Hoe ek die toekoms sien (en nie sien nie)

Dit is altyd vir my interessant om te lees hoe mense (selfs uiters liberale mense!) met wysheid agterna na politieke gebeure en groot omwentelinge kyk. Feitlik almal (insluitend wit mense) het hoë verwagtinge ná 1990 gehad hoewel daar tog ʼn mate van senuagtigheid was. ʼn Meerderheid van Afrikaners het oudpres. F.W. de Klerk ʼn mandaat in 1992 gegee om oor die toekoms van die land te onderhandel. Sommiges is sedertdien wreed ontnugter, ander ploeter voort, ander is heimlik ongelukkig maar wys dit nie terwyl ander weer hoopvol is.

Twee uiteenlopende bydraes

Nadat ek Christo van der Rheede en Charl-Pierre Naudé se bydraes oor die Nuwe Suid-Afrika se verlede en toekoms gelees het, wil ek tog my stuiwer in die armbeurs gooi. Terwyl hul sieninge oor wat die laaste 22 jaar gebeur het (en hul verwagtinge voordat die demokrasie aangebreek het), verskillend legitiem is, wil ek tog stilstaan by hul vooruitsigte vir Suid-Afrika. Terwyl Van der Rheede fokus op wat ons in gemeen het en wat die meerderheid moet doen om die land op te bou, spits Naudé hom toe op die kulturele diversiteit en sentralisering van die ANC se mag. Die een fokus op menswaardigheid en nasiebou as uitkoms, terwyl die ander een die eenheid-deur-diversiteit beklemtoon. Albei is dit egter eens dat die regering onder bedwang gehou moet word. Albei het goeie punte beet en hulle verdien lof, maar verdien ook gesonde kritiek. Ek wil dan ook ʼn soort “middelpunt” tussen die twee skrywers se idealisme en realisme vestig wat ek as gewenste en geprojekteerde toekoms sien.

Jou geskiedenis bepaal jou denke

Daar moet in ag geneem word dat beide vanuit verskillende pre-1990 perspektiewe skryf en ook die nuwe SA anders beleef het. Van der Rheede skryf vanuit ‘n agtergrond van onderdrukking en diskriminasie en stel sy visier dus duidelik in op die herstel van menswaardigheid en die vat van hande. Hy spel ook grootliks sy eie voorkeure en begeertes vir Suid-Afrika se toekoms uit, eerder as om vanuit sy siening oor Suid-Afrika oor die laaste 22 jaar die toekoms te projekteer. Waar hy hoop die nasie vat hande oor kleurgrense om die regering tot orde te roep, stippel hy nie uit hoe dit gedoen moet word nie en rep hy nie een woord oor die probleme in die land wat stadigaan erger word nie. Die probleem met sy vooruitskouing is dat hy nie dink die probleem lê by ideologie nie en hy nie een woord rep oor die ANC se mislukkings nie.

Die Nasionaal Demokratiese Rewolusie (NDR) waarvan Naudé in sy stuk praat, is die spreekwoordelike wortel van die kwaad in die land. Dit is ʼn sentraliserende ideologie wat aanvaar dat die ANC vir ewig gaan regeer en dus sy “Afrika-hegemonie” oral in die bevelhoogtes van die ekonomie en samelewing kan vestig. Alle minderhede is persona non grata in die Suid-Afrikaanse samelewing ingevolge hierdie ideologie. Klink dit nie “ras-eksklusief” (Van der Rheede se term) nie?

Hoewel hy baie treffend die goeie en slegte prestasies van die laaste 22 jaar uitwys, vertel sy toekoms ʼn ander verhaal. Hy maak feitlik geen melding van die toekoms van die staat self onder die ANC nie. In menigte opsigte het die land se onderwys (ondanks groot besteding uit ons bruto binnelandse produk), infrastruktuur, dienslewering en infrastruktuur in baie dele van die land, by uitstek die platteland, tot ʼn derdewêreld-standaard gesink. Korrupsie is hemelhoog en ons land het in die 2011 Korrupsie-persepsie Indeks deur Transparancy International met 10 plekke teruggesak vanaf 2010 se indeks. Van der Rheede is dus in die kol dat die ANC se “blote luiheid”, “apatie”, “selfsugtigheid” en “gebrekkige kundigheid” ons almal se menswaardigheid aantas. Die situasie in die Limpopo-provinsie is slegs een bewys daarvan.

Hy vra dat ons besin oor hoe om die regerende party verantwoordbaar teenoor ons en die Grondwet te hou om menswaardigheid te herstel. Hierdie siening is interessant om twee redes. Eerstens erken hy implisiet dat die ANC besig is om die Grondwet te verontagsaam en daarom deur die burgery aanspreeklik gehou moet word. Die vervalle toestand van ons land erken dit buitendien. Tweedens vergeet hy van die mag van politiek bo die Grondwet. Adv. Paul Hoffman het onlangs in Business Day aangevoer die probleme in Limpopo is ʼn skending van die Grondwet en daarna ʼn politieke tekortkoming. Ek sien hierdie berekening as omgeruil. Terwyl die Grondwet in Hoofstuk 6 sekere bepalings oor die pligte van die staat uiteensit, skend die ANC dit al lankal en selfs die Grondwet kon hom nie in toom hou nie. Die tekort aan politieke wil het derhalwe die situasie in Limpopo geskep en terwyl dit ʼn skreiende skending van die Grondwet was en is, het niemand sover gegaan om die ANC as regeerders in Limpopo (of van die unitêre staat waarin ons leef) daaroor hof toe te sleep nie. Hoe kan ons hulle dus verantwoordbaar hou?

Wel, eerstens deur demokratiese politieke middele soos om hulle by die stembus te straf en hulle te laat wonder oor hul werk en politieke mag. Maar in wanfunksionele provinsies soos Noordwes, die Oos-Kaap en Limpopo waar al die swart mense soos ʼn blok vir die ANC stem oor etniese redes, is dit eintlik maar ʼn oordrewe-romantiese droom. Mense regoor die wêreld stem volgens etnisiteit en SA is geen uitsondering nie. Ek hoop tog Van der Rheede se droom word eendag verwesenlik en dat mense oor kleurgrense heen hande sal vat en ʼn ware demokrasie sal skep deur die ANC uit te stem.

Dan oor na Naudé wat uit ʼn wit liberale hoek skryf. Sy rubriek spreek van ʼn ontnugtering met die regering wat feitlik alle verligte blankes in 2012 ervaar (en wat die meer konserwatiewes aanvanklik besef het). In teenstelling met Van der Rheede, bepleit hy sterk dat diversiteit en kultuur as belangrik geag behoort te word in die toekomstige Suid-Afrika. Die strekking van sy bydrae is dat ons een soort oorheersing (wit minderheid) vir ʼn ander soort (die ANC se NDR) verruil het. Hy vra dan om ʼn visie van pluralisme, liberalisme en minderheidsregte. Daarmee kan nie fout gevind word nie, al ontbreek ʼn vergestalting daarvan in sy stuk. Hierdie waardes is egter grootliks in die Grondwet vervat en het nie die ANC gekeer om bo-oor die Grondwet te loop en die staat en party ononderskeibaar te maak nie. Hy is wel reg om die impak van armoede en die verband tussen die ekonomiese werklikhede en diversiteit uit te wys. Een feit staan vas: SA gaan nog steeds arm in die toekoms wees. En met armoede as deel van die toekoms sal diversiteit en “sagte” behoeftes soos taal en kultuur in ʼn arm land agterweë bly. Dis daarom dat elkeen wel, soos in Van der Rheede se stuk bepleit word, om hande te vat en armoede te verlig. Nie net sal die misdaadkoers afneem nie, maar sal mense groter kulturele vryhede en maatskaplike samehorigheid geniet. Dit beteken egter nie die armes kan vir ewig van aalmoese (hetsy vanaf die staat of die burgery) lewe nie en elkeen het ʼn plig om sy lot self ook te verbeter.

Naudé se aandrang op sesessie is myns insiens nie op goeie feite of politieke werklikhede gegrond nie. Sesessie het in regse Afrikaner-kringe byna aller oplossing vir alle probleme geword. Maar die teorie daaragter en moontlik toepassing daarvan, veral in die Suid-Afrikaanse bestel, is in meeste kommentaar oor die onderwerp baie gebrekkig. Die reg op sesessie word in geen internasionale wetgewing en verdrae goedgekeur nie. Hoewel selfbeskikking pertinent in baie gesaghebbende internasionale verdrae genoem word, kraai die beginsel van gebiedsintegriteit in die praktyk koning. Nader aan die huis kan lewensvatbare sesessie slegs met ʼn aansienlike hoeveelheid mense, gekonsentreer in ʼn bepaalde gebied, gebeur. Sonder ʼn groot groep mense kan daar nie ʼn ekonomie van skaal bewerkstellig word nie en politieke bedingingsvermoë is gekoppel aan getalle en steun van buite. In Suid-Afrika sal die ANC enige sesessiepogings in die kiem smoor en die grondgebied isoleer en so ʼn gebied sal min bondgenote in die streek hê. Dan moet die afskeidende groep ook net hoop daar is nie lede van ʼn ander groep wat in hul geteikende gebied woonagtig is nie want gedwonge verskuiwings sal die doodskoot vir enige so ʼn poging wees as daar enigsins ʼn hoop op sukses was. NP van Wyk Louw se bekende term, “vryheid ingeregtigheid”, moet altyd nagestreef word.

ʼn Laaste opmerking van Naudé rakende sesessie is dat dit dalk net ʼn “tydelike magshefboom” moet wees om “nasionale diversiteit” na te streef. Sesessie in Afrika is nie kinderspeletjies nie, vra maar vir die mense van die Biafra-streek wat in die 60’s van Nigerië wou afskei, of die Suid-Soedannese wat ná uitermate lewensverlies van die res van Soedan afgeskei het. As die sesessie dan net tydelik is, wat gebeur ná dit? Sesessie beteken per definisie die skep van ʼn nuwe staat. As sesessie slegs deur een groep toegepas word en daar is nie ʼn vrywillige verbrokkeling van Suid-Afrika soos in die eertydse Joego-Slawië of Sowjet-Unie nie (nie dat die ANC of die res van Afrika ooit so iets sonder ʼn geveg sal toelaat nie), is dit moeilik om te sien hoe ʼn staat eensydig en tydelik kan wegbreek en nog steeds daarna nasionale diversiteit kan bevorder met die moederstaat.

Myns insiens

Terwyl beide here hier goeie punte beet het, moet dit tog met ʼn goeie dosis realisme gepaardgaan. Dit is wel so dat ons tot ʼn groot mate van mekaar in die land afhanklik is vir ons voorspoed, want soos Anton Rupert altyd gesê het: Niemand kan slaap as jou buurman nie eet nie. Maar ʼn gesonde etos is ook dat mense verantwoordelikheid vir hul lewens moet neem. Die staat, die ANC en jou medemens kan nie vir ewig jou lotsbepaler en versorger wees nie. Ander kan net so ver vir jou sorg en geleenthede bied en daarna moet mense hulself begin help.

In hierdie verband is gemeenskappe egter baie belangrik om die boustene van ʼn gesonde samelewing te vorm en dit is ʼn punt wat Van der Rheede en Naude beide misgekyk het. Gemeenskappe verstaan hul eie lede se probleme beter en kan deur hul instellings soos verenigings, kerke, rade en skole beter na die swakkeres in hul geledere omsien. Dus het gemeenskappe, en nie ʼn onpersoonlike staat nie, ʼn beter vermoë om menswaardigheid te herstel. Wag dus eers met nasiebou en fokus op gemeenskapsbou en die versterking van indiwdue.

Vergeet ook eers van sesessie, wat baie politieke probleme tot gevolg kan hê. Fokus eerder op gemeenskapselfbeskikking en die privatisering van sommige diensleweringsfunksies want laasgenoemde sal bly agteruit gaan in SA en soos in die res van Afrika sal die burgery self moet begin sorg. Minderhede (hoe ook al gedefinieer) kan mekaar veral in hierdie taak bystaan. Die “stille meerderheid” moet besef politieke mag in ʼn demokrasie is in hul eie hande, en dit het nie in 1994 begin en geëindig nie. Dit is iets wat voortdurend herskep moet word en deur bedinging en sosiale kontrakte ontwikkel moet word. Dan is gewone stemmery ook deel van hierdie proses en moet hulle bloot hul afkeure wegstem.

Desondanks bly ek positief oor SA en as jong mens gaan ek nêrens heen nie en ek sal my toekoms vir myself maak werk. Menswaardigheid word nie deur ʼn Grondwet, staat, regering of ander mense aan my gegee nie, dis iets wat ek inherent oor beskik ongeag wie ek is. Die vooruitsigte in SA bly belowend en dit is nie wie jy is nie, maar wat jy bereid is om in te sit en by te dra wat jou toekoms in hierdie land gaan bepaal.

Hierdie bydrae maak deel uit van ‘n nuwe gesprekreeks op Die Groot Debat, 1990 tot 2012: Die Nuwe Suid-Afrika se verlede en toekoms in oënskou. Stuur vir ons jou bydrae na [email protected] Lees gerus ook Flip BuysChristo van der Rheede, Charl-Pierre Naudé, Isak Burger, Louis du Plessis en Maretha Maartens se bydraes.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Ebert ·

Interessante artikel Eugene.

In reaksie daarop wil ek graag die volgende paar gedagtes noem.

Eerstens is dit jou omstandighede en die invloed van ander op jou, wat jou denke bepaal en nie slegs jou geskiedenis nie (hoewel jou geskiedens deel daarvan is). Die punt is dat ons denke daarom nie vas is nie, maar gewoonlik oop vir oortuiging (die uitsondering op die reël is natuurlik die korrelkoppe onder ons).

As voorbeeld hiervan wil ek noem dat jou mening dat die Nasionale Demokratiese Revolusie die wortel van alle kwaad is, nie deur die meerderheid van die land se inwoners gedeel word nie. Volgens ‘n groot deel van hulle is die gebrekkige implementering van die Nasionale Demokratiese Revolusie die wortel van alle kwaad.

Indien jy hulle gedagtes hieroor wil verander, sal jy ‘n netwerk van invloed moet bou wat die van die ANC oortref en jou alternatiewe idee aan die ANC kiesers moet voorhou met dieselfde ywer as waarmee die ANC die NDR al sedert 1955 propageer. Daarmee saam sal jy die hefbome van “regeringsvoordele” en welsynstoelaes wat die ANC gebruik om sy hegemonie uit te bou op ‘n wyse moet kan ondermyn.

Tweedens is jou kritiek teen die gedagte van sesessie net geldig in sover dit die algemene persepsie daarvan verteenwoordig. Die wyse waarop ek Charl-Pierre se bedoeling gelees het is dat sesessie as dreigement ingespan word en nie dat dit noodwendig fisies hoef plaas te vind nie. Sesessie op rassegrondslag is inderdaad onhaalbaar, maar die eiesoortigheid en dominansie van Afrikaans in die Noord- en Wes-Kaap stel hierdie streek in ‘n gunstige posisie om ‘n geloofwaardige eis om selfbeskikking in te stel en te bevorder indien die ANC voortgaan om teen Afrikaanse sprekers (wit en bruin) te diskrimineer. Natuurlik is konflik altyd ‘n risiko, maar daar is nie baie konflikte waarin daar gemiddeld 50 mense per dag sterf nie (dit is min of meer die gemiddelde aantal daaglikse moorde in Suid-Afrika).

Derdens is jou gedagte rondom gemeenskapselfbeskikking prysenswaardig en myns insiens noodsaaklik. Die vraag is net wat gebeur indien sekere gemeenskappe dit regkry om hulself te bemagtig en daardeur floreer, terwyl ander gemeenskappe misluk en in bitterheid en jaloesie wegsink? Sal die suksesvolle gmeenskappe nie juis daardeur die deur vir konflik oopmaak nie? Hoeveel groter is daardie risiko indien die suksesvolle gemeenskappe omring word deur die onsuksesvolles? Gemeenskapselfbeskikking is ongetwyfeld op die regte pad na die oplossing, maar dit verteenwoordig alleen nog nie ‘n finale oplossing nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.