Hoe groot is die rol wat die staat in ’n moderne samelewing behoort te speel?

Toekomsberaad-algemeen

Die Toekomsberaad wat op 10 Oktober deur die Solidariteit Beweging aangebied is, is deur 2 770 mense bygewoon. Foto: Forumnuus.co.za

Die Solidariteit Beweging se Selfhelp-plan, wat onlangs deur Flip Buys bekend gestel is, laat opnuut dié vraag aktueel word. Die doel is immers om allerlei take wat normaalweg die staat se taak sou moes wees, juis buite-om die staat te verrig.

In pre-moderne tye was die rol van die staat in samelewings meestal betreklik klein. Die tegnologie wat dit moontlik maak dat die moderne staat op feitlik alle terreine diep in mense se lewe kan ingryp, het toe nog nie bestaan nie.

In die afwesigheid daarvan het samelewings in wisselende mate ’n onderlinge solidariteit geken, waar die gemeenskap misdadigers (weliswaar ooreenkomstig ’n taamlik primitiewe gewoontereg) self aangekeer en gestraf het, en waar mense mekaar in nood gehelp het.

Ek is heeltemal bewus daarvan dat die vorige paragraaf ’n taamlike veralgemening is, en dat dinge ook dikwels anders verloop het. Maar daar is tog genoeg waarheid in die waarneming.

Dinge het stadigaan begin verander in Napoleon se tyd. Hy was ’n soort proto-fascistiese diktator, die eerste wat die media van sy tyd begin gebruik het as middel om die massa te indoktrineer, en wat sy geheime polisie aktief ingespan het om “afwykende” denke op te spoor en hok te slaan.

Sedert die laat 19de eeu het state se administrasie, veral in Europa en Amerika, só begin verbeter dat individue se gedrag veel beter gemonitor kon word. En in die digitale tydperk waarin ons nou leef, is byna álles oor jou by die staat of die private sektor bekend – van jou politieke oortuigings tot waarheen en hoe dikwels jy met watter vervoermiddel reis tot jou voorkeur vir ontbytvlokkies.

In die proses het mense, veral in die Eerste Wêreld, baie voordeel daaruit getrek. Die 20ste-eeuse ideaal om van die wieg tot die graf deur die staat versorg te word, het armoede feitlik heeltemal uitgewis en die skrynende ongelykhede en onregverdigheid waarop die pre-moderne en vroeg-kapitalistiese samelewings berus het, grotendeels verwyder.

In Suid-Afrika het die staat, al was dit maar hoofsaaklik vir wit mense, ook ’n positiewe rol gespeel. Agtereenvolgende regerings het sedert 1910 aktief ingegryp om werkgeleentheid en welvaart veral vir wittes te bevorder.

Daar was ’n tyd, in die Groot Depressiejare van die jare dertig dat die Afrikaners ook ’n soort Solidariteit-plan probeer uitvoer het. Teen die agtergrond van die feit dat sowat ’n derde van alle wit Afrikaners in die vroeë dertigs nie in hul eie onderhoud kon voorsien nie, het die Reddingsdaadbond hom daarvoor beywer om hulle ekonomies op te hef.

Wat dié plan in beginsel merkwaardig maak, was dat dit buite-om die staat gebeur het. Die Sap-regering is – reg of verkeerd – beskou as onsimpatiek teenoor die Afrikaners, en dus was die idee van visioenêre soos ds. J.D. Kestell, en drr. D.F. Malan en Nico Diederichs dat die Afrikaners hulself by wyse van spreke aan hul skoenveters moes optrek.

Uiteindelik was die sukses van die Reddingsdaadbond beperk, en dit het te make met die Nasionale Party se verkiesingsoorwinning van 1948. Ná 1948 het die regering die taak om wit armoede te beëindig met verdubbelde erns aangepak, wat die Reddingsdaadbond se inisiatief oorbodig gemaak het.

Die dekades lange NP-oorheersing het ook meegebring dat Afrikaners ophou dink het vir hulself. Hulle het toegelaat dat die NP, veral onder leiding van dr. Hendrik Verwoerd, ’n verlammende polities korrekte denkwyse aan hulle opdring. Om dáárvan af te wyk, is dikwels beskou as grensend aan verraad teen die Afrikanervolk.

Die regering se sagte, beskermende hand was weliswaar snoesig, maar intellektueel verstikkend. Hulle is ook ekonomies in slaap gesus. En toe dit ná 1994 verdwyn, was dit asof die Afrikaners wees gelaat is.

Terwyl pres. Nelson Mandela, die vriendelike “oupa van die nasie”, geregeer het, was dit moontlik om nog in die illusie te glo dat dinge nie te veel sou verander nie. Maar die regeringstermyne van pres. Thabo Mbeki en veral pres. Jacob Zuma het duidelik gewys dat die staat nie slegs nié meer ten behoewe van die Afrikaners regeer nie, maar dat hy in wisselende mate vyandig teenoor hulle staan.

Dit het gepaardgegaan met ’n gestadige ineenstorting van die staat se vermoëns. Nie alleen is wittes in ’n onherbergsame omgewing aan hulself oorgelaat nie; ook vir die swartes het dinge agteruitgegaan namate belangrike posisies om ideologiese redes aan ANC-kaders gegee is en vereistes soos eerlikheid en bekwaamheid byna teen die bekleërs van sulke posisies begin tel het.

Inteendeel, in toenemende mate het die staat in die hande gekom van ’n kleptokrasie, van ’n klas mense wat die staat nie beskou as ’n instrument om mense op te hef en te ontwikkel nie, maar om hul eie sakke te vul.

In dié omstandighede moes die Afrikaners hulself as ’t ware herontdek. Nie slegs die vraag “Wie is Afrikaner?” is in dié omstandighede belangrik nie, maar ook “Hoe oorleef ons?”.

Dis duidelik dat ons nie veel van die staat kan verwag nie. Weens sy agteruitgang kán die staat nie veel aan ons heil doen nie; weens die ANC se ideologie wíl hy ook nie veel doen nie.

En dus sal die Afrikaners hul hergeboorte gepaard moet laat gaan met ’n herontdekking van hul eie innerlike krag en vindingrykheid. Laat ons eerlik wees: In die jare 1948-’94 het ons sag geword en afgeleer om vir onsself te dink. Hoe moeilik dit ook al is, dit moet verander.

Uiteraard sal ook die buitelyne van ons denke moet verander. Ons kan nie meer, soos vroeër, net op onsself gefokus wees nie. Ons deel nou eenmaal ons vaderland met miljoene mense van ander rasse en oortuigings, met wie se lot ons s’n onlosmaaklik verstrengel is.

En dus sal wat ons ook al ten behoewe van onsself doen, nie tot ons beperk mag bly nie. Dis die sekerste manier om te misluk.

Uiteindelik sal ons ewenwel tussen ons ore weer werklik vrý moet word. Sowel aan die linker- as die regterkant sal ekstremiste hul ideologiese stokperdjies moet laat vaar.

En dus moet dié uitspraak van N.P. van Wyk Louw (Lojale Verset, 1939) vir ons gevleuelde woorde bly: “Opstand is net so noodsaaklik in ’n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ’n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ’n hele geslag sonder protes sal verbygaan.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Loeis ·

Goeie argumente, in die algemeen.

Voor 1992 was daar ‘n debat oor selfbeskikking: ‘n eie onafhanklike land, wat al die bogenoemde voordele – en meer – ingesluit het. Mense het egter toe ‘n stelsel gekies waarin hulle alyd die verloorder is, en dit is die problematiese stelsel wat ons nou bespreek.

Ons moet hand in eie boesem steek, en denkwyse baie drasties verander.

Tiki ·

Feite ! Kon dit self nie beter stel nie !

Dit is absoluut verblydend om waar te neem dat ons Afrikaanses weer begin dink, dat ons onsself begin posisioneer in ‘n wereld wat nuwe uitdagings, moontlikhede en geleenthede bied, maar wat ook nuwe verantwoordelikhede van ons gaan eis. Saamwerk in die rigting van beplande doelstellings is al wat ons land gaan red.

Heinrich ·

Dankie Leopold, ek stem saam! Ongelukkig is daar nog te veel mense wat geval het vir die ANC truuk van maak ‘n negatiewe opmerking oor die ANC dan is jy ‘n rassis. Dis tyd om op te staan en die kamptige politieke korrektheid in die bek te slaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.