Hindernisse vir onteiening sonder vergoeding

Foto: Lukas/Pexels.com

Die eerste toesprake wat pres. Cyril Ramaphosa ná sy bewindsoorname gelewer het, is oor die algemeen goed ontvang. Daar was egter een belangrike vlieg in die aptekersalf: Sy aanvaarding van die voorneme om (wit) grond sonder vergoeding te onteien.

Dié saak kan op twee vlakke ontleed word: politiek en konstitusioneel. Vandag wil ek op laasgenoemde fokus. Wat is die hekkies in die Suid-Afrikaanse reg waaroor Ramaphosa moet spring as hy dié voorneme wil uitvoer?

Die groot hekkie is dat die Grondwet gewysig sal moet word. En dis nie so maklik nie.

Kom ons kyk eers na wat die ongewysigde Grondwet oor eiendomsregte en onteiening sê.

’n Eerste punt is dat art. 25 onteiening onder bepaalde omstandighede moontlik maak, maar nié sonder “regverdige en billike” vergoeding nie. Verskeie goed omskrewe voorwaardes waaraan dié vergoeding moet voldoen, word genoem.

“Arbitrêre onteiening” word verbied; onteiening mag slegs kragtens “’n algemeen geldende voorskrif” geskied, en dan slegs “vir ’n openbare doel of in die openbare belang”.

Dis duidelik dat grondhervorming, met inbegrip van onteiening as sodanig, toegelaat word. Trouens, art. 25(4)(a) maak uitdruklik gewag van “die nasie se verbintenis tot grondhervorming”.

In ’n kommentaar sê die Sentrum vir Grondwetlike Regte die artikel “reflekteer ’n delikate ewewig tussen die beskerming van eiendomsregte enersyds en die dien van die openbare belang betreffende grondhervorming andersyds”.

Dis belangrik om te besef wat die artikel se historiese agtergrond is.

Onder apartheid is swart mense se eiendomsreg beperk tot die 13% van Suid-Afrika wat binne die grense van die gefragmenteerde “tuislande” se grense geval het. Daar was ook oorblyfsels van die eiendomsreg van voor apartheid, byvoorbeeld in die township Alexandra in Johannesburg.

Dit was duidelik rassediskriminasie, en die vraag by die grondwetskrywers was hoe om daarmee om te gaan.

In ’n lesing verlede jaar voor die regsfakulteit aan die Universiteit van Kaapstad het een van die eerste regters van die konstitusionele hof, Albie Sachs, verduidelik:

“In a philosophical, historical sense, yes, the land was grabbed, but does that mean we grab the land back? Are we like the conquerors? Do we take our values from them? Do we throw them into the sea? Do we destroy access to the food that people need?”

Art. 25, soos hy nou staan, was die gevolg.

Helaas, hoofsaaklik weens die patetiese onbekwaamheid van die ANC, het die hele beleid van grondhervorming só stadig en ondoeltreffend verloop dat dit – altans tot dusver – ʼn mislukking is. Wat natuurlik manna uit die hemel vir die EFF en die populistiese vleuel van die ANC is.

Ramaphosa staan in die algemeen voor ʼn geweldige taak. Hy het nog nie die magstryd in die ANC onomwonde gewen nie, en hy moet die skrikwekkende voorkoms van magsmisbruik, nepotisme en korrupsie kliphard aanpak.

Dit lyk daarom of hy die kwessie van onteiening sonder vergoeding beskou as ʼn soort been wat hy vir die hond kan gooi om dié tevrede te hou. Maar nogmaals, daarvoor moet die Grondwet verander word.

Die Grondwet self skryf voor hoe die dokument gewysig kan word. In normale omstandighede is ʼn tweederde-meerderheid in albei huise van die parlement nodig (art. 74).

Dis nie al nie, want die vereistes vir die wysiging van Hoofstuk 2 – die Handves van Regte, waarvan die eiendomsregbepaling deel is – is hoër. Behalwe vir die tweederde-meerderheid in albei huise, moet ook die verteenwoordigers van minstens ses provinsies in die Raad van Provinsies instem.

Verder, so bepaal art. 36, kan die regte wat Hoofstuk 2 verleen, beperk word slegs “kragtens ʼn algemeen geldende voorskrif” – en die volgende woorde is van sleutelbelang – “in die mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in ʼn oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid”. Verder “mag geen regsvoorskrif enige reg wat in die Handves van Regte verskans is, beperk nie”.

Nog ʼn relevante bepaling is 39(1) en 233, wat sê die hof moet die volkereg in aanmerking neem wanneer die Grondwet en ander wette uitgelê word.

Tot sover die Grondwet.

Die vraag is nou of die Grondwet sodanig gewysig kan word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Hier beland ons in ’n grys gebied waar geen kategoriese antwoord moontlik is nie. Die beperking in art. 36 is taamlik vaag gestel. As jy effens moedswillig is, kan jy sê dis só wyd bewoord dat jy ʼn wa en ʼn osse daarin kan laat draai.

Hoe sou die konstitusionele hof beslis as Ramaphosa die Grondwet só probeer verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak?

Wel, enersyds het die lede van die konstitusionele hof, ook onder leiding van hoofregter Mogoeng Mogoeng, die Grondwet reeds verskeie kere baie suiwer uitgelê as dit gaan om die regering en pres. Jacob Zuma se flagrante misbruik van mag. As ʼn mens sien hoe Zuma elemente van die burgerlike samelewing (soms nogal suksesvol) geïntimideer het, getuig die regters se beslissings van moed.

As dit egter by eiendomskwessies kom, het Mogoeng en die meerderheid van die regbank reeds verskeie kere gewys dat hulle oorhel weg van die beskerming van eiendom. In 2013 het hulle in ʼn saak teen Agri SA (oor mineraalregte) ʼn uiters omstrede beslissing geneem, wat die minderheid beweeg het om te waarsku dat dit “tot die afskaffing van die private eienaarskap … van alle eiendom” kan lei.

ʼn Mens het ook gesien hoe Mogoeng en die meerderheid van die regbank in die onlangse saak oor Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat ʼn beslissing geneem het wat vir enigiemand met ʼn normale gesonde verstand regstreeks teen die Grondwet ingedruis het. Daar was dit nie eens ʼn grys gebied nie; die regters het eenvoudig ʼn grondwetlike krisis met hul flagrant onkonstitusionele beslissing geskep.

Indien Ramaphosa die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding inderdaad deurvoer, het ek nie veel hoop dat die meerderheid regters – met inbegrip van Mogoeng – aan die kant van die eienaars sal staan nie. En hier is dit wel deeglik ʼn grys gebied waar regters met ʼn goeie gewete aan albei kante van die heining sou kon afklim.

Nee, dis duidelik dat die saak eerder op politieke vlak uitbaklei sal moet word.

Ramaphosa het te kenne gegee grondonteiening mag nie die ekonomie of voedselvoorsiening benadeel nie. Wel, dis so duidelik soos daglig dat dit wel deeglik die gevolge sal wees.

ʼn Mens kan die nuwe president met oortuiging in sy aangekondigde kruistog teen korrupsie steun. Maar as dit kom by eiendom … wees maar wakker.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Eish ·

Wel, dié mosie van die EFF is met wysiging aanvaar deur 241 teen 83. Die wysiging is oppad.
Debatering was n futiele oefening in nikssegendheid.
Ons gaan ons tweedeklasburgerskap in sy volle omvang beleef, hier, in ons tyd.
Ons tyd van kies tussen Mammon en ons Hemelse Vader is op hande.
” Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet julle vyand liefhê en goed doen aan die wat julle haat.
Seën die wat julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.
Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bokleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weer nie.
Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat dit neem nie.” Lukas 6:27-30
Ek dink die tyd het aangebreek vir die leefwyse. Die tyd het dalk aangebreek om uit die bevryding te leef. Weereens skitter die kerk in sy afwesige profetiese roeping oor die saak.

Robert ·

Ai Eish, gaan lees maar oor die prosedure hoe die wysing moontlik kan plaasvind. Dit is net so oppad soos dat die aarde more gaan verdwyn. Kry eers jou feite agtermekaar voordat jy emosionele dinge hier kom braak. Gaan lees ook ‘n bietjie oor die geskiedenis van ons land veral hier van die 60’s af en jy sal sien dat daar wel swart mense weggevat is van grond af. Nie baie nie maar wel. En die kerk wat jy van praat is aan die kwyn so prominent soos wat die apartheids regering van hom misbruik gemaak het in die apartheids jare.

Philio ·

Wat my bekommer is dat mineraalregte ‘n tyd gelede onteien is sonder dat art 25 vd Grondwet gewysig is. Gaan lees verder die Grondwetlike Hof se uitspraak in die Agri SA-saak hieroor

MOgoeng ·

Ek is al so keelvol vir almal wat preek en profetiese woorde spreek en Angus wat die kant vir Kaapstad skuld gee dat hulle sondig is en die een wat sy vyande moet liefhe, het EEN VAN JULLE ENIGE PRAKTIESE RAAD vir die toekoms of haal julle ook maar net die Bybel soos pappegaaie aan en hoop hulle vat nie jou stukkie grond nie? HOU OP preek en DOEN VIR ‘n SLAG IETS of is dit weer ‘n SIENER wat sy twak praat?

Antionette Malan ·

Nou toe, wees jy dan die eerste een om praktiese raad uit te deel.

ChristaT ·

Ons almal wag in spanning vir jou “Praktiese Raad” MOgoeng. Jy weet mos beter. Val die man en kerk en die bybel en sommer vir God ook aan. Kom nou “put your money where your mouth is’ . Ons wag

Christa ·

Mogoeng, dis skrikwekkend om te hoor hoe jy praat. Buig jou knie voor God en onderwerp jouself aan Hom. Net Hy kan ons red, uit onself kan ons niks doen nie.

Paul ·

Dr Leopold, jy praat nou en dan van “grys gebied”. Nou is ek aspris, as ek vra, is dit soos grys water?

Leopold Scholtz ·

Paul, hoe laat jy my nou glimlag. Ek bedoel eintlik maar dis ‘n gebied waar die hofbeslissing legitiem na alkante toe kan uitval. Daai’s ma’ al.

Johann ·

So ewe deel die Dr sy insig en wyshede uit NEDERLAND as ek reg is? So asof hy kan praat met daaikse ervarings uit SUID AFIKA uit?

leon jordaan ·

Die grondwet van SA is minder as die papier waarop dit geteken is en die finale fase van die uitwissing van die minderheidsgroepe (ek verwys spesifiek die witminderheidsgroep) gaan nou geformuliseer word en tot uitvoering gebring word. Volgende stap is die sentralisering van die SA Reserwe Bank wat effektief die finansiele sektor gaan sentraliseer. Daaropvolgende is die senyralisering van die vervaardigingssektor. Eintlik is SA op n kommunistiese ideologie geskoei, ondanks al die gerusstellings van die hogere politieke ontleders wat hulle in die buiteland begewe en diegene wat in SA is op een of ander wyse by die regerende party se beleid betrokke is en inderwaarheid by flagrante propaganda betrokke is.

Casper Labuschagne ·

Alhoewel ek nie deur die bank met Leopold Scholtz saamstem nie, kan ek maar net wens dat net ‘n deeltjie van die SA bevolking so goed ingelig was as L.S. rakende ons geskiedenis, die ou SA weermag en die huidige politieke opset. Nee ek skud dikwels my kop vir die Afrikanervolk se skreiende onkunde oor hul herkoms en geskiedenis asook ‘n gebrekkige kennis van die wêreld. Ten spyte van gehalte onderwys in puik Afrikaanse skole besit die deursnit persoon daarby ‘n algemene onvermoë om hoegenaamd ‘n taalkorrekte sin saam te flans sonder blakende en onverskoonbare spelfoute.

Gerhard ·

Casper ek dink jy maak die selfde fout as baie Afrikaners en maak teveel van Afrikaanse skole. Daar is reeds baie fout met hulle. Dit is net ‘n geval van wanneer jy jouself met van die swakse voorbeelde vergelyk, bv. skole in die Nuwe Suid-Afrika, dan lyk jy soos ‘n superster. Hou ook in gedagte dat baie mense die laaste keer in Afrikaans moes skryf toe hulle op skool was, dan sal jy verstaan waarom hulle spelling agteruit gaan. Verder wil ek ook die stelling maak dat selfs al het jy al die al kennis in die wereld weet jy nie noodwendig wat om daarmee te doen nie. Dit kom veral voor met sosiale wetenskappe, maar eintlik in enige veld. Gaan kyk maar hoeveel professionele kan nie hulle werk behoorlik doen nie omdat hulle nie weet hoe om hulle kennis te gebruik nie. Ongelukkig was dit nog altyd so dat baie Afrikaners hulself deur Universiteite gepapegaai het en daarna net ‘n lisensie gehad het om droog te maak. Die mense wat ons volk het waar hy vandag is is gewoonlik goeie voorbeelde daarvan.

Yippeee ·

Ons ou boerevolkie was darem slim om die grondwet te skryf. Was dit nie daarvoor nie was ons land en volk lankal in hul glory in. Nou vat dit darem langer. Sit julle slim mense. Niemand sou die grondwet kon uitdink soos net ons kan nie.

Gerhard ·

Die wigte en teenwigte gaan nou enige oomblik in werking tree ;-)

Joe Hall ·

Dankie MOgoeng!!!
Ek is ook laaaaankal keelvol en stem 100% met jou saam, vir wat dit werd is. :-)
Afriforum en verwante organisasies verrig reeds vir geruime tyd waardevolle en ‘praktiese’ take in ‘n poging om die sotterny wat deur die huidige regime verrig word, te beveg. Beste wat ons gewone ouens kan doen is om Afriforum en soortgelyke organisasies met ons swaar verdiende shekkels te ondersteun.
Ek vertrou dat me Malan dit reeds laaaaankal doen.
:-)

Joe Hall ·

Jammer Gerhard ek wou saam met jou smaail, maar toe plak ek die antwoord/smaail op die verkeerde plek.
Dalkies kan MM se woordspietkop tot my hulp kom. :-)

Gerhard ·

So m.a.w. daar is GEEN hindernisse in die pad van onteiening nie.

Johannes Meintjes ·

Ongeag wie wat ook al sê hulle gaan daai wet verander in die konstitisie kom wat wil. En ja die wonderlike woorde van Julius Malema waar hy sê dat hulle nie jou,Huis,Besigheid,woonstel ens gaan vat nie. wie moet daai woorde van iemand wat nie eerlik is glo nie. Ons is oppad na ‘n tweede Zimbabwe.

DewaldS ·

Dr Leopold,

Ek dink jy beskou jouself as ‘n historikus. Ek sal graag wil weet wat is die dinge wat jy in Suid-Afrika gesien het wat jou laat glo het dat dinge hier anders sal uitwerk as in die res van Afrik?. Ek bedoel – jy was tog ‘n openlike voorstaander van die Nuwe Suid-Afrika wat ons vandag het.

Leopold Scholtz ·

Beste nefie Dewald, vir wat dit werd is (dalk nie veel nie), ek beskou myself nie bloot as ‘n historikus nie, ek is een met grade en ‘n klomp akademiese publikasies. Dan, wat jou vraag betref? As jy my artikels in Die Burger op ‘n soekenjin opsoek, sal jy sien wat my standpunt deurgaans was: Dinge sal vir ons Afrikaners nooit weer wees wat dit voor 1994 was nie. Maar daar is verskeie faktore wat sal maak dat ons waarskynlik nie in dieselfde chaos wegsink as wat ‘n mens in Zimbabwe, die DRK of so aantref nie. Ek gee toe, onder JZ het ons gevaarlik in daardie rigting begin agteruitgaan, en ‘n mens moet ook met CR wakker bly. Ek sien nie in hom die redder van die nasie nie. Maar jy moet ook besef dat apartheid teen 1990 in ‘n onverbiddellike doodloopstraat was. Ons kon eenvoudig nie so voortgaan nie. Gaan lees gerus my boekie Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste Eeu, waar ek uitvoerig op die saak ingaan. Ons moes apartheid afskaf; ons had geen keuse nie. Of die resultaat van die onderhandelinge beter kon gewees het – ja, ek glo van wel. Nie vreeslik veel nie, maar darem. Daar het FW-hulle die bal aangeslaan. Intussen, probeer bietjie jou bitterheid in toom te hou, toe? Lekker dag vir jou.

dewalds ·

Al daai doktorsgrade – wat help dit jou as jy sê iets gaan beslis werk en dan is dit ‘n besliste gemors soos gewone ouens vir jou gesê het dit sal wees? Ek is nie bitter nie – ek is teleurgesteld in die uitkoms. Hierdie hele land gaan vernietig word en meeste van die inwoners niks oorhê nie. Dis nou die wat gaan oorleef.

Hendrik ·

Feit is dat die ANC en EFF saam meer as 2/3 stemme in die parlement het, dus verander hulle eenvoudig die grondwet as dit op die punt kom. Dit gaan kom. Ons moet ons planne nou maak!

Amus ·

Is daar voorbeelde in die wêreld waar mense hul eiendom suksesvol kon verdedig teen ‘n staat wat dit wou afvat, soos die Pick’nDon’tPay mense dit nou hier wil doen?

johan II ·

Amus jy weet die antwoord is NEE, kommunisme skrik vir niks…maar dit is goedkoop politiek (in SA vir nou) wat ons miljoene aan belegging kos. Meeste eindom behoort aan die banke en eks seker meer as ou Dr L se 13% van die totale “privaat” grond is in swart besit en word nog altyd onderbenut is ons voormalige tuislande (wat n skande) . CR het self baie eindom maar dit word van hom verwag om dit te sê, daarom sê hy dit.

Terloops lees gerus NIE Dr. L se kruispad boek nie. As jy tyd kry vir lees mik eerder “SA 2030” van Frans Cronje.
Ek spel soos ek goedink, en verder skryf ek (by my werk) slegs in hoogs brits, want dit word van my “Dutch donky” verwag.
Hou ASB op met die aanhaal uit die Bybel, jul misbruik dit om mense op te sweep…dit is nie hoekom die Bybel geskryf is nie.

Joh 3:16 ·

Amus: die enigste plekke waar dit op groot skaal plaasgevind het, was in Kommunisties lande. Kommunistiese doen dit ook net wanneer hulle ‘n generasie lank in regering was. Hoekom? Die staat voer nie die belydenis uit nie, maar die nasie wat in een generasie van hulle regering tot die Kommunistiese denke bekeer is. Vir enige kommunis is die skoolstelsel die sleutel in die tyd. Christenskap word baie sterk gediskrediteer, want Christenskap bevorder eiendomsreg en die individu se verantwoordelikheid om te handhaaf en te bou. As die populistiese slagkreet draai na gemeenskaplike eiendomsbesit onder die staat, gaan die staat oor tot Onteieningswet. As iemand weerstand bied, word hy beskou as vyand van die mense. In die state kon niks teen die skaakmat posisie gedoen word nie. Onthou die staat weet enige opsie is na ‘n generasie verdeel tot gefraktureerde minderhede. Menslike gesproke is daar geen werkbare plan teen die verwoestend kanker van Kommunisme nie.

Veritas ·

En tussen ál die politici, wat aan die gesprek deelneem, is daar net een wat die historiese feite ken. Dié man is Mosioa Lekota van Cope. Eergister op 702 se Eusebius Mckaiser se program, het hy die waarheid gepraat en die blanke se reg op grondbesit verdedig. Die enigste politikus met die visie om die land in die regte rigting te stuur. Ons weet reeds dat die DA grondgrype ondersteun en dat die VF+ nie eers die moeite gedoen het om deel te neem aan die debat nie. Dalk was hulle nie genooi nie, ek weet nie. Een ding is ek seker van en dit is dat ek volgende jaar my kruisie agter die naam van Cope sal maak.

Ebert Terblanche ·

Volgens die berig op Maroelamedia “Parlement aanvaar onteiening sonder vergoeding” het Pieter Groenewald van die VF wel aan die debat deelgeneem en het die VF saam met die DA, ACDP en Cope teen die mosie gestem. Ek het ook waardering vir Cope, maar jy moenie die waarheid verdraai nie.

Pierre ·

Stem nie saam met Eish hierbo.
Wat se Dawid in Psa_71:13 Laat hulle wat my as vyand behandel, beskaamd staan, verteer word; laat hulle wat my teëspoed soek, hulleself toedraai in oneer en skande.
Het jy al die boeke van Makkabeërs gelees, boek van Opregte?
Lev 26:38  Maar julle sal omkom onder die nasies, en die land van julle vyande sal julle verteer. 
Jy sien ons volkie het weggedraai van ons Vader, kerke leer vir ons Bileam en die wereld glo dit.

Frans C ·

Daar het 76 verteenwoordigers buite stemming gebly.Van die getal is 53 stemme nodig om saam met die 83 teenstemme teen die wetwysiging te stem wanneer dit voorgelê in die parlement.
Die grondwet maak reeds voorsiening in artikel 25 dat wetgewing goedgekeur moet word om onteiening van grond moontlik te maak.Dit is dus nie nodig om artikel 25 te wysig nie.

Die ANC het net die afgelope 25 jaar niks omtrent dit gedoen nie en het grootskaalse korrupsie en onvermoë van nuwe grondeienaars tot 95 % van alle grondonteiening dmv
die vrye markstelsel op ‘n mislukking uitgeloop.
Reeds in 2004 het Dr Philip du Toit die ‘The Great South African Land Scandal’ laat publiseer.Dit is egter deur die ANC en sy liberale meelopers afgekraak as onwaar,tot 14 jaar later toe die ANC moes erken omdat die EFF hul daartoe gedwing het,dat hul grondhervormingsbeleid tot dusver ‘n totale mislukking was.
Al word die gronwet gewysig beteken dit nog nie dat die ANC dit gaan toepas nie.
Die gevolge daarvan is reeds merkbaar in reaksie van opposisie maatskappye en seer sekerlik beleggers wat weereens hul beleid van beleggings in Suid Afrika gaan hersien.

AS jou eiendomsreg nie beskerm word nie is die kans op belegging klein.Intussen is Eskom verder afgegradeer en dit terwyl die EFF nie grond wil onteien nie,maar nasionaliseer en dit dus staatseiendom wil maak.

Wes ·

Geloof is ons enigste hoop. Net God kan hierdie proses in Siud Afrika stop en omkeer. Dit is egter ook so dat die Here nie sommer net dinge doen nie maar dat hy mense soos u en ek gebruik om dinge te doen. Die grootste uitbeelding van geloof is juis om deel te neem al lyk alles vir jou hopeloos. Dan kan God wonderwerke laat gebeur aan die hand van eenvoudige maar gelowige mensies. Hier wag nou so ‘n tydperk op ons Boere Afrikaners en almal wat ons ondersteun. Om die Here se krag te kan ervaar sal ons egter ons huise in orde moet bring volgens sy wil. Ons moet maar elkeen sy eie ondersoek doen van waar jy staan. Ek dink die belangrikste uitspraak is ” ek en my huis sal die Here dien”.

french ·

Faites sécession dans la région ou vous êtes majoritaire .
sinon c’est la valise ou le cerceuil: algerie 1962
un français

Ebert Terblanche ·

Dankie vir die goeie uiteensetting Leopold.

Die goed-klinkende klousules van die Grondwet is uiteindelik net dooie woorde op papier totdat die regering en die Grondwethof uitvoering daaraan gee, natuurlik volgens hul oordeel wat ook hul eiebelang dien.

Die stryd sal inderdaad op die politieke arena beslis word en hiermee bedoel ek nie die stembus nie. Mense sal moet mobiliseer op ‘n wyse wat swart vrydag na ‘n uitstappie laat lyk.

Die Romeinse gesegde “facta non verba” kom ter sprake: dade, nie woorde nie.

Ons moet vir ons ‘n toekoms skep. Woorde alleen gaan nie help nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.