Hlaudi Motsoeneng v. Suid-Afrika se demokrasie

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit gaan vandag in die arbeidshof vra dat die besluit om die SAUK-joernaliste af te dank, ter syde gestel word en dat die dissiplinêre proses in die geheel opgeskort word hangende die beregting van die verskillende regsprosesse rakende die omstrede sensuurbesluit van die SAUK se bestuurshoof, Hlaudi Motsoeneng.

Solidariteit verteenwoordig Foeta Krige, Suna Venter, Krivani Pillay en Jacques Steenkamp. Die ander joernaliste word deur hul eie vakbonde en regspanne verteenwoordig. ’n Presedent vir een is ’n presedent vir almal en daarom sal hierdie saak tot voordeel van alle joernaliste wat afgedank is, asook alle ander joernaliste wat in vrees werk, strek.

Solidariteit gaan ook vra dat die SAUK moet identifiseer wie by die uitsaaier verantwoordelik was vir die besluit om die joernaliste af te dank en dat die hof ’n kostebevel teen die persone in hul individuele hoedanigheid moet uitreik.

Die SAUK het nie hul opponerende stukke gereed vir vandag se hofsaak nie en gaan waarskynlik vra vir uitstel. Hulle het voldoende tyd en kennisgewing gehad en dit is bloot nog ’n poging om regsprosesse te frustreer en te vermy. Hierdie saak is van groot openbare belang en is vir die joernaliste en die publiek van Suid-Afrika uiters dringend. Daar kan nie uitstel gegee word op grond van male fide-vertragingstegniek nie. Solidariteit sal enige aansoek om uitstel teenstaan.

In sy hofstukke vra Solidariteit om die joernaliste se reg om nie geskors en gedissiplineer te word nie, voortvloeiend uit ’n onregmatige opdrag, te beskerm. Die Okosa-bevinding het dit duidelik gestel dat die SAUK se sensuurbeleid ten opsigte van protes onwettig is en ’n verbreking is van die SAUK se verpligting ingevolge die Uitsaaiwet en die Grondwet.

Volgens Solidariteit is die Okosa-besluit bindend totdat die hooggeregshof die besluit in ’n hersieningsproses ter syde sou stel. Die SAUK het intussen aangedui dat hy hom in elk geval by die besluit gaan berus.

Indien die besluit onwettig was, is alle aksies voortspruitend uit die besluit – insluitend die dissiplinêre aksie – ook onwettig. Werknemers kan nie onderwerp word aan dissiplinêre prosesse wat gegrond is op onwettige opdragte of aanwysings nie.

Solidariteit vra ook dat die joernaliste se reg op vryheid van uitdrukking beskerm word. Die SAUK gebruik onregmatige taktiek om ’n kultuur van vrees by joernaliste te skep en ontneem hulle die reg op vryheid van uitdrukking en daardeur ook die publiek se reg op inligting. Dit is dus nie net die joernaliste wat benadeel word nie, maar ook die breë publiek.

Die land is op die vooraand van een van die mees omstrede plaaslike verkiesings en in dié tyd word joernaliste geskors, ontslaan en die hele SAUK word geïntimideer deur ’n kultuur van vrees.

Die oorspronklike klag teen die joernaliste was dat hulle hulself van ’n opdrag om sensuur uit te oefen, gedistansieer het. Die uiteindelike rede vir ontslag was dat dit algemene kennis is dat die joernaliste nie die bestuur van die SAUK respekteer nie en dat daar voortgegaan word om die SAUK en bestuur se gesag te ondermyn. Volgens die SAUK is die joernaliste se wangedrag onhoudbaar.

Vir Hlaudi Motsoeneng is die SAUK-bestuur se gesag die hoogste gesag. Jy durf dit nie ondermyn nie. Selfs as ’n opdrag grondwetlike beginsels ondermyn, mag bestuur se gesag nie ondermyn word nie.

In ’n gesprek met van die joernaliste het Motsoeneng gesê:
“If people do not adhere, get rid of them. We cannot have people who question management.”

Jimmy Matthews het bygevoeg:
“It is cold outside. If you do not like it you can go. You’ve got two choices: the door or the window.”

Die belangstelling in die SAUK-sage is dus so groot omdat Motsoeneng die grondwetlike demokrasie uitdaag.

Die instellings van die demokrasie het die afgelope tyd sterk na vore getree. Okosa, ’n artikel 9-instelling, speel sy waghondrol en lewer ’n uitspraak dat die sensuur-opdrag onwettig is. In praktyk beteken dit dat die hele dissiplinêre proses ook onregmatig is.

Die reaksie van die burgerlike samelewing is groot. Tientalle burgerlike organisasies staan op teen hierdie soort magsdemokrasie. Die krag van die burgerlike samelewing vir magsbalans het weer na vore getree. Betogings vind plaas, briewe word geskryf, sosialemediaveldtogte word gevoer en daar word hof toe gegaan. Die joernaliste het aansoek gedoen om direkte toegang tot die konstitusionele hof. Die Helen Suzman-stigting het die hooggeregshof genader en Solidariteit is vandag in die arbeidshof.

Motsoeneng gaan agterkom dat dit nie so eenvoudig is om in die howe agter knus politieke verhoudings weg te kruip nie. In die komende dae en weke gaan ’n stryd tussen die grondwetlike demokrasie en die magsdemokrasie in die howe en buite die howe voltrek word. Dit is egter nie die eerste stryd nie en gaan ook nie die laaste een wees nie.

Die grondwetlike demokrasie gaan wen en Motsoeneng gaan verloor. Een ding wat Motsoeneng reggekry het, is om Suid-Afrikaners oor talle grense heen te verenig rondom grondwetlike beginsels. Right2Know, die Helen Suzman-stigting, SANEF, FXI, die DA, die SAKP,  Vavi, Solidariteit, ’n ANC-splintergroep en talle ander het elkeen sy unieke deel gedoen en dit alles saam vorm ’n kragtige magsvertoon vir beginsels soos vryheid van spraak, ’n vrye media, die reg op inligting en die beperking op die mag van die uitvoerende gesag.
Hierdie hofsaak is nie Journalists v. the SABC nie, maar Hlaudi Motsoeneng v. the democracy of South Africa.

Ek salueer die afgedankte joernaliste. Hulle het simbole geword van die grondwetlike demokrasie. Hulle verdien ’n grondwetlike klop op die skouer en nie ’n afdanking sonder verhoor en sommer per e-pos nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Wern ·

Gepraat van burgerlike organisasies wat opstaan, ek was verlig toe die kathrada foundation teen Zupta opstaan, maar sowaar nou is hulle ten volle agter die ANC vir die verkiesing. Watse waardes en kort geheu het sulke ANC “stalwarts”!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.