‘Hier staan ek, ek kan nie anders nie, so help my God. Amen.’

Deur Frans Cronje

Frans Cronje.

“Dit is nie omdat mense wette voorgeskryf het dat die lewe, vryheid en eiendom bestaan nie. Inteendeel, dit is omdat lewe, vryheid en eiendom reeds bestaan, dat mense wette instel. Elkeen van ons ontvang ongetwyfeld van die natuur en God die reg om ons persoon, ons vryheid en ons eiendom te verdedig.” – Frédéric Bastiat

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) is ’n klassiek liberale instelling. Die betekenis daarvan word nie altyd baie goed verstaan nie – veral in Afrikanerkringe – dus is dit ’n goeie tyd vir ’n uiteensetting hiervan. Om klassiek liberaal te wees, beteken nie linksgesind soos die term “liberaal” in die Verenigde State gebruik word nie, maar eerder presies die teenoorgestelde.

Alle klassieke liberaliste heg waarde aan die volgende beginsels. Die belangrikste is dat die samelewing jou as ’n individu behoort te beoordeel op grond van jou eie oortuigings en persoonlike vermoë tot deugsaamheid of sondigheid. Dit is verkeerd om mense op grond van hul ras, etnisiteit of herkoms te beoordeel, wat die rede is waarom die IRV alle swart ekonomiese bemagtiging en rasgebaseerde regstellende aksie-beleide teenstaan.

Die tweede is dat eiendomsreg die bousteen van elke vrye en ope samelewing vorm en dat die staat nooit die mag moet hê om jou eiendom af te neem nie. Die feit dat middelklasmense hul huise, plase, sakeondernemings en besparings besit, is nie die rede waarom baie Suid-Afrikaners arm bly nie. Die IRV veg vir die uitbreiding van hierdie regte sodat, namate die ekonomie groei en werkgeleenthede geskep word, arm mense ook die waardigheid kan hê om te kan sê: “Dit is myne; ek het daarvoor gewerk.”

Die derde is dat die regering nie die reg het om by jou besigheids- of persoonlike aangeleenthede in te meng nie. Dit is jou eie keuse hoe jy wil leef – solank jou optrede nie enigiemand anders benadeel nie. Gevolglik bearbei klassieke liberaliste hulle vir ’n klein en effektiewe staat waarin die privaat sektor en vrye markte die gang van die ekonomie bepaal.

Die vierde is dat ’n mens kan sê wat jy wil, met die enigste beperking dat jou uitsprake nie regstreeks lei tot die fisieke benadeling van ’n ander persoon nie. Indien jy nie hou van wat jy hoor nie, kan jy by die debat betrokke raak en ’n beter argument opper.

Die vier waardes wat hierbo beskryf word, is gegrondves in die Joods-Christelike etiek en tradisie. Ons veg reeds sedert lank voor die meeste Suid-Afrikaners se geboorte teen rasse-onderdrukking van een groep deur ’n ander, die ontsegging van eiendomsregte en staatsosialisme in hierdie land.

Die IRV is ook baie goed met wat hy doen. Die IRV het die Demokratiese Alliansie van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en rasgebaseerde kwotas weggekeer en ons doen dieselfde met die regering en besigheid en by buitelandse beleggers. En ek dink dit is ’n geveg wat ons sal wen.

Met eiendomsreg hanteer ons die grootste onafhanklike drukgroep in die land, met ’n werklik globale reikwydte. Ons het oor die afgelope drie jaar in die openbaar byna elke argument – buitelands of binnelands – ten gunste van onteiening in Suid-Afrika deur middel van meer as 5 000 media- en beleidsintervensies bestry. Ons het, byna eiehandig, elke stuk wetgewing om onteiening sonder vergoeding in te stel sedert die eerste nuwe Onteieningswetsontwerp in 2008 ter tafel gelê is, afgeweer. Ons doen dit vandag nog steeds en ek dink dit is ’n verdere geveg wat ons sal wen as ons op ons huidige koers bly.

Net in die afgelope week het ’n IRV-drukgroep veranderinge aan Suid-Afrika se verkiesingswette geblokkeer wat staatskapingfaksies sou kon toelaat om deur middel van elektroniese stemmery in ’n toekomstige verkiesing te knoei – en baie mense wat hierdie teks lees, weet dit miskien nie eens nie omdat ons verkies om noukeurig en stilweg te werk.

Ook verlede week het pensioenbedryfsyfers uiteindelik sterk aan die lig gekom teen die gebruik van pensioenfondse om die begrotingstekort te finansier.

Hoe finansier ons dit alles? 

Wie is ons groot donateurs? Wel, ek is bevrees daar is nie veel van hulle nie. Die grootste enkele bron van inkomste is skarefinansiering – gewone mense, van wie daar nou verskeie duisende is, wat bedrae van gemiddeld R100 per maand bydra. Ons groot donateurs het ons oorwegend verlaat weens die posisies wat ons inneem teenoor SEB, onteiening sonder vergoeding en die links geïnspireerde kultuuroorloë wat in die Westerse wêreld uitspeel.

Maar ons laat nie toe dat die finansiële prys wat ons vir die inneem van hierdie standpunte betaal, te swaar op ons druk nie. Ons is onder sulke voortdurende druk om op ons beginsels toe te gee dat, indien ons dit eenmaal sou doen ter wille van geld, ons dit dalk herhaaldelik sou doen totdat daar min sou oorbly van die klassiek liberale bouwerk wat ons met ons bestaan verdedig.

Oor die afgelope week het AfriForum en die breër Solidariteit Beweging ’n veldtog teen die IRV van stapel gestuur. Die feite daaraan verbonde is onomwonde. Die IRV hanteer ’n aanlynnuusblad, die Daily Friend, om ’n ope, vryheidsgeoriënteerde platform te verskaf vir die vrye uitruiling van idees, in die lig van die ontstellende sensuur en linksgesinde vooroordeel wat ’n groot deel van die hoofstroommedia geïnfiltreer het, sowel in Suid-Afrika as in die Westerse wêreld.

Een van die rubriekskrywers in diens van die Daily Friend, Ivo Vegter, het ’n artikel geskryf wat geloof kritiseer. Ivo is ’n buitengewone rubriekskrywer wat oor die onverskrokkenheid van alle groot rubriekskrywers beskik. Toe ek die betrokke artikel aanlyn gelees het, het ek nie gedink dat dit sy beste argument was nie. Ek was ook bekommerd dat dit aan vele godsdienstige mense aanstoot sou gee en dat dit aan die IRV ’n teengodsdienstige kleurtjie kon gee. Ek wou dit nie hê nie en dit sou nie met ons geskiedenis strook nie. Ek het dus my meer godsdienstige personeel aangemoedig om van Ivo te verskil, sy argumente aan te val en ten gunste van godsdiens te betoog. Die Daily Friend het sover vyf van hierdie stukke gepubliseer.

AfriForum wil nou hê dat ek Ivo afdank en vir sy artikel om verskoning moet vra. My professionele kommunikasie- en bemarkingsadviseurs – wat uitstekende werk doen – het voorgestel dat ek iets soortgelyks doen, en dit was gesonde advies vanuit ’n finansiële en reklameperspektief. Volgens hul raming gaan ons waarskynlik baie geld en ondersteuning verloor. Ek het egter vir hulle gesê dat ek, met respek, nie hul raadgewing gaan volg nie, en daarin het ek die beginselsteun van my IRV-kollegas.

In plaas daarvan het ek aan ons finansiële direkteur opdrag gegee om toepaslike voorsiening te maak vir doelmatige gebeurlikhede – en so ver te gaan as om ’n lys van personeel en projekte op te stel wat ons sal moet beëindig indien AfriForum se veldtog slaag.

U sien, dit is hoe ons is: Ons laat nie onder finansiële druk ’n kollega in die steek omdat hy ’n argument geopper het nie. Dit is nie ons werkwyse nie. Daar is vandag te veel van dié soort ding in die wêreld gaande – te veel vrees om van die platform afgestamp, gekanselleer, ontfonds of geboikot te word weens iets wat jy gesê het. Dit laat die hele wêreld op eiers loop.

Aan ons ondersteuners sê ek dat ek wel diegene onder u hoor wat te na gekom is en ek is jammer daaroor. Wees verseker dat ek die diepste agting vir u almal het en besef hoe belangrik diepgewortelde geloofsoortuigings is. Wat ek vra, is dat u lees wat Ivo geskryf het en wat die vele IRV-personeel in reaksie hierop geskryf het, en daaruit tot ’n gevolgtrekking kom oor waar die liberale tradisie ten opsigte van Christenskap staan. Dit is nie ’n onredelike verwagting nie.

Indien u ons dan wil laat staan, sal ek baie spyt wees daaroor en ek sal myself sterk kwalik neem en dink wat ek sou kon doen om dit te voorkom. Maar ek is bevrees dat indien u besluit om te gaan, dit maar sal moet gebeur, want ek sal Ivo en sy reg om ’n argument te opper, ondersteun met dieselfde verbintenis as waarmee ons u almal ondersteun wanneer ’n rassistiese regering en linksgesinde politici u, u gesinne en alles wat vir u dierbaar is, bedreig en aanval.

AfriForum sal vir u sê dat ek Ivo sou kon afdank omdat ek ’n paar maande gelede die Daily Friend-rubriekskrywer David Bullard afgedank het. Ek het David afgedank omdat hy oor die k-woord ’n grap gemaak het. David het nie ’n argument oor rassisme geopper nie, hy het nie ’n ander beskouing oor kolonialisme of selfs apartheid uitgespreek nie – wat ons alles sou publiseer. Ek het hom die trekpas gegee omdat hy grappe gemaak het oor die onderdrukking wat swart mense tydens apartheid in hierdie land verduur het.

Ek het AfriForum ondersteun lank voordat die meeste van u wat hier lees, nog ooit daarvan gehoor het. AfriForum doen baie belangrike werk en ek sal hom steeds ondersteun vir dié werk en u behoort dit ook te doen. Dit is kwalik die tyd vir Suid-Afrika se doeltreffendste burgerregtegroepe om speletjies te speel of teen mekaar te draai – dit sal ’n ernstige versaking wees van die mense wat hul vertroue in ons stel. Maar ek bekommer my ook oor AfriForum en waar hy sy meer as 200 000 volgelinge heen lei.

Daar is, en was nog altyd, ’n diepgaande verskil tussen die IRV en AfriForum. Die doel van die IRV is om die gematigde meerderheid van Suid-Afrikaners – swart en wit – te verenig rondom gemeenskaplike waardes sodat ons gesamentlik ’n sterk land kan bou. Hierdie eensgesindheid is die groot onvervulde uitdaging van Suid-Afrika se politiek, maar dit is ’n uitdaging waaraan ek en my IRV-kollegas dink ons land hierdie keer kan voldoen. Ons meningspeilings toon dat, ondanks wat swart nasionaliste en wit nasionaliste in die media, op Twitter en in die parlement sê, ’n aanmerklike 7/10 Suid-Afrikaners groot respek vir mekaar het en graag wil saamwerk om ons land te laat werk.

Ek het al by genoeg AfriForum-takke toesprake gehou en genoeg meningspeilings gesien om redelik seker te wees dat dit is wat sy lede wil hê. Die doel van AfriForum is om ’n magtige Afrikaner-drukgroep te vorm – en hy het oor die afgelope dekade skitterend daarin geslaag en het honderde miljoene rand aan lidmaatskapgeld ingesamel. Met groot mag kom egter groot verantwoordelikheid – veral wanneer gewone mense verwag dat hulle beskerm en bestuur moet word. Dit is nie ’n mag wat ligtelik of ligsinnig opgeneem kan word of om reklame- en politieke of magspeletjies mee te speel nie. Die belange in Suid-Afrika is nou te hoog daarvoor.

Indien ons – gesamentlik, in die burgerlike samelewing – nie daarin slaag om die middelgroep te verenig nie of die verkeerde advies aan ons ondersteuners bied, sal die gevolge werklik verskriklik wees terwyl Suid-Afrika in ’n verknorsing van rassenasionalistiese geweld en armoede verval.

Ek het nog altyd gevoel dat AfriForum se doelstellings ter verdediging van Afrikaners vereenselwig kan word met die IRV se ambisie om die gematigde middelgroep te verenig – en ek het baie hard probeer om dié brug te bou, soos ek met elke ander gemeenskap in die land gedoen het. Ek vrees egter dat daar ’n uitgangspunt binne die senior leierskap van die Solidariteit Beweging is wat die IRV se doelstelling, en die swaai wat dit onder Afrikaners bereik het, as ’n dreigement tot ’n rassenasionalistiese projek beskou – om ’n nuwe apartheid op die as van Suid-Afrika se demokratiese eksperiment te bou. Dié leierskap speel speletjies met sy ondersteuners en hul vrese en emosies (verlede week was ’n voorbeeld hiervan) en lok hulle weg na ’n donker en gevaarlike plek vanwaar hierdie ondersteuners, en Afrikaners in die algemeen, ongetwyfeld ’n geweldige prys sal betaal.

Suid-Afrika het net een volhoubare roete uit die moeilikheid uit en dit is om die meerderheid van ordentlike, hardwerkende Suid-Afrikaners te verenig rondom ’n gemeenskaplike reeks waardes ten opsigte van nierassige beleid, eiendomsregte, en die vryheid om ’n mens se lewe te lei soos jy verkies. En dit is ’n doel, en ’n droom, wat ons kan bereik.

Namate die druk op die regering toeneem, verloor die ANC baie vinnig steun. Die oomblik wanneer ons moontlik kan begin om die land om te draai, is dus baie naby. Suid-Afrikaners, swart en wit, begin reeds, miskien meer as ooit tevore, om mekaar te vind rondom die begrip dat die beleide van die huidige regering geloofwaardigheid verloor het en sal moet verander. Dit is die tyd om brûe oor die samelewing te bou en om die grondslag te lê vir wat sal kom wanneer die ANC weg is.

AfriForum is ’n baie magtige drukgroep en hoogs bedrewe met invloedwerwing. Sy aanval op en poging om die IRV te laat ondergaan, sal groot skade aan ons projekte en ons pogings aanrig. Ek sien egter nou geen duidelike weg daaromheen nie indien die IRV getrou aan sy doelstelling wil bly om die middelgroep te verenig. Indien dit beteken dat ons die finansiële slag moet hanteer, terwyl sommige van ons relatief nuwe Afrikaner-ondersteuners wegdraai, is dit wat ons sal moet doen.

Ek sal op vele vlakke, waarvan die persoonlike aspek nie die minste is nie, baie spyt wees om my Afrikaner-broeders te sien wegstap van wat kon gewees het, op pad na die donker nag.

  • Frans Cronje is die uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), ’n liberale dinktenk wat politieke en ekonomiese vryheid bevorder.

Hierdie meningstuk is ‘n verkorte weergawe van die oorspronklik stuk wat Daily Friend gepubliseer is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Adriaan ·

n Ondertoon wat ek ook hier in Frans se meningstuk optel is dat liberales dink hulle weet beter en is altyd reg en dat diegene wat van hulle verskil verkeerd is.

Pieter ·

Die Wêreld Ekonomiese Forum beoog dat ons almal, behalwe die super rykes, niks meer gaan besit nie teen 2030. Dieselfde as in die Middeleeue. Dit sal die klimaatsverandering agenda ook help. Die Verenigde Nasies ondersteun dit ook. Onteiening sonder vergoeding moet ook teen hierdie agtergrond gesien word, daarmee kry die regering reeds ‘n voet in die deur.

Con ·

Die deursnee Afrikaner sal elkeen se reg om ’n argument te opper met sy lewe verdedig, maar, om u eie woorde te gebruik, wanneer ’n rassistiese regering en linksgesinde politici hom, sy gesin en alles wat vir hom dierbaar is, bedreig en aanval, het hy werklik nie aanvalle op sy Godsdiens ook nodig nie. Kom ons noem dit maar swak tydsberekening van u kant af? Indien u bekommerd was oor die “donker plek” waarheen die Afrikaner heen oppad is en u boonop gedeeltelik afhanklik is van sy finansiële ondersteuning, waarom die kans vat om hom te vervreem?

Hoekom ·

Stuur my bietjie die bewyse van die onderdrukking wat swartes beleef het onder apartheid. Asb moet nou nie bewyse lewer van hoe hulle onderdruk en gekul is deur hulle eie volkstate se leiers nie. Dit geld nie…

Die twee voorbeelde wat jy noem, moet ek eerlik wees. Die Ivo Vegter kom meer voor as ‘n rasis met sy haat woorde teenoor mense se geloof en ‘n “decolonization” ekstremis as die man wat jy afgedank het wat net die waarheid gepraat het. As julle teen die waarheid is dan is julle vir ‘n agenda. Dit strook my daardie agenda is juis die liberale linkses se agenda van idee en opinie onderdrukking deur mense te “exile” deur hulle te verklaar as rasisties net omdat hulle van jou verskil…

Richard ·

Wat Ivo betref dink ek hy is ‘n links radikale, wat uitlok met sy skrywes. Wat apartheid betref, en dat swartes wel daaronder gely het stem ek mee saam. Dis ‘n stelsel wat net eenvoudig nie meer kon volgehou word nie. Maak nie saak hoe sommige dit wil “sugar coat” nie, dit was verkeerd en het groot skade aangerig op baie vlakke wat ons vandag nog beleef. – Dit wel gesê, sê ek nie die huidige regering is nou skielik reg nie.

Boerkind ·

Interessant. Wat ek wel van Afriforum kan sê is dat hulle (en hul leiers) my kultuur en Christelike waardes belangrik ag, dit eerbiedig en beskerm. Die “mooi” gedagte van ‘n smelkroes van almal in Suid Afrika werk nie; inteendeel dit het nog nêrens in die wêreld gewerk nie. Mense het hule eie identiteit en wil oorwegend dit ook so hê – wêreldwyd (Hoekom Frans?? Het God nie gesê HY stel Volke, Tale en Grense vas nie??). My voorstel is dat Ivo hom met sy mense se praktyke en kultuur moet besig hou. Hy sal heel moontlik vind dat dit ‘n lewenslange stryd sal wees…. Of, wil Ivo nie dalk die Koran en Islam aanvat nie? Los die Afrikaner, sy kultuur en godsdiens uit as jy ‘n agenda het.

Richard ·

Ek moet ook darem bysê dat baie ultra linkses dink dat Afriforum verstok en outyds is. Dit is beslis nie die geval nie. Hulle het my ‘n paar jaar gelede genader om aan te sluit. Ek het aangesluit, omdat my taal en kultuur van groot belang is, en dat hulle opstaan vir ons boere. Ek het egter ook hulle gevra wat hulle standpunt is oor gay regte, want ek is gay, en dat ek nie aan ‘n organisasie wil behoort wat diskriminasie teen gays steun nie. Ek het ‘n persoonlike brief van die hoof van Afriforum gekry wat my laat weet het dat Afriforum, beslis geen diskriminasie teen gay mense ondersteun nie, en dat hulle ten volle gay mense se regte ondersteun. Alhoewel hulle nie daarmee op hul skouer rondloop nie, (en ek verwag dit ook nie) wou ek seker maak ek ondersteun ‘n onganisasie wat vir my as gay persoon ook gelyk sal behandel. want ongelukkig is daar ‘n beeld daarbuite dat Afriforum anti gay, rassisties, en verstok is. Dit is beslis nie die geval nie.

Hoekom ·

Die hele “decolonization” beweging is ‘n rasistiese aanval op ons volk se tradisies, mens wees, vooruitgang, taal en kultuur…

Kosie ·

Geagte Frans,
Ek sien jy probeer vreeslik die slagoffers speel, want dit werk mos. Sê vir ons almal onomwonde dat die IRV geen geld van Soros ontvang of ooit ontvang het nie; ek glo nie jy kan nie.
Verder is die konsep van “Controlled Opposition” ook bekend aan meeste van ons en net omdat jy baie keer dinge sê waarmee ek en meeste redelike mense kan saamstem, bly die probleem dat julle as organisasie nie vertrou kan word nie, want môre gee “jou meesters” vir jou ‘n ander opdrag en dan gaan jy spring.
Jy wat jou so beywer vir vryheid van spraak; was julle nie hoeka betrokke by die die ou landsvlag/haatspraak debakel nie?
Terwyl jy nou ook na die Christelike etiek verwys, staan daar darem ook in my Bybel dat jy nie aan dieselfde juk moet trek as die goddelose nie, maar jy gee dan die goddelose jou platform – dit was tog jou keuse?

Nici ·

Baie interessante argument maar ek glo iets belangrik word gemis. Elke mens en organisasie staan vir iets, noem dit jou ethos, dit waarin jy glo en die boundaries waarbinne jy beweeg. Wanneer mens sekere dinge begin bevraagteken wat jou boundaries affekteer en dit voorkom asof mens nie meer seker is waarin jy glo nie, affekteer dit ander mense se opinie oor jou of jou organisasie. As ‘n pastoor skielik nie meer glo in God nie gaan daar gevolge wees vir hom want sy opinies en debat beweeg nou na ‘n sfeer waar daar gevolge is vir sy verhoudings, dit is nie net meer sy persoonlike opinie nie. Selfde met ‘n Christenskool wat skielik afkondig dat hulle nou oop is vir alle gelowe. Hul glo in alles en daarom glo hulle ook in niks nie en so het hul vertroue in hulself geondermyn. Daar is sekere waardes wat ononderhandelbaar is en mens moet bewus wees van wat hulle is want dit bepaal jou verhoudings. So die vraag is, waarin glo en staan julle organisasie? Is al julle waardes onderhandelbaar?

Magriet ·

Dit is so dat, as ons vryheid van spraak het, mens kan skryf wat jy wil. Dit sal wel menseverhoudinge bevorder, soos wat die IRV hom voor beywer, as die joernalis die onderwerp ter sprake uitpluis en juis met menseverhoudinge in gedagte daaroor skryf. Die artikel van mnr Vegter is myns insiens swak joernalistiek en die probleem is nie die punt wat hy probeer stel nie maar die manier hoe hy dit doen.

Toktokkie ·

As ek my opnie hier kan lewer – die betrokke artikel waar die foto ook hierbo gewys word het nie net geloof aangeval of gekritiseer nie. Dit het elke wit afrikaanse mens aangeval op gornd van hul vel kleur en geloof. Die rede hoekom ek dit sê is omdat ek in daardie kategorie val en ek was verontwaardig oor die foto en opskrif asook die inhoud van die betrokke artikel. My vraag aan die skrywer is, as dit enige ander geloof was wat so onder skoot gekom het, sou jy dieselfde besluite geneem het? Ek dink nie eers dit sou daar gekom het nie, want so iets sou nooit die publikasie blaaie gehaal het nie. Jy klap jou donateurs deur die gesig en verwag hulle moet nog steeds bydrae en julle ondersteun want julle doen goeie werk? Dit maak mos nie sin nie. As julle grootste donateurs wit mense is, is hulle mos die meeste benadeel deur al julle sake wat julle so wen en aanpak. So hoekom dan die hand byt wat jou voer?

Charl ·

Frans, ek ondersteun jou 100% in jou benadering. Ek ondersteun jou nie omdat ek met Ivo se siening oor geloof saamstem (of verskil) nie, ook nie omdat jou siening oor SEB/politiek noodwendig met my siening ooreenstem nie. Ek ondersteun jou omdat die geleentheid om verskillende opinies te he en te kan bespreek, die enigste manier is hoe ons die twee teenoorgestelde sieninge nader aan mekaar gaan kry. Net deur volwasse, goed deurgedinkte en ondersteunende feite (nie emosies nie) en oop gesprekke gaan ons iewers kom. Die kommentaar op jou artikel wys ongelukkig dat die heelwat volgelinge van die blad nie die in intelligensie of volwassenheid het om verskillende denke te kan hanteer nie. Sekere volgelinge se kognitiewe dissonansie is so erg dat hulle bewyse soek van apartheid se nadelige effek op swart mense.

Staan asb sterk en moenie swig voor die druk nie. Vryheid van spraak vereis dat ons met “offense” idees moet interaksie he om nader aan mekaar te beweeg.

Therese ·

Jou ondersteuning vir oop gesprekke is prysenswaardig.
Nog net werk daaraan om opponerende menings op ‘n meer “intelligente en volwasse” wyse te hanteer.

Leendert ·

Frans….. weet jy wat my die absolute te wetter in maak. Julle ouens ondersteun Ivo Vegter nadat hy Christenskap aanval, laat hom dit doen deur Mohammed aan te val, dan rek jy jou mond oor hoe jy hom ondersteun en dan sien ons waar land julle tweetjies. Maar nee, julle is lafaards, julle kies Christene want julle weet julle sal nie vermoor word nie. Wees dapper, vat die Moslems aan jou lafaard.

Vrijburger ·

– Die misbruik van Martin Luther se stelling as opskrif, sonder ‘n spesifieke stel van jou persoonlike geloofsoortuiging, vind ek sinies.
– Regstelling: Ivo het nie “geloof” of “godsdiens” aangeval nie, hy het baie spesifiek die Christengeloof aangeval.
– Op die punt: Wys vir my een artikel in dieselfde beledegende styl wat die IRV oor enige ander geloof (bv Islam) geplaas het.
– Hier bo stel jy dit: “Dit is verkeerd om mense op grond van hul ras, etnisiteit of herkoms te beoordeel,…..” Dit is veelseggend dat geloof / godsdiens nie die IRV se lysie maak nie.
– Ja, ek het Ivo se artikel gelees: Nee die punt is nie of ek saam met hom stem of nie. Dit is die kru, beledegende en disrespekvolle styl van die artikel. Dito vir sy reaksie in diekommentare afdeling van die artikel.
– Ivo se artikels het ‘n geskiedenis van Christenfobie en antie-Afrikaner aanslag. Vraag – kan ‘n kulturele marxis ook ‘n klassieke liberaal wees?

Vrijburger ·

– Aan die een kant afdreiging deur Afriforum se opeis en uitoefen van ‘n spesifieke kultuur minderheidsgroep se grondwetlike regte as “…….rassenasionalistiese projek beskou – om ’n nuwe apartheid op die as van Suid-Afrika se demokratiese eksperiment te bou”te beskryf. Dit klink vir my baie soos die kanseleerkultuur – beskuldig van rasisme en apartheid.
– Aan die ander kant die simpatie kaart, die emosionele afpersing van “….en so ver te gaan as om ’n lys van personeel en projekte op te stel wat ons sal moet beëindig indien AfriForum se veldtog slaag.”
– Verder dink ek IRV is oneerlik mbt die David Bullard vs Ivo Vegter sage. Oneerlik mbt die feite rondom Bullard se aflegging dat die moontlike verloor van eksterne finansiele druk nie ‘n rol gespeel het nie.
– Dat Ivo Vegter glo die inisieerder / ‘n rol gespeel het in die aflegging van Bullard is die toppunt van skynheiligheid (hypocrisy).
– Dit ontbloot ook die IRV se ‘bigotry’ dat ras steeds die hoogste kriteria is.

annie ·

Ivo is ‘n Nederlander wat tuis voel in Afrika en stokou idees van Sartre en andere hier kom verkwansel. Hy geniet die op-een-knie-staanders se show. Die Croniers was Franse Hugenote… sies vir jou Frans.

Vrijburger ·

Die artikel le klem op die samewerking en gemeenskaplike doelwitte van IRV en Afriforum, dat die twee organisasies met sekere gedeelde waardes en doelwitte in dieselfde kraal is, by wyse van spreke. Dus sal dit die IRV baat om nie aanvallende artikels op ‘vennote’ te plaas en hulle so te vervreem nie, veral nie sinnelose artikels wat geen geen werklike doen dien nie. (Hierdie ‘geveg’ is nie deur Afriforum begin nie.)
Persoonlik dink ek hierdie sage moet nou oorwaai. Ek dink steeds IRV het ‘n waardevolle rol om te speel, maar in my boeke het Ivo Vegter homself gekanseleer.

Therese ·

Frans Cronje sal dit nie wil hoor nie, maar sy onewehandige hantering is die énigste probleem in hierdie baie interessante ‘Oop Gesprek’.
David Bullard is sonder aarseling ‘gefire’, want Frans Cronje sou nie sy swart kollegas andersins in die oë kon kyk nie. Geen geleentheid vir opvolg-artikels of menings.
Ivo Vegter daarenteen word bewonder vir sy “onverskrokkenheid” om die Christen-geloof bespotlik te maak. Geleentheid vir opponerende opinies word gebied.
Deurlopende ewewigtigheid ontbreek dus.

Smiley ·

Frans, so bietjie “damge control” probeer doen ne ? Ek hoop jy lees en neem die kommentaar hieronder ter harte. Die gewig van mening is teen jou. Miskien sal n ander platform met ander oortuigings jou meer goedgesind wees. Hier loop jy egter n goeie drag slae op die lyf. En ek is nie jammer om te se julle verdien dit nie.

KhoiKhoi ·

“Die doel van die IRV is om die meerderheid gematigde Suid Afrikaners – swart en wit – te verenig rondom gemeenskaplike waardes sodat ons gesamentlik ‘n sterk land kan bou”.

Rerig!

Kyk na my noemnaam en verduidelik aan my hoe jy sommer so gemaklik my en my voorouers uit jul “sterk land” kan wegwens?

Strook jou spraak oor wit en swart dan nou met liberalisme?

En daar is klinklare bewyse dat die KhoiSan eek Eerste Nasie status moet hê.

JJB ·

Ons stap na die Lig toe Frans, jy en jou agnostiese/ateistiese broeders en susters is (in) die duisternis.

Jack ·

Ek het nie ‘n probleem met ddie vier basiese beginsels wat Frans Cronje beweer liberalisme, al is dit nou die klassieke soort, op rus nie. Die problee is egter dat dit net vier is en ek het tien. Dit staan in Eksodus 20.
Die tweede probleemkom by interpretasie en implementering. Wat word van my verwag/ge-eis om as individu om voordeel te trek kan uit liberalisme . Frans beweer dat ek vryheid van besluitneming en self aktualisasie sal hê. Beteken dit dat ek as Afrikaner mag aandring op moedertaal onderrig vir my kinders, mag aandring op die beskerming van my taal, my kultuur, my kultuurskatte, my tradisies en sedes en gebruike, dat ek myself ten volle mag uitleef as Afrikaner?

Of verwag die liberalisme dat ek moet ophou om te wees wat ek is en word wat hulle wil hê. ‘n Meesanger in die koor van multi-kulturisme en “nie-rassigheid? OF, mag ek dalk nie ander aanstoot gee deur my godsdiens openlik te bedryf nie en my geloof te bely nie?

Maria ·

IRV is bekend vir goeie navorsing en uitnemendheid. Waardeer die insette, dankie dr Cronje. IRV het almal lankal gewaarsku wat aan die kom is

Piet Snot ·

Frans, ons moenie vergeet dat God se mening die enigste is wat tel nie. Alles pragtig om klassieke liberalisme aan te hang. Maar onthou, dis ‘n mensgemaakte konstruksie. En wanneer dit verskil van wat God in sy woord voorskryf, kan ons nie teenoor Hom sê “ek kan nie klassiek liberaal wees as ek nie hierdie wet van U oortree nie”.
As liberalisme vir jou belangriker as God se Woord is, dan is liberalisme jou godsdiens: jy maak die keuse. Dan het jy geen reg meer om God se naam in te trek nie, want jy onderwerp jou nie meer primêr aan Hom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.