Hoe die gety teen die Koerde gedraai het

koerde

Onafhanklikheid het ‘n oomblik vir Koerdistan gewink. Foto: Safin Hamed/Thekurdishproject.org

Verlede jaar het dit gelyk asof die Koerde, ʼn minderheidsvolk in Irak, Turkye, Iran en Sirië, op hulle toppunt is: hulle was ʼn wesenlike faktor wat gehelp het om die Islamitiese Staat (IS) te verslaan, in ʼn bondgenootskap met die Irakese weermag, die VSA en ander buitelandse magte.

In Juliemaand is die Noord-Irakese stad Mosoel, die grootste stad onder IS-beheer bevry, waarby die Koerdiese Pesj Merga milisie ook ʼn groot aandeel gehad het. Daarna het die regering van Massoud Barzani, wat die Koerdiese outonome streek in die noorde van Irak beheer, ʼn referendum oor Koerdiese onafhanklikheid aangekondig, wat in Septembermaand plaasgevind het. Die referendum is deur die Irakese regering as onwettig bestempel, maar die deelname was hoog en daar was oorweldigende steun vir ʼn onafhanklike Koerdistan.

Die Koerde het aanvaar dat die internasionale gemeenskap, veral die VSA wie se bondgenote die Koerde is, hulle sal steun in hulle strewe na onafhanklikheid, en dat die Irakese regering dit by verbale weerstand teen afskeiding sal laat bly en nie ʼn militêre konfrontasie met die Koerde sou waag nie.

Sake het toe egter anders verloop: daar was internasionaal geen steun vir ʼn afskeiding van die Koerdiese streek van Irak nie, en die Irakese weermag het spoedig opgetree en die Koerdiese magte uit die besette gebiede buite die outonome streek, waar meeste van Irak se olie is, verdryf. Koerdiese magte, wat in die stryd teen IS dapper vegters was, het bykans geen weerstand gebied nie, omdat hulle nou verdeeld en moeg was vir veg.

Die rede hoekom dinge so verkeerd geloop het, is ook die Koerde se eie toedoen: die Koerdiese outonome streek het homself, te midde van ʼn brutale IS en ʼn swak Irak, as model van stabiliteit, demokrasie, werkende administrasie en skoon regering bemark en gehoop dat die VSA hulle daarom sal steun as ʼn soort pro-Westerse baken van hoop.

Ongelukkig het dit nie met die werklikheid gestrook nie: die Koerdiese regering van Barzani en sy Demokratiese Party van Koerdistan (DPK) en sy meelopers het hul posisies tot selfverryking misbruik, wat die bevolking woedend gemaak het. Wapens wat deur die VSA aan die Koerde verskaf is om teen die IS te veg, is in talle gevalle ook gebruik om faksiegevegte binne die Koerdiese gebied te beslis. Die Koerde is verdeel tussen die Demokratiese Party van Koerdistan (DPK) met sy leier Massoud Barzani, en die Patriotiese Unie van Koerdistan (PUK) met sy leier Dsjalal Talabani.

Eersgenoemde het sy posisie as regering misbruik om die PUK te probeer uitknikker. Barzani se termyn as president het ook lankal verval, maar hy het met allerhande truuks aangehou om te regeer. Die militêre neerlaag teen die Irakese weermag het hom egter gedwing om te bedank. Die PUK het die referendum net halfhartig ondersteun, want dit is gesien as ʼn poging van Barzani om op ʼn golf van steun aan te hou regeer. In praktyk is die outonome streek territoriaal verdeel tussen die twee partye, wat geen goeie voorwaarde vir die bou van ʼn onafhanklike staat is nie. Deur die verlies van die olievelde rondom Kirkoek buite die outonome sone sal Koerdistan ook nie ekonomies onafhanklik kan wees nie.

In Sirië het die Koerdiese milisie YPG in hulle stryd teen IS ʼn groot bevryde gebied geskep, maar die probleem is dat hulle geen politieke erkenning vir die gebied het nie. IS is grootliks verslaan en die Koerde het daarom ook hulle nuttigheid verloor en die Siriese regering, gesteun deur Rusland en Iran, vestig weer sy mag. Turkye is ook vyandig teenoor die Koerde weens bande met die rebellebeweging PKK. Tans is Turkye besig met ʼn militêre offensief teen die Koerdiese provinsie Afrin in Noord-Sirië en niemand maak daarteen beswaar nie. Amptelik is dit om Turkye se veiligheid deur ʼn bufferstrook te verseker, in werklikheid gaan dit daaroor om die geslote Koerdiese grondgebied op te breek sodat daar geen de facto staat kan ontstaan nie.

Behalwe vir verkeerde skuiwe, onbetroubare bondgenote en interne verdeeldheid (klink dit nie baie bekend vir Afrikaners nie?) is die stryd vir ʼn onafhanklike Koerdistan ook nie iets wat alle Koerde inspireer nie. Die steun daarvoor hang gewoonlik af van hoe sterk of swak die voorstanders daarvan is. Die organisasie wat die mees uitgesproke vir ʼn staat Koerdistan veg, die PKK, is kommunisties, iets wat talle Koerde wat godsdienstig en konserwatief is, afsit en wat hulle ook internasionaal ongewild maak. Alhoewel die Koerde ʼn groot volk is met om en by 40 miljoen mense, is hulle in stamme verdeel en is die lojaliteit aan die stam dikwels groter as aan die nasionalistiese idee. Die Koerde het ook geen historiese voorbeeld van staatlike onafhanklikheid nie en die gebiede waar hulle woon oorvleuel met die van ander volke en state.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ja Wohl ·

JAnee ons gaan dieselfde oorkom .. almal skreeu selfbeskikking solank hulle huise en plase ook net IN die gebied wat afgebaken word daarvoor val. Almal sal tog nie skuif na ‘n spesifieke provinsie nie, almal sal nie werk daar kry en plase/eiendom daar kan besit nie .. hoe prakties is dit werklik? Wag net tot daar ‘n besluit gemaak word dat daar ‘n plek afgebaken is vir die ‘Afrikaner’. daar gaan ‘n handjievol mense soontoe trek . en hulle gaan altyd die slagoffers bly van rassistiese aanvalle.

Rupert Ashford ·

Daar sal verskriklik baie opgegee moet word vir selfbeskikking. Dit sal ‘n nuwe Groot Trek moet wees en ‘n nuwe begin van niks. Dit sal slegs sinmaak wanneer daar niks meer oor is nie. Dit gaan nog te goed met die paddatjies.

Rupert Ashford ·

Moenie vuilspel van Turkye uit die oog verloor nie. Hulle het IS maar halfhartig teengestaan en in baie gevalle anderpad gekyk wanneer IS hulle grondgebied gebruik het om mense (en olie?) daar deur te neem nie. Erdogan gaan die volgende kalifaat probeer word. Laastens kon die Afrikaner vir die Koerde vertel het hoe ver Amerika se ondersteuning strek: Net totdat jy jou doel gedien het soos in Angola.

Emmie Swart ·

Dankie Sebastiaan, ek kon nie kop of stert uitmaak wie ‘friend’ of ‘foe’ van die Koerde is nie…wat is IS en Turkye en Amerika se doel met hul deelname? Elke land gee sy eie weergawe. Ek sal nou met nuwe kennis my facebook-artikels lees. Dankie vir jou bydrae.

Marthinus Willemse ·

Op RT se dokkie-blad (die Russiese “d” lyk soos `n tipe vierkant) is daar `n goeie dokkie oor die dapper Koerdiese vroue wat teen IS veg.

Gerhard ·

Daar was nog nooit so iets soos ‘n vriend in politiek nie, net belange. Meeste Afrikaners sukkel om dit te verstaan. Groepe wat dit verstaan presteer die beste. Die Koerde se beste wapen sou wees om die belange van ander tot hule eie voordeel te gebruik. Afrikaners kan ook hier leer. Bly weg van politieke “vriende” en leer om belangepolitiek tot jou voordeel te gebruik.

Merkur ·

Dankie vir hierdie noodsaaklike vergelyking met die Afrikaners.
En met die realistiese kommentare stem ek ook saam. Maar ek hoop en glo dat ons wel eendag op vriende sal kan tel wanneer die burgeroorloë en rewolusies in Europa en VSA eers aan die gang of agter die rug is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.