Hoe China ’n wêreldmag geword het

ʼn Nasionale vlaghysseremonie word op Tian’anmenplein in Beijing gehou om die 69ste herdenking van die stigting van die Volksrepubliek van China te vier. (Foto: Li Gang, Xinhua)

China is sedert 2013 die wêreld se tweede ekonomiese mag en het die wêreld se grootste handelsnasie geword, danksy sy beleid van kommunistiese kapitalisme.

Vier faktore het daartoe gelei, beginnende met Deng Xiaoping se beleid om China aan sy isolasie te onttrek en deel van die wêreld te word. Dit was in 1979, ná die bankrotskap waartoe Mao Zedong die land gelei het. Buitelandse kapitaal is toegelaat om die land te betree, wat die plaaslike ekonomiese landskap totaal hervorm het tot ‘n dinamiese en moderne een.

Dit is gevolg deur ‘n reeks vyfjaarplanne en die regering se oorname van sommige industrieë. Die derde faktor was China se mees waardevolle bate – sy arbeidsmag, die goedkoopste en bes opgeleide. Met ‘n geraamde 786 miljoen arbeiders het die land in net drie dekades die wêreld se fabriek geword.

Die vierde faktor was en is die diaspora van Chinese oor die wêreld heen. Hulle het in 2017 ‘n geskatte $64 miljard tot die ekonomie bygedra. Ander het teruggekeer met die kennis wat hulle in die buiteland, hoofsaaklik in Westerse lande soos Amerika, verwerf het.

Sedert 2000 het die land se maatskappye van 12 tot 120 vermeerder. Amerika het maatskappye verloor (van 197 tot 126). Japan se agteruitgang op hierdie gebied was van 103 tot 52. China het ook sy klein drakies aangewend deur duisende besighede in Afrika en Suid-Amerika te vestig – kyk maar hoe Chinese winkeltjies elke dorp binnegekom het, tesame met ‘n toenemende Chinese bevolking. Die Weste het ook China se mark binnegedring deur hul produksie soontoe te skuif.

‘n Chinese maatskappy en produkte kompeteer maklik op die internasionale mark en versteur die gevestigde orde, ook omdat die Chinese hulle afvee aan patentreg. Oor die laaste veertig jaar het sowat 20 000 buitelandse besighede hulle in China gevestig.

China is ook die wêreld se grootste koper van roumateriaal, hoofsaaklik uit Afrika.

Origens vestig Chinese maatskappye hulle in ontwikkelende lande en skuif hul arbeidsmag soontoe. Hul interaksie met die plaaslike bevolking is minimaal en Chinese ghetto’s huisves die mense. Waar hulle oorneem, word luukshede soos tennisbane en swembaddens gesloop, want werkers is daar om te werk.

Die Chinese leen maklik geld uit, maar eis ook hul pond vleis: As jy nie kan betaal nie, neem hulle besit van iets van jou, soos in die geval van Sri Lanka, wat sy beste hawe moes prysgee. Pakistan en Argentinië het die meeste Chinese skuld, en Zambië, Kenia en Etiopië sukkel ook om hul rente te betaal.

Die nuwe diaspora is ryker en hoogs opgelei, anders as die eerste een wat goedkoop arbeid vir lande soos Amerika was. Afvaardigings word spesifiek gestuur om gevorderde opleiding in tegnologie, akademiese opleiding en sakeadministrasie te kry. In 1978 was daar net 860 Chinese studente oorsee, vandag is daar 608 400 volgens die ministerie van opvoeding.

Verpligte onderwys

Die mees merkbare regeringsbeleid is 1986 se wet op nege jaar se verpligte opvoeding wat twee basiese vereistes stel: universele opvoeding vir kinders tussen 6 en 15 jaar en volle geletterdheid vir almal jonger as 20 jaar. Die nasionale leerplan is hersien en opleiding vir onderwysers is opgeskerp.

Opvoeding is egter nie oral gelyk nie. Soos op ander plekke het studente uit gegoede gesinne groter toegang tot gehalteonderrig en inwoners van stedelike gebiede se voordeel is byna drie keer beter as dié in landelike omgewings. Teen 2011 het die land haas alle ongeletterdheid onder jong en middeljarige burgers uitgewis – ‘n landmerk vir ‘n land met die wêreld se grootste bevolking (bykans 1,4 miljard, net-net meer as Indië en baie groter as Amerika se 325 miljoen mense.

Chinese fabriekswerkers word nou meer as ooit betaal: $3,60 per uur, wat 64% hoër is as sewe jaar gelede. Dit is vyf keer meer as die vasgestelde bedrag in Indië.

Daar is ook skietgegee op die beleid van een kind per gesin, hoewel nie alle gesinne van die toegewing gebruik wil maak nie. Baie ouers verkies nou om net een kind te hê en aan hom of haar alles te bied wat hulle nie gehad het nie, dus ook ‘n beter kans in die lewe.

Stakings word toegelaat

‘n Mens sou dalk dink dat stakings in ‘n totalitêre land verbode is, maar China het ‘n omvangryke raamwerk wat ‘n reeks regte aan werkers bied en hulle beskerm teen hul werkgewer se uitbuiting. Dit sluit in die reg om ten volle en betyds betaal te word, ‘n formele werkskontrak en ‘n 40 uur-werkweek met vasgestelde oortydbetaling en sosiale versekering wat pensioene, gesondheidsorg, werkloosheid, kraamverlof en beskerming teen diskriminasie bied. Daar is egter minder sukses behaal met die regte van buitelandse werkers. Teen 2009 het 42% kontrakte met hul werkgewer gehad, maar dit het gedaal tot 35%.

Anders as elders gaan die staking nie gepaard met die afbrand van kantore, hospitale, skole en klinieke nie.

ACFTU (All-China Federation of Trade Unions) met sy 303 miljoen lede is China se amptelike vakbond en is die grootste in die wêreld met sy 303 miljoen lede, van wie 140 miljoen buitelandse werkers is.

Werkers wend hulle dikwels tot stakings as hulle ontevrede met hul werkgewer is. Dit geld landwyd en in alle ekonomiese sektore. Stakings is gewoonlik deur klein groepe en van korte duur, maar daar was al uitsonderings. In 2014 het sowat 40 000 werkers by ‘n skoenfabriek twee weke lank gestaak.

Daar is wel soms gevolge en werkers kan in hegtenis geneem op aanklagte soos “versteuring van die openbare orde”. ‘n Meer algemene vorm van retribusie is dat stakingsleiers ten tyde van die staking of ‘n paar maande later in die pad gesteek word. Die proses is bekend as “afrekening nadat die oes ingesamel is.”

Die minimum wetlike werkouderdom is 16. Ouers en voogde word verbied om kinders wat jonger is, te laat werk, maar dié wet word soms oortree. China het ook sy kwota hongerloonfabrieke (sweatshops). Gevalle is byvoorbeeld in vier fabrieke ondersoek waar mense 11 uur per dag, ses en soms sewe dae per week vir ‘n minimumloon werk.

‘n Perfekte land is hy nie, en hy lê ver terug op die lys van gelukkigste lande – hulle is Finland, Denemarke. Luxembourg, Noorweë, Ysland en Nederland. China is in die 93ste plek.

En daar is so baie wat Suid-Afrika van dié land kan leer sonder dat hy hom aan China verpand en uitverkoop.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Die Chinese beplan vir hulle nageslag en is nie op soek na kitsoplossings en onmiddelike dividende nie. Hulle besef ook as dat hulle nie vandag werk nie, hulle nie vannaand sal eet nie. Hulle hele uitkyk op die lewe is anders as ons s’n en op sommige terreine kan ons baie van hulle leer. Die verskil is egter, hulle woon in Asië en ons in Afrika……..

Hennie ·

Geen vrye spraak en dus geen vrye vloei van inligting nie. Daar is dan geen manier om te weet wat werklik op die grond aangaan nie. Al wat jy wel van verseker kan wees, is dat dit nie goed kan wees nie. Almal is baie versigtig wat hul sê, want as jy verkeerde dinge sê, sit jy in die tronk. Daar is geen vaste basis om tussen reg en verkeerd te onderskei nie, afhangende van wie aan bewind is, skuif die basis. Neewat gee my Suid-Afrika net soos hy nou is enige tyd bo China

Therese van Schalkwyk ·

Puik artikel!
En veels geluk aan die Chinese met die vooruitgang en opheffing van hul mense, al gaan dit weliswaar, nog sover, gepaard met die onderdrukking van ‘westerse’ menseregte.
Soms is ‘n wyse ‘diktator’ beter as ‘n demokratiese ‘idioot’.

Die skrywer noem vier faktore wat bygedra het, en ‘n vyfde kan bygevoeg word:
Die algehele ruggraatloosheid van Westerse leiers om vir die vervaardigingsbedrywe van hul onderskeie lande op te staan. Wonder bv. of Brittanje ooit nog hul beroemde en gewilde “Dinky Toy”-karretjies maak, om nie eers te praat van regte ‘grootmens’ karre nie.
En so gaan dit op elke gebied – Alle produkte is “Made in China” en grootskaalse werkloosheid en welsyn in die Weste.
Dan, ironies dat Donald Trump, die enigste Westerse leier wat sien hoe die wind waai, as die skurk in die sg. “handelsoorlog” beskou word.

DMC de Koker ·

China het maar net gekom waar hulle vandag is soos enige Kommunistiese land- deur enige een wat kommunisme teëstaan se bloed te vergiet om nie te praat van hoe Christene in hierdie land vervolg word nie. Moenie deur ‘n spul gewetenlose kommuniste met bloed op hulle hande mislei word nie.
Verder is daar nie ‘n ding soos Kommunistiese kapitalisme nie- dis of die een of die ander. Toe hulle finansieël amper onder was toe wend hulle hulleself na ‘n kapitalistiese buitelandse beleid (maar hou dinge intern kommunisties om mense te beheer). Wonder wat sê dit van “wonderlike kommunisme”. Dis twee teenpole en twee verskillende beleide.
Soos enige kommuniste- bloed op hulle hande.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.