Hoe Donald Trump nog in November kan wen

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Net meer as twee maande voor die Amerikaanse verkiesing wat op 3 November vanjaar sal plaasvind, is president Donald Trump met ’n gemiddeld van nege persentasiepunte agter in peilings teen die kandidaat van die Demokratiese Party, Joe Biden.

Geen presidentskandidaat wat met die aanvang van die partye se nasionale konferensies so ver in die peilings agter was, kon oor die afgelope vyf dekades dié agterstand inhaal nie.

Met die nasionale konferensies van die Demokratiese- en Republikeinse Party wat nou afgehandel is, skop die laaste skof van die Amerikaanse verkiesingsveldtog in erns af met die Trump- en Biden-veldtogte wat kiesers, wat nog onseker oor hul keuse is, sal probeer oortuig om vir hulle te stem, terwyl die partye groot moeite sal doen om kiesers te oorreed om wel te stem en nie tuis te bly nie. ’n Groot deel van die sukses van ’n veldtog sal bepaal word deur die vermoë om die stempersentasie onder die partye se onderskeie tradisionele ondersteuningsbasisse te verhoog.

Die pas afgelope konferensie van die Republikeinse Party was ’n redelike sukses en daar sal oor die volgende paar dae gesien kan word of Trump se aanvaardingstoespraak tot ’n wesenlike toename in steun vir hom sal lei. Dit is vir Trump noodsaaklik om so gou moontlik ’n toename in steun te toon, omdat die tyd om Biden se voorsprong teen hom in te haal, al hoe minder raak. Die Republikeine het ’n baie suksesvolle konferensie aangebied en Trump se toespraak was uitstekend, wat moontlik kan help om die gaping tussen hom en Biden te verklein.

Trump se huidige agterstand beteken egter nie dat hy reeds die verkiesing verloor het nie. In 2016 het hy slegs 46% van die stemme gekry en steeds die verkiesing gewen deurdat hy in die regte deelstate eerste kon eindig en daardeur gemaklik die Amerikaanse kieskollege kon wen. In peilings voor die 2016-verkiesing was Trump sowat 4% agter die Demokrate se kandidaat, Hillary Clinton. Clinton het uiteindelik 2,1% meer stemme as Trump gekry.

Pres. Donald Trump. (Foto: Randy Hoeft/The Yuma Sun via AP)

Vir Trump om tot ’n tweede termyn herkies te word, sal hy sy huidige steunvlak van 42% na minstens 46% moet verhoog. Om daarin te slaag, sal Trump die wit werkersklasstem wat in 2016 skerp na hom geswaai het, moet konsolideer en sal die Trump-veldtog hierdie kiesers in groter getalle by die stembus moet kry. In 2016 was 60% van kiesers in Michigan, Wisconsin en Pennsilvanië wat nie gaan stem het nie, wit mense, sonder naskoolse opleiding. Dit beteken dat hierdie groep kiesers, wat aanklank vind by Trump se proteksionistiese en anti-immigrasie-boodskap, (indien hulle deeglik gemobiliseer kan word in nog groter getalle) vir Trump kan stem.

Voorts is daar potensiaal vir Trump om ’n toename in steun onder konserwatiewe Amerikaners van Latyns-Amerikaanse afkoms te bewerkstellig. Dieselfde geld ook veral vir swart Amerikaanse mans wat in verskeie peilings oor die afgelope vier jaar getoon het, dat hulle bereid is om ’n stem vir Trump te oorweeg.

Die Republikeine se strategie om tydens die afgelope week se konferensie verskeie sprekers uit minderheidsgroepe, onder meer die swart senator van Suid-Carolina, Tim Scott, en die swart prokureur-generaal van Kentucky, Daniel Cameron, toesprake te laat lewer, was ’n goeie strategie.

Trump het steeds ’n voorsprong teen Biden op die ekonomiese terrein en indien sy veldtog genoeg kiesers kan oortuig dat Trump die beste persoon is om die Amerikaanse ekonomiese herstel te lei, dan kan hy herkies word. Amerikaanse verkiesings word meestal beslis oor kwessies soos veiligheid en die ekonomie. Die afgelope tyd is daar ’n toename in Amerikaners wat ’n afkeur in die opstande in Amerikaanse stede het. Sou Trump die regte boodskap oordra, kan hy hierdie opstande in sy guns gebruik.

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Sue Ogrocki)

Nog sake wat vanjaar in Trump se guns tel, is ’n baie beter georganiseerde veldtog met baie meer personeel en vrywilligers wat sal verseker dat Trump-ondersteuners by die stembus uitkom. Daar bestaan ook vrese by Demokrate dat Biden nie oor die stamina en fokus beskik om vir 90 minute teen Trump te debatteer nie. Dié twee kandidate gaan in September en Oktober drie keer teen mekaar debatteer.

Indien Trump se steunvlak egter op 42% gaan bly, sal hy die verkiesing verloor, selfs al slaag sy veldtog daarin om baie ondersteuners by die stembus te kry. Die enigste manier om sy steun binne enkele weke van 42% tot ’n meer veilige 47% of 48% te laat toeneem, sal deur ’n gefokusde veldtog met die regte boodskappe, gepaardgaande met ’n duidelike aanval op die radikale agenda van die Demokrate en ’n baie goeie poging om Republikeinsgesinde kiesers by die stembus te kry, wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Piet ·

Duitsland se ekonomie het 9.1% verloor. Trump se Amerika het 37% verloor. Hy kon nie COVID erger hanteer het as wat hy het. Hy gaan die trekpas kry.

Therese ·

Dit is ‘n blatante leuen.
Vertel dit egter genoeg, soos met soveel ander leuens, en almal glo dit later.

Therese ·

Lees die artikel “How Bad Was Second Quarter, Really?” van Forbes om te besef hoe bedrieglik daardie syfer van jou is.

Human ·

Snaaks hoe almal lieg, wat nie deel is van Trump se juigkommando, maar die Don wat lieg volmaak het, is onskuldig en dit, omdat hulle dink hy is die Afrikaner se redding en dan word daar na strooihalempies gegryp, wat in elk geval gaan verdwyn, soos mis voor die son.

Adam Adriaan ·

Gelukkig het die Domokratiese Praty alreede twee dubbelloop haelgeweer skote deur hulle eie voete geskiet. Nog net hulle krukke wat hulle regop hou. Trump gaan met ‘n rekord wen.

Marianna ·

Bid maar dat Trump herverkies word. Onder die Demokrate gaan alles aanvaarbaar wees. Wie is die Demokrate se maatjies? Bill Gates, Soros. As Trump inkom is ons verseker van nog ‘n termyn van s0-called vrede. Moenie dink die Demokrate gaan omgee wat in SA gebeur nie.

Is jy seker? ·

Dink jy regtig Trump kan eers SA op ‘n kaart uitwys? Miljoene vlugtelinge in Sirïe, volksmoord in Myanmar, hernude tensies met Rusland, China & N-Korea. Dan die eindelose betogings in die VSA… Ons land se probleme is nie ‘n blip op die radar nie!

Riaan ·

Met die eerste verkiesing moes al die mense wat so van die statistiek gebruik maak geleer het dat dinge nie altyd so lekker uitwerk nie. Koppel dit aan ‘n media stroom wat so ver links is, en deesdae openlik sonder skaamte ‘n linkse agenda probeer bevorder, dan is dit nie verbasend dat die statistiek tans so daarna uitsien nie.

Corne123 ·

Hulle werklooshied laagste nog onder hom geld sterkste onder hom land doen baie goed behalwe vir die coved gemors wat elkgeval net n klig is so hou hom as presedent of maak soos afrika jaag iemand wat goed doen weg?

Gawie ·

Die berig noem dat Trump se konferensie ‘n sukses was, maar dit, en sy eie toespraak, was deurspek met leuens, en dié leuens word net deur Fox News aangeblaas en versprei. Wanneer gaan die Trump-ondersteuners begin om hom vas te vat oor al die onwaarhede wat hy verkondig?
Ek het al met menige Trump-ondersteuners daaroor gepraat, en almal erken dat hy die waarheid ‘soms’ verdraai, maar niemand is bereid om dit aan die groot klok te hang nie.
Só bly ek is nie ‘n Amerikaner in hierdie tyd nie.

Vrijburger ·

Kom ons kyk na die ander kant van die muntstuk.
Biden, Pelosi, Schume, Kamala & kie lieg soos tandetrekkers en die leuens word net deur CNN aangeblaas en versprei. Wanneer gaan hul ondersteuners begin om om hulle vas te vat. Ek het al met menige ……………….

Human ·

In Don Tantrum Trump se Amerika het die muntstuk net een kant en dit is sy kant ……………

Marthinus W ·

Trump het die matriks hoe verkiesings gehou word, gebreek. Die persentasies voor of agter n opponent beteken tans niks, want Amerika was selde, indien ooit, so gefragmenteer twee maande voorn verkiesing. Die media en sogenaamde think tanks is almal pro-Demokrate. En sosiale media soos facebook, Twitter en meer pas sensuur toe op pro-Trump ondersteuners. Dalk wen Trump, maar as hy verloor, gaan ons n inperking en ekonomiese oorlog sien wat die covid-19 nan piekniek laat lyk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.