Historiese blik op Jesus van Nasaret

Christus-die-verlosser

Die beeld van Christus die Verlosser in Brasilië. Foto: Robert Nyman/Unsplash.com

Dit was pas weer Kersfees, die tyd van die jaar wanneer Christene wêreldwyd die geboorte vier van Jesus van Nasaret, wat hulle as die Seun van God, die Messias, beskou.

Geloof is iets waaroor ’n mens moeilik wetenskaplik kan redeneer. Jy glo, of jy glo nie.

Maar as ’n mens dieper grawe, kan jy jou wel afvra waarop daardie geloof berus. Is daar verifieerbare feite wat die geloof objektief gesproke aanneemlik maak, of is dit ’n blinde geloof (soos om teen alle feite in te glo dat die son in die weste opkom)?

Ek is geen teoloog nie en kan nie oor die teologiese vertolking van Jesus se lewe oordeel nie. Ek is wel historikus en kan iets bydra oor die historiese bronne oor die saak.

Die allerbelangrikste vraag is: Was Jesus ’n egte historiese persoon? Of het kritici dit reg wat meen hy is ’n fantasie wat deur die vroegste Christene uit allerlei Egiptiese of Mesopotamiese gode saamgestel is?

Om mee te begin stem ek saam met die Duitse teoloog Hans Küng dat ons veel meer weet oor Jesus se lewe as byvoorbeeld oor dié van die profeet Mohammed, Boeddha of Confucius. Die vroegste geskrewe dokumente oor Mohammed dateer van 120 jaar ná sy dood, dié oor Boeddha 200 jaar, en dié oor Confucius ’n volle 400 jaar ná sy dood.

En tog twyfel niemand van betekenis dat dié drie bestaan het nie.

Daarteenoor dateer die eerste skriftelike getuienis oor die bestaan van iemand met die naam Jesus van Nasaret – Paulus se eerste brief aan die Tessalonisense – uit min of meer die jaar 50, minder as 20 jaar ná sy dood. In 1 Tessalonisense 1:3 maak Paulus al gewag van Jesus se historiese bestaan, en in hoofstuk 3:14 volg die heel eerste gedokumenteerde verwysing na Jesus se opstanding uit die dood.

Twintig jaar is nie lank nie – dink terug aan 1999: Dis sommer nou die dag.

Maar Paulus se geskrifte bied nie meer as fragmentariese getuienis nie. Dis geskryf vir mense wat bekend was met Jesus se lewe, mense vir wie nie meer as ’n halwe woord nodig was nie.

Die evangelies bied veel meer. Dikwels word aangeneem dat die vroegste evangelie, Markus, die enigste is wat voor die val van Jerusalem in die jaar 70 geskryf is en dat die ander daarna gevolg het.

Dié datum is vasgestel deur teoloë. As historikus kyk ek anders na die saak.

In die Handelinge van die Apostels word een gebeurtenis beskryf wat ons definitief aan ’n jaartal kan koppel, naamlik die moord op Jakobus, broer van Jesus. Uit die werk van die Joodse historikus Josefus weet ons dit het in die jaar 62 gebeur.

Wat nou so opvallend is, is dat Handelinge verder swyg oor die dood van die ander twee van die drietal leiers van die vroegste Christelike kerk, Petrus en Paulus. Die enigste denkbare rede is dat die skrywer nie daarvan wis nie omdat die twee tydens die skrywe nog in lewe was.

Allerweë word gereken dat Paulus en Petrus albei nie later nie as 64 in Rome gesterf het. Dit lei ’n mens logieserwys tot die gevolgtrekking dat Handelinge in die jare 62-64 voltooi is.

Daar is algemene konsensus oor die volgorde van die Nuwe Testamentiese geskrifte oor die vroegste kerk. Oudste is Markus, dan Matteus, vervolgens Lukas, Handelinge en ten slotte Johannes.

As Handelinge in 62-64 voltooi is, beteken dit dat Markus, Matteus en Lukas ouer moet wees. Om die waarheid te sê, die Duitse historikus en handskrifkenner Carsten Peter Thiede het ’n fragment van die evangelie van Matteus (wat in Cambridge bewaar word) op grond van die handskrif tot die middel van die eerste eeu gedateer.

Dit is betwyfel deur die meeste Bybelgeleerdes, wat meen sy datum is veels te vroeg. Maar dié geleerdes weet maar min van paleografie, die studie van hoe handskrifte deur die tyd verander. En, anders as Thiede, is hulle ook geen historici nie.

Ek durf te sê dat die kommentaar oor die Bybel te veel van teoloë en te min van historici kom. As jy die Bybel as ’n reeks historiese dokumente en met die intellektuele apparaat van die historikus bekyk, sien jy ander dinge as die teoloë.

As Thiede reg is, is die vroegste evangelies, net soos Paulus se sendbriewe, betreklik kort na Jesus se dood geskryf. Wat hul historiese akkuraatheid aanneemliker maak.

Die historikus Bart Ehrlichman – hy beskryf homself as ’n ateïs – het ’n hele boek gewy aan die vraag of Jesus werklik bestaan het. Hy wys daarop dat die evangelies baie duidelik op ouer, dikwels geskrewe, bronne berus.

Daardie bronne moes logieserwys binne enkele jare ná die kruisiging neergeskryf gewees het. In die voorwoord van sy boek skryf hy: “But as a historian I think evidence matters. And the past matters. And for anyone to whom both evidence and the past matter, a dispassionate consideration of the case makes it quite plain: Jesus did exist. He may not have been the Jesus that your mother believes in or the Jesus of the stained-glass window or the Jesus of your least favorite televangelist or the Jesus proclaimed by the Vatican, the Southern Baptist Convention, the local megachurch, or the California Gnostic. But he did exist, and we can say a few things, with relative certainty, about him.”

Die uiteindelike vraag is natuurlik: Is Jesus inderdaad gekruisig, en is hy uit die dood opgewek?

Wel, die Romeinse historikus Cornelius Tacitus verwys in sy Annale (weliswaar eers in 116 n.C. voltooi) dat ʼn man wat hy verkeerdelik met die naam Christus aandui, deur Pontius Pilatus tereggestel is, maar dat sy volgelinge nie hul geloof in hom prysgegee het nie. Sy kruisiging is bevestig.

Die bronne oor sy opwekking uit die dood is interessant. Paulus maak herhaaldelik gewag daarvan, ook oor die feit dat Jesus aan sy volgelinge verskyn het.

Daar word soms aangevoer dat die beskrywings van die kruisiging, opwekking en verskynings só verskil dat dit nie histories akkuraat kán wees nie.

Wel, as historikus is ek dikwels met uiteenlopende ooggetuieverslae oor ʼn gebeurtenis gekonfronteer, en ek kan u verseker, geen enkele keer stem hulle ooreen nie; daar is altyd verskille. Trouens, as hulle almal in alle opsigte dieselfde is, sal alle hare op my kop orent gaan staan, want dan is hier sprake van bedrog.

Die beskrywings in die evangelies lyk vir my as historikus of hulle op ooggetuieverslae gebaseer is. Belangriker nog is die feit wie as die eerste en dus belangrikste getuies geïdentifiseer word.

In al die verhale is die heel eerste getuies vroue. Vroue het destyds ʼn minderwaardige posisie in die samelewing beklee, mense van wie gemeen is dat hulle nie in staat is om die waarheid te vertel nie.

En tog is dit juis vroue wat die eerste getuie van die opgestane Jesus is, die mees ongeloofwaardige getuies wat jy jou kan indink in die oë van die destydse lesers. En dit maak die verhaal des te geloofwaardiger.

As historikus moet ek dus tot die genuanseerde gevolgtrekking kom dat die Bybelse getuienis oor die historiese lewe en dood van Jesus van Nasaret ʼn oorwegend geloofwaardige indruk maak.

Die teologiese vertolking daarvan is natuurlik weer ʼn ander saak. Dís waar die teoloë oorneem.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.