Hoe bestuur universiteite Covid-19?

Deur prof. Francis Petersen

Prof. Francis Petersen. Foto: UV

Ons wêreld het verander. Die aspekte wat ons as alledaagse gebeure aanvaar het en daardie dinge wat ons as vanselfsprekend aangeneem het, is nie meer moontlik nie. Angs en onsekerheid het ons lewens kom vul.

Ná die eerste besmettings in China aan die einde van 2019, het die nuwe koronavirus, Covid-19, voortgegaan om oor die hele wêreld te versprei. Die aantal mense wat besmet word en diegene wat daaraan sterf, neem daagliks toe en geen kontinent het hierdie pandemie vrygespring nie. Afgesien van die gevaar wat dit vir nasionale gesondheid inhou, bedreig die ekonomiese en sosiale ontwrigting ook die langtermynlewensbestaan en welstand van miljoene mense. Daar word gesê dat die tempo en wêreldwye verspreiding van Covid-19, en die impak wat dit op ’n geglobaliseerde finansiële, politieke en sosiale infrastruktuur kan hê, hierdie pandemie van enige ander in die moderne tyd onderskei.

Nie alleen het regerings nasionale noodtoestande verklaar en afsonderingstydperke in werking gestel om die verspreiding van die siekte te bekamp nie, maar daar is ook ongekende maatreëls ingestel om die impak daarvan op ondernemings, werkgeleenthede en die kwesbare gemeenskappe in ons samelewing te beperk. Die uitbreking van Covid-19 was die katalisator vir ’n krisis wat die grense van oorgeërfde strukture bevraagteken het – wat moontlik hul intellektuele voordeel en wêreldmandaat verloor het.

Hoe bestuur universiteite – as globale instellings van hoër onderwys – Covid-19?

Universiteite is komplekse instellings. Ek sal nie probeer om die rol en doel van die moderne universiteit hier te beskryf nie – dis veilig om te sê dat die sienings van John Henry Newman (The Idea of a University) en Wilhelm von Humboldt (sy aanbevole sienings het gelei tot die totstandkoming van die Universiteit van Berlyn) Westerse denke oor die funksies van ’n universiteit oorheers het. Sir Colin Lucas, voormalige visekanselier van die Universiteit van Oxford, het opgemerk: “…(universiteite) word gesien as belangrike bronne van nuwe kennis en innoverende denke, as voorsieners van bekwame personeel en geloofwaardige kwalifikasies, as werwers van internasionale talent en sakebelegging na streke, as agente van sosiale geregtigheid en as bydraers tot sosiale en kulturele lewenskragtigheid”.

Daar bestaan geen twyfel daaroor dat universiteite deur middel van hul intellektuele kennisbasis ’n enorme bydrae tot die wetenskap van Covid-19 kan maak nie – en hulle doen dit, hetsy deur die ontwikkeling van ’n nuwe entstof, modellering en voorspellingsvaardighede om die verspreiding van die virus in spesifieke streke te verstaan, of deur innoverende metodes vir die lewering van aanvullende suurstof. Die rol wat universiteite in hierdie verband speel, is ontsaglik en krities.

Universiteite verrig ’n verskeidenheid take in die lewering van die akademiese projek, waaronder onderrig, leer en navorsing ten einde die fisiese en digitale infrastruktuur te onderhou, te bestuur en te ontwikkel – betrokkenheid by eksterne belanghebbendes (om die gemeenskapsimpak te bevorder) soos alumni, skole, regerings, nywerhede, die privaat sektor, handel, skenkers en filantropiese stigtings. Baie universiteite lei mediese dokters en ander gesondheidsorgpersoneel op wat betrokke is by akademiese hospitale en plaas hulle aan die voorpunt van die gesondheidsorgstelsel – ’n uiters komplekse organisasie om te bestuur, selfs in tye sonder krisisse.

Baie universiteite het rampbestuurkomitees wat tydens Covid-19 vinnig geaktiveer is om planne vir die onvoorsiene gereed te kry. Die pandemie – weens die mate van onbekendheid en onsekerheid daarvan – kan hierdie pogings in twyfel trek en die beperkings van sodanige planne blootlê.

Dit is belangrik dat universiteite ’n raamwerkbenadering volg van doeltreffende koördinering, integrasie en besluitneming wat sentraal geplaas is, maar wat vinnig in werking gestel kan word.

Alhoewel universiteite van mekaar verskil, is daar ’n gemeenskaplike strewe wat betref die gesondheid, welstand en veiligheid van personeel en studente. So ’n raamwerk kan kenmerkend gekoördineer word deur ’n uitvoerende sentrum (besluitneming) of senusentrum, waarvan die visekanselier verkieslik die sameroeper moet wees, en wat kundigheid op die gebied van scenariobeplanning, projekbestuur, wetenskap (in hierdie spesifieke geval sal dit viroloë en/of epidemioloë wees), kommunikasie en institusionele kultuur insluit.

Vir die uitvoerende sentrum om doeltreffend te wees en vinnig te beweeg (met dringendheid en kragdadige denke), moet dit georganiseer word rondom multidissiplinêre taakspanne, elk met sy eie verantwoordelikhede:

Onderrig en Leer – met die opskorting van klasse (spesifiek in lande waar daar afsonderingstydperke is) moet alternatiewe metodes gebruik word om die akademiese projek te lewer; die meeste universiteite het besluit om aanlyn te kommunikeer en klas te gee (hoewel dit nie aanlyn in die suiwerste vorm is nie, maar eerder nood-afstandonderrig – om ’n kursus binne ’n kort tyd virtueel te maak, en nog belangriker, om dit goed te doen is feitlik onmoontlik vir fakulteitslede wat daaraan gewoond is om voor studente klas te gee).

Roosters moet op grond van die omvang van die spesifieke afsonderingstydperk aangepas word. Lae tegnologie-benaderings tot onderrig en leer moet ontwikkel word wat sensitief is vir die uitdagings van konnektiwiteit, bandwydte en die tipe toestelle wat studente het, met inagneming van die grondige ongelykhede en digitale skeidslyn in ons samelewing. Dit is van uiterste belang om met ons studente in kontak te bly en om aanlyn hulp te verleen met betrekking tot berading en geestesgesondheid.

Navorsing – met die klem op die manier waarop eksperimentele navorsing gedurende die afsonderingstydperk gedoen sal word, hoe navorsingskontrakte gedurende hierdie tyd en daarna bestuur sal word en of navorsingsfinansiering herlei of beëindig sal word;

Wetenskap – om epidemiologiese ontwikkelings, bevestigde inligting oor Covid-19 (teen die agtergrond van vals nuus) te verstaan;

Werksaamhede – hoofsaaklik gefokus op omgewingshigiëne en die sakevoortsetting van die fisieke en digitale toerusting;

Personeel – werk verspreid, noodsaaklike dienste (soos deur die regering gedefinieer) en kritieke universiteitsfunksies, bly in voortdurende kontak met die personeel, veral wat betref hul gemoedstoestand (geestesgesondheid) weens sosiale afsondering;

Studente – met die fokus op die verantwoordelike integrasie van studente wanneer die kampus heropen, waar die beginsel van sosiale distansiëring nagekom moet word;

Finansieel en wetlik – verantwoordelik vir finansiële scenariobeplanning, korttermynkontant- en risikobestuur en tempering; en

Kommunikasie – moet gesentraliseer word om te verseker dat dit konsekwent, korrek en vinnig is en dat dit institusionele kultuur in ag neem tydens kommunikasie. Krisisse veroorsaak angs, maar dit help om spanning te verminder as mense op hoogte van sake gehou word.

Dit is raadsaam om ’n studentestem of -insette in die onderrig-en-leertaakspan in te sluit, aangesien die leefervaring van studente sodoende meer akkuraat vasgelê kan word, wat strategieë kan verbeter.

Dit is duidelik dat die wêreld ná Covid-19 anders sal werk as voor die pandemie (die sogenaamde nuwe normaal); die uitvoerende sentrum sal die bron van scenariobeplanning word rakende die manier waarop universiteite hulself na afloop van hierdie pandemie “hervoorstel”. Dit is dus van kritieke belang om te verseker dat data, ervarings (hoewel ’n gesondheidskrisis ’n ekonomiese en waarskynlik ’n sosiale krisis is, is dit ook ’n geleentheid tot ’n denkeksperiment), idees en nuwe netwerke met ’n strategiese bedoeling en weerspieëling binne die uitvoerende sentrum vasgelê word.

Hierdie krisis het nie net die neoliberale ekonomieë bevraagteken wat regeringsingryping tradisioneel beperk en markbelange prioritiseer nie, maar het ook van universiteite verwag om anders te dink oor hul modelle van onderrig, navorsing en internasionalisering, asook hoe medeskepping oor grense heen en die verskillende sektore van die ekonomie hervoorgestel moet word.

Die bestuur van ’n krisis is nooit voor die hand liggend nie, maar ’n uitvoerende sentrumtipe struktuur kan universiteite gedurende hierdie tyd nie net tot hulp wees nie, maar kan waardevolle strategieë toevoeg om universiteite na afloop van so ’n krisis te posisioneer.

  • Prof Francis Petersen is rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat. Hy het uitgebreide ervaring van scenariobeplanning en stelseldenke in sowel hoër onderwys as die nywerheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.