Hierdie keer is anders …

ekonomie-stockfoto

Argieffoto

[promosie-artikel]

Deur Drikus Combrinck 

Gedurende die 1970’s was die wêreldekonomie gekenmerk deur hoë inflasie en wisselvallige ekonomiese groei. Die inflasiekoers is toe gedryf deur ʼn kombinasie van astronomiese ekonomiese groei in die 60’s, die VSA se wegbreek van Bretton Woods (die goudstandaard) en die oliekartel (Opel) wat vuiste gebult het. Wêreldmarkte is gekenmerk deur ʼn wisselvallige en rigtinglose aandelemark en effektekoerse wat voortdurend nuwe hoogtes ingeslaan het. Dus het albei tradisionele bateklasse byna ʼn dekade lank geen opbrengste gelewer nie. Sekere maatskappye kon egter hulself beter verskans as ander en het goed presteer. Die plaaslike hulpbronindeks (wat grootliks bestaan het uit goudprodusente) was gewilde verskansers. Daar het gevolglik oor daardie tydperk ʼn groot hoeveelheid hulpbronaandele plaaslik genoteer.

Die finansiële markte het toenemend ʼn omgewing ingeprys wat soos ʼn “nuwe normaal” gelyk het. Die S&P 500 het teen ʼn skamele prysverdienste van agt verhandel en die VSA se tienjaarstaatseffek het verhandel teen ʼn opbrengs van amper 16%. Business Week in die VSA se voorblad in 1979 het met een artikel gelei: “The Death of Equities”. Dit kon egter nie verder van die waarheid wees nie.

In die 80’s het die Republikein Ronald Reagan aan bewind gekom in die VSA en in Brittanje Margaret Thatcher van die Konserwatiewe Party. Bitter medisyne is uitgedeel aan albei kante van die Atlantiese Oseaan en die status quo van die 70’s was gebreek. Die volgende twee dekades sou van die winsgewendste in markgeskiedenis wees. Behalwe vir die goudbulle. Die goudprys het geval van ongeveer $700 na $200 en het in daardie omgewing gebly tot die hulpbronbulmark in die 2000’s begin posvat het.

Die laaste paar jaar, veral die ná die wêreldwye finansiële krisis in 2008, word egter gekenmerk deur die afwesigheid van inflasie en dreigende depressie. As die 70’s ʼn periode van produksieskaarsheid was, is die laaste dekade een van oorskot produksie. Hierdie oorskot spruit uit die volgende strukturele kragte:

  • Die Westerse verbruiker het hierdie periode met ʼn groot hoeveelheid skuld binnegegaan
  • Die oploop voor die dekade is gekenmerk deur ʼn oorinvestering in sleutelgedeeltes van die wêreldekonomie
  • ʼn Reeks tegnologiese deurbrake was ontwrigtend vir baie industrieë en werknemers
  • Die trauma met betrekking tot die wêreldwye finansiële krisis het verbruikers- en sakevertroue geskend
  • Sentrale banke het inflasie probeer stook met rekord lae en selfs negatiewe rentekoerse. Dit het egter die kapitaalmarkte se insentiefmeganisme laat disfunksioneer.
  • Finansiële instellings is sedert die wêreldwye finansiële krisis gekasty met hierdie verwronge rentekoersstruktuur en is oorgelaat aan drakoniese regulasie
  • Globalisering en die liberalisering van Oosterse ekonomieë het gelei tot goedkoper produkte

Soos in 1979/80 word strukturele kragte soos hierbo genoem weer voorgehou as ʼn “nuwe normaal”. Gevolglik is bates regoor die wêreld in voeling met die “nuwe normaal” geprys.  Markte en bates is geprys vir lae rentekoerse, lae groei, lae inflasie en hoë wisselvalligheid.
Van hierdie strukturele kragte is besig om hulself te spandeer. Die Ooste se arbeid is nie meer so goedkoop as wat dit ʼn dekade gelede was nie en gevolglik gaan hul baie minder deflasie “uitvoer” na die Weste. Hoewel staatskuld ʼn kopseer vorentoe kan wees, is die Westerse verbruiker se balansstaat baie gesonder. Oorkapasiteit is ook minder sigbaar in sleutelplekke soos die VSA se  huismark, hul arbeidsmark en meer onlangs die internasionale skeepsmark.

Die tyd raak ook nou ryp, net soos in 1979/80, vir ʼn ekonomiese regimeverandering. Nasionalisme is vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog aan die toeneem en konserwatisme is besig om veld te wen in die grootste deel van die Westerse wêreld. Die aanslag op die status quo is “reaksionêr” van aard. In die VSA kan die Republikeinse oorwinnings tot belangrike hervormings lei. Die Trump-administrasie gaan weer kyk na handelsooreenkomste en nuwe insentiewe stel vir die vervaardiging- en energiesektore. Die gevolg is dat die brose Amerikaanse vervaardigingsherlewing nou nuwe spiere kan bult. Dit alles behoort heelwat selfvertroue te gee aan die Britte met hul ontrekking uit die Eurosone. Die Eurosone is ʼn reuse- liberale eksperiment wat óf ʼn reuse-flop gaan wees óf ʼn reuse-gedaanteverwisseling moet ondergaan.

Die grootste eksperiment is egter die monetêre eksperiment genaamd “kwantitatiewe verruiming”. Dit is ʼn eksperiment wat reeds besig is om die toets te dop. Die einde van kwantitatiewe verruiming sal finaal ʼn nuwe era inlui  Dit is ʼn soortgelyke verandering in die Federale Reserwebank se beleid wat daartoe gelei het dat inflasie se rug finaal gebreek is in die vroeë 80’s.

Die ooreenstemmings met die vorige groot infleksiepunt vir wêreldmarkte in 1979/80 lyk baie oortuigend. Meeste beleggers, gemaklik geposisioneer vir die huidige markomgewing, gaan jou egter oortuig dat dit hierdie keer anders is.

“‘Hierdie keer is anders’ – die gevaarlikste vier woorde in beleggings.” – Sir John Templeton

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Promosies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.