlike agteruitgang van die EFF. Malema en sy EFF met wie ʼn beduidende faksie van die ANC groot simpatie het, blaas die vlamme van rassehaat, grondgryp en dergelike buitensporighede aan. Malema kan dit ongestoord doen, want hy hoef nie die verantwoordelikheid van dié soort dwaashede te dra nie. Sy aanstigting kan vir hom net verdere voordele (uitgedruk in groter kiesersteun) meebring.

Dog, die beleggings wat die leiers van die EFF – Malema en Shivambu – volgens die een ná die ander berig en verslag in korrupte aktiwiteite gemaak het, lewer nou ʼn welige opbrengs. Die EFF word (geregverdig) in ʼn baie swak lig gestel en dit gaan na alle waarskynlikheid op ʼn swakker as verwagte oes by die stembus uitloop. Sommige waarnemers praat reeds van ʼn skouspelagtige in duie storting van die EFF.

Vir Malema kom dit in ʼn slegte tyd, naamlik in ʼn seisoen van opwelling teen korrupsie en korruptes; en op ʼn tydstip waarin vervolging vanweë die korrupte bedrywighede – anders as tevore – nou hoog op die agenda is.

Terselfdertyd is die Zuma-faksie ook aan die taan, na mate die een na die ander eertydse Zuma-lojalis, veral vanweë die bedrywighede van etlike kommissies van ondersoek, in die slag bly.

Hierdie gebeure gee Ramaphosa ook kans om asem te skep. Met verlaagde druk van heethoofde in eie geledere en die EFF in verwarring, kan hy dit nou makliker waag om ekstremistiese projekte soos grondbeslaglegging op die lange baan te skuif.

Die derde krag is dat die georganiseerde burgerlike samelewing onder die minderhede, met AfriForum aan die voorpunt, nou so sterk is soos nog nooit tevore nie.

AfriForum, talle landbouorganisasies, die Suid-Afrikaanse Instituut van Rasseverhoudinge en dergelike ander instellings het aansienlike openbare ondersteuning teen grondbeslaglegging aangewakker. AfriForum se internasionalisering van die beslagleggingskwessie in samehang met die plaasgeweld was uiters suksesvol. Dis is van besondere belang juis omdat Ramaphosa as ʼn gematigde persoon op die wêreldtoneel moet poseer ten einde te probeer om die hulp te verseker wat hy van buite nodig het om die ekonomie te red.

Te midde van hierdie klaaglike toestand is daar nouliks enige beweegruimte vir dwase projekte soos beslaglegging op grond. Ramaphosa en sy ondersteuningskring is terdeë hiervan bewus.

Die kragte wat teen beslaglegging werk, gaan egter nie die ANC verhoed om te probeer om die Grondwet te wysig om beslaglegging in duideliker terme te magtig nie. Inteendeel, hulle moet die ekstreme linkerflank (die EFF en ʼn deel van die ANC) se aandrang op onmiddellike grondbeslaglegging, veral met die oog op aanstaande jaar se verkiesing, van hul nekke afkry. Ramaphosa moet derhalwe wys dat hy tot ʼn Grondwetwysiging verbind is. Om die Grondwet te wysig, gaan egter nog heelwat tyd neem.

Argieffoto

Eerstens gaan die gebreke in die openbare raadplegende proses nog eers in die hof getoets word. As dit nie suksesvol is nie, gaan dit ten minste heelwat tyd neem. Tweedens moet ʼn wetsontwerp wat vir die grondwetwysiging voorsiening maak, voorberei en gedebatteer word. Dan moet dit aan ʼn openbare deelnameproses onderwerp word, wat etlike maande kan duur. Tydsgewys plaas dit ons reeds betreklik ver anderkant aanstaande jaar se verkiesing. Selfs ná die wysiging gaan dit waarskynlik steeds in die hof betwis word.

Belangriker egter, is dat die wysiging na alle waarskynlikheid baie gering gaan wees. Dit moet gering wees, want Ramaphosa moet potensiële beleggers oortuigend paai. Beslaglegging sal byvoorbeeld net gemagtig word in uitsonderingsgevalle waar grond suiwer vir spekulasiedoeleindes gebruik word of drasties deur ʼn eienaar, wat in elk geval nie op die grond teenwoordig is nie, verwaarloos word. Dit is byvoorbeeld nagenoeg wat die Kommunistiese Party se beskouing behels. Dit laat die gewone grondeienaar – ook van landbougrond – betreklik veilig. Trouens dit laat eienaars in wesenlik dieselfde posisie as wat hulle tans is.

Teen hierdie agtergrond, skyn dit asof beslaglegging inderdaad nie voor die deur is nie – asof dit inderdaad suksesvol afgeweer is.

Dit geld egter slegs vir die kort termyn, naamlik totdat die ewewig van kragte – die balance of forcesgunstiger is en dit wel moontlik maak om dit deur te voer. Dit sal wees wanneer die ergste infrastruktuuragteruitgang stopgesit is, die ekonomie weer groei en die staatsfinansies weer in ʼn beter posisie is. Dit kan egter nog baie jare duur alvorens dit gebeur.

Wanneer verklaar word dat grond inderdaad in die afsienbare tyd nie sonder vergoeding gekonfiskeer gaan word nie, beteken dit egter nie dat gesê word dat Ramaphosa en die ANC tot die vrye mark bekeer is nie. Glad nie. Hulle bly fundamenteel links en sosialisties en hulle beskou presterende wit mense met ʼn klomp bates steeds as die produk van ʼn oersonde (original sin) – Ramaphosa se eie woorde. Beslaglegging is derhalwe nie in beginsel en permanent van die baan nie; dis slegs tydelik en voorlopig van die baan. Ramaphosa en sy volgelinge gaan hulle dus nie nou van beslaglegging weerhou omdat hulle nie meer op grond wil beslag lê, maar bloot omdat hulle nie kan nie – in elk geval nie nou nie.

Pres. Cyril Ramaphosa. Argieffoto: Elmond Jiyane.

Slotsom

Vertrou egter nie die vrede nie en wees die heel tyd bedag, want die ANC, Ramaphosa inkluis, is steeds tot hul oer-links-sosialistiese politiek verbind en Mogoeng sal steeds hand bysit waar hy kan. Hulle wil steeds grond vat sonder om daarvoor te betaal. Die enigste wyse om dit te verhoed, is om dit deurlopend vir hulle onmoontlik te maak om dit te kan doen.

En dit is inderdaad moontlik, want die kragte teen die ANC plaaslik en in die buiteland het oor die afgelope jare beduidend versterk en die ANC is baie gevoelig daarvoor. Versterk dus energiek die burgerlike organisasies verder, want hulle bied ten slotte die borswering teen die ANC.

Wees ook bedag op allerlei onderduimse metodes om eiendom te ondergrawe – metodes minder blatant, maar net so skadelik soos sogenaamde oneiening sonder vergoeding. Hierdie onderduimse strategieë is reeds etlike dekades aan die gang. Terwyl die ANC nie in staat is om met fanfare openlik grond te gryp nie, sal hy waarskynlik meer aandag aan sy onderduimse sluipmetodes skenk.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Koos Malan

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Paul ·

Jip, so moet ons kennis neem en voortdurend waak. Dankie vir diegene wat ‘n wolf in skaapklere as ‘n wolf kan uitwys. Maar ons moet nie net teen die wolwe waak nie, want jakkalse verander van hare maar ook nie van streke nie.

janneman ·

Wat n briljante ingeligte artikel! Die pessiemisme onder die blankes het meer sulke opbouende artikels nodig om die vlam van hoop aan die gang te hou, en derhalwe meer openlikheid ook deur diegene wat die saak van gelykhied beveg in die howe. Wanneer mens weet wat die rigtings is waarin jy belê, en wat die verwagte(wil amper sê gewaarborhde) uitkoms is, is mens oor die algemeen meer bereid om jou ondersteuning aan te bied.

alida ·

Die enigste struikelblok om eenheid en regverdigheid te laat geskied is die EFF. Mnr Ramaphosa en Cele moet koppe bymekaar sit en die spul ontbind en landelike veiligheid opskerp. Die EFF aanhangers verstaan nie die omvang nie want hulle is ongeletterd en floreer op waansin en wanorde.

marco polo ·

Prof Koos, ek hoop van harte jy is reg, maar oorle Sun Tzu het gese as jy vrede wil he, moet jy gereed maak vir oorlog.

Gert ·

Dankie tog vir Afriforum! Soos duidelik hier gestel word, was dit oorwegend hulle veldtog wat die ANC teruggehou het.

John ·

Die kerel moet tog nooit aan ‘n debat deelneem nie want hy trek die mat teen die einde onder sy eie voete uit. Eina!

Henry ·

Wat ‘n skitterende skryfsel deur ‘n hoogs bekwame kundige!!!

Verpligte leesstof vir enige siel wat werklik agter die kap van die stomp, marxistiese byl van hierdie droewe land se huidige regime wil kom.

Charles ·

Uitstekend, baie dankie Prof. Waarom is u nie hoofregter by die “grondwetlike hof” nie, u sal Mogoeng in die stof agterlaat!? Mogoeng is nie ‘n regter nie, hy is ‘n uitgeslape politikus in regtersgewaad!

Therese van Schalkwyk ·

Prof. Malan het die situasie werklik briljant opgesom, die enigste persoon wat dit tot dusver kon regkry. Ramaphosa se skynheiligheid teenoor potensiële beleggers is voorwaar iets om te aanskou!
Wie weet, dalk is Suid-Afrika gelukkig en is die ANC, soos met alles waaraan hulle raak, bloot te onbevoeg om grondonteiening van stapel te stuur. Die meester hiermee, Robert Mugabe, was immers in sy fleur ‘n groter intellektueel as enige ander Afrika-leier.

Stephan de S ·

Wat n verkwikkking om so n uiteensetting van die werklikheid–sonder vrees en politieke korrektheid– te lees. Mag die skrywer nog baie sulke bydraes lewer……..dis noodsaaklik om ons politieke wêreld te verstaan. Hierdie is een van daardie stukke wat ek laat uitdruk vir herlesing.

Wonder ·

Glad nie so slim beredeneerd nie. Die fundamentele fout met hierdie argument is dat dit aanvaar dat die ANC logies en rasioneel optree in belang vd ekonomie en gemeenskap. Dis ‘n drogredenasie. Hulle is uiters ideologies gemotiveerd, het diep binne hule die Afrika manier van toe-eiening sonder betaal (diefstal), is uiters magsbehep en het ‘n eknomiese strategie van die belastingbetaler leegtap (kyk hoe word miljarde rande jaar vir jaar vir jaar gegee en verkwis deur die SAL, SAUK en Eskom). Al hierdie foute maak dat die ANC inherent nie veel voel vir die sg kragte teen hulle nie – want dit ontbreek hulle topbestuur aan logika, visie en rasionele denke. Vat maar as voorbeeld die Duitse minister wat nou onlangs alles wat Ramaphosa opdis, vir soetkoek opeet en verstaan dat die ANC grond vat sonder om te betaal. Asook die diep sakke vd Chinese waarin die ANC lekker diep delf. Mens kan nie redeneer met ‘n dwaas nie dit bring jou nerens.

Rudolf Venter ·

Ek is onder die indruk dat die gevaar van die Rooi, deur nie net die Land se beheerende party, werk om die SA oor te kan koop. Verander die grond wet en ons koop en gee die sekuriteit om die ekonomie weer op drewe te kry…

Wynand du Plessis ·

Ek kan nie sien dat die linkse partye en voorstanders van “Onteiening sonder vergoeding” na die 2019 verkiesing meer die nodige 2derde meerderheid gaan hê om die Grondwet te kan verander nie.

Ek het 10 jaar gelede al vir mense gesê dat Zuma meer skade aan die ANC gaan doen as wat enige opposisie party kan hoop om te vermag.

Cornelia ·

Prof. Malan, baie dankie vir u strategiese en feite deurgrondige blootstelling en waarskuwing oor die werklikheid rakende kommunistiese – sosialistiese taktiek. Dit is ‘n welkome uitleg wat help om wakker te doen en teenoffensiewe optrede in plek te kry.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.