Hindernisse vir onteiening sonder vergoeding

Foto: Lukas/Pexels.com

Die eerste toesprake wat pres. Cyril Ramaphosa ná sy bewindsoorname gelewer het, is oor die algemeen goed ontvang. Daar was egter een belangrike vlieg in die aptekersalf: Sy aanvaarding van die voorneme om (wit) grond sonder vergoeding te onteien.

Dié saak kan op twee vlakke ontleed word: politiek en konstitusioneel. Vandag wil ek op laasgenoemde fokus. Wat is die hekkies in die Suid-Afrikaanse reg waaroor Ramaphosa moet spring as hy dié voorneme wil uitvoer?

Die groot hekkie is dat die Grondwet gewysig sal moet word. En dis nie so maklik nie.

Kom ons kyk eers na wat die ongewysigde Grondwet oor eiendomsregte en onteiening sê.

’n Eerste punt is dat art. 25 onteiening onder bepaalde omstandighede moontlik maak, maar nié sonder “regverdige en billike” vergoeding nie. Verskeie goed omskrewe voorwaardes waaraan dié vergoeding moet voldoen, word genoem.

“Arbitrêre onteiening” word verbied; onteiening mag slegs kragtens “’n algemeen geldende voorskrif” geskied, en dan slegs “vir ’n openbare doel of in die openbare belang”.

Dis duidelik dat grondhervorming, met inbegrip van onteiening as sodanig, toegelaat word. Trouens, art. 25(4)(a) maak uitdruklik gewag van “die nasie se verbintenis tot grondhervorming”.

In ’n kommentaar sê die Sentrum vir Grondwetlike Regte die artikel “reflekteer ’n delikate ewewig tussen die beskerming van eiendomsregte enersyds en die dien van die openbare belang betreffende grondhervorming andersyds”.

Dis belangrik om te besef wat die artikel se historiese agtergrond is.

Onder apartheid is swart mense se eiendomsreg beperk tot die 13% van Suid-Afrika wat binne die grense van die gefragmenteerde “tuislande” se grense geval het. Daar was ook oorblyfsels van die eiendomsreg van voor apartheid, byvoorbeeld in die township Alexandra in Johannesburg.

Dit was duidelik rassediskriminasie, en die vraag by die grondwetskrywers was hoe om daarmee om te gaan.

In ’n lesing verlede jaar voor die regsfakulteit aan die Universiteit van Kaapstad het een van die eerste regters van die konstitusionele hof, Albie Sachs, verduidelik:

“In a philosophical, historical sense, yes, the land was grabbed, but does that mean we grab the land back? Are we like the conquerors? Do we take our values from them? Do we throw them into the sea? Do we destroy access to the food that people need?”

Art. 25, soos hy nou staan, was die gevolg.

Helaas, hoofsaaklik weens die patetiese onbekwaamheid van die ANC, het die hele beleid van grondhervorming só stadig en ondoeltreffend verloop dat dit – altans tot dusver – ʼn mislukking is. Wat natuurlik manna uit die hemel vir die EFF en die populistiese vleuel van die ANC is.

Ramaphosa staan in die algemeen voor ʼn geweldige taak. Hy het nog nie die magstryd in die ANC onomwonde gewen nie, en hy moet die skrikwekkende voorkoms van magsmisbruik, nepotisme en korrupsie kliphard aanpak.

Dit lyk daarom of hy die kwessie van onteiening sonder vergoeding beskou as ʼn soort been wat hy vir die hond kan gooi om dié tevrede te hou. Maar nogmaals, daarvoor moet die Grondwet verander word.

Die Grondwet self skryf voor hoe die dokument gewysig kan word. In normale omstandighede is ʼn tweederde-meerderheid in albei huise van die parlement nodig (art. 74).

Dis nie al nie, want die vereistes vir die wysiging van Hoofstuk 2 – die Handves van Regte, waarvan die eiendomsregbepaling deel is – is hoër. Behalwe vir die tweederde-meerderheid in albei huise, moet ook die verteenwoordigers van minstens ses provinsies in die Raad van Provinsies instem.

Verder, so bepaal art. 36, kan die regte wat Hoofstuk 2 verleen, beperk word slegs “kragtens ʼn algemeen geldende voorskrif” – en die volgende woorde is van sleutelbelang – “in die mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in ʼn oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid”. Verder “mag geen regsvoorskrif enige reg wat in die Handves van Regte verskans is, beperk nie”.

Nog ʼn relevante bepaling is 39(1) en 233, wat sê die hof moet die volkereg in aanmerking neem wanneer die Grondwet en ander wette uitgelê word.

Tot sover die Grondwet.

Die vraag is nou of die Grondwet sodanig gewysig kan word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Hier beland ons in ’n grys gebied waar geen kategoriese antwoord moontlik is nie. Die beperking in art. 36 is taamlik vaag gestel. As jy effens moedswillig is, kan jy sê dis só wyd bewoord dat jy ʼn wa en ʼn osse daarin kan laat draai.

Hoe sou die konstitusionele hof beslis as Ramaphosa die Grondwet só probeer verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak?

Wel, enersyds het die lede van die konstitusionele hof, ook onder leiding van hoofregter Mogoeng Mogoeng, die Grondwet reeds verskeie kere baie suiwer uitgelê as dit gaan om die regering en pres. Jacob Zuma se flagrante misbruik van mag. As ʼn mens sien hoe Zuma elemente van die burgerlike samelewing (soms nogal suksesvol) geïntimideer het, getuig die regters se beslissings van moed.

As dit egter by eiendomskwessies kom, het Mogoeng en die meerderheid van die regbank reeds verskeie kere gewys dat hulle oorhel weg van die beskerming van eiendom. In 2013 het hulle in ʼn saak teen Agri SA (oor mineraalregte) ʼn uiters omstrede beslissing geneem, wat die minderheid beweeg het om te waarsku dat dit “tot die afskaffing van die private eienaarskap … van alle eiendom” kan lei.

ʼn Mens het ook gesien hoe Mogoeng en die meerderheid van die regbank in die onlangse saak oor Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat ʼn beslissing geneem het wat vir enigiemand met ʼn normale gesonde verstand regstreeks teen die Grondwet ingedruis het. Daar was dit nie eens ʼn grys gebied nie; die regters het eenvoudig ʼn grondwetlike krisis met hul flagrant onkonstitusionele beslissing geskep.

Indien Ramaphosa die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding inderdaad deurvoer, het ek nie veel hoop dat die meerderheid regters – met inbegrip van Mogoeng – aan die kant van die eienaars sal staan nie. En hier is dit wel deeglik ʼn grys gebied waar regters met ʼn goeie gewete aan albei kante van die heining sou kon afklim.

Nee, dis duidelik dat die saak eerder op politieke vlak uitbaklei sal moet word.

Ramaphosa het te kenne gegee grondonteiening mag nie die ekonomie of voedselvoorsiening benadeel nie. Wel, dis so duidelik soos daglig dat dit wel deeglik die gevolge sal wees.

ʼn Mens kan die nuwe president met oortuiging in sy aangekondigde kruistog teen korrupsie steun. Maar as dit kom by eiendom … wees maar wakker.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

35 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eish

Wel, dié mosie van die EFF is met wysiging aanvaar deur 241 teen 83. Die wysiging is oppad. Debatering was n futiele oefening in nikssegendheid. Ons gaan ons tweedeklasburgerskap in sy volle omvang beleef, hier, in ons tyd. Ons tyd van kies tussen Mammon en ons Hemelse Vader is op hande. ” Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet julle vyand liefhê en goed doen aan die wat julle haat. Seën die wat julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig. Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en… Lees meer »

Philio

Wat my bekommer is dat mineraalregte ‘n tyd gelede onteien is sonder dat art 25 vd Grondwet gewysig is. Gaan lees verder die Grondwetlike Hof se uitspraak in die Agri SA-saak hieroor

MOgoeng

Ek is al so keelvol vir almal wat preek en profetiese woorde spreek en Angus wat die kant vir Kaapstad skuld gee dat hulle sondig is en die een wat sy vyande moet liefhe, het EEN VAN JULLE ENIGE PRAKTIESE RAAD vir die toekoms of haal julle ook maar net die Bybel soos pappegaaie aan en hoop hulle vat nie jou stukkie grond nie? HOU OP preek en DOEN VIR ‘n SLAG IETS of is dit weer ‘n SIENER wat sy twak praat?

Christa

Mogoeng, dis skrikwekkend om te hoor hoe jy praat. Buig jou knie voor God en onderwerp jouself aan Hom. Net Hy kan ons red, uit onself kan ons niks doen nie.

Paul

Dr Leopold, jy praat nou en dan van “grys gebied”. Nou is ek aspris, as ek vra, is dit soos grys water?