Hillsdale – die volheid van die wetenskap

hillsdale-kollege-vsa-deur-dirk-hermann-02

Die argitekontwerp van die nuwe kapel wat op Hillsdale gebou word. Die droom van ’n nuwe kapel op die kampus kom lank en dit simboliseer dit waarvoor Hillsdale staan. Foto: Verskaf.

Daar is ʼn gewoel en gewerskaf by Hillsdale Kollege. Groot konstruksiewerk is aan die gang. Die nuwe gebou word in die middel van die kampus opgerig en ons kon die opgewondenheid op die kampus aanvoel.

Lede van die Solidariteit Beweging se bestuur was op ʼn studietoer na die VSA met die doel om beste internasionale praktyke te ondersoek met die oog op die toepassing daarvan by Akademia. Akademia wil privaat, Christelik en uitnemend wees en die VSA het talle voorbeelde van presies dít. Hillsdale was ons tweede besoekpunt ná Baylor Universiteit in Texas.

Met sowat 1 400 studente is Hillsdale relatief klein en wil klein bly. So klein as wat hy is, trek die universiteit elitestudente, studente wat strewe na iets anders, meer as bloot die verwerwing van ʼn kwalifikasie. Hulle gaan nie soontoe om vir beroepe afgerig te word nie, maar om in hul volle wese ontwikkel te word. By Hillsdale word mense nie opgelei nie; hulle word gevorm.

Ons het ʼn vol program. Al om die halfuur het ons ʼn afspraak met ʼn ander dekaan. Met elke afspraak is ek verstom oor die gehalte van die akademici. Wiskundiges, wetenskaplikes, historici, teoloë en filosowe praat almal oor hul vakgebied, oor die filosofie daaragter en elkeen verstaan die grootheid en verweefdheid van die skepping. Wat my opgeval het, is die ywer en energie van almal – van die jongste dekaan tot die professor wat al 30 jaar by Hillsdale is.

Hillsdale is in die Liberal Art-tradisie (klassieke opvoedkunde) gesetel en werk vanuit ʼn Christelike grondslag.

Die universiteit staan teenoor baie van die groot Amerikaanse universiteite (soos Suid-Afrikaanse universiteite ook maar tot ʼn mate) wat die pad van sekularisasie, spesialisasie en beroepsafrigting gekies het.

Hillsdale wil studente leer oor die geheel van die wetenskap. In hul eerste en tweede jaar volg al die studente ʼn kernkurrikulum. Almal neem onder meer wetenskap, wiskunde, biologie, filosofie en teologie as vakke. Die doel is om die studente te help om die volheid van en die verbande in die wetenskap te verstaan. Hillsdale redeneer dat jy net jou vakgebied ten beste kan verstaan as jy verstaan hoe dit in verband tot ander dissiplines staan.

Omdat hy so klein is, kan sy dosent/student-verhouding 1 tot 10 wees. ʼn Intieme verhouding tussen dosent en student is dus moontlik. Lesings word in óf seminaarlokale óf in gewone klein vertrekke aangebied waar ʼn atmosfeer geskep kan word vir gesprek en debatvoering.

Gemeenskap is vir Hillsdale belangrik. Die studente bly byna almal in koshuise. Die ontwerp van die studentesentrum is van so ʼn aard dat groepe studente, klein en groot, saam kan sit en werk. Op die tafel oorkant ons in die studentesentrum het ʼn skootrekenaar, selfoon en ʼn rugsak gelê. Die student aan wie dit behoort, was vir die volle tydperk wat ons daar gesit het nie daar nie. “Daar is ʼn diep waardestelsel agter dit wat ons op die tafel daar oorkant ons waarneem,” merk een van die lede van ons afvaardiging op.

hillsdale-kollege-vsa-deur-dirk-hermann

Hillsdale se hoofgebou. Byna al Hillsdale se geboue is deur skenkings gefinansier. Foto: Verskaf.

Hillsdale, soos Baylor, weier om enige staatsubsidie te ontvang en selfs studente mag nie met staatslenings of -toekennings studeer nie. Hulle wil hul akademiese aktiwiteite los van enige invloed van die staat beoefen. In die VSA is privaat instellings wel geregtig op staatsfinansiering.

Juis omdat Hillsdale so goed gedefinieer is, trek hy elitestudente, die beste dosente en skenkings ter waarde van miljoene dollars. Sy skenkingsfonds is meer as R6,5 miljard sterk. Juis omdat hy los van die staat staan, mobiliseer die energie van die gemeenskap meer kapitaal as wat staatsubsidies ooit sou doen.

Die gevolg is dat Hillsdale self studente help met studiehulp asook genoeg energie in die gemeenskap ontlok om die koste van elke nuwe gebou eers in die vorm van skenkings te ontvang voordat dit gebou word.

Ons staan voor die nuwe gebou wat in aanbou is. Op die heining voor die bouperseel is ’n argitekskets van die nuwe kapel. Die kapel is ʼn droom van Hillsdale wat lank gekoester is, sê Mark Maier, assistentprovos (akademiese hoof) van Hillsdale. Die skenkings het eenvoudig ingevloei toe besluit is om die kapel te bou. “Waarom so ʼn groot kapitaaluitgawe aangaan vir iets wat nie jul kernbesigheid is nie?” wou ʼn lid van ons geselskap weet. “Want dit simboliseer dít waarvoor Hillsdale staan,” antwoord Mark. Dit is wel Hillsdale se kernbesigheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.