Hoe eentaligheid toegang tot geregtigheid belemmer

Deur Annelise de Vries

Argieffoto: Pixabay.com

Taal is onlosmaaklik deel van enige strafregstelsel, veral in die geval van Suid-Afrika. Noukeurig opgestelde wetgewing is van krag van die oomblik wat ’n persoon in hegtenis geneem word tot die dag wat hy of sy in die hof verskyn. Met elke tree van die regsproses bevind mense hulle in die linguistieke webbe van die regstelsel. Gesien in die lig van die hoofregter se aankondiging in 2017 dat Engels die enigste taal op skrif sal wees, is daar statisties ’n kans van 90% of meer dat daar teen jou gediskrimineer sal word op grond van jou huistaal gedurende enige hofsaak. Hierdie stelling sal ʼn paar oë laat rek, want hoewel slegs Engels op skrif is, is dit nie die taal waarin die hofverrigtinge geskied nie. Maar lees verder…

Volgens die algemene huishoudelike opname van 2016 praat slegs 8,1% van Suid-Afrikaners Engels tuis, wat dit maar die sesde mees algemene taal in Suid-Afrika maak. In ’n ondersoek oor taal deur Regshulp Suid-Afrika in 2016, is daar aangedui dat slegs 27% van aansoekers in strafregtelike sake wat van regshulp deur die staat gebruik maak, Engels op ’n bevredigende vlak lees en skryf, terwyl gemiddeld 54,2% van die aansoekers in strafregtelike sake min of geen kennis van Engels as kommunikasiemedium het nie.

Verder is regsgeleerdes dit eens dat howe in ’n demokratiese land aan die behoeftes van die gemeenskap wat hulle bedien moet voorsien, nie andersom nie. Alhoewel daar heelwat wetgewing en ’n aansienlike aantal beleide bestaan wat in sekere omstandighede – en veral gedurende hofverrigtinge – voldoen aan ’n individu se reg tot ’n taal van sy of haar keuse (artikel 35(3)(k) van die Handves van Menseregte), is Engels die status quo in die Suid-Afrikaanse regstelsel.

Wat sê die navorsing?

Uit ’n studie wat gedoen is onder 100 geregistreerde regspraktisyns in Suid-Afrika, is daar bevind dat regspraktisyns nie bewus is van hul kliënte se huistaal, of dit in ag neem nie. Die resultate het getoon dat regspraktisyns glo dat die meeste van hul kliënte huistaalsprekers van Engels of Afrikaans is. In teenstelling hiermee het data uit die studie wat deur Regshulp Suid-Afrika gedoen is, aangedui dat die meeste van hul kliënte huistaalsprekers van isiZulu, Afrikaans en isiXhosa is. Data van die Suid-Afrikaanse Bevolkingsensus (2011) bevestig die kliënte se resultate. Syfers het aangetoon dat alhoewel Engels ’n minderheidstaal in die Suid-Afrikaanse regsdomein is, word dit beskou as ’n taal met superstatus. Die tabel hieronder bevestig hierdie stelling:

ProvinsieKliënt se eerste taal (% volgens die praktisyn)Volgens kliënte in strafregtelike sake (%)Sensus (2011)
 ENGELSENGELSENGELS
Gauteng56713
KwaZulu-Natal251013
Limpopo802
Mpumalanga2513
Noord-Kaap013
Noordwes1014
Vrystaat833
Gemiddeld193,36

Tweedens het die data aangedui dat alhoewel regspraktisyns weet dat sommige van hul kliënte nie Engelssprekend (op huistaalvlak) is nie, gaan hulle voort om hoofsaaklik met hul kliënte in Engels te korrespondeer. Hieronder is ’n grafiek met die resultate van twee vrae wat aan die regspraktisyns gestel is: (1) Volgens jou, wat is die huistaal van die meerderheid van jou kliënte? en (2) in watter taal korrespondeer jy meestal (gesproke en geskrewe) met jou kliënte? Dit is duidelik dat alhoewel sommige van die regspraktisyns erken dat hul kliënte se huistaal nie Engels is nie, hulle steeds met hul kliënte in Engels korrespondeer – in sommige gevalle ten spyte van die feit dat hulle hul kliënt se huistaal self kan praat.

As mens in gedagte hou dat 54,2% van kliënte wat aansoek om regshulp doen, geen of min kennis van Engels as kommunikasiemedium het nie, is die ongeërgde manier waarop regspraktisyns en howe met taal omgaan, kommerwekkend.

’n Verdere ontstellende feit is die algemene swak gehalte van tolke en tolkhulpbronne in die Suid-Afrikaanse howe. Regspraktisyns reg oor die Suid-Afrikaanse provinsies ag tolking in die howe as ’n reusestruikelblok ten opsigte van toegang tot die reg. Regspraktisyns in Mpumalanga, die Noord-Kaap, Noordwes en Vrystaat het aangedui dat tolking in die howe veral problematies in hierdie provinsies is.

Volgens die Suid-Afrikaanse departement van justisie is die minimum vereistes om ’n tolk in die hof te word, ’n matrieksertifikaat en ’n formele taalvaardigheid. In teenstelling met die vereistes, behels hul pligte (1) tolking in die verskillende howe, by kwasi-geregtelike verrigtinge en gedurende konsultasies; (2) die vertaling van regsdokumente en (3) die uitstalling en voorsiening van enige administratiewe ondersteuning, soos om sake in ’n strafregister aan te teken en ’n saaknotule op te stel. Let op na die verwysing van boekstawing van, in die meeste gevalle, uiters gekompliseerde en regstegniese hofverrigtinge. Neem ook in ag die feit dat hierdie verslae, wat in baie gevalle deur iemand met slegs ’n formele taalvaardigheid opgestel is, die basis van appèl, regspraak en toekomstige uitsprake vorm.

In ’n studie wat nog nie gepubliseer is nie, het 15 tolke wat formeel deur die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI) geakkrediteer is, ’n minimum vereiste van ten minste ’n baccalaureusgraad in tale, met ’n goeie begrip van die Suid-Afrikaanse regstelsel, aangeraai. Hierdie deelnemers het die implikasies van swak tolking weergegee wat onder meer insluit; misverstande, vertragings, uitstel, viktimisering, verdraaiing van die woorde, onregverdige verhore en verkeerde skuldigbevindings. Een van die tolke wat aan die studie deelgeneem het, het ’n onlangse gebeurtenis wat in ’n Suid-Afrikaanse hof plaasgevind het as volg beskryf:

’n Vriendin van my het gevra dat ek saam met haar hof toe gaan omdat sy net ʼn klein bietjie Engels verstaan en die gevoel gekry het dat die tolk nie die regte boodskap oorgedra het nie, of nie ten volle dit wat in die hof gesê is, geïnterpreteer het nie. Inderdaad, hierdie “tolk” het geen notas geneem nie, die helfte van dit wat gesê is vergeet, en dit wat vyf gesproke sinne in die brontaal was, het skielik een geword in die doeltaal. Register is nie in ag geneem nie, en die toon van die stem (woede en frustrasie of wanhoop) is nie oorgedra nie. Slegs ’n eentonige onhoorbare stem is gebruik. Onakkurate boodskap. Blykbaar is die tolk ’n Kongolese vlugteling en het hy hierdie “besigheid” deur ander vriende gevind, maar hy het ook ander besighede op die kantlyn. Dit is hartseer, want tolking is nie net ’n “kantlynbesigheid” nie, dit is ’n baie komplekse beroep. Dit was ’n skokkende ervaring.

David Wright skryf dat taal vir ewig ’n integrale deel van ons regstelsel gaan bly en dat dit sal voortgaan om baie wat hulself in die regsproses bevind, te benadeel. Dit is egter ons verantwoordelikheid om verandering mee te bring aan ’n regstelsel wat nie voldoende kan omsien na die regte van die burgers wat dit veronderstel is om te dien nie. As dit nie op ’n ordentlike manier gedoen word nie, kan die Suid-Afrikaanse regstelsel nie as grondwetlik beskou word nie.

Op 28 Mei 2020 bied die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) ʼn gratis webinaar aan waar daar saam gedink gaan word oor hoe taaltegnologie ingespan kan word om meertalige oplossings in die Suid-Afrikaanse regsdomein te kan bewerkstellig.

Kenners in die veld van forensiese linguistiek, taaltegnologie en regte gaan voorleggings lewer waar die publiek ook kans sal kry om vrae te vra en aan die gesprek deel te neem.

Registreer vir dié webinaar deur hiér te klik.

  • Annelise de Vries is ʼn navorser in arbeidsverhoudinge aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, ʼn direksielid van die Afrikaanse Taalraad en tans besig met haar doktorsgraad in forensiese linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

J ·

Die ANC regeer die land presies soos hul vaardigheid in Engels is …. VROT!

‘Liberate the mind?’

Michelle ·

Hierdie navorsing is uiters tragedies,net soos die feit dat kinders nie basiese onderrig in hulle moedertaal kan ontvang nie.Hierdie is n bewys dat die ANC werklik nie eers hulle eie mense se belange belangrik ag nie.Al wat vir hulle saak maak is om aan bewind te bly ten alle koste.Hulle het 25 jaar gehad om aan hierdie 2 goed te werk,maar steeds is dit apartheid se skuld.Die ANC se mense en al die ander mense vd land wat nie staatsamptenare is nie,betaal die prys met hulle lewens vir n paar elite wat agteroorsit en die sirkus aan die gang hou terwyl hulle buitensporige salarisse ontvang.Tydens apartheidsjare het staatsamptenare gemiddeld minder salaris ontvang,maar was verseker van medies en pensioen,terwyl die privaatsektor die hoogste besoldigdes was,maar jy het nie medies en pensioen gehad tensy jy self plan gesien het nie.Wens almal wil besef dat staatsamptenare vir belastingbetaler werk.ONS is die werkgewer,die staat is die werkNEMER.hoekom aanvaar ons hulle nonsens?

Jaco ·

Ek verstaan diskriminasie in die howe teen Afrikaanssprekende wit mense. Seker maar deel van die ewige “straf” vir apartheid. Maar wat van Afrikaanssprekendes kleurlinge? Al praat hulle “die gehate taal van onderdrukking”, was hulle rasgewys tog ook slagoffers van apartheid. So kan hulle darem met taal tegemoet gekom word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.