Hoe gaan dit in Orania?

borsbeelde-op-monumentkoppie-saam-met-die-klein-reus-orania-FB

Borsbeelde op Monumentkoppie saam met die Klein Reus in Orania Foto: Orania, Facebook

Dit was byna komies toe ek onlangs verskeie menings oor Orania lees en besef baie van die mense, met vreeslike sterk menings (na alle kante) was nog nooit in Orania nie.

Ek is seker daarvan meer Suid-Afrikaners was al by die Notre Dame-katedraal, wat onlangs afgebrand het, as in Orania. Tog wil almal ’n mening gee.

As plaasseun uit hierdie wêreld, wat as jong seun aartappels hier kom verkoop het voor Orania was soos hy nou is, ken ek hierdie wêreld en is ek lief vir hierdie wêreld en sy mense. Daarom wil ek ’n mening gee, maar nie my eie mening nie. Ek wil graag vertel hoe gaan dit met Orania en sy mense gaan.

Nee, ek bly nie hier nie. Ek werk nie hier nie.  Ek kom wel dikwels hier. Oor die jare heen het Orania gegroei en, ten spyte van baie uitdagings, vorentoe gegaan en ’n krag geword. Solidariteit Helpende Hand het onlangs ’n baie deeglike en goed nagevorste wetenskaplike maatskaplike behoeftebepalingsverslag bekendgemaak, om vas te stel hoe dit met die mense in Orania gaan. Dit was vir ons belangrik.

Onlangse omstredenheid het sekere kwessies op een instelling van Orania belig, en dit noop ’n mens om te vra hoe lyk die hart van Orania en omstreke? Die studie van Solidariteit Helpende Hand wou fokus op die hele gebied wat bekendstaan as Orania, nie net op een of twee instellings op Orania nie.

Solidariteit Helpende Hand se verslag

Op 7 Maart 2019 is hierdie verslag bekendgestel. Dr. Elsha Hermann en Lize-Mari Buys, twee geregistreerde maatskaplike werkers, het vir maande aan hierdie verslag gewerk. Helpende Hand se uitsluitlike vraag was: “Hoe gaan dit met die mense in Orania? Hoe kan ons help om hierdie gemeenskap sterker te maak?”

Die finale uitslag van hierdie studie was verrassend: 92,2% van die inwoners in Orania is gelukkig of baie gelukkig. Slegs 0,8% is baie ongelukkig. Hierdie omvattende verslag het mooi rigting aangedui vir die uitdagings wat daar is.

Natuurlik is daar uitdagings. Dit is immers ’n hele gemeenskap wat hier bly. Die groot positiewe is dat dit alles aanspreekbare en hanteerbare probleme is. Baie mense het hulle hier kom vestig uit gemeenskappe waar daar nie oplossings vir dieselfde probleme was of steeds is nie. In Orania is die inwoners positief, en met ’n maatskaplike gemeenskapsontwikkelingsprogram staan ’n mens eintlik verbaas hoe sterk hierdie klein gemeenskap reeds is en steeds word.

Daarom het Helpende Hand ’n maatskaplike gemeenskapsontwikkelingskantoor hier oopgemaak. Ons sien die uitdagings, ons sien die oplossings – en dis haalbaar, hanteerbaar en kan opgelos word. Die studie het, onder meer, aangetoon dat 90,7% mense op ʼn langertermyngrondslag hier wil bly. Daarbenewens is daar 92,9% mense wat aantoon dat hulle hul familie of vriende sal aanraai om op Orania te bly. Hulle wil as gemeenskap saam vorentoe gaan.

Solidariteit Helpende Hand het juis binne ’n groter konteks besluit om hierdie studie aan te pak, in die wete dat Orania ’n unieke gemeenskap is. ’n Gemeenskap wat deur baie gesien word as abnormaal, maar wat juis normaal is, omdat dit ʼn ware gemeenskap is.

Wat arbeid betref, is Orania ’n normale gemeenskap en wil dit ook wees. Gewone en selfstandige handearbeid is byvoorbeeld vir almal hier normaal. Vir baie is dit ’n heenkome en al erken ’n mens alles is nie perfek nie, is 92,2% van die mense juis gelukkig omdat hulle werk en hul hierwees so normaal is. Hulle kan in normale omstandighede werk, veral in werk wat in die res van Suid-Afrika abnormaal geword het in die samelewing. Waar Afrikaners sukkel om in onderste posvlakke in die samelewing in te kom, is dit in Orania vanselfsprekend en normaal.

Die inwoners is gelukkig

Ons studie wou juis weet hoe gaan dit met die mense. En as hulle gelukkig is, hoekom is hulle so gelukkig? Natuurlik, soos ’n gemeenskap groei en ontwikkel, kom daar probleme en uitdagings, maar die oplosbaarheid daarvan word juis in die Helpende Hand-verslag beklemtoon en uitgewys. Die mense bly en werk hard (lees: werk selfstandig) en daardeur voel hulle hulle neem deel aan en dra by tot die vooruitgang van die gemeenskap. Die meeste wat hier woon, kom uit gemeenskappe waar hulle min tot geen deelname aan die gemeenskap gehad het nie. Die geïntegreerde gemeenskapsbenadering is goed en groot en dra baie vrug. Die inwoners voel almal deel van die gemeenskap. Hulle is nie buite en ver nie. Dis ’n gebalanseerde gemeenskap met iets van alles vir almal. Dit is ’n veilige omgewing om in te bly met relatief min misdaad en die “abnormale” vrede en rustigheid is hier normaal.

Opsommend, volgens die verslag:

  • “Oraniërs blyk baie gelukkig in Orania te wees, al is hul inkomstevlakke gemiddeld relatief laag en al bestaan daar verskeie maatskaplike uitdagings.”
  • Hoekom sal mense hulle hier vestig en hoekom dra dit by tot hulle geluk? Die antwoorde het nie as verrassing gekom nie. Die vier grootste redes was die Afrikanerkultuur, veiligheid, lewenskwaliteit en werkgeleenthede.
  • Verder wys die verslag dat daar ’n groot gevoel onder inwoners van deelname en geborgenheid is: “Oor die algemeen voel die respondente deel van Orania (85,9%) en is Orania vir hulle ’n tuiste (92,4%) en sal hulle Orania by hul vriende en familie aanbeveel (92,9%). Verder glo 95,2% van die respondente aan die ideaal van selfstandigheid.”
  • Wanneer oor werksomstandighede gesels word: “75% van respondente is tevrede met hul werksomstandighede, 72,6% van respondente meen dat hulle ’n goeie verhouding met hul werkgewer het en 59,2% van die respondente voel dat hulle billik vergoed word.”

Die twee maatskaplike werkers sluit die verslag af met die volgende:

“Orania is ’n unieke dorp met verskeie maatskaplike kwessies en uitdagings. Die inwoners van die dorp is egter gelukkig en streef na die ideaal van selfstandigheid. Die inwoners van die dorp is ook bereid om deur harde werk en baie opoffering groot verandering teweeg te bring, nie net vir hulself nie, maar ook vir die breër Afrikanergemeenskap.”

Onlangs is vrae gevra oor een instelling uit die baie instellings binne Orania. Mense maak ook dikwels geen onderskeid tussen die Orania-beweging en Orania as dorp nie. Die slotsom is dit gaan goed met die mense in Orania. Daar is uitdagings. Daar is ook oplossings. Wie nederig genoeg wil wees, kan leer by Orania oor hoe ’n gemeenskap homself kan ontwikkel en in selfwerksaamheid vorentoe kan gaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

J ·

Dis n fantastiese plek! Maak net seker dit bly so, binnekort is hier niks anders meer oor nie, dan kom hul weer vir julle.

marco polo ·

Wat is die vrae wat gevra is oor die een.instelling en wat is die rede en antwoord? Hoekom dit so in die lug laat hang?
Ek wss al in die Notre Dame sowel as in Orania en was baie beindruk daarmee. Dis voorwaar n plek waar mens n tuiste kan maak, dis net jammer dat ons dit nie op groot skaal kan doen nie. Maar nou ja, die volkstaat ideaal sal seker maar net n droom bly solank niemand bereid is om op te offer en te skuif nie.

Jerry ·

Laat Afrikaners toe om te doen wat elkeen gelukkig maak. Moet nie die Afrikaner probeer mislei of selfbeskikking afforseer nie, dit sal die grootste fout van die Afrikaner teenoor die Afrikaner wees!.

willem botha ·

Kan julle dink wat ons kan vermag as on n provinsie gehad het .

Liza ·

Willem, ‘n gebied van 20 000 vierkante km sal werk. Dit is iets tussen die Kruger wildtuin en Israel, waar een miljoen mense met gemak kan woon en besighede opbou. Orania is slegs 9 vierkante km, met sowat 7 000 hektar landbougrond rondom, alles nog deel van SA. Daar is geen kans vir ‘n volkstaat nie.

Hans ·

Mense sukkel om te onderskei tussen “volkstaat” en Selfbeskikking.
Met Orania, is ekonomie van skaal nog groot probleem, wat alles duurder maak, agv winsneming op winsgrens per produk vir besighede belangriker is as winsneming gegrond op omset. Dit maak inflasie groot, soos in baie klein karoo dorpies.
Die ander belangrike punt, dis gegrond op EIE KAPITAAL, selfweksaamheid en eie arbeid.
Vir my is dit pad vir SA regering en SA gemeenskappe om hulself op te hef deur soortgelyke kollektiewe te vorm en met harde werk, te ontwikkel binne raamwerk van selfbeskikking soos in VN konvensie oor menseregte Art 1, Afrika konvensie oor menseregte Art 20, Art 235 van Grondwet 1996. Dis beter as om bande te brand, die skool af te brand omdat daar nie bv kliniek is nie ens. Die Wet op Tradisionele Leiers het juis ten doel, om met belastingbetalers se geld, politieke swart gedefinieërde gemeenskappe onder leierskap van staatserkende tradisionele leiers, te doen wat Orania as privaat kollektiewe gemeenskap doen.
Die gemeenskap is op vrygewilligers gebaseer wie hul met Afrikaans, christelike beginsels gebaseer is en nie wetlike gedefinieërde etniese groepe nie.
Maw hierdie is Vryheid van uitdrukking, keuse en assosiasie tasbaar in praktyk.
As baie respondente dalk minder geld op drank bestee, sal hul vergoeding meer voldoende wees?

Orania ·

Die wat die meeste ten gunste van Orania is, bly die verste daarvan weg :/

Johan ·

Orania. Eks een van die dae daar. Het klaar huis gekoop. Go Orania. Mense wat twak praat is net jaloers.

Buite Stander ·

So paar weke gelede was daar negatiewe berigte in die Rapport oor die “demokrasie” in Orania, en meer spesifiek oor Carel Boshof se diktoriale bestuur van die plek. Dink twee keer voordat jy soontoe verhuis.

GeSeënde Oraniër ·

Ons is nou presies vyf maande hier in Orania vanaf Pretoria Oos. Dit was die beste besluit wat ons nog geneem het. Ons het sonder enige fondse hier aangekom. Ons was sederdien nog net op vier geleenthede uit Orania uit vir onvermydelike redes en elke keer vir net ongeveer 2 ure, aangesien dit ons 11 jaar geneem het om hier uit te kom en ons gesin genoeg blootstelling gehad het aan Suid Afrika se gruwels. Ek weet dis nie vir almal moontlik nie maar vir die wat hierheen kan trek wil ek sê jy doen jouself en jou gesin ‘n reuse guns. Terloops, ons leef soos konings, ek weet ons bou nog aan die ekonomie en nie almal kan sê hulle beker loop oor nie maar dit gaan baie beter hier as in ander klein gemeenskappe. Mense wil Orania vergelyk met Woodhill Golf landgoed maar húlle arbeiders moet uit die area na vyf terug na sinkhuise toe. Hier sit baas en klaas saam op kerkrade en gesels by ons baie feeste en ons kinders speel saam in veiligheid. Ons braai en kuier en stry en baklei en ons bou vir onsself ‘n toekoms terwyl die sandkastele in Suid Afrika verweer. Ons is nou amper by 2000 met nog duisende lede van die beweging wat wil kom maar hulle sukkel om hul huise of besighede te verkoop-aanduidend van ‘n SA ekonomie wat verbrokkel. Hoop om julle gou te verwelkom. (Nie jy nie Jerry, bly maar ‘n reenboogaanbidder)

marco polo ·

Orania, dis waar wat jy se, ek bly waarskynlik die verste, in die ooste van China. Ek het n werk wat goed betaal en moet nou spaar solank ek kan, maar wanneer ek aftree is Orania beslis n opsie.

jaco ·

wonderlike syfers, MAAR dis alles persentasies. daar bly maar net 1200 mense in Orania. Dis baie vreemd. in 1989 se algemene verkiesing (laaste wit verkiesing) het amper 1 miljoen wit mense nee gestem. n paar maande later, in 1990, is die ANC gewettig en is Mandela uit die trunk vrygelaat. ALLE wit mense het dadelik geweet wat uiteindelik sou kom en regse mense, deel van daardie amper 1 miljoen, het allerhande waarskuwings en horror stories gehad oor wat kan gebeur wanneer die ANC oorneem. Maar tog was daar in 1991, toe Orania gestig is, maar net 60 mense teenwoordig. Die stigter van Orania, Prof Carel Boshoff, het toe gesê hy hoop daar woon oor 25 jaar 60 duisend mense. Toe nie – daars vandag skaars 1200.
So dis maar net nog n voorbeeld van ons regse mense se gebrek aan belangstelling. Daar was 2 regse partye: KP en HNP, wat mekaar beveg het al het hulle dieselfde beleid gehad. tussenin het die AWB gestaan wat dinge verder omgekrap het. in 1992 se referendum het amper 1 miljoen darem nog nee gestem, maar die Vryheidsfront kry vanaf 1994 BAIE minder stemme as dit.
En in Orania self is 1200 mense verdeen in AGT kerke
So, ons eie mense help ook maar lekker aan om ons eie ondergang te bewerkstellig

Riena ·

Wonderlike syfers ja, maar ons almal weet die dood is in die pot. Solank mense nie kinders kry nie kan getalle nie groei nie. Daardie 1200 wat tans daar woon is hoofsaaklik diegene wat daarheen gemigreer het, dus geen inherente groei nie. Eers wanneer mense aan groot gesinne begin werk, kan daar groei plaasvind. En soos ek verstaan is die gemiddelde kindersyfer op Orania onder drie per gesin, wat jammerlik is. Sterkte aan ons volksgenote daar op Orania!

Stephan de S ·

Chappies jou opmerking” afrikaners kan nie saamstaan nie” verwys. Het ons enige statistiese gegewens dat ander volke/nasies/groepe anders sou optree in dieselfde omstandighede….as klein minderheid onder n vyandige owerheid? Die hollanders het n uitdrukking nl selfbek..ing waarvoor mens altyd versigtig moet wees…….dit striem net n mens se selfbeeld.

Dink weer ·

Ek was al paar keer in Orania en selfs by familie troue daar. Die mense is vriendelik en die dorp skoon, maar dit is vreeslik eenvoudig, die meeste mense lyk asof hul swaarkry en die dorp se atmosfeer is iets waarmee ek glad nie myself sal kan assossieer nie. Ek sal in my lewe nooit daar kan bly nie! Maar ek het familie wat mal is oor die plek so opinies verskil maar. Ek bly baie lekkerder hier in Bloemfontein.

Riena ·

As daar nou `n groep is wat eenvoudig voorkom is dit die Amish van Amerika. En hulle verdubbel elke twintig jaar. So waar hulle klein begin het , word hulle al `n beduidende groep in Amerika met by die een miljoen lede. So Orania hoef hulle nie te steur aan verwyte van eenvoudigheid nie. Word meer, word sterk, word `n stad!

Riena ·

Skuus, dit moet lees “binnekort een miljoen lede”. Die Amish is vinnig op pad daarheen, en so kan Orania dit ook bereik. Waar `n wil is, is `n weg…

Elred Ferreira ·

Ek bly nou 4 maande in Orania en kan myself skop dat ek nie al n paar jaar terug dit gedoen het nie,want grond en eiendom het baie duur geword hier….en terloops,daar bly nie 1200 mense hier nie,dis al nie ver van 2000 af nie,en die groei begin nou redelik vinnig plaasvind!

Dries du Toit ·

Prof Carel Boshoff het voorspel . Eers sal die pioniers Orania toe kom en later sal die vlugtelinge kom. Hierdie mense wat Orania verguis moet maar oppas. Ek het n heilige respek vir die pioniers wat alreeds daar is. Hulle sal nog aangeteken word as die helde van die Afrikanerdom.

Ben Opperman ·

Om in Orania te gaan bly is soos om buiteland toe te trek. Daar is baie uitdagings en aan die einde van die dag word ‘n mens net beter en sterker. Jy besef nie die waarde van wat jy gehad het alvorens jy dit verloor het nie! Die hunkering na die goeie sal altyd by ‘n mens bly. Orania blyk een van daai plekke te wees waar jy weer die goeie kan laat herleef en beleef. Orania moet nou net die Nuwe Suid-Afrika oorleef…….

CHAPPIES ·

Presies Jaco! Die afrikaner kan nie en sal nie,ooit saamstaan of kan saamstem as EEN nie…en dis ons ondergang.
Destyds wasit hnp+kp…nou vf+hulle weer.

Ja,ek het ook familie wat daar bly en al paar keer besoek…daar hang so gees van swaarmoedigheid oor die plek van meeste mense, wat bitterlik swaarkry…
NEE DANKIE wat,nie vir my nie

John ·

Die stories oor Orania wat onlangs gepubliseer is, is intern opgekook. Nie elders nie. Die outeur wil nou die bal uit die speelveld skop en die skare ‘n rooikaart gee. Om soos SA se regering alle probleme onder die mat in te vee gaan nie die probleem oplos nie. Orania word met ‘n ysterhand regeer… en Doom word aangewend sou iemand selfdenkend optree. Seker hoekom daar so baie kerke is. Dalk al verweer.

Ernst Marais ·

Ek neem kennis van Afriforum / Solidariteit se groter wordende betrokkenheid en invloed by Orania.
Op die oog af is dit voordelig maar….

Ek is as uitwoner en werkgewer betrokke by Orania wat my na aan die hart lê.

Ek is net lugtig, in die lig van die verlede, vir ondernemings en organisasies wat op die rug van Afrikaner volksgevoel gebou is en later die pad van Naspers, Sanlam, US en baie ander vat.

Jerry ·

Die Afrikaner is aanpasbaar, was nog altyd. Dit gaan oor die keuses wat gemaak word agv omstandighede, dryf, geloof, hoop, vrese, toekoms ens. Sommiges maak dit werk binne die nuwe derde wereldse SA, sommiges met Solidariteit se selfbeskikking en Orania, sommiges gaan doen dit in die buiteland. Hoe dit ookal sy, die Afrikaner laat sy keuse en verdeeldheid vir hom werk. Hoe meer verdeeld en versprei oor die hele wereld, hoe beter oorleef die Afrikaner. Dit is maar soos sekere Afrikaners wat lekker Toyota ry, DSTV kyk terwyl hulle braai, terwyl sekere Afrikaners eerder n musiekkonsert gaan bywoon. Die Afrikaner verskil van die volgende Afrikaner soos wat mense se duimafdrukke verskil. N Afrikaner wat dink hy kan Afrikaners op kraal jaag en hulle n volk noem of die volk noem, is n wensdenker. Jy gaan die Afrikaner dus nie in die kraal kry nie. Die wereld is die Afrikaner se oester en se vryheid en dit is waar jy die Afrikaner gaan kry. Jy gaan vir hom orals kry, selfs daar waar jy hom die minste verwag, selfs in Orania!

Terloops ·

@Jerry. Stem saam. Die Afrikaner is nie ‘n volk nie. Die eksperiment in die 1900’s om van Boere en Kapenaars, verraaiers en dwarstrekkers ‘n volk, die Afrikaner volk, te maak, het misluk.

Koos le Roux ·

Alles is aan die verganklikheid onderworpe en moet nuutgemaak word met die wederkoms.

Orania is n plek van hoop in n tans hopelose RSA.

Jj ·

Ek is groot aanhanger van orania. Was nog self nie daar nie maar wil die jaar vakansie hou daar. Terwyel so baie mense niks goeds te se het oor die dorp nie is hulle eenigte gebied waar mense nie in hul plaashuis vermoor word nie of waar jy kan skool gaan in afrikaans sonder betoogers wat klippe gooi. Ek sal defnitief daarna wil verhuis. Dis beter om te doen as net te praat

attie ·

Alles klink so lekker in Orania maar mense, bly weg daar in die somer want dit is nie ‘n plek vir sissies nie. Ek was daar baie jare terug. Dit was ‘n warm dag. In ‘n sinkplaathuisie se skaduwee het ‘n brak in die skaduwee gerus met ‘n jas aan. Tannie Betsie Verwoerd se Huisie was’m museum en ek was deeglik bewus van die Verwoerds se”plat op die aarde” lewensstyl. ‘n Blanke jong man het die sleepwa en trekker bestuur tot by die volgende hopie vuilgoed, wat hy self bymekaar gevee het, en dan afgeklim en dit self opgelaai. Nou dink ek terug aan SA blanke seuns wat nie gewillig sal wees om daardie werk te doen nie. In Orania is baie arm Afrikaanses maar alle lae van die samelewing word daar verteenwoordig. Net jammer van die hitte en daardie brakkie met die jas.

Andre Badenhorst ·

As ek die woord “geluk” of “happiness” hoor as bepaler van lewenstandaard, dan raak ek skepties. Maar by Orania daar meer op die spel, glo ek. Daar leef die mense met ‘n lewensdoel – met harde werk, ook as deel van ‘n homogene gemeenskap wat gevrywaar is van onderdrukking. En dan is daar die omgewing en natuurlik DIE STILTE!

Patat ·

Klink vir my soos ‘n alweer Voortrekker- en Dorsland trek samekoms. As ek lees van die mense wat Orania al gesien het, kry ek verskillende prentjies. Hoe hul ookal leef, maak nie saak nie, dis hul lewe en hul besluit en ek dink hierdie mense het “guts”! Voorspoed vir Orania en sy mense!

Alfonso ·

Ons gaan kuier gedurig op Orania – dis ‘n wonderlike plek!

As dit nie was vir ons Australiese visa wat vir ons wag nie, sou ek ernstig dit oorweeg het om my kinders in Orania te gaan grootmaak.

Wat klink lekkerder as kinders wat buite speel, fiets ry in die strate, kerk basare en skuifskiet kompetities, geen vrees vir veiligeid – en om dit alles te behaal met eie arbeid?

Dis die tipe gemeenskap waarin mens nou betrokke wil wees. Ek wil nie geisoleerd in n paleis-tronk in Gauteng bly terwyl die munisipale dienste rondom my verval, die geweld en moordlus toeneem, en my kinders se waardes afgetakel word nie. Nee dankie.

Alle sterkte vir Orania – die Afrikaner tuiste.

Chris ·

Ja ek sal daarvan hou om n werk te he iewers waar ek nie hoef te bekommer of ek more sonder werk gaan sit nie, deesdae lyk dit my of my aansoeke soos n kerswens is in 3 jaar nog nie werk gekry nie. So wat moet n ou nou maak as jy nie kan kom waar jy wil wees nie en werknemers baie maklik net vir petrus die werk gee want hy kos nie baie geld nie.

Wonder ·

Miskien moet jy soos Petrus maak en begin werk vir minder geld. Dis beter as om te kla.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.