Hierdie Aurora het ʼn donker skynsel

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Ek sit verlede week in die Noord-Gautengse hooggeregshof en luister na die argumente van die Pamodzi-likwidateurs en Solidariteit en Aurora Empowerment Systems se regspanne en wonder hoe skuldig jy moet wees voordat jy skuldig bevind kan word as jy politieke verbintenisse het.

Die Aurora-debakel is sekerlik die grootste bedrogspul wat sedert 1994 in Suid-Afrika afgespeel het. Ná twee jaar se stryd is ʼn hofaansoek uiteindelik vandeesweek teen die Aurora-direkteure – wat Khulubuse Zuma, kleinneef van President Zuma; Zondwa Mandela, kleinseun van Nelson en Winnie Mandela; die omstrede Fazel en Solly Bhana met noue bande met Winnie Mandela; en Thulani Ngubani insluit – aangehoor. Michael Hulley, president Zuma se prokureur en voormalige Aurora-direkteur is tydelik uit die regsproses uitgesluit, maar sy dag in die hof kom.

Die Aurora-direkteure is ingevolge artikel 424 van die Maatskappywet vir bedrog en roekelose bestuur van die Pamodzi-myne aangekla. In die hofaansoek word gefokus op die nagenoeg R1,5 miljard se skade wat aan die myne onder hul beheer aangerig is; R122 miljoen se inkomste wat uit goudverkope verdien is en wat daarna spoorloos verdwyn het; en R35 miljoen wat na bewering deur vriende en familie van die Bhanas aan Aurora geleen en teen renteverdienste van 100% terugbetaal is en nagenoeg agt maande se uitstaande salarisse wat aan hul 5 300 Aurora-werknemers geskuld word. Die uiteindelike doel van die aansoek is om die Aurora-direkteure in hul persoonlike hoedanigheid aan die klagte skuldig te bevind en as hulle nie hulle skuld wil betaal nie, op hul bates beslag te lê en dit dan te verkoop om sodoende die werkers te betaal.

Die hofverrigtinge het op ʼn klein deel van die strooptog van Aurora gefokus en sluit onder meer die volgende uit wat nog in ander regsgedinge hanteer moet word: pensioen- en werkloosheidversekeringsbydraes wat van werknemers se salarisse verhaal en gesteel is; Aurora wat nooit by die werkloosheidversekeringsfonds, die ongevalle kommissaris, of die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) geregistreer was nie; meineed; suur mynwater wat in die Blesbokspruit gestort is; R5,3 miljoen se bedrog wat met die aankoop van aandele verband hou; en R12 miljoen wat van ʼn belegger gesteel is, om enkele voorbeelde te noem.

Ter wille van agtergrond word die volgende verloop van gebeure kortliks geskets: die Aurora-direkteure is in Oktober 2009 deur die Pamodzi-likwidateurs aangestel om die Grootvlei- en Orkney-myne te bestuur en hulle sou teen Desember 2009 nagenoeg R600 miljoen van ʼn “belegger” ontvang om die myne te koop. Aurora het tydens die kooponderhandelinge onder meer aangedui dat hulle twee maatskappye in die houtbedryf bekom het, oor hope kontant beskik en ʼn groot Maleisiese belegger as rugsteun het. Aurora het die 5 300 werkers oorgeneem en hulle laat aanhou myn. Ná drie maande het Aurora R122 miljoen uit goudverkope verdien, maar soos reeds genoem, het dié geld verdwyn. Teen Desember 2009 het die misterieuse Maleisiese belegger se geld nie te voorskyn gekom nie en dit het ook aan die lig gekom dat bykans geen diensverskaffer tydens die eerste drie maande van die Aurora-direkteure se beheer betaal is nie – ook nie die Eskom- en munisipale rekenings nie, geen belasting is aan die SAID oorbetaal nie en die werkers het sedert Desember slegs ʼn baie klein deel van hul salaris ontvang. Die niebetalingspatroon is voortgesit en werkers het van Januarie 2010 tot einde Maart 2010 steeds slegs ʼn fraksie van hul salarisse ontvang. Die werkers het aan die einde van Maart begin protesteer en die myn is op 1 April 2010 in sorg-en-instandhouding geplaas. Vanaf 1 April het Aurora slegs nagenoeg 500 van die 5 300 werknemers in diens gehou om op ʼn primitiewe en gevaarlike wyse voort te gaan om goud te ontgin, maar geen agterstallige salarisse is betaal nie en die werkendes is af en toe ’n ietsie betaal. Onder Aurora se beheer is die mynbates – wat nie aan hulle behoort het nie – gestroop en as toerusting of skroot verkoop. Ná ʼn jaar was die onderskeie skagte tot op die bodem gestroop en elke toepaslike wet in die land oortree.

Benewens die verdoemende getuienis wat die week teen die Aurora-direkteure gelewer is, het hulle skaamteloos volgehou dat hulle niks verkeerd gedoen het en vir niks verantwoordelik gehou kan word nie. Dit terwyl hul 5 300 werknemers en hul nagenoeg 42 000 afhanklikes omtrent alles verloor het – van hul besittings tot hul menswaardigheid en uiteindelik ook hul vertroue in die Suid-Afrikaanse regstelsel. Gelukkig het Solidariteit Helpende Hand van die mense ondersteun deur onder meer kospakkies te versprei.

Hoekom is dit toegelaat? Benewens die samevoeging van ʼn klomp oneerlike en onetiese mense met politieke verbintenisse, was daar boonop ʼn omstrede likwidateur in hul midde. Vele gesprekke is met die portefeuljekomitee vir minerale bronne, die SAID en alle betrokke staatsdepartemente gevoer en al die amptenare wat ons aangehoor het, was gewalg deur die menslike tragedie en wetteloosheid wat plaasgevind het, maar hulle kon nie veel doen nie. Mense hoër op teen die politieke leer het Aurora se kritici, soos Solidariteit, se monde probeer snoer en daar is geargumenteer dat Aurora ʼn swart ekonomiese bemagtigingsgroep is met baie potensiaal. Die rassekaart is gereeld uitgepluk en hulle is so in plek gehou. Boonop het soveel regsdossiere van sake wat teen Aurora geopen is, weggeraak, direktiewe wat uitgereik is, is nie afgedwing nie en talle ander regsaksies wat teen die Aurora-direkteure aanhangig gemaak is, vorder nie. Daar kan dus afgelei word dat dit politieke verbintenisse is wat die boosdoeners so onaantasbaar gemaak het.

Ons hoop is nou op die hoog gerespekteerde regter Eberhard Bertelsmann gevestig wat vandeesweek die aansoek teen die Aurora-direkteure aangehoor het, om ’n kragtige uitspraak te lewer wat die 5 300 werkers en hul gesinne se lewens en vertroue in die regstelsel sal herstel en die Aurora-direkteure se gewetenlose dade swaar sal straf.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Emmie Els ·

Dankie vir die inligting Gideon. Wat sou ons sonder julle gedoen het. Hulle jok nee lieg deur hul tande. Hulle het die myn oneerlik bekom en als gesteel en tot dusvêr met behulp van die ouens “uit hul eie mond we know people in higher places” was waar. Ons sê dis nou tyd dat geregtigheid moet geskied. Ons bid dat als wat bedek was nou openbaar.gemaak sal word. Ons ken ook iemand in “higher places” ons Hemelse Vader. Ons moet saamstaan en bid sodat die korrupte spul hul verdiende straf sal kry. Nogmaals dankie vir julle hulp ons sou nêrens kon kom sonder julle nie. Vriendelike groete emmie els.

Henry ·

Besonderhede oor die omvang van die bedrog en diefstal wat hier gepleeg is, is skokkend.
Erger nog is die verliese en ontberinge wat die werkers agv die dade van hierdie gewetenlose hoi-pilloi lei.
Dankie tog vir Solidariteit Helpende Hand wat strykdeur probeer om die swaarkry te verlig.
Sterkte met die hofsaak en mag geregtigheid uiteindelik seëvier.

Albert ·

Elkeen, van bo tot onder ongeag status of aansien, wat by hierdie bedrogspul betrokke was moet in sy persoonlike hoedanigheid tot verantwoordelikheid geruk en ‘n voorbeeld van gemaak word – sterkte aan Solidariteit met die hofsaak en dit wat nog vir julle voorlê.

Betsie ·

Tragies. Hoop die saak word spoedig afgehandel vir die beswil van al die slagoffers van hierdie gewetenlose skurke (Zumanias & Kie). Mag geregtigheid geskied en hierdie blatante, arrogante kriminele nie net al hul onregmatig verkrygde rykdomme verloor nie, maar ook duur betaal vir hul onversadigbare geldgierigheid, tronkstrag. Ondenkbare skade aangerig aan soveel families. Onmenslik ongevoelig! Dankie vir goeie werk Solidariteit, Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.