Histeriese toon van rassedebat

rassisme mnn_com

Grafika; mnn.com

Die half histeriese toon van die huidige debat oor rassisme het verskillende bronne. Kom ons kyk eers na die giftigheid van talle swartes – ofskoon gelukkig verreweg nie almal nie.

Op een vlak is dit logies dat swartes heftig op wit rassisme sal reageer. Van alle mense sou juis Afrikaners dit die beste moet verstaan – hulle is in die verlede op soortgelyke wyse deur Engelssprekendes neerbuigend bekyk en behandel.

Die arrogante wyse waarop die televisie-nuusleser Andrew Barnes gesê het iemand moet min. Angie Motshekga vertel hoe om die woord “epitome” korrek uit te spreek, het getuig van presies dié soort Engelse hovaardigheid waarmee Afrikaners soos ek se Boere-Engels vroeër as minderwaardig en onbeskaaf bestempel is.

Swartes eis, tereg, dat hulle as mense beskou word. Talle wil, nes die meeste Afrikaners, trots wees op hul eie agtergrond en identiteit, en nie om elke draai wysgemaak word dat hul kultuur minderwaardig is nie.

Ook die Christelike godsdiens – as dit altans vir jou belangrik is – leer dat jy op niemand mag neerkyk nie en dat jy alle mense met respek moet behandel. Dit is ononderhandelbaar.
Maar daar is ook minder eerbare motiewe vir sommige swartes se heftige reaksie. Vir die ANC en die EFF het Penny Sparrow se twiet oor swartes as “ape” soos manna uit die hemel gekom. Ek kan my voorstel dat hul leiers agter die skerms ’n gat in die lug gespring het.

Later vanjaar word munisipale verkiesings gehou, en dis nou reeds duidelik wat die ANC en EFF se teiken gaan wees: wit rassisme. Trouens, hulle gaan oor mekaar val om mekaar te oorbie in die opstook van die reeds bestaande teen-wit-rassisme in die hoop om stemme te kry.

My voorspelling is dat die EFF taamlike vordering gaan vertoon, eenvoudig omdat hy die swart woede (wat deels teen die ANC se korrupsie en onbekwaamheid gerig is) beter verwoord.

Maar terselfdertyd moet ons meer uitsprake verwag soos pres. Jacob Zuma wat sê wittes het hul grond by die swartes “gesteel”, en alle probleme in die land het by Jan van Riebeeck begin. Ja, daar is ANC-leiers, soos Cyril Ramaphosa, Pravin Gordhan en ander wat hulle nie daaraan sal skuldig maak nie, maar die meeste sal hard in die koor saamsing.

Wittes (en bruines!) moet hulle klaarmaak vir ’n moeilike jaar.

Om ’n pad uit die neerwaartse spiraal aan te dui is nie so moeilik nie. Dit kom maar neer op die twee woorde wedersydse respek.

Dis egter aansienlik makliker gesê as gedaan. Te veel mense, wittes én swartes, meen as hulle agter ’n rekenaar inskuif, mag hulle die verskriklikste en beledigendste dinge kwytraak.
Dis mense sonder innerlike beskawing. Maar helaas is hulle, soos die armes van gees, met ons.

Wedersydse respek vereis enersyds dat wittes nie op hul swart medemens moet neerkyk nie, en andersom.

Jy mág trots op jou eie identiteit, taal en kultuur wees. Ek is ’n trotse Afrikaner, en niemand sal dit van my wegvat nie. Ek stáán op die taalregte wat die Grondwet aan my verleen, ook in die onderwys, en ek vra geen oomblik ekskuus daarvoor nie.

Helaas meen te veel swartes (en selfs polities korrekte Afrikaners) dat dié houding op rassisme neerkom. Wat dit absoluut nie is nie.

Omgekeerd moet ek as Afrikaner die reg van swartes aanvaar om ánders as ek te wees, en te aanvaar dat die swart kultuur vir baie swartes ’n tuiste is waar hulle veilig voel en dit nie as minderwaardig beskou nie.

Maar tans beweeg ons juis weg van dié bietjie gesonde verstand.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Johann Marx ·

Jy het net een punt mis gekyk. Gaan bestudeer die verskillende kulture wat nou so opgedwing word aan mekaar………en probeer verstaan wat hulle benadering is tot die term “wedersydse respek”. As verskillende rasse nie eens kan ooreenstem oor WAT wedersydse respek behels en omskryf nie, HOE gaan jy mense kry om dit teenoor mekaar uit te leef? Ek herhaal myself: Verskillende rasse het verskillende waardes. Party mors, en ander ruim op. Party raas, en ander is gematig. Party vat net wat hulle wil, en ander respekteer eiendomsreg. Nou kom staan ‘n persoon van ‘n ander ras, ontbloot homself voor my tiener dogter en urineer teen my erf muur. Die oomblik toe ek beswaar maak daarteen en vir hom sê dat dit nie aanvaarbore openbare gedrag is nie (op ‘n baie mooi beskaafde manier)……word ek uitgekryt as ‘n rassis. DIT….maak toe die rassis in my wakker. Presies dieselfde met wedersydse respek. Daar is ‘n spreekwoord wat lui: “Do not confuse my personality with my attitude. My personality is who I am. My attitude depends on who you are.”

Leendert van Oostrum ·

Hmmmmm………

Ek het, tydens besoeke aan Frankryk meer (wit, Franse) manne sien gebruikmaak van heinings as wat ek in soortgelyke tyd in Suid-Afrika sien.

En gaan Google maar vir prentjies van die opelug-“pissoir”.

Die Franse beskou hulself as waarskynlik die mees “beskaafde” volk ter wêreld.

Gemsbok ·

Leendert, ek vermoed dat volgens Johann se argument die wit Fransmanne waarna jy verwys oor dieselfde kam kan skeer as die ander rasse waarna hy in Suid-Afirka verwys.

Die punt hier is dus dat dit nie ras is wat die verdelende faktor is nie, maar uiteenlopende waardestelsels. In Suid-Afrika is dit ‘n ongelukkigheid dat die foutlynne tussen verskillende waardestelsels in baie gevalle saamval met verskille in rasse.

Dalk moes ons meer laeklas Europieërs ingevoer het gedurende die vorige eeue om die saamval van hierdie twee foutlyne te verbreek.

Marius ·

Al is daar net tien mense in ‘n kultuur is wat anders dink as hoe jy dit beskryf is dit ‘n veralgemening van die kultuur Johann. Nie ver van my nie is daar ‘n hele klomp Afrikanermense wat nogal baie morsig lewe. My swart buurman se erf lyk uiters netjies in vergelyking met dié mense s’n. Ek kan mos nou veralgemeen as ek wil. Mense wat beter lewenstandaarde het, beweeg nogal oor kultuurgrense weg van die massamentaliteit. Ons het voorspel toe die eerste swart mense in ons buurte intrek hulle seker hulle hele familie daar gaan laat plak. Hulle het nie(in elk geval nie in my buurt nie), en ek is nie juis in ‘n baie ryk buurt nie. Inteendeel daar is nie een so geval in my hele straat nie. Ek het oom nog nie een van hulle gesien urineer in my straat nie. Wat ek probeer sê is dat soos wat mense dit kan bekostig om beter huise en motors te koop hulle te veel het om te verloor. Hulle geniet die beter lewenstandaard en skielik het ons baie meer in gemeen as wat ons dink. Toe die nuus breek dat die regering ‘n nuwe laekoste behuisingskema naby ons buurt gaan bou was dit die swart inwoners wat die meeste gekant was daarteen(tot my groot verbasing). Wat was hulle grootste red? Misdaad en eiendomswaarde. Ons het eerder ‘n klasseprobleem as ‘n rasseprobleem, en onse prez buit die rassekaart uit want hy het niks anders om te bied nie.

Johann Marx ·

Nêrens het ek veralgemeen nie, Marius. Ek het bloot gesê verskillende rasse se standaarde en optrede is moontlik nie aanvaarbaar vir mekaar nie. Gaan lees weer. Die oomblik toe ek beswaar maak teen wat vir MY onaanvaarbare gedrag is, word ek dadelik uitgemaak as “die rassis”. As ek doen wat iemand anders aanstoot gee, vra ek onmiddelik om verskoning, en stop daardie gedrag. Maar in SA gebeur dit nie. Die oomblik wat jy jou mond oopmaak, dan word jy uitgekryt as “rassis”….en die persoon met wie jy gepraat het, gaan net eenvoudig aan met daardie gedrag. Ek het ook mense van ander rasse en gelowe in my straat. Verlede jaar het ek heel rustig in my tuin gesit, toe my woonbuurt ontplof in tweede Baghdad. Ek moes vir ‘n hele nag luister na “onwettige vuurwerke” waarmee my bure Diwali gevier het. Ek het die volgende dag soontoe gestap en gevra of hulle dink dat dit aanvaarbaar is dat ek vir een hele nag na hulle feesvieringe moes luister? My honde was histeries, my matriekleerling was omgekrap, ek het geen slaap gekry nie……en wat is die reaksie? Ek is aangeval en uitgetrap as die “rassis”, die “onverdraagsame”. Inteendeel, een van die antwoorde was: “This is my culture and what are you going to do about it?” Toe antwoord ek maar so: “Well, thank you for the most informative exposure to your culture. Since I’ve had to endure YOUR culture, I think it is only fair that you endure mine as well. We are Christian. Over Christmas we enjoy turkey for lunch. This year, on the 24th of December I’m coming to throw a couple of live turkeys in YOUR property and hunt them with a shot gun. I suggest you keep yourself AND your pets INDOORS…..we shouldn’t take longer than one night to hunt six turkeys!!” Om terug te kom na my punt toe: En ek veralgemeen nie. Mense en kulture verskil. Aanvaar dit nou so en beweeg aan. Erken en respekteer die feit dat ek verskillend is van jou, en doen bietjie moeite om daardie verskille in aanmerking te neem voordat jy sommer net jouself is, en as ek daaroor ‘n opmerking maak, my verskree as “rassis”!! Dit bring niemand nêrens nie.

Therese van Schalkwyk ·

Die rassisme-debat en die gesteelde grond-kwessie was nog altyd daar, maar sal voor elke verkiesing in intensiteit toeneem soos die ekonomie en die ANC se magsposisie verswak. Dit was ook in Zimbabwe die patroon wat gevolg is.

President Zuma is nie alleen verantwoordelik vir wilde uitsprake nie. Die groot held, Cyril Ramaphosa, het tydens die vorige verkiesing by geleentheid gewaarsku dat “die Boere apartheid gaan terugbring” as kiesers verkeerd stem. Die stembus is dus geen opsie nie.

Dit sou gaaf wees as invloedryke Suid-Afrikaners, soos bv. oud-president F.W. de Klerk, ons stamlande nader om wit Suid-Afrikaners wat wil emigreer in te neem. Die skrywer kan dalk daar in Holland begin voorspraak maak. Dit behoort nie eers ‘n fraksie van die tsunami Midde-Oosterse aankomelinge te wees nie. Dink daaroor ….. want as een Sparrow so ‘n storm kan los twiet, is daar nie veel hoop nie.

chrisp ·

Jy kan gerus die DA by jou ANC en EFF byvoeg as dit by die wit rassiste as ‘n verkiesings-foefie kom. Waaroor anders dink jy het hulle DA lede wat eintlik geen gewig dra nie so in die openbaar gekruisig? Kom nou wees bietjie neutraal .Jou onderrok hang maar aaklig uit Leopold. Baie van ons hier sien deur die rook.

Franck T ·

Leendert van Oostrum – maak tog net seker dat die Franse ‘mans’ na wie jy verwys, wat hulself in die publiek verlos, suiwer Franse bloed is. Ooral ter wereld vind ons ‘n tendens van morele verval, kriminaliteit en gebrek aan sosiaal aanvaarde goeie waardes waar bloed en kulture vermeng is terwyl by suiwer kulture vind ons oorwegend die teenoorgestelde. Kan jy dit asb eerder verklaar?

Tweedens, hierna ‘n kort relaas van my opinie van die onderwerp:
Daar bestaan nie iets soos rassisme in die negatiewe konteks nie, gemeet aan die volgende –
Oxford Dictionary 1911 -1976 :
RACIST / RACISM = A MAN THAT LOVES HIS OWN RACE. ie Liberalist/ism, Conservatist/ism, Individualist/ism, etc are all words indicating a conscious arbitrary preference toward the subject matter with no negative connotation. In context of the popular use of the word ‘racism’, it is actually a hate for arrogance.
Die woord rasisme asook die inherente aanwending daarvan word misplaas want in my opinie is ons almal geneig om ‘n ras te ‘haat’ indien ‘n lid of lede van ‘n spesifieke ras disrespekvol of arrogant optree. Ook veral as neerhalend reageer word wanneer hulle aangespreek word om eties respekvol op te tree of beter maniere te handhaaf asook wanneer ‘n ander ras jou doebewus probeer indoen / verkul want dit is ‘n arrogante aanslag teen jou belange en ‘n doelbewuste belediging van jou intelligensie. Die nastreef van ‘n Ubuntu beginsel is dus sinneloos sonder gelykmatige wedersydse respek vir peroon, beginsels, belange en gevoelens.
Dink aan die algemene persepsie van Japanese – ‘n unieke kultuur met unieke tradisionele maniere maar word in die algemeen deur alle volke met respek bejeen omdat hulle altyd of gewoonlik respekvol optree – “Honour before anything else”. Daarteenoor en hoewel ons self van Franse afkoms is, hou ek persoonlik nie veel van die deursnee moderne Fransman nie want in my opinie is hulle gewoonlik arrogant met min indien enige meer verfynde maniere, gewoonlik hoofsaaklik van vermengde bloed. Is ek dan nou ‘n ‘rassis’ .?.. nee want ek is dan van dieselfde ras; ek ‘haat’ net hul arrogansie en hulle is nie almal so nie. Maar dan is die emosionele ontploffing wat deur rasistiese situasies ontstaan, met min uitsondering in my opinie, gewoonlik tussen kinderagtige en/of swak opgevoede mense.
Geeneen ‘haat’ dus ‘n ander ras sonder rede nie maar wat ons eerder moet besef en op fokus is dat ons ‘haat’ primer gerig is op die arrogansie van ander (persoon of groep) en nie op sy velkleur nie. Respek moet verdien word en dit begin by jouself en jou gesindheid – die lewe is tog eerstens gesindheid.
Hoop dit is van waarde om die belaglike argumente te staak want, soos ons ouma ons herinner het, “No use to argue with a sick mind”, dit is wat arrogansie veroorsaak en dus sinneloos. Maar van die grootste belang; elke volk/ras het sy eie ‘skoonheid’ en daarop moet gefokus, beskerm en gebou word, sonder uitsondering maar sonder die vertrapping van ander.

Marius ·

Dankie vir jou eerlike terugvoer Johann. Ek het ook in die begin met my buurman vasgesit toe hulle raserige parytjies tot 2-uur in die oggend gehou het. Ek het gelukkig die polisie aan my kant gehad, en die swart polisieman het hom daarop gewys dat jy volgens die wet nie jou bure mag verstoor nie. Daar is egter blanke mense in my buurt wat ook partytjies tot in die oggendure hou.
Kulture verskil beslis, maar ek dink ons moet besef dat die vreemde dinge in ander kulture dalk baie kosbaar vir hulle is. Kulture kan ook verander soos wat ons westerse “kultuur” ook maar drasties verander het van 100 jaar terug. Divali se vuurwerke is ook maar ‘n nuwe ding wat volgens my ook maar weer kan verander.
Ons vriend hierbo dink duidelik bloedtoetse is die antwoord. Dis ‘n gevaarlike terrein want ek het eintlik geen versekering van die “suiwerheid” van my bloed nie. Respek en verfynde maniere word by die huis geleer en is nie van my bloed afhanklik nie. Ek dink dis gevaarlik om jou eie kultuur te oorromantiseer vir iets oordrewe skoon of heilig. Daar is baie dinge uit die eie Afrikaner-agtergrond waaroor ek maar liewer stilbly. Afrikaneridentiteit het ook maar ontwikkel oor ‘n paar eeue uit Franse, Nederlanse, Engelse, Duitse en wie weet watter ander kulture. Ons taal is deurspek met ander tale. Die dubbel negatief in ons taal kom van die maleise slawe. Dit was anderskleuriges. My vraag is waar stop ons.

Frans ·

Die ANC ontken die bestaan van verskillende volke met eie taal en kultuur.gesiedenis en tref onderskeid slegs gegrond op kleur .Aan die een kant die gewaande homogene swart bevolking en an die ander kant die wit bevolking en tussen in die ander soos die kleurlinge wat ‘n politieke speelbal tussen wit en swart geword het.

Te gekleurd om wit te wees en te veel in die Kaap ,maar swart genoeg om die ANC te ondersteun in die waansinnige gedagte van almal is mos mense op grond van die Bybel.

In Mat. 28.19 lees ‘n mens die opdrag om die evangelie aan al die nasies te verkondig en volgelinge van Chistus te maak.In latere vertaling is ‘nasies’ met ‘alle mense’ vervang.

Tog is diy opmerklik dat by die uitstorting van die Heilige Gees mense die evangelie in hul eie taal gehoor het.Handelinge 2. Volke verskeidenheid word dus nie in die Bybel ontken of geignoreer nie.
In Psalm 117 lees ‘n mens.’Loof die Here alle nasies.Prys Hom, alle volke.

Dit is hierdie begrippe wat tydens die Kodesa-onderhandelinge in die slag gebly het want sg. Christen-onderhandellaars het eerder op eie kennis en wysheid staatgemaak asom die Bybel vir riglyne te ondersoek en hul toe vasgeloop in kommunisties/humanisties georiënteerde handellaars met wegvee van alle verskille vasgeloop en die gemors agter gelaat wat vandag as die nuwe nasie bekend staan.

Ja dit is moontlik vir volke om saam een grondgebied te deel maar nie as een alles wil hê
en domineer op elke gebied en so die teelaarde met dwase uitsprake die teelaarde vir rassisme voor te berei.

Marius ·

Ek dink dis gesonde debat as mens kan praat oor hierdie tipe dinge op ‘n eerlike en respekvolle manier soos dit hier gebeur. Kultuur is iets baie dinamies. Behalwe vir my Engelse vriend se taal, braai hy ook gereeld, hy gaan elke Sondag kerk toe en hy deel dieselfde bekommernisse as ek. Ek gaan nie toelaat dat my kultuur bepaal wie ek is nie. Ek is trots om ‘n Afrikaner te wees maar dit is nie my primêre identiteit nie. Dit bepaal lankal nie meer my denke of aksies nie. Ek is heel eerste ‘n Christen en al my waardes word deur dit bepaal. Dis eers Christen, dan Afrikaner. Ek kan my Afrikanerskap verloor soos wat Hudson Taylor basies ‘n Chinees geword het. Vandag is daar miljoene gelowige Chinese omdat hy nie toegelaat het dat sy kultuur hom beperk om die evangelie te verkondig nie. Hulle is nog steeds Chinese. God verander harte, nie kulture nie. Baie keer pas kulture aan by dit wat God in hulle harte kom doen het. As jy nie meer voorvaders oproep omdat God jou kultuur kom verander het, wees dankbaar daarvoor. Ware Christene lyk baie meer na mekaar in dade en woorde as wat Afrikaners na mekaar lyk. Hulle is meer verdraagsaam teenoor mekaar as wat die gemiddelde Afrikaner is as ek na die gesprekke om braaivleisvure luister. Ons gaan nooit saamstem oor die dinge nie, want die belangrikste verskille tussen ons is nie kultuurgebonde nie . Afrikanerwaardes seevier nie oor persoonlike waardes nie. Die tweede generasie Afrikaners in Australië is reeds Aussies, al probeer hulle vir ‘n tyd om dit op te hou. Dit maak my nie swakker nie, want Christus bepaal my identiteit. Dis immers baie kragtiger as enigiets anders.

John ·

Ek dink nie ons wit en swart Afrikaners verkwalik mekaar hul kulture self nie, dit gaan eerder oor die kwessie van regte wat elkeen vir homself toereken. As iemand voel sy gewoontes of aspirasies word bedreig dan raak ons gou kwaad. Al bogenoemde skrywes val in die kraal van politici en opstokers. Eerlikwaar die term rassisme is ‘n wapen waarmee ‘n persoon of groep sy kant van die saak as die waarheid bo verdenking wil laat waarmerk. Rassisme is sedert die grondlegging van ons land vir persoonlike of groepsregte aangewend om ander te benadeel. Die Britse bestuur aan die Kaap het bedreig gevoel deur die wordende Afrikanervolk en die nuwe taal en begin om hofsake aanhangig te maak waarin die onderdrukking van die werkers telkens opgehaal is. Dr Philip die sendeling uit Engeland het honderde briewe na Europa geskryf waarin die boere as rassiste uitgemaak is. Ongelukkig is die uiteindes van die ondersoeke na die klagtes wat toe meestal leuens blyk te gewees het, nooit aan die groot klok gehang nie. Ons sit vandag nog met die speletjie. Dis ‘n droom om te hoop dat almal van ons van almal se doen en late sal hou. In Europa doen elke volk sy eie ding. In Amerika het Italianers en Duitsers ea hul eie eetplekke en praat land en sand hul taal van herkoms. By ons voel mense meestal bedreig tov hul veiligheid, die ruimtes wat hulle hulself gun en hul regte. Regte word meer geag as voorregte. As mense in ‘n land hul regte op ‘n dominerende wyse afdwing, gaan iemand gestres voel en gaan hulle iets se of doen. Om mense te keer om iets te se, is so goed soos om nie nou en dan die stoom uit ‘n drukkoker te laat ontsnap nie. Ons weet mos almal hoe lyk ‘n kombuis na so ‘n klein gebeurlikheidjie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.