Hierom het Suid-Afrika ‘n woedeprobleem

suid afrikaAgtien jaar ná die geboorte van ons “Nuwe Suid-Afrika” is groot dele van ons land bloedbevlek. Dit het ‘n siek en beseerde land geword waar groepe en organisasies hul messe uit het om mekaar leed aan te doen. Dit wil voorkom of daar iewers nog ‘n groot seer is wat van 1994 nog nie genees het nie.

Ná die geboorte van ons “Nuwe Suid-Afrika” in 1994, het almal ‘n wonderwerk verwag. Ons wen immers die Rugby Wêreldbeker in 1995 en Bafana Bafana die Afrikabeker. Nelson Mandela, ons hero, word wêreldwyd besing en vereer. ‘n Nuwe demokrasie spring weg met groot verwagting en hoop.

Maar, na agtien jaar van demokrasie, het Suid-Afrika nog nie sy sosio-ekonomiese krisisse onder beheer gekry nie, inteendeel, dit het egter verswak. Ons onderwysstelsel onderpresteer ondanks groot besteding, terwyl armoede en werkloosheid hemelhoog is.

As jy die gebeure in Suid-Afrika vanaf Januarie 2012 tot nou ontleed, sal jy een gemeenskaplike negatiewe gevoel, naamlik woede, in ons totale samelewing waarneem. Waar kom die woede vandaan en hoekom het dit vererger sedert 1994? Myns insiens is woede die gevolg van onderdrukte frustrasie en aggressie!

Om die vraag na die oorsaak van hierdie woede te beantwoord moet ons na die redes kyk vir die volgende onaanvaarbare gebeure sedert Januarie 2012:

  • Plaasaanvalle en –moorde wat toeneem;
  • Die tolpadkrisis in Gauteng;
  • Stakings in die myne, die geweld waarmee dit gepaard gaan en die dood van ±40 mense;
  • Ander stakings waar meer as 80 groot vragmotors uitgebrand is en paaie gewelddadig versper is;
  • Staking van plaaswerkers in die Wes-Kaap met sabotasie en miljoene rande se skade;
  • Gewelddadige munisipale protesoptogte met skade aan eiendom; en
  • Die algemene tendens van misdaad en wetteloosheid wat oor ons land spoel.

Al die bogenoemde voorvalle het een gemeenskaplike eienskap, hetsy as oorsaak of reaksie, naamlik woede.

Die lojaliteit teenoor ons Vaderland het gekwyn. Moraliteit het getaan en selfverryking en selfsug het sterk toegeneem. Dit word aangevuur deur die bogenoemde golf van woede.

Waar moet ons begin om die woedeprobleem vas te vat? Hier volg ‘n paar statistieke en feite tot agtergrond:

  • 40% van huishoudings in SA word gelei deur die vrouens, nie omdat die pa’s dood is nie, maar omdat hulle afwesig is.
  • 61% van vaders wat wetlik onderhoud moet betaal, betaal dit glad nie.
  • SA familiestrukture het sedert 1994 dramaties verswak en ouergesag bestaan omtrent nie meer nie.
  • Die morele waardes het dramaties agteruitgegaan en gevolglik het MIV/Vigs tot ‘n groot mate gelei tot die verval van ons familiestrukture.
  • Werkloosheid van meer as 35% van die bevolking as die ontmoedigde werksoekers ingesluit word. Werkloosheid is die oorkussing van die duiwel en dit is een van die grootste redes vir frustrasie en aggressie – een van die primêre redes tot woede; en
  • Werklose mense word weens wanhoop die prooi van populistiese politieke figure soos Julius Malema en die kringloop van woede vererger.

Die belangrike vraag wat gevra moet word is: Hoe meet ons die staatspresident en sy besluite aan bogenoemde feite? Hoewel alle flaters sedert 1994 nie voor een leier se deur gelê kan word nie, is sy persoonlike sowel as professionele voorbeelde beide gebrekkig in hierdie meting. Onder meer stel dit ‘n swak voorbeeld as ‘n president aanhou om kinders buite die eg te verwek en ook as hy stilbly oor die maatskaplike probleme in die land of lippediens daaraan te bewys. Sy nonchalance om beleide uit te vaardig om hierdie probleme doeltreffend aan te spreek is onrusbarend.     

Hoe nou gemaak?

‘n Paar voorstelle ten opsigte van drastiese aksies om ons land se woede en geweld te verminder:

  • Die ANC-regering moet bogenoemde feite in ag neem, en dit ten alle koste regstel deur toegewyde leiers met morele waardes aan te stel.
  • Opposisiepartye moet die regering en ANC meer krities aanspreek daaroor.
  • Burgerregte-organisasies soos AfriForum en AfriSake moet op ‘n deurlopende basis die swak en korrupte besluite van die ANC-regeringstrukture bevraagteken en beveg deur dit onder meer in die hof te toets.
  • Werkloosheid moet dramaties verlaag word deur middel van werkskepping, arbeidswetgewing te verslap, die verbetering van onderwysresultate en die bevordering van buitelandse investering.
  • Rasgedrewe politiek moet uitgewis word.

Die debat wat ek wil begin gaan eintlik oor die vraag: “Hoe gaan ons die woede uit ons SA gemeenskap kry?” U reaksie hierop sal hoog waardeer word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dawie de Villiers

Dawie de Villiers was 'n stigterslid van die MidCity-groep, in September 1983, wat tans een van die grootste eiendomsbestuurs- en ontwikkelingsmaatskappye in die Pretoria-omgewing is. Hy is 'n direkteur van AfriSake.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.