Hoe duur is universiteitstudie werklik?

Marthinus-Visser-akademia-featured

Marthinus Visser, uitvoerende hoof van Akademia. Foto: Verskaf.

Deur Marthinus Visser

Die koste om aan openbare universiteite te studeer het die afgelope jaar onder die soeklig gekom. Op verskeie kampusse het studente in opstand gekom teen hoë klasgeld. Einde 2015 het studente geëis dat klasgeld nie verhoog word nie, maar gedurende 2016 het die eise toegeneem en wil die betogendes nou gratis hoër onderwys hê. Gratis hoër onderwys is uiteraard nie haalbaar nie – veral in ʼn land met geweldige hoë werkloosheidskoerse en met ʼn meegaande klein belastingbasis.

Koste

Die vraag ontstaan of hoër onderwys in Suid-Afrika te duur is. ʼn Mens sou egter ook kon vra wat ʼn billike prys sou wees om ʼn graad te kon behaal. Die jaarlikse koste om in 2015 vir ʼn BCom-graad aan ʼn openbare universiteit te studeer was as volg:

universiteite-01

Grafika: Verskaf.

Dis opvallend hoe die koste tussen universiteite verskil. Die vraag ontstaan natuurlik of die waarde van sekere universiteite se kwalifikasies soveel hoër is as wat daardie universiteite duurder is.

In ʼn onlangse artikel deur Estian Calitz en Johan Fourie, “The historically high cost of tertiary education in South Africa”, dui die skrywers aan dat die reële koste van studies baie gestyg het. In 2005 rand terme sou ʼn BA graad aan Stellenbosch R7 098 in 1911 gekos het. Dieselfde graad sou R9 823 in 1977, R13 753 in 2006 en R17 915 in 2015 gekos het. Die ander belangrike waarneming uit hul studie is dat die koste van studie as persentasie van per kapita inkomste ook toegeneem het sedert 1961 (van 28,4% tot 45,9% in 2015). ʼn Mens sou dus kon sê dat dit, op grond van hierdie studie, in alle opsigte duurder geword het om te studeer.

Staatsubsidie

Klasgeld maak slegs een van drie primêre bronne van finansiering van openbare universiteite uit. Die ander twee is staatsubsidie en donasies (van alumni) waarvan subsidies die grootste deel uitmaak. Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) vergelyk staatsbesteding vir universiteite tussen die periode 2001/02 en 2014/15 as volg:

universiteite-02

Grafika: Verskaf.

Alhoewel staatsbefondsing nominaal toegeneem het, het laasgenoemde as persentasie van totale besteding afgeneem – dit terwyl studentedeelname met 69,8% oor die periode toegeneem het. Hierdie afname in befondsing het veroorsaak dat baie meer druk na die ander bronne van inkomste verskuif is. Dit verklaar onder meer waarom reële klasgeld so gestyg het.

Werklike koste

Die vraag ontstaan wat die werklike koste van hoër onderwys is. Hierdie vraag is veral belangrik vir voornemende private verskaffers van hoër onderwys. Sou ʼn mens die staatsubsidie vir universiteite (uitgedruk as ʼn per kapita waarde) by die klasgeld tel, behoort ʼn mens breedweg ʼn idee te kry van die totale afleweringskoste. Volgens die SAIRV was die gemiddelde per kapita subsidie vir openbare universiteite in 2013 (uitgesluit Unisa) R40 030. Tel dit by klasgeld van R30 000 is die totale afleweringskoste ongeveer R70 000 per jaar vir ʼn BCom-graad. Dit sluit natuurlik addisionele koste soos handboeke, verblyf en lewenskoste uit. ʼn Mens moet in ag neem dat openbare instellings nie net “winsgewende” kwalifikasies kan aanbied nie, maar ook ʼn verpligting teenoor die belastingbetaler het om ook kwalifikasies aan te bied wat min mense wil studeer en daarom verliesdraend is.

Private instellings

Private instellings word nie deur die staat befonds nie en is heeltemal aangewese op klasgeld. Studente wat aan hierdie instellings studeer het ook nie toegang tot staatsbeursskemas nie. Daar is tans 116 geregistreerde private instellings met 258 kampusse in Suid-Afrika. Die meeste van hierdie instellings bied enkele niskwalifikasies aan in velde soos inligtingstegnologie, klank en video redigering, mode ontwerp en teologie. Baie min van hulle aspireer om ʼn omvattende aanbod daar te stel. Enkele uitsonderings is Akademia, Monash Suid-Afrika en Pearson (voorheen MGI & CTI).

Mens sou kon argumenteer dat die koste om aan private instellings te studeer min of meer dieselfde behoort te wees as die totale werklike koste van openbare instellings. Meeste private instellings is winsgedrewe en moet nog ʼn winsmarge sowel as die koste van kapitaal verreken in hul pryse. Die volgende is die koste van ʼn BCom-graad per jaar vir 2017 aan hierdie instellings (die Pearson-prys is vir 2016 en die ander vir 2017).

universiteite-03

Grafika: Verskaf.

Monash sowel as Pearson is winsgedrewe en gebruik kampusmodelle. Laasgenoemde se pryse vergelyk goed met die werklike koste van soortgelyke openbare instellings. Akademia is ʼn maatskappy sonder winsoogmerk en gebruik ʼn gedesentraliseerde toegangsmodel met verpligte klasbywoning. Die optimale aanwending van tegnologie dra by tot die hoë mate van bekostigbaarheid in hierdie model.

Ten slotte

Dit is waar dat dit duurder geword het om te studeer. Gegewe die ekonomiese vooruitsigte van Suid-Afrika lyk dit onwaarskynlik dat die staat baie meer kan bydra tot hoër onderwys. Dit beteken dat klasgeld in die toekoms by openbare universiteite sal moet styg.

Vir baie mense raak toegang tot openbare universiteite buite hul bereik en sal hulle na alternatiewe moontlikhede moet soek. Nuwe private rolspelers skep innoverende oplossings en modelle waarbinne studente hoë gehalte onderrig en opleiding kan ontvang teen bekostigbare pryse. Namate openbare universiteite duurder word en boonop blootgestel word aan politieke onstabiliteit, sal meer private universiteite en oplossings die lig sien. Hierdie verskuiwing in die hoëronderwyslandskap moet verwelkom word.

Goeie kompetisie het niemand nog kwaad gedoen nie.

  • Marthinus Visser is die uitvoerende hoof van Akademia.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

jaco ·

hoe gaan akademia by regstellende aksie verbykom as hulle suksesvol is en uitbrei en al hoe meer personeel moet aanstel? as n besigheid bo n sekere inkomste en/of hoeveelheid personeel verbygaan, raak die regstellende aksies baie streng die boetes baie groot as daar nie aan dit voldoen word nie.

JC ·

Waarom altyd so negatief ou jaco. Dit Wil regtig vir my voorkom asof jy een of ander agenda teen Akademia het. Sonder om my te verwerdig of jou vraag te antwoord, maar het jy al in jou lewe gehoor van afrikaanses, wat insluit ons bruin en swart afrikaanssprekendes. Jou kommentaar is besig om Vinnig vervelig te raak. Is jy eintlik Engels of wat

jaco ·

lees n slag behoorlik koerant, luister radio en praat met mense rondom jou. Ek het nie die regstellende aksie wette geskryf nie, maar ek weet hoe dit werk. as n besigheid se aantal personeellede n sekere hoeveelheid oorskry, moet daar regstellende aksie toegepas word. Dit moet ook toegepas word as die inkomste per jaar n sekere bedrag oorskry. As Akademia uitbrei, hoe gaan hulle regstellende aksie toepas as Afrikaans n vereiste is? Hulle sal miskien nog vir n rukkie in die wes-kaap wegkom met die aanstel van kleurlinge, maar ook dit raak al hoe moeiliker met klomp gevalle waar vir kleurlinge in die wes-kaap gesê word “sorry no job because you are not black enough”. Regstellende aksie in die Wes-Kaap is ook al hoe meer volgens die nasionale demografie en neem nie die provinsie se meerderheid kleurlinge in ag nie. Waar gaan Akademia genoeg swart Afrikaanssprekende personeel kry? meeste swartes maak asof hulle nie Afrikaans verstaan nie en sien dit as die taal van die voormalige onderdrukker. Om swartes aan te stel wat net daar sit en dan wit mense in die aand hulle werk te laat doen, gaan ook nie werk nie. Die Dept van Arbeid kom stel ondersoek in en gee swaar strawwe vir wat hulle “window dressing” noem. Kortom, regstellende aksie vang jou om elke hoek en draai in die besigheidswereld.

Oom Ekonoom ·

Net soos wat karre, rekenaars en ander eens peperduur produkte al goedkoper word, so moet naskoolse onderwys ook goedkoper word, en dit doen. Kyk maar na university of Edinburgh, http://www.edx.org en http://www.coursera.org, maar ongelukkig is SA se universiteite baie traag om tegnologie te gebruik om kostes te verlaag.

David ·

Dit is nie die klasgelde wat dit duur maak nie maar wel verblyf, kos , internet, vervoer en al die ander R100tjies wat oorbetaal moet word. Koshuise is tans onbewoonbaar vir blanke studente en verblyf om universiteite is onbetaalbaar. Dank die Vader dis nog net 1 jaar vir my 2 seuns

Jan maak n Plan ·

Ek wens net dat Akademia wil hulle keuse van vakke uitbrei en dan ook kampusse op meer plekke he as net Pretoria.

Daniel ·

Daar is verskeie ander faktore wat noodwendig nie aangespreek kon word nie. BCom is waarskynlik gekies as model omdat dit ‘n “eenvoudige” kursus is (let wel – nie “maklik” nie.) Waar prakties bykom, soos in wetenskappe en musiek, word die model meer ingewikkeld en dikwels duurder, want ‘n beperkte aantal sudente kan geakkommodeer word. Unisa, byvoorbeeld, kontrakteer baie hiervan uit na ander universiteite. Dit raak ook toenemend duur om Afrikaans as onderrigmedia te gebruik. NWU gebruik tolkdienste (geen ekstra koste vir die student nie), maar beide die tegnologie en tolke moet betaal word. My ervaring is dat dit tussen R60 000 en R100 000 per jaar per student kos, as die student bereid is om eenvoudig te leef. Sou so ‘n student by duur aktiwiteite betrokke raak, sryg hierdie koste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.