Hoe gemaak met die wolkbreuk van outoritêre beleide?

Deur Martin van Staden

Martin van Staden.

Terwyl die president Suid-Afrikaners probeer flous dat hy skynbaar ’n hervormer is en dat ons sy sogenaamde “nuwe dagbreek” nader, word die ekonomie versmoor en die land op die pad van onherstelbare agteruitgang plaas.

Suid-Afrika word nou oorval met wette, regulasies, en openbare beleide wat eenvoudig deurspek is met onsin en omslagtigheid.

Die komitee wat verantwoordelik is vir die wysiging van artikel 25 van die Grondwet, om konfiskering van vaste bates toe te laat, gaan binnekort sy nuwe wysigingswetsontwerp bekendstel. Daar is ’n kans dat die EFF se katastrofiese idee van staatseienaarskap van alle natuurlike hulpbronne in Suid-Afrika, grond ingesluit, dalk in daardie wetsontwerp vervat sal wees. Minister Patricia de Lille gaan steeds voort met haar Onteieningswetsontwerp, wat dit baie maklik maak vir die staat om enige vaste eiendom te konfiskeer. Dít moet ons noukeurig dophou.

Nywerheidsminister Ebrahim Patel het onlangs aangekondig dat die regering besighede wat hooggeplaaste uitvoerende personeel “te veel” betaal, wil keer. Patel het ook herinner dat die Mededingingskommissie sy ondersoek na e-handelplatforms soos Takealot en Uber Eats gaan begin. Voorts wil die minister wysigings aan die Maatskappyewet laat aanbring wat belanghebbendes se eienaarskap in maatskappye sal afwater. Daar is ook sprake van strenger inperkings op invoere. Al hierdie voorstelle sal in praktyk verwoestend wees vir die vryemark, verbruikers, en vir investering, en moet noukeurig dopgehou word.

Die departement van kommunikasie se onlangs gepubliseerde konsepbeleid vir die regulering en beskikbaarstel van data en wolkberging se visier is op die nasionalisering van enige en alle digitale data wat in Suid-Afrika gegenereer word. Suid-Afrika sou dan die enigste land te wêreld wees wat so iets doen, met die voorspelbare gevolg dat baie internetgebaseerde dienste doodeenvoudig Suid-Afrikaanse IP-adresse gaan blok. Enkelverbruikers kan dalk altyd ‘n virtuele private netwerkverskaffer (VPN) gebruik, maar dit gaan moeilik raak op groter skaal, veral vir ondernemings wat afhanklik is van buitelandse internetdienste. ’n VPN herlei ’n verbruiker se internetverkeer deur ’n privaat netwerk sodat die inhoud daarvan onsigbaar is.

Op die front van die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie, is daar aangekondig dat bestaande pre-1994-apartheid- en koloniale wetgewing (in die portefeulje van justisie) wat met die Grondwet belyn moet word, ondersoek word. Dit is nie tans duidelik watter wetgewing onder die loep geneem word nie. Wat wel blyk, is dat die kommissie die Wet op Oproerige Byeenkomste in sy visier het. Al wat dié wet doen, is om ’n verbod op die aanhitsing tot geweld en misdaad te plaas. Benewens die feit dat EFF-leier Julius Malema onlangs ingevolge hierdie wet aangekla is en toe aangevoer het dat die wet ongrondwetlik is, is hierdie wet nie omstrede nie en die kommissie se ondersoek in hierdie verband blyk op politieke druk van die EFF gegrond te wees. Die Konstitusionele Hof het reeds bevind dat dié wet nie ongrondwetlik is nie.

Waarskynlik die mees ooglopend absurde verwikkeling op regsgebied is dat die Suid-Afrikaanse Poskantoor nou op pad hof toe is om te bevestig dat die Poskantoor oor ’n monopolie beskik om pakkies met ’n gewig van onder een kilogram te versprei en af te lewer. Indien die hof met die Poskantoor saamstem, sou dit vernietigend wees vir die bestaande koeriermaatskappye wat Suid-Afrikaners al vir jare doeltreffend en op koste-effektiewe basis dien. Hierdie hofproses moet beslis dopgehou word.

’n Herrie het landwyd losgebars nadat die minister van polisie, Bheki Cele, Suid-Afrikaners wat vuurwapens vir doeleindes van selfverdediging besit, wil ontwapen. In ag genome die voorkoms van gewelddadige misdaad soos moord en verkragting in Suid-Afrika – onder die hoogste ter wêreld – is Cele se voorstel ook ’n rampspoedige plan wat deur alle Suid-Afrikaners teengestaan moet word. Cele gaan beslis nie sy eie gewapende lyfwagte prysgee nie.

Met die vlaag ingrypende wetsontwerpe en konsepbeleide wat in 2021 die lig gesien het onder pres. Cyril Ramaphosa, is dit moeilik om by te hou. Dit is egter vanselfsprekend dat die burgerlike samelewing en hul verteenwoordigers, in organisasies soos Sakeliga, hierdie verwikkelinge fyn moet dophou, want dit sal in praktyk ongetwyfeld lei tot die ineenstorting van die ekonomiese sektore, verwatering van verbruikerskeuses, en algehele inperking op openbare vryhede.

Dit is jammer dat die industrieë wat deur ongunstige beleid geraak word, dit gewoonlik nie te sterk kan opponeer nie omdat hulle afhanklik is van die goeie grasie van hul reguleerders. Diegene wat kapsie maak mag hulself dalk sonder ’n lisensie of permit vind. Selfs die organisasies wat veral groot ondernemings verteenwoordig, mag nie te hard praat nie, want hulle moet ook toegang tot die president, ministers en reguleerders behou, en sal dit verbeur indien hulle te skerp kritiek lewer op (veral ideologies-gedrewe) skadelike beleid.

Daar bestaan ook die bykomende komplikasie dat baie groter ondernemings eintlik baat kan vind by verreikende (en meer onsinnige) regulering. Hulle kan bekostig om aan die bepalings van hierdie skadelike beleide te voldoen. Kleiner ondernemings kan egter nie, en dus beskerm sulke beleide bestaande, welvarender rolspelers op makrovlak ten koste van toekomstige ondernemings. Só kan ’n ekonomie nie groei nie.

Die burgerlike samelewing moet dus die leemte vul om konstruktief op voorgestelde en bestaande skadelike beleid te reageer en beter beleide voor te stel waar nodig. Verskeie organisasies in die burgerlike samelewing staan skadelike beleid teen en bevorder goeie beleid. Hierdie organisasies is onafhanklik van staats- en politieke geledere. Dit sluit, onder meer, die sakegemeenskap Sakeliga en die Vryemarkstigting, ’n navorsingsinstituut, in.

Daar is egter bitter min sulke rolspelers in die burgerlike samelewing en hulle kan kennelik nie byhou met die honderde bladsye beleidsvoorstelle wat elke week gepubliseer word nie. Elke regeringsdepartement het ten minste honderde personeel met die kapasiteit om toenemend ingrypende beleid te formuleer en te publiseer, en hulle doen dit ook. Hulle word heel gemaklik befonds deur die einste ekonomie en belastingbetalers wat hulle elke dag ten beste probeer ondermyn. Dit moet verder gaan as burgerlike-samelewingsorganisasies. Elke individuele burger moet tot die stryd toetree.

Die geweldige openbare verontwaardiging oor Cele se Wysigingswetsontwerp op Vuurwapenbeheer is ‘n uitstekende voorbeeld, waar derduisende burgers reeds hul teenkanting te kenne gegee het en steeds so maak. Daar is goeie rede om optimisties te wees dat die wetsontwerp nie aanvaar sal word nie, aangesien hierdie regering dit in die verlede duidelik gemaak het dat hy baie bekommerd is oor die balans van magte. Indien daar hewige opposisie van landsburgers en georganiseerde burgerlike samelewing is, sal die regering terugstaan.

Dieselfde weerstandigheid moet egter die regering se konfiskeringsplanne die hoof bied. Elkeen kan ’n wesenlike verskil maak in die verloop van die beleidsproses, en stem dik maak oor ’n toenemend outoritêre regering wat grootliks daarin belangstel om sy eie mag te verskans. Só verhoed ons ons eie verstrengeling in ’n outoritêre beleidsomgewing.

  • Martin van Staden is ’n regsgenoot by die onafhanklike sakegemeenskap Sakeliga. Hy studeer tans aan die Universiteit van Pretoria vir sy ’n doktorsgraad in regte.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kosie ·

Na my mening is die doel van wette om reg en geregtigheid te laat geld. Ongelukkig het wette ontaard in ‘n meganisme om ideologie af te dwing. So, die vraag is, as wette onreg bevorder, moet jan alleman hulle nog verder daaraan steur? Is ons nie besig om af te stuur op ‘n land van totale anargie (eintlik is ons al lankal daar) waar almal maak wat hulle wil, omdat die wette so absurd is nie? En nou moet mens met seker vra, hoe is dit moontlik dat soveel onreg wettig is, onder die “beste” grondwet in die wêreld? Toe die “slim proffies” die grondwet geskryf het en die tien gebooie uit gegooi het, het dit die weg gebaan vir al die absurde wette. Solank as wat ‘n land se hoogste wet, nie die tien gebooie bevat as basis nie, is die land verdoem tot die chaotiese samelewing wat ons tans het. Dis reg om die nuwe tsoenami van wette te beveg, maar die groot kanker bly die grondwet.

koos ·

Gaan vra vir Bileam wat gebeur met jou as jy Israel wil vervloek – jou donkie praat met jou. In hierdie land is dit nog erger, Bileam se donkie dink hier vir jou.

Windhond ·

Dit gaan van die gewone wet gehoorsame burger n krimineel maak

annie ·

Martin beskryf in mooi terme die pad na ‘n sosialistiese oorname met kommunisme as einddoelwit net voor die kaders hooggeboesem in adelhaftige, meerderwaardige alwetenheid al jillende by die afgrond afstort… Viva…

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Uitstekende pynlike en waar artikel. Waar is die profete van waarheid en geregtigheid en waar is die wagte op die landsgrense se mure?

“Staatsvoogdyskap” is nou die nuwe rookskerm vir nasionalisering en die vestiging van die ANC se Mzansi National Democratic Society Useless Animal Farm waar almal ewe gelyk en ewe ryk en ewe gelukkig is maar sommige meer gelyk, ryk en gelukkig is. Hierdie utopia word “Afrikaan Getransformeerde Kommunisme” genoem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.